Openbaring. C. Johan Bakkes
Читать онлайн книгу.om saam met sy enigste Suid-Afrikaanse kliënte dood te gaan … Sy Engels is ietwat meer geradbraak as Sasja s’n. Dis beperk tot “da” en “njet”, en dan weet hy nie wanneer om watter een te gebruik nie!
En dan is daar Maxim Kazarin, die held van die verhaal. Hy’s gesubkontrakteer om met sy eie dubbelgeïsoleerde Boechanka die mal Suid-Afrikaners die yslande in te karwei. Geen Rus ry as die kwik onder minus 40 grade val nie – veral nie op die Pad van Gebeendere nie. Volgens oorlewering maak die koue dat die lug in die bande onstabiel raak. Sou die motor breek of die petrol vries en die enjin vrek, dan verander die voertuig in ’n kis-yskas. Ons kontak met die buitewêreld is ’n sneeuponie wat ons agterna sleep en ’n satellietfoon sonder batterye, gereël deur Sasja die draadhokvegter. O ja, en Maxim se Engels is so geradbraak soos sy Afrikaans.
Vier Suid-Afrikaners en drie Russe op die pad van die dood … Vir wat?
Die poorte na die hel
The Afar invariably castrated any man or boy whom they killed, removing both the penis and scrotum – an obvious trophy – and obtaining it gave the additional satisfaction of dishonouring the corpse.
– Sir Wilfred Thesiger
Dan breek die berge en ons bars op basaltvlaktes uit. Die wind stu en warm stof borrel oral in. Die Land Cruiser bokspring oor rotsblok en donga. Ek besef weer eens dis ’n stupid oefening dié. Hoe durf jy hierdie ongenaakbaarheid aan sonder enige ondersteuning? As die ou karretjie nou breek, dan dood ons …
Die ongemak van die rit neuk in my skarniere in. Ons is sewe mense in ’n vervoermiddel wat vir ses gemaklik sou wees. Dis ons verdiende loon, want eintlik wou geen Haboesja (dis nou ’n gewone Ethiopiër) hier in nie. “Julle is mal – net die Afar wil hier wees,” moes ons hoor, en “hulle is so heilig op dié plek, hulle sal julle pere uitsny sou julle dit waag …”
Ons is op pad na die warmste plek op aarde, daar waar mense steeds ’n bestaan maak. Vir wat?
Die ongeorganiseerdheid van dié ekskursie maak my ietwat senuagtig. Daar’s nie ’n manier dat ons Suider-Afrikane met een voertuig sulke waagstukke aanpak nie. Nie eens in die Khaudum of Zambië se Barotseland-Wes nie.
Weer bekyk ek my reisgenote. Elkeen is gemaklik in sy eie ongemak. Kalie en Roland is gebou vir ongerief, maar tog sien ek die wildgeit in hulle oë, die besef van hierdie waagstuk.
Dan Paul Andrag, wyn- en bessieboer daar uit Vlottenburg buite Stellenbosch. Paul wat ná ’n epiese staptog deur die Naukluftberge in Namibië vir my ’n gedig deur Rosa Smit aangehaal het. “Daar waar die berge asem inhou, net daar sal ek vir jou ’n huis bou …” het hy begin.
Hy is ’n reisgenoot wat moet saam. Hy praat nie veel nie en kla nooit.
Maar ons is nie alleen nie. Want halsstarrige mense moet gemonitor word, of so meen die Ethiopiërs. Net oningeligtes gaan die Danakil-depressie in. Aan boord het ons ons gids en drywer, Brook Kassa, ’n wydbelese man uit Addis Abeba. Dis sy onbenydenswaardige taak om ons weer lewend terug te kry. Skynbaar was nog net ’n Franse televisiespan dapper genoeg om voor ons die depressie te wil in.
Op Mekele, die hoofstad van die Tigre-provinsie, is Tsegai Mammo, ’n verteenwoordiger van hul toerismeburo, aan ons afgedeel. Hy sit militêr-strak voor saam met Brook in die voertuig. Dis asof hy nie lus het vir die avontuur nie. Ek verstaan dit – almal het tog gewaarsku dat dit nie ’n piekniek gaan wees nie. Vir Tsegai is dit vir seker baie aangenamer iewers in sy kantoortjie, burokraties ver weg van die warmste plek op aarde.
Die kersie op die koek is eintlik die man van Berhale, Beléa. Hy is gekaftan en is veronderstel om aan die Afar te verduidelik dat ons net wil kom kyk. Hy moet hulle oortuig dat ons Suid-Afrikaners geen behoefte het om hulle land oor te neem en ’n tuisland daarvan te maak nie.
So skommel en skud vier Suid-Afrikaners en drie Ethiopiërs na die laagste plek onder seespieël op die Afrika-kontinent, en so ook die warmste plek op aarde, dieper die Danakil in.
Oujaarsaand
And those who were seen dancing, were thought to be
insane by those who could not hear the music.
– Nietzsche
Eintlik is Oujaarsaand die mees onnatuurlike, desperate aand van die hele jaar. Die aand van gedwonge vreugde. Die ou jaar met al sy dinge het sy gat gesien – lank lewe die nuwe jaar! En môre is net soos die dag van gister, oormôre en die dag daarna. Miskien met één verskilletjie – die gebruiker het tien teen een ’n kloppende hoofpyn.
Onthou bietjie, of stel jouself voor, gewoonlik word daar gedans. Tradisioneel sal die Suid-Afrikaners hemelhoë vure bou waar vleise sissend tot gaar getoor word. Almal het verspotte papierkepse op en in die mond so ’n zoeiing-blaasding wat soos ’n verkleurmannetjie se tong uitskiet en weer teruggesluk word. Die drank vloei, want daarsonder kan die mens nie meer jolig wees nie. Alles word gedoen om vrolikheid te skep. Dan beier die klok en jy gryp die naaste nooi, dít met ’n klapsoen. “Voorspoedige nuwe jaar!” laat almal hoor en die klappers klap en die honde word mal en die nuwe jaar begin met ’n wrang smaak.
Daai klapperknal laat my dink hoe ek en Nanna, my eie persoonlike vrou, Oujaarsaande vier. Die ergste is dat sy die volgende dag verjaar.
Dis ’n rustige aand. Ja, ek pak ’n vuurtjie en braai dikrib. Sy maak heerlike strandloperpoeding (soet aartappelslaai met agurkies). In die swembad dryf ons rond en korswil oor die jaar wat verby is en ook oor dít wat kom. En dan net voor twaalf gaan lê ons by ons tien katte en vier airedale-terriërs en sing vir hulle slaapliedjies, terwyl Grande Roche, daai stinkduur kuierplek van die rykes in die Paarl, die hemelruim in kleure tooi saam met ’n kakofonie van bomontploffings en mortieraanvalle. En hulle buitelandse gaste vergeet van Dresden, Guernica en Londen se Blitz.
Ek weet egter ook dat niemand alleen wil wees as die jaar sy draai maak nie. Die illusie van ander se vreugdevolle samesyn maak die Oujaarsaand-alleenmens se alleenheid net erger. Soos my vriend Johan Potgieter, kaptein ter see, eendag gesê het: “Eensaamheid is die alleen as jy nie meer die keuse het om alleen te wil wees nie.” So erg dat menige mens nie kans sien vir die nuwe jaar se slomp nie – en vir ewig bly hulle in die ou jaar agter. Dan word hulle die nuwe jaar in ’n houtkis in gekarwei. Het julle al gedink hoeveel eensames vergader op Trafalgarplein, New York se Times Square, Barcelona se La Rambla en Iberië se nagklubs? Dis soos Langenhoven gesê het: “ ’n Skare mense is ’n versameling van eensames.”
Dis Oujaarsaand. Ons vier is op ’n Emirates-vlug op pad Rusland toe. Ons sit langs mekaar, oorkant mekaar. Menende twee-twee in ’n ry, met die paadjie wat ons twee-twee skei. Reis na die onbekende maak vrolikheid. Ek, Kalie en Fellies was al in Rusland – dis vir Roland ’n nuutjie. Ons almal ken vlugpersoneel-bediening, veral op ’n ellelange vlug, en bestel elke keer twee dubbeltjies wanneer ’n lugwaardin verbytrippel. Dis tog Oujaarsaand en dit noop ’n vreugde, al is dit soos reeds genoem plasties van aard.
Die kajuitpersoneel is ’n mengelmoes. Kosmopolities is eintlik die woord. Dis vir my die wonderlikste van die Arabiese lugrederye, Etiad, Emirates, Qatar en dies meer. Hulle het harems vol mooie vlugpersoneel. Uit Maleisië, Zimbabwe, Frankryk, Viëtnam, Gambië, Duitsland en selfs Suid-Afrika – almal getooi met so ’n loshangende sluiertjie.
En soos die dubbeltjies inskop en die twaalfuurklok van ’n nuwe jaar al verder weg beweeg soos ons oor tydsones vlieg, die rit al móéglank word en ons bene verkramp, besluit ons om te gaan “vleis braai” in die vliegtuig se agterstewe … Asseblief, moet die opmerking tog nie letterlik opneem nie. Ons Afrikaners haat benoudheid. Dis hoekom ons so lekker gesellig