Ondersoek my hart. Ilze Beukes

Читать онлайн книгу.

Ondersoek my hart - Ilze Beukes


Скачать книгу
hom vir sy verjaarsdag gee.”

      “Kan juffrou my ook leer?”

      “Handré, wag nou eers. Juffrou is besig! Ons het net dié gebring.” Ian lig die twee inkopiesakke op wat hy dra. Handré vat een sak uit sy oom se hande en hou dit na haar uit.

      Madelie vat dit by hom.

      Handré lyk of hy kan spring van opgewondenheid.

      Dit moedig haar aan om binne-in te loer. Sy kyk met ’n glimlag na Handré voor sy ’n skoenboks uithaal en dit oopmaak. Binne-in is ’n nuwe paar sandale. Sy trek haar asem verwonderd in: dit is presies wat sy vir haarself sou gekies het.

      “Um … e … dankie,” sê sy en voel hoe verleentheid oor die gebaar haar gesig warm kleur.

      “Jy was seker baie kwaad oor ek jou skoene gevat het? Maar ek moes die grootte kry om vir jou ander te kon koop. Daar was geen nommer op die ou paar nie, toe vat ek die skoene maar om hulle teen die nuwes te pas. Miskien was dit nie so ’n goeie gedagte nie?”

      “Ek moet erken, dit was nogal vreemd. Ek moes kaalvoet huis toe ry, maar baie dankie vir die skoene. Hulle is mooi. Dit was nie nodig nie.”

      “Madeliefie, ek is regtig jammer. Dit is die minste wat ek kan doen. Kan ek jou so noem? Noem my Ian, asseblief.”

      Madeliefie? Het sy reg gehoor? Die man is lekker simpel.

      Dan sien sy hoe Handré sy hande oor sy mond druk om sy lag weg te steek.

      O, so. Nóú weet sy waar Ian aan Madeliefie kom.

      Sy bars uit van die lag, en Handré skater saam. “Ek dink jy is verkeerd ingelig,” stik sy. “My naam is Madelie.”

      Ian gryp die seuntjie om sy lyf in ’n stoeigreep en vryf speels met sy vuis teen sy kop. “Handré, jou klein klits.”

      Die seuntjie hou sy maag vas en wys met ’n vinger na sy oom. “Het oom lekker gevang!”

      Ian lyk ongemaklik nadat hy Handré gelos het. “ ’Skuus. Madelie, dan. En noem my asseblief Ian.”

      Sy byt op haar lip en knik: dit is goed dat die wind vir ’n slag uit die slim dokter se seile is. Hy hou die ander sak na haar toe uit.

      “En dit?” vra sy toe sy dit aanvat.

      “Sommer net ’n paar goedjies vir die kosblik. Ek belowe dit is alles gesonde goed.”

      Madelie glimlag. Sy sien kasies, boksies sap, broodrolletjies, vrugtelekkers en ’n klomp ander goed.

      “Dit lyk piekfyn, ek sal sorg dat hy pouse daarvan kry.”

      “Nogmaals dankie. Dit gaan my baie help.”

      “Plesier. Sal julle ’n koeldrank drink?”

      “Dankie, dit sal lekker wees. Dit was ’n besige dag, en ek het direk na werk vir Handré gaan haal en toe gaan uittrek. Daarna is ons winkels toe. Ons het nog nie kans gekry om iets te drink nie.”

      “Wie kyk na hom in die middag?”

      “Sanna moes nou maar inspring, aangesien iemand my daarop gewys het dat spreekkamers nie die ideale plek vir kinders is nie. Sy werk al agt jaar by my broer-hulle.”

      Madelie haal ’n skoon vel papier uit die kas en gee dit vir Handré om op te teken voor sy kombuis toe stap.

      Op pad sien sy hoe Ian die veiligheidshek sluit.

      Madelie haal vrugtesap uit die yskas en rangskik drie glase op ’n skinkbord. Ian kom die vertrek binne, en haar oë gly oor hom. Die kortbroek wys sy gespierde bene af; hy kom beslis gereeld in ’n gimnasium. Daarvan getuig die T-hemp wat ook styf oor sy borskas span. “Kom ons gaan sit sommer daar by Handré?”

      Hy knik, tel die skinkbord op en staan terug sodat sy kan verbyloop.

      Madelie sien Handré is in sy eie wêreldjie.

      Die musiek speel steeds saggies in die agtergrond. Sy gaan sit langs Handré en drink haar koeldrank.

      Ian loop na die venster en kyk uit oor die rivier. “Oulike plek wat jy hier het. Dit lyk so rustig. Ek is mal oor die natuur. Ek kan dae lank buite in die natuur stap en doen soms staproetes wanneer ek tyd kry.”

      “Ek is baie dankbaar dat my pa die plek vir my gekoop het. Ek bly lekker hier. Ek hou ook baie van die natuur en buitelewe.”

      Hy draai om en glimlag toe sy oë deur die vertrek dwaal. “Jou plek lyk presies soos ek my sou voorstel. Modern en kleurvol.”

      “Dankie, dis maar ek. Ek hou nie van vaal en vervelig nie. Is jy en jou broer al lank in vennootskap? Ek weet nie veel van die dokters op die dorp nie.”

      “Nee, ek het twee maande gelede van die Kaap af na Kroonstad gekom. Dokter Bruyns was voorheen my broer se vennoot, maar hy het afgetree. Dit was tyd vir my om uit die Kaap te skuif.”

      Verbeel sy haar of skuil daar meer agter sy woorde as wat hy sê?

      “Buitendien, my broer het die prentjie van om ’n dokter op ’n dorp soos dié te wees, baie aanloklik geskilder, en ek moet sê noudat ek ’n rukkie hier is, stem ek saam.”

      Sy sien hoe sy oë begin lewe en hy met entoesiasme en passie vertel: “Omdat die hospitaal so klein is, doen ons algemene praktisyns self kleinerige operasies soos mangels en blindederms, en soms word ons ingeroep om met operasies by te staan wat deur ander spesialiste gedoen word. Dit fassineer my. Ek wou altyd ’n algemene praktisyn word omdat dit is wat my pa en broer doen, maar dalk gaan studeer ek nog verder en word ’n spesialis van die een of ander aard …”

      Ondanks die hitte slaan hoendervel op Madelie se arms uit. Sy voel al weer bewerig. ’n Hospitaal fassineer hom? Hulle kan eenvoudig nie meer verskil nie! Sy kyk weg van hom af.

      “Hoekom ken jy nie die dokters nie? Bly jy nog nie lank hier nie?” wil hy weet.

      Sy sluk. Kry haar stem onder beheer. “Nee, dit is nie dit nie. Ek is al twee jaar hier, ek gaan net nie dokter toe nie. Ek is gelukkig ’n baie gesonde mens.” Hy kom nou te na aan haar seerplek en dit maak haar angstig. Tyd om die onderwerp te verander: “Ek gaan vir my pasta maak. Julle kan saameet as julle wil?”

      Handré spring op met sy prent in die hand. “Toe, oom Ian, asseblieeeeeef, dan kan ek nog teken?”

      Die kuiltjies duik in Ian se wange. “Wel dit lyk my nie ek het veel van ’n keuse nie?”

      Madelie, wat bly is dat die kind die spanning verbreek het wat in haar opbou, lag floutjies. “Gaan julle vanaand nog deur Welkom toe?”

      “Nee, maar ek sal Suné later bel sodat Handré met haar kan praat.”

      Madelie staan op. “Goed, dan gaan ek gou vir ons iets te ete maak. Jy kan voor die TV –?”

      “Nee, ek kom saam.” Hy pak die glase terug in die skinkbord en dra dit kombuis toe.

      Handré wys vir haar wat hy geteken het.

      “Sjoe, Handré, maar dit is pragtig. Ek het nog stempeltjies ook as jy moeg raak van teken.”

      “Juffrou, kan ek hulle sien en kan ek daarná TV kyk?”

      “Natuurlik! Ek haal hulle net gou hier uit die kas.” Sy haal ’n outydse koekblik uit die kas en maak dit oop. Sit verskillende kleure stempelblokke voor Handré neer en hou daarna die blik wat halfpad vol verskillende soorte stempeltjies is na hom uit.

      “Wow, maar dis lekker hier by juffrou. Wens ek kan elke dag hier kom speel.”

      Madelie vryf sy hare deurmekaar en laat Handré se wens in die lug hang. Sy wil nie te betrokke raak nie. Soos sake staan, sien sy heeltemal genoeg van sy oom Ian. “Nou toe, hier is vir jou ’n skoon vel papier. Lekker speel.”

      Toe sy in die kombuis kom, staan Ian haar en inwag. Hy leun effens teen die kas en kyk na haar terwyl ’n kuiltjie in sy wang duik. Haar hart mis ’n slag. Hy lyk glad


Скачать книгу