Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman


Скачать книгу
onwelkome vrou ontslae kan raak.

      Sy het hierdie man egter te lief om hom so gou al te laat gaan. Slegs twee dae van getroude lewe en die een rusie na die ander! Daar is te veel op die spel om dadelik op sy vraag te kan antwoord. Sy moet tyd probeer wen en hom op die een of ander manier in ’n meer toegeeflike luim kry sodat hulle die saak soos twee redelike mense kan bespreek.

      “E … jy het netnou van koffie gepraat,” sê sy met ’n gedwonge glimlaggie. “Gee jy om as ek eers vir my koffie gaan maak? Dan kan ons rustig oor die saak praat.”

      “Jy is baie wys, my vrou,” sê Theo sarkasties. “Dis blykbaar wanneer ons moeilikhede begin – wanneer jy dors is. Gaan maak gerus vir jou koffie.”

      Janie wil aanbied om vir hom ook nog ’n koppie koffie te gaan maak, maar sy is bang hy gee haar ’n dwars antwoord. Wanneer ’n mens twyfel, moet jy seker maar stilbly.

      Sy het nie die vaagste benul waar Theo die koppies en pierings en koffiepoeier en melk en suiker bêre nie en kyk hulpeloos deur die kombuis rond. Pleks dat sy verlede keer meer vir Riana met die kosmaak gehelp het, maar toe sit sy mos soos ’n verliefde skooldogter buite by Theo!

      Janie maak die kasdeure versigtig oop en toe, bang Theo hoor haar en dink sy krap in sy goed, of kom kyk dalk wat sy maak.

      Haar soektog lewer egter niks op nie – sy soek seker in die verkeerde kaste. Sy wil Theo egter nie te lank alleen met sy gedagtes laat nie. Uit ondervinding weet sy dat hy impulsief kan wees en sy is bang hierdie keer se oorhaastige besluit is dalk die verkeerde een. Hy besluit dalk dat hierdie huwelik die grootste fout van sy lewe was.

      Uit desperaatheid spoel Janie ’n emaljebekertjie uit wat in die wasbak staan en maak dit vol water. Theo sal seker nie oplet dat sy water sit en drink in plaas van koffie nie. Sy wens daar was ’n spieël in die kombuis en dat sy haar handsak byderhand gehad het. ’n Lipstiffie en reukwater help oneindig baie om ’n meisie selfvertroue te gee en dis iets wat sy binnekort baie nodig gaan hê. Hoe kry ’n meisie ’n man weer goed wanneer hy baie kwaad vir haar is? Veral as sy weet dit sal nie verwelkom word as sy haar arms om hom sit en hom ’n soentjie gee nie? Watter ander wapens is daar wat sy kan gebruik?

      “Jy verbaas my telkens, Janie,” merk Theo op toe sy weer op die puntjie van die stoel gaan sit. “Ek het nie geweet jy is só handig in ’n kombuis nie. Twee minute weg en jy is terug met die koffie …”

      “E … ja,” antwoord Janie verleë en neem ’n groot sluk water. Dalk help dit om haar senuwees te kalmeer. Sy kan die uitdrukking op sy gesig nie peil nie en dit maak haar senuweeagtig.

      “Wil jy nie gou vir my ook koffie gaan haal nie?” Theo hou sy koppie uit en Janie het geen keuse anders as om dit te neem nie.

      In die kombuis kyk sy weer desperaat rond en maak dieselfde kasdeure van netnou oop, maar met dieselfde resultaat. Dis blikkieskos en ’n stapel ou briewe en skroewedraaiers en hamers en ’n botteltjie spykers en dinge, alles behalwe koffie, melk en suiker, en tipies die kombuis van ’n alleenlopende man. Waar sou hy die koffie wegsteek?

      “Probeer die koskas regs van die yskas. Dis al deur wat jy nog nie oopgemaak het nie,” merk Theo koel vanaf die kombuisdeur op.

      Janie vlieg verbouereerd om en sien dat hy die rooi emaljebekertjie in sy hand het.

      “Probeer so iets ooit weer, my vrou …” sê hy afgemete. Hy is met drie tree by die wasbak en gooi die water uit. “Het jy gedink om weer vir die hele wêreld te gaan vertel ek verwaarloos jou? Ek sorg nie vir jou nie? Ek gee jou niks te ete of te drinke nie?”

      “Ek … ek het nie so iets vir die hele wêreld vertel nie …”

      “Al mense met wie jy gepraat het, was Katinka en Walt, en na húlle toe het jy baie vinnig met jou martelaarstorie gehardloop. Hoe dink jy moes ek voel toe tannie Labuschagne my in Messina bydam en uitvreet en daarvan beskuldig dat ek wreed en ongevoelig is? Toe sy aanbied om kos oor te stuur as my voorrade uitgeput is, wou ek slange vang! Gaan sit in die sitkamer, dan bring ek vir jou koffie. En gaan basuin dít ook asseblief uit aan die hele wêreld, veral aan Walt de Witt, want hy skinder baie graag. Skinder beter as wat hy skilder …”

      Janie bly egter in die kombuis staan. Sy wil vra wie by daardie tannie Labuschagne stories aangedra het en sy wil ook sien waar Theo sy voorrade bêre sodat sy haar weg in die kombuis kan vind.

      “Ek kan sien jy het blitsvinnig aan ’n verskoning gedink en ek wil dit nie hoor nie.” Theo draai haar hardhandig om en stoot haar deur toe.

      As Janie nie so omgekrap en bekommerd was nie, sou sy die situasie geniet het. Die ou tannie wat Theo voor stok kry omdat hy sy vrou uithonger … Sy kan glo dat hy boos was, want hy is seker nie gewoond dat iemand hom die leviete voorlees nie.

      “So ja …” gee Theo ’n kort rukkie later vir haar ’n koppie koffie aan, en ’n bordjie met ’n groot skyf sjokoladekoek. “Sien, ek het selfs in Messina vir my vrou koek gekoop; gehoop dit sal dien as ’n soenoffer … maar dit was vóór Katinka se ma my bygedam het.” Theo neem ’n slukkie koffie. “Terloops, ek het vergeet om jou te sê: Ockert Smuts het geskakel. Oom Gawie Labuschagne by die ingangshek het die oproep ontvang en die boodskap per radio hiernatoe deurgestuur.”

      Daar gaan skielik vir Janie lig op. Nou weet sy waarom Theo opnuut so erg omgekrap is. Sy weet mos hoe jaloers hy op haar en Okkie se vriendskap was. Die dekselse Okkie; as hy net kon weet watter troebel waters hy geskep het.

      “Wat wou Okkie hê?” vra Janie en onmiddellik weet sy dat dit die verkeerde ding was om te vra. Sy gee nie werklik om om te weet waarom Okkie geskakel het nie en sy weet nie waarom sy dit gevra het nie.

      “Hy wou seker sê dat hy jou nog steeds liefhet en jou smeek om na hom terug te kom,” antwoord Theo sarkasties. “Of dalk wou hy vasstel op watter trein jy sal wees. Sê vir hom daar is elke aand net die een trein van Rhodesië af en dit kom op platform nege in, maar jy sal nie daarop wees nie.”

      “Ek is nie van plan om Okkie terug te skakel nie,” sê sy kalm. Sy wonder wat Theo bedoel het toe hy gesê het sy sal nie op daardie trein wees nie. Hy is tog sekerlik nie van plan om al die moeite te doen om haar per motor terug te neem nie. Weet hy van iemand wat môre daardie kant toe ry en haar sal oplaai, of is daar miskien ’n lugdiens wat tussen Messina en die Rand vlieg?

      “Nee, natuurlik gaan jy nie vir Okkie terugskakel nie, want daar is nie ’n telefoon op Njelele nie,” sê Theo onaangenaam. “Maar jy gaan seker onmiddellik ’n telegram stuur, of hoe?”

      “Nee, ek gaan nie.” Janie weet die tyd het aangebreek dat sy en Theo moet gesels. Hulle moes eintlik gisteraand al gepraat het, maar toe was Katinka hier. Hoe onaangenaam dit ook al gaan wees, sy durf nie langer uitstel nie.

      Sy moet mooi met Theo praat en hom op ’n manier so ver kry om na haar te luister. Sy het nie opsetlik sy bevele verontagsaam en uit die motor geklim net om hom te tempteer nie. Sy het nie gisteraand doelbewus probeer om hom kwaad te maak nie, en vanoggend het sy nie uitgepak nie omdat sy nie geweet het wat hý wil hê sy moet doen nie. Sy was vandag eensaam en hartseer en verveeld, daarom het sy ’n entjie gaan stap en die ontmoeting met Walt was bloot toevallig. Sy het nie bedoel om so lank by hom te kuier nie en sy wou graag tuis wees toe haar man kom, maar hy het vroeër gekom as wat sy gedink het. En tussen haar en Okkie is daar niks meer as ’n platoniese vriendskap nie. Sy is vies dat hy geskakel het en sy is nie van plan om hom weer te kontak nie, want hy beteken vir haar niks meer nie. Haar eie man is vir haar die belangrikste en dis vir hom wat sy liefhet!

      Janie weet haar gedagtes is baie deurmekaar en sy kan maar net hoop haar sinne is meer ordelik en minder onsamehangend wanneer sy begin praat. Sy moet haar nie aan Theo steur as hy haar ’n dwars antwoord gee nie. Sy moet bly pleit en mooipraat. Hy moet haar ’n tweede kans gee om te toon hoe lief sy hom het en dat sy ’n goeie vrou vir hom sal wees. Sy moet hom daaraan herinner dat hy haar eenmaal liefgehad het – of, indien daar nie liefde was nie, dat hy graag met haar wou trou. Hy skuld dit aan homself om hierdie huwelik ’n kans te gee, háár ’n kans te gee. Sy het hom so lief en hy kan maar met haar rusie maak en raas, maar hy moet haar


Скачать книгу