Versamelde poësie. D.J. Opperman
Читать онлайн книгу.alles silwerig verglans, verskyn
hul op wit hingste in die nek en kyk
na die ver-land wat voor die enkeling wyk,
want as ou vegters word ons afgeskif
soos leë silwer velle van die drif
wat deur die eeue veg. Net snags verskyn
party as skimme as die volmaan kwyn.
Maar wind sal waai, ’n otter blink sy kuil
verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,
die lamp sal oor my liggaam brand, ’n maan
oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,
en uit my sal die jongeling op die strand
hom vind voor bosse van ’n nuwe land
waaroor die wind nog waai, die weerlig vleg,
en teen die tier sal hy die stryd besleg
maar weet soos voorvaders met ruie baard
die streke van die gees bly ongekaart.
Man met flits
In die klein wit kol
van my wete stol
bruin en skerp ’n klip
soos ’n bok wat skrik,
staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.
Aan ’n takkie hang
twee ogies wat bang
uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.
Oor waters wat glip
soek ek klip na klip
maar ’n duister land
bedreig my alkant.
Wildernis
Watter boom se bitter wortel,
watter beentjie van die tortel
sal die hart teen bose gees
beskerm en van eensaamheid genees?
sal die kranse en die wildepeer
tot sin en ewigheid besweer?
Met die jare word die kamer
daagliks onherbergsamer
en buite kom ’n kilte
dieper uit die klip en stilte,
buite agter ’n miershoop lê
die maer lyk van Eugène Marais.
Sirkus
As profeet van die tyd wil ’n nar
al ons ouderwetse waardes verwar
waar tiers en leeus in die traliekring
een na die ander deur vuurhoepels spring
en die olifant op ’n vat gehurk
met oop-en-toe gekrul van die slurp
en klein spleetogies gerig op sy baas
geduldig en vals op ’n mondfluitjie blaas;
en hoë skoppelmaaie en drade teken
verwikkelde kringe en strepe, bereken
in terme van man en vrou, van vang en vlug . . .
en bang op ’n wit perd se rug
klou ’n apie in ’n bont jokkiepak
en ons lag
en ons lag
as sy pet al skuinser afsak.
Beskuldigde
Die fluitjie blaas, ek word deur swart omring
en ná vuishoue van verset
as my polse in blink boeie wring
noem een nog die gereg en wet!
Heftig wou ek my onskuld eers omskryf
maar die vervolger het toe koel
’n vlekkie van sy toga afgevryf
en ek reeds skuldiger gevoel;
nog meer toe ek die ander sake hoor
en die omstandighede ook oorweeg,
my hart het van geboorte af gemoor
en elke misdaad saam gepleeg.
“Ek vra die hof nie wat die aanklag is
met dag en datum van misdade;
ek wag net op die vonnis
en . . . genade.”
Pasiënt
En sal ’n rooikruiswa vandag miskien
hom vinnig wegvoer na die stil balkon
waar hy kan mymer in die môreson
terwyl die blonde vrou hom teer bedien?
Daar sal hy skepe in die hawe sien
of heeldag in pantoffels en japon
die ewigheid ontdek teen die plafon
– hy en sy wond in kamer nommer tien.
Maar hy besef die arts sal stetoskoop
en bril neerlê en so terloops opmerk:
“Jou hart en niere, alles is gesond.
Neem deel aan sport, besoek die bioskoop
en elke jaar die Strand.” Dus, van werk
na kroeg, van vrou na werk sleep hy sy wond.
Ballade van die grysland
Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
TOTIUS (Trekkerswee)
I
Uit tonnels van die nag tuur
ek oor rook en mis as ysterspore
my in kringe van die stad instuur.
Teen dakke en skoorstene blink
die son, soos in ’n leeggeloopte dam
op bottelskerwe en geroeste sink.
Eers in slote langs die straat,
met blou koffiekan en pik
het ek verbygangers beny, gehaat.
Toe het ons tot ’n staaldriehoek
die leë olievate opgestapel –
bye aan ’n nat bruin heuningkoek.
En haar hande, soos oor ’n klavier,
gryp en vou en gryp en vou
stukke sjokola in blinkpapier.
Draaisae gil en in my ore
klink die geklets van beitels,
die geneul van swart motore.
Uiteindelik valse syfers neergekrap,
kon ek uit vet van viskafees
na ’n paradys ontsnap.
II
Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
het ek met haar gevlug; maar by my was
die