Ondersoek my hart. Ilze Beukes

Читать онлайн книгу.

Ondersoek my hart - Ilze Beukes


Скачать книгу
op sy gesiggie, maar gelukkig maak die klok ’n einde aan hul geselsie. Sy leer eerder hekel as om ’n hele aand in die man se geselskap te wees. Sy is seker hulle het niks gemeen nie. Tog dans sy beeld vir ’n oomblik in haar gedagtes terwyl die ander kinders die klas binnestap. Hulle gaan staan by hul banke en beantwoord haar groet met ’n singende: “Goeiemôre, juffrou Botma.”

      Die kinders is gehoorsaam en hulle gaan so vinnig deur die werk dat sy die kas in die hoek oopsluit en pakkies pastelle begin uithaal voordat die klok vir pouse lui. Wat ’n heerlike dag. Sy is so bly sy het haar hartsbegeerte gevolg om ’n onderwyseres te word, al wou tannie Mercia graag hê sy moes ’n loopbaan in kuns volg. Kuns maak tog in elk geval steeds ’n groot deel van haar lewe uit.

      Na langpouse bring Handré vir haar ’n sjokolade-oliebol in ’n papierservet. “Hier is vir juffrou ’n doughnut.”

      “Haai, baie dankie, Handré.”

      “Juffrou, Handré se oom is baie ryk,” haak Vicus af en lyk baie ingenome met die stukkie informasie waaroor hy beskik.

      “O, nè?” sê Madelie terwyl sy haar wang vasbyt en ernstig probeer lyk.

      “Ja, juffrou, hy het vir Handré honderd rand vir snoepie gegee.”

      Dadelik is haar erns nie meer net aangeplak nie. Sy frons: “Handré, is dit die waarheid?” Sy hoop tog nie die kind het …

      “Ja, juffrou.” Handré kyk onseker na haar. Asof hy nie mooi weet hoekom sy kwaai klink nie.

      Madelie kyk hom ondersoekend aan en sien hoe sy gesig bleker raak. “Handré, het jy broodjies vir pouse gehad?”

      “Nee, juffrou, dis hoekom oom Ian vir my die geld gegee het. Sy brood was op.”

      “Hmm … en wat koop jy toe?”

      “Doughnuts, juffrou.”

      “Juffrou, juffrou, hy het vyf geëet en ’n blik rooi gaskoeldrank ook gedrink,” snip Vicus. “Maar hy het vir my en Rohan ook elkeen een gegee.”

      “Genade, Handré!”

      Hy vryf oor sy maag. “Juffrou, ek voel nie baie lekker nie.”

      “Ek sou so dink.”

      Voor sy iets verder kan sê, ruk sy lyf twee keer en gooi hy oor haar skoene op.

      “Ag nee, Handré!” Sy spring vinnig agteruit, maar haar skoene is reeds besmeer.

      Nog twee kinders in die klas kan die naarwordgeluide nie uitstaan nie en volg Handré se voorbeeld.

      Madelie se maag ruk self, maar sy dwing haarself tot kalmte, hou haar hand oor haar mond en neus en trek haar skoene uit. Sy stuur die kinders uit die klas voor nog een naar word. ’n Skoonmaker word dadelik ontbied terwyl sy Handré op haar stoel laat sit met die asblik voor hom. Die ander twee sit bleek in hul banke.

      Sy praat kalmerend met hulle, lei hul aandag af. Die skoonmaker daag op en help haar om die klas weer leefbaar te kry. Adelina vat ook Madelie se skoene weg om hulle te gaan skoonmaak. Madelie vee haarself met Wet Wipes af.

      Dit is nou net fantasties! Vir ’n dokter weet hy ook maar min van kinders en gesonde eetgewoontes. Daar is wel ’n stemmetjie wat haar waarsku dat sy onredelik is en hom nie ’n regverdige kans in die omstandighede gee nie. Maar steeds behoort hy van beter te weet.

      Nadat sy haar hande in die wasbakkie in die klas gewas het, gooi sy die vensters wyd oop sodat die vars lug en sonskyn die vertrek binnevloei.

      Madelie loop na buite om die raserige Graad 3’s terug in die klas te kry.

      Sy haal ’n matrassie uit wat sy altyd agter die kas bêre vir sulke noodgevalle en gooi dit langs haar lessenaar. Sy wys vir Handré om daarop te kom lê. Hy skud sy kop skamerig heen en weer, maar toe hy haar gesig sien, gaan lê hy gou op die matras. Die ander twee kinders se kleur kom darem geleidelik terug in hul gesigte nadat hulle elkeen ’n glas water gedrink het. Ten minste is hul klere skoon.

      Sy deel vir die hele klas groot velle papier saam met die pastelle uit en toe hulle aan die werk is, loop sy uit met haar selfoon en dokter Ian Duvenhage se visitekaartjie.

      Sy tik die nommer op die selfoon in. Die oomblik dat Ian Duvenhage aan die ander kant antwoord, val sy met die deur in die huis: “Kan jy asseblief vir Handré kom haal? Hy het naar geword in die klas en moet skoon klere aantrek. Jy kom ondersoek hom net nie weer hier in die klas nie.” Sy sny die oproep af voordat hy ’n behoorlike kans kry om haar te antwoord.

      Sy is glad nie lus vir ’n onderonsie met hom nie. Madelie druk die interkom se knoppie.

      “Benita, stuur Handré se oom asseblief deur sodra hy hier kom. Handré moet huis toe gaan, want hy is siek.”

      Na ’n hele ruk sien sy deur die vensters hoe Ian Duvenhage met lang, haastige treë aangestap kom. Sy glip by die klas uit en maak die deur agter haar toe. Hy lyk omgekrap en die alte bekende frons is op sy voorkop.

      “Dokter, ons moet praat!”

      “Waar is Handré? Ek het nie tyd vir …”

      “Op ’n matrassie in die klas. Ek het ook nie tyd vir al die onderbrekings wat jy veroorsaak nie.”

      “Waarvan praat jy?” Hy steek sy hand na die deurknop uit.

      Sy skud haar kop en beweeg voor hom in. “Wag, luister eers!”

      Sy volg sy blik na haar voete en voel hoe haar wange verkleur.

      “Genade, werk jy wraggies kaalvoet?”

      Sy skreef haar oë. Hy kyk haar al weer aan asof sy ’n bogsnuiter is. “Natuurlik nie! Dis jou skuld dat ek nie my skoene aanhet nie.”

      “Ekskuus?” hy staar haar aan asof sy mal is.

      Sy haal diep asem. “Het jy vir Handré honderd rand vir snoepie gegee?”

      Hy lyk oorbluf. “Ja, ek het, maar wat het dit te doen …?”

      “Hy is net nege. Weet jy wat het hy als gekoop?”

      “Wat het sy snoepiegeld te doen met die rede hoekom ek hier is? En met jou kaal voete?”

      Madelie klem haar vuiste saam in haar sye. “Alles! Hy het agt doughnuts gekoop, waarvan hy vyf self opgeëet het. Ook ’n blik rooi gaskoeldrank. Hy moes pouse baie honger gewees het, of hoe?”

      Ian vryf sy nek. “Wel, hy wou nie die pap eet wat ek in die huis gehad het nie en daar was nie brood nie, toe gee ek vir hom dié geld vir snoepie. Ek het nie gedink …”

      “Wel, vir die eerste keer stem ons saam oor iets: Jy het nie gedink nie.”

      “Toegegee. Ek is nie gewoond daaraan om kosblikke te pak nie.” Sy blik dwaal weer na haar voete. “Waar is jou skoene? Wat het dit …?”

      “Handré het op my skoene naar geword en die skoonmaker het hulle weggevat om skoon te maak,” sê sy vies.

      Ian se oë rek. “Ek is jammer!”

      Hy lyk so verleë dat haar hart teësinnig vermurwe. Sy sug. “Ek sê jou wat, ek sal liewer van nou af elke dag vir hom ’n kosblik pak tot sy ma terug is.”

      Ian glimlag. Daar duik kuiltjies in sy wange. “Baie dankie, ek sal jou ewig dankbaar wees. Dit gaan nogal wild in die oggende.”

      Madelie knik net, want skielik het daardie glimlag haar asem weggeslaan. Sy draai om en gaan die klas binne met Ian op haar hakke.

      Handré staan bleek van die matrassie op.

      Madelie is egter seker hy dik aan om ekstra simpatie van sy oom te kry.

      Ian tel die seuntjie se tas op en kyk na haar. “Ek skuld jou.”

      Sy skud net haar kop en maak die deur agter hulle toe nadat die twee uit is. Sy kyk na haar kaal tone en wikkel hulle. As sy eerlik met haarself moet wees, is dit nogal lagwekkend. Haar mondhoek krul op terwyl sy terugloop


Скачать книгу