Versamelde poësie. D.J. Opperman
Читать онлайн книгу.nog verbonde wees.
Hy is met wilde golfslag skielik deur
die dood van hierdie aarde losgeskeur
en in koel waterwindsels toegewoel
op verre strande eensaam uitgespoel,
maar in die krampgreep van sy vingers was
die laaste tart: groen, afgeskeurde gras.
Absalom
Vergeefs het vergesigte
voor sy gevange hoof geblink,
al het die muil nog lank
gestaan en water drink.
In na-doodnagte roer sy lippe
roepend en verstar
tussen hemel en die klippe,
met sy denke in die takke
van ’n afgestorwe wêreld
nog verwar.
Na die myninstorting
Ons wat gedurig moes verdien,
het nooit met kommerlose oë
U daggeel lig gesien;
ons moes soos sonnelose gras verkwyn
in klamme skaduwees van die masjien.
Met pletterende klippeval
het U ons skielik afgesluit
van kinders, tuine en die vyfuurfluit
om rond te swerf deur U heelal.
Maar ons kan klippe net vergruis,
in hierdie vreemde glans van U
is ons nie tuis.
Gestorwene
Wanhopig het hy óm en óm die donker streek
wat oor die aardse heuwels en die stede vou,
gesoek na openinge waar die son deur breek
om die verlore mooie plekke te aanskou.
Toe Tonjenani by die kiepersol haar kruik
een middag borrelend deur die basbruin waters sleep
en eenkant plaas, het hy haar oë kon gebruik
om weer te sien: die papkuil in die donker streep
groen biesies; hoe die son oranje poeier stuif
oor doringkruine, en ’n ribbok uit die gras
opstaan, lui rek en aan die middagluggie snuif,
maar toe begin sy met ’n skurwe klip haar was.
En deur ’n grysaard het hy weer die stad gesien
met nat teerstrate waar ’n duisend skoene haas
in alle rigtings na die slapende masjien
nog voor die beuel om sewe-uur sy wit veer blaas;
hoe swerms duiwe om die torings en die mark
rondvlieg, ’n haag asaleas wat gloei, ’n strook
laat mis op die rivier, ver bloekoms in die park
en hoe skoorstene in die môreson weer rook.
En so was hy die tiermot van die duisternis:
die aarde het soos ’n geheime vlam hom uit
oerwoude van die nag gelok, getrek met lis
tot teen die harde mure en bedekte ruit.
Nagskip langs Afrika
Moes ek as rustige skipper vaar
met opgelegde doel,
het ek verby die ewenaar
dit as ’n onreg aangevoel
om só ’n andereen te bind;
U kompas en U kaart verstoot,
die swartvlag van my eie wil
laat opskiet in die wind
met die gevreesde tekens van die dood.
Ons is geswore vriende, nie geboei
aan kettings, maar die skipper is ons maat,
ons buig die rûe na gesang en roei
die skip na nuwe liefdes, nuwe haat;
ons het die ander skepe Gods beroof
van eie goud en reg; geen vrou kon lank
ons hongerende hart verdoof
met tenger arms om ons lyf gerank.
Ons is geswore vriende, nie geboei
aan kettings, maar die skipper is ons maat.
In hierdie skriklike na-doodnag
weet ek my trots was jeug, my wil was waan,
U het my uitgeborste seil, my vlag
gedruk tot waterborrels op ’n oseaan;
en onder U wind en weerlig gly
net stukke rots of ’n kaap verby.
O God! verlos my van die teruggevaarde
skip, van my bemanning en hul hunkering na die aarde.
Ons is geswore vriende, nie geboei
aan kettings, maar die skipper is ons maat;
ons ruk in elke wind wat spring en groei
die volle seile oop met groter haat . . .
Skenk ons bevrediging van luste!
Ons laveer ons moeg en toornig
maar immer, immer wyk die kuste.
Shaka
LANGENI
Langsaam het die lede van die kraal
op Langeni haar verstoot soos Witfoloos
’n stukkie bas vanuit sy binnewaters
kantwaarts spoel; en eensaam en verneder
in ’n donker stroois moes Nandi lê,
want buite huwelik en wet het sy
en Senzangakona van die Zoeloe-stam
mekaar geneem. Die verlore pit
wat eenkant stoel, is sy, maar weeldrig
met wilde hartstog en sku onder blare
die klein kalbassie aan haar vasgerank.
Die daad van ouers was ’n klip wat in
stil waters val en hom voortdurend uit
die stam met kring na kring van nyd verstoot:
wanneer die vure by die beeskraal brand
en seuns agter hul vaders soms ’n reep
gebraaide vleis ontvang en luister
na verhale van jagtogte en geveg,
het elke kind waar Shaka stilletjies
hom voeg, met luide stem gevra of dit
sy vader is; en almal het geswyg
tot hy van hulle sluip vol skaamte
na die geknoopte gras waar hy die vlakvoël
op haar nes bekruip en vang; so het hy
die bessies en die bolle van die veld
leer ken, die uintjies