Versamelde poësie. D.J. Opperman
Читать онлайн книгу.die dassie huil onder die daeraad
het ek verskrik die skuiling by die kruis verlaat,
terug na U, o God, wat onvermoeid tot selfvolmaking
deur gestaltes van die aarde wring,
deur die geslote sluimer van die ysterklip, die tas
in trae ranke van die wildedruif, die slu-gekaste
oë van die mamba; terug om in alleengeveg
volgens my sterkte U verlossing te besleg.
Toe die dassie huil moes ek Sy kruis verlaat
want teenoor U was dit my lang verraad.
In die landskap
Ek het vanmiddag in ’n halwe droom
gevoel in oop velde warm gras,
asof die stam van die maroelaboom
tog êrens in my lyf gewortel was,
asof sy takke en sy blare uit
vervloeide grense van my liggaam kom:
ek was die velde, kranse, elke kruid,
die wolke en die boom wat drup met gom.
Hoe heerlik is dit nie om God te wees
met my gedagtes wat die wolke is;
die berge, bome en die gras my vlees
en elke neergetrekte bok my lis;
hoe heerlik as my talle stemmings styg
tot winde wat die takke snags uiteen
verskeur maar in die gryse oggend swyg
onder die drup van blare in die reën.
Hy leef alleen wat saam met God kan droom,
die wolk-wit visioene wat Hy het,
aanvoel bo wind en windvernielde boom
en onverskillighede van die wet
waar Hy verdeeld saam met die visse gaan
en met die blou visvanger langs die stroom,
want in verdeling en die pyn bestaan
Sy worsteling na ’n volmaakter droom.
Water-engel
Uit ’n afgestorwe wêreld duur
boomvarings en die see wat slaat
teen rotse in jou klare liggaam,
soos ’n sprietjie mos gevange in deursigtige agaat.
Jy is die water in die lyf se ope put
waarin die nesvoël en die geel seringetros
en alles aards tot trilling in jou stort
en langsaam opgelos jou helder gestalte word;
so bestendig jy bokant die eerste skepping
grootser en wisselend in eie hemele,
die palmtakke van die nag
wat uit dun skedes van die skemering
geel trosse sterre oopsprei oor die see
met ver die wit magnolia van die maan.
Vincent van Gogh
Jy het as ’n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurtes en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ’n vlam verwring.
William Blake
Hy het verontrus in laat
nagte deur Londen se strate
rondgedwaal, en is vereensaam van die mens
teruggedryf tot by die grens
waar hy gesels met blom en dier en gees,
maar weet dat God in iedereen moet wees
met eienskappe ingeperk
teenstrydiglik in tand en vlerk,
in wurm en die roos, die lam, die tier;
dat Hy die hartstog is, maar ook die vuur
wat alles lok tot daardie gulde gang
waarna die moeë sonneblom verlang.
Dagboek
DRANG
Ek weet as maanlig oor moerasse skyn
dan wil die aandblom bo die turf verskyn
in skoner lug; ’n inherente wil
tot styg bring al die bitterheid en pyn.
RYKDOM
Wat baat die volle skure, troppe vee,
die malse somergras, my krag bestee
aan die gekapte klip as ek ook nie
my ganse self aan iemand anders gee?
REIS
Bedags reis ons tesaam in vrolikheid
op groot, bruin hingste na die ewigheid,
maar snags moet elkeen droef-alleen kampeer
onder die wit tent van sy eensaamheid.
BESKAWING
Snags gevange tussen valse mure
kom ’n oerverlange na die vure
waar die heidene hul trommels slaan
en dans deur middernagtelike ure.
TYD
Die nagte het die somerlig wat skyn
in druiwekorrels, met swart voete fyn
getrap, maar nou uit donker kelders kom
die saamgedronge lig in kelkies wyn.
KUNSTENAARS
Ons is die taaie en die stil-bedaarde
adel van die akker wat die aarde
skoner skoffel; kluite, dade fyner slaan
en enkel dinge eis van hoë waarde.
FONTEINE
Om die fonteine saans wil ons die taal
van sterre en ’n groter doel bepaal;
ons wil ’n helder visioen eers hê
voordat ons môreoggend weer opsaal.