Openbaring. C. Johan Bakkes
Читать онлайн книгу.meisiekinners laat ons die betreding van hulle ruimte toe, want dis Oujaar en hulle is ver van hulle mense en hulle mense se liefde.
En daai nag op vlug EK711 vier ons die lewe. Nie die nuwe jaar of die ou jaar nie. Die lewe van menswees. Aminatta van Sierra Leone vertel van die verskriklike burgeroorlog wat hulle moes beleef het. Rufaro van Zimbabwe vertel van die mislukking van Robert Mugabe, en Esther van Reitz vertel van Zuma se geploeter. En ons vlieg die nuwe jaar in, na die koudste plek op aarde. En toe die nuwe jaar breek, toe weet ons ook nie vir wat nie …
Rajbanshi Giovanni Sitting Bull
Airline travel is hours of boredom interrupted by moments of stark terror.
– Al Boliska
Afrika se lugrederye en vliegtuie het nou nie ’n skoon rekord nie. So ook nie Russiese vliegtuie die koue in nie, of enige Malaysia Airlines-vlug na waar ook al – hetsy of hulle verdwyn of afgeskiet word …
My prentjie van ’n Afrika-vliegtuig is ’n moerse klomp goed wat met toue op die dak vasgemaak is, ’n Ventersleepwaentjie agteraan gehaak, vliegend deur die lug, soos Sinterklaas se koets. En daar is hoenders en skape in die kajuitruim. Dis in elk geval hoe ek ’n Afrika-grondreis tot nou toe beleef het.
Dis darem nie regtig so nie – maar ek het al een sitplek met ’n mama van Bamako, Mali gedeel, dít met ’n TV op haar skoot en my “alle-bagasie” onder my voete (ek boek nooit die goed in Afrika deur nie). Dit was op ’n ellelange Air Afrique-vlug na Ouagadougou, Burkina Faso toe.
Ook het ek al lank ná nie eens minister Hendrik Schoeman dit op ’n vliegtuig mog doen nie, al rokende in die “rookafdeling” gesit op ’n internasionale vlug na Abidjan, Ivoorkus. Aan die ander kant het ek ook al saam met die navigator buite op die landingstrook by Pointe-Noire, Brazzaville, Kongo gaan rook tydens ’n uur se oorstaan op pad Lagos, Nigerië toe.
Ten spyte hiervan laat die blote idee van ’n reis na die vreemde my adrenalien galop. So erg dat ek op pad lughawe toe reg agteruit in my meisiekind, Cara, se splinternuwe karretjie in vasfoeter. Daar los ek my verslae mense al weer met ’n duik agter en neuk die vreemde in.
Ons is kinderlik opgewonde wanneer ons ons tuismaak in die Ethiopian Airlines-vliegtuig, bestemming Addis Abeba …
Ons sit enkel, elk by die paadjie regoor mekaar. Daar is metode in die malligheid. Jy kan in elk geval boggherol by die venster uit sien, en dan moet jy (veral op ’n nagvlug) twee grommige passasiers opjaag as jy wil gaan fluit. Teenaan die paadjie is die lugwaardin met die versnapering-sleepwa met die verbykom ook binne roep- of grypafstand.
Ek glo elke warmbloedige heteroseksuele man hoop op ’n vliegtuig mos heimlik dat ’n mooie vrou so uit Vogue se modeblaaie haar op die leë sitplek langs hom sal kom neerplons. Jy kyk so na elke inlopende passasier en hoop daai mooie nooi is jou buurvrou. Dit het my egter in al my vliegtuigomswerwinge nog nooit oorgekom nie. My naassittende medepassasier was merendeels ’n gesette persoon, ’n lid van die “breë publiek”.
Dit laat my dink aan daai ou grappie (en ek gaan die knal tien teen een al weer opdonner – grappe is nie my forte nie):
Daar word vertel van hierdie beeldskone, lang, lenige model wat op ’n vlug Amsterdam toe langs Koos van der Merwe beland het.
“Nou wat gaan jy in Amsterdam maak?” wil Koos weet.
“Ek is ’n seksuoloog en moet daar ’n voorlegging by ’n konferensie gaan doen.”
“O, dis interessant, en wat sal die onderwerp wees?”
“Ag, dit gaan maar oor die seksuele gewoontes en aantrekking tussen mense wat internasionaal so verskil. Byvoorbeeld, die mans uit Indië se seksuele uithouvermoë is ver bo dié van die res. So liefkoos die Italjaners uitstekend en die Rooihuide in Amerika se werkende dele spreek boekdele. Ag, jammer, my naam is Michelle Tredoux.”
“Aangename kennis,” antwoord Koos. “My naam is Rajbanshi Giovanni Sitting Bull.”
Of so iets.
Weer eens kry ek dit reg om langs my ’n eks-Koevoet te hê wat iewers in Afrika sekuriteitswerk gaan doen.
Roland is gelukkiger. Langs hom is ’n fynbesnede vrou uit Ethiopië. Sy stel haar voor as Sofia. Sy is vanaf San Francisco op pad Bahir Dar toe en vertel dat sy die suster van die nuwe Ethiopiese sangsensasie, Gigi, is. Dis nie regtig vir ons van belang nie en min wetende dat Sofia en Gigi weer ons paaie sal kruis, burger ons ons in vir ’n reis na ’n vreemde plek – ’n plek buite die verwysing van enige Afrika-reisiger.
In transito
I met a lot of people on my travels. I even encountered myself.
– James Baldwin
“In transito” beteken wanneer jy van punt A na punt B op pad is. Ek glo “in transito” is deel van die reis, en partykeer ís dit die reis – menende jy is heeltyd aan die beweeg. Daar is geen eindbestemming nie. Ek noem dit “pad-af boemel” (’n “road trip” soos die jongmense dit deesdae wil).
Maar met hierdie ellelange winskoopvlugte van die Arabiere is die reisiger werklik in transito. Hy wil regtig net aan die ander kant kom. Maar hulle maak dit nie vir jou maklik nie …
Jy sien, daai “goedkoop” vlug Moskou toe is eintlik ’n slenter, want die Emirate wil hê jy moet ’n dag of wat op daai so-groot-soos-sewentien-rugbyvelde-lughawe in Doebai vertoef. En ten duurste van hulle “made in China” egte Arabiese snuisterye aankoop.
Dit kan ook wees dat jy gelukkig is en mense ter plaatse ken. Dan kan jy ’n dag se oorstaan in ’n reis omtimmer. Laurie en Evette Mitchell het ’n dagbesoek aan Doebai in ’n heerlike besigtigingsreis verander, so ook Johan en Rooi Alet Knoetze in Doha, Katar.
Dis egter daai nagtelike of halfdag oorstaan in transito wat die nagmerrie is … Nou moet ek eers iets oor myself vertel. (Verskoon as ek selfvoldaan klink; sien hier onder.*) Behalwe dat ek hiperaktief is (ek rol en wieg myself byvoorbeeld pootuit voor ek aan die slaap raak en kan nie vir een oomblik stilsit nie), is ek ook oraal gefikseerd. Ek dink dit kom van kleintyd af – volgens my ma kon sy nooit genoeg melk produseer nie. Met orale fiksasie bedoel ek my mond moet heeltyd besig wees. Of ek eet, of ek drink, of ek rook, en dan praat ek myself moeg. So tussendeur, partykeer sommerso met myself, en ja, ek antwoord myself.
Nou wat doen iemand van my kaliber ’n paar uur lank op ’n Arabiese lughawe? Kom ek verduidelik. As ek ná agt tot elf ure uit ’n vliegtuig uit strompel, dan moet ek my pyp opsteek. Bloot oorlat vars lug ’n afwerse invloed op my longe het. En ongelukkig het die mense met swak longe internasionaal die oorhand gekry – jy mag nêrens meer in die openbaar rook nie.
Op elke lughawe wat sy man staan, is daar gelukkig sulke rookhokkies. Mense – dis nou vir dié van julle wat nie rook nie – as jy daar instap, neuk jy by Dante se negende hel in. Dis die enigste plek op die grote lughawe waar die lugverkoeling nie werk nie. Die “extractor fan”-konsep het skynbaar by die ingenieurs verbygeglip. “Blou gerook” is ’n mistasting, want dis bleddie swart van die rookdampe. Tussen die verdoemende wolke staan die uitgeworpenes, teugend aan hulle kankerstokkies. Hier word nie ’n woord geuiter nie – hier rook jy net. Daar is so ’n desperaatheid. Nie een bliksem wil hier wees nie, maar hulle móét. Navorsers sê buiten heroïen is nikotien die mees verslawende dwelm. Maar ek is nie hier met ’n wetenskaplike joernaal besig nie. Die beginsel is dat pyp rook vir my ’n ritueel is, en die donner alleen weet, as ek in daai hokkies