Versamelde poësie. D.J. Opperman
Читать онлайн книгу.Deur die laat stilte
van my kamer jaag
motors en teen die mure
wankel en tol
Plato se skadu-figure;
iemand op die ondervloer katrol
die drade van sy gloeilamp
uit my rug en maag;
om my skryn die kil morse-kode
van nagdiertjies
en soos oor Sappho twee duisend jaar gelede
kantel die Sewegesternte
oor na die dode.
Negester oor Ninevé
1947
Vir my moeder
Ná ’n besoek aan die dieretuin
Hebban olla vogala . . .
Twee kraaie het hul nes gemaak
van stukkies draad;
en in staalkoue
ver van riete en riviere afgesluit
broei rooivinke en wildepoue
nog hul eiers uit;
in ysterhokke
ver van rantjies en langgras
werp ape en die waterbokke
nog hul kleintjies af;
net in ’n enkelkamer ek en jy
van hulle vreugde afgeskei.
Nagstorm oor die see
Het die onrustige see hom verwag,
die groot grys voël van die berge
sku uit die nag?
Sy silwerige vlerke het trillend verbree,
krysend sy nartjie-rooi snawel
gesteek in die see.
Toe styg hy op druppende vlerke en vlug
met hese gesang
na die berge terug.
Grootstad
Ek sal jou toon die oordeel van die
groot hoer . . . die vrou wat jy gesien
het, is die groot stad wat heerskappy
voer oor die konings van die aarde.
OPENBARING
In glanse van die son se ondergang
sien ek rooklokke van haar hare hang,
sy wat die snoere van die straat se ligte
bind om haar hals en smal gewrigte
en met ons glimlag wat haar dien,
agt uur in fabriek, masjien.
Maar as ons in haar arms die hoof
van digter en profeet beloof,
beloof om skepe in die oggenduur
weer om kanaries en kaneel te stuur,
te sorg dat sy alleen onder die son
die geheim ken van die groot kanon,
voel ons tussen heupe van haar skoot
smoor ons as saad kunsmatig dood
en deur haar tuimel torings, skure,
in die eindbrand van die vure.
In glanse van ’n son se ondergang
sien ons rooklokke van haar hare hang.
Nagwaak by die ou man
Die wind waai waar die otter blink die kuil
verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,
fluit uit spelonke van die nag en ruis
egalig deur basbome om die huis,
maar tussen balke en vaal mure brand
’n kersie in die kamer stil eenkant
oor sy beroerte-liggaam, soos ’n maan
oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,
waar ander strome aan die wrakhout roer
en weg van wind-omwaaide rotse voer.
In ’n riem-oog uit die hoë balke
rus sy dooie arm . . . ’n oopgespalkte
boavel hang teen die muur, en horings
van die groot sterk bokke uit die dorings.
Karosse op die vloer . . . maar skielik
uit geel portrette groei die streng blik
van voorgeslagte, en ek voel die gloed
wat in hul oë brand, mag in my bloed,
mag in my lende nie sy einde vind,
moet verder veg teen tier, teen hierdie wind.
Hoe vreemd dat almal hier vannag, uit hom
soos pluimsaad uit ’n ope skede kom:
hy wat geel stede bou maar in die fyn
stem van die troffel teen die steen sy pyn
herken; ’n jongere wat in die nagte
soos ’n sku dier in die aarde skagte
grawe; en ’n regter wat sy vonnis vel
maar snags homself veroordeel tot die sel;
hoe hulle, anders van mekaar verwyder,
vannag weer in die eerste skede sluimer.
“Nou dat die berge, sterre, in hom stort
en baard en oë riet en water word,
sien jy in hom die ruie oer-moeras
waaruit jy kruip en vegtend verder tas.
Óm jou word alles weer opnuut gevorm:
die berge styg, die sterre en die storm,
maar sal weer stort; jy moet geboorte gee
aan stringe kuile, kranse en die see
en so aan My; Ek is die skepping, roer
van poel tot poel, en wee die blinde moer!”
Was ek vanoggend aan die spruit se kant
dan spits kristal, verwarde waterplant,
die ooggat van ’n grot? Uit hamerkop
hou ek bedags die troebel kuile dop,
is snags reikhalsend in elk onderdeel
van die heelal gevange, U geheel
wat dromend wissel uit die eerste poel
deur klip en varing na ’n verre doel.
Ek, sewe selwe in myself gesluit,
kan nooit met sekerheid oor iets besluit;
ek: snags ’n doringboom wat op die Plein
gewaar uit elke vastigheid verskyn
daar sewe skaduwees, en deur die nagte
óm my die skimme sien van voorgeslagte
wat altyd in my skuil . . . en insigte
wat wissel volgens sewe ligte.
As