Ena Murray Keur 9. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 9 - Ena Murray


Скачать книгу
nie! Dis nog ek, al lyk ek anders. Is … is ek dan nie vir Mamma nou mooi nie? Hè, Mams?”

      “O, my kind! My kind!” Die ma klou haar dogter vas en dis of sy byna hardop bid ’n wonderwerk moet plaasvind; dat sy weer moet voel hoe haar arms vol word soos voorheen. Eindelik kry sy haar emosie genoeg in beheer dat sy kan terugstaan, moedig opkyk in die pleitende grys oë – die enigste bekende eienskap wat oorgebly het – en met dieselfde wete as haar man in haar binneste: ons dierbare, geliefde Petratjie sal nooit terugkom nie.

      “Ek … ek is jammer, my kind. Dit was die skok …” Sy dwing haarself om na die vreemde meisie voor haar te kyk. “Jy is … pragtig. Natuurlik is jy asemrowend pragtig, my … kind.”

      Dis wat ons moet onthou, dink sy amper koorsagtig. Sy is nog ons kind. Binnekant is sy nog ons ou Petratjie. Ons moet dit nooit vergeet nie.

      Dit duur nie lank voordat die ouerpaar nog ’n ontnugtering kry nie. Ook aan die binnekant het van die ou Petra nie veel oorgebly nie. Verslae sit en luister hulle na haar senuweeagtige gebabbel, iets waaraan die ou Petra haar nooit skuldig gemaak het nie. Die ou Petra was stil, ingetoë, selfs soms swaar van tong. Maar dis amper asof hierdie snydokter ook aan haar innerlike geopereer het.

      Dis heeltemal waar dat sy aan die babbel is, en Petra besef dit ook. Maar dis om hierdie verskriklike spanning, hierdie vreesaanjaende vreemde iets tussen haar en haar ouers te verdryf.

      Sy vertel hulle van die afgelope maande. Nie alles nie. Oor die verskriklike lyding swyg sy. Maar daar is baie staaltjies wat sy kan vertel, en haar ouers lag beleef daaroor.

      Binne-in haar skreeu dit: Wat makeer julle? Ek is Petra. Jul eie Petra! Moenie so na my kyk asof ek ’n vreemdeling is nie! Ek is jul kind! Dan hoor sy haarself weer voortbabbel: “Ek het ook geleer tennis speel, geleer dans, en sommer ook ’n modelkursus gevolg. Dit was geweldig interessant. Ek …”

      “Pe … e … kind, voel jy nie moeg nie? Dink jy nie jy moet ’n rukkie gaan rus nie?” Dis of haar ma dit moeilik vind om haar selfs op die ou bekende naam aan te spreek!

      “Nee, natuurlik nie, Mamma. Ek is so fiks soos nog iets!”

      “Maar … e … Pappa kan jou goedjies inbring. Jy wil seker uitpak en so aan … of wil jy nog ’n bietjie tee hê?”

      Ek het nie vir ’n koppie tee gekom nie! Ek het huis toe gekom! skreeu dit weer in haar, maar sy staan op en voel skielik moeg. “Ja. Ek dink ek moet maar gaan uitpak. Dan is dit ook klaar.”

      Die grys oë is stil toe die kamerdeur agter haar toegaan en haar blik deur die bekende kamer dwaal. Selfs hier voel sy vreemd, ’n indringer. Sy weet dis verspot, maar sy kry die gevoel dat selfs haar ou kamertjie haar nie, soos sy verwag het, verwelkom nie.

      Sy buk vinnig af, begin haar tasse oopmaak. Natuurlik gaan dit aanpassing verg van haarself én haar ouers. Sy moet onthou sy voel nog maar binnekant dieselfde, maar dis haar ouers wat skielik teen ’n wildvreemde gesig moet vaskyk. Natuurlik sal dit ’n rukkie duur. Maar dit sal regkom.

      Sy maak die kasdeur oop, en haar blik val op ’n paar ou rokkies wat sy hier laat bly het toe sy weg is. Sy haal een uit, hou dit omhoog. Het sy werklik ’n paar maande gelede hierdie onooglike gedrog gedra? Sy gril, bondel alles bymekaar en dink met ’n skewe glimlaggie: Ek kan dit gerus vir Klaus Wagner stuur vir sy maandelikse rommelveiling!

      Dan tref iets haar: Sy is daar weg sonder om die man te betaal! Sy sal dit so gou moontlik moet regstel.

      Toe Kerneels weer langs sy vrou kom staan nadat hy die tasse ingedra het, plaas hy sy arm om haar skouers en druk haar ’n oomblik teen hom vas. Woorde is nie nodig tussen hulle nie en ’n paar minute vind hulle vertroosting in mekaar se begrypende nabyheid. Dan lig Mara haar kop van haar man se bors af en kyk met bekommerde oë na hom.

      “Kerneels, jy moet dadelik na Paula-hulle gaan. Jy sal hulle moet waarsku.”

      Hy knik, sug, en laat sy arm val. “Ja. Hulle sal moet voorbereid wees – veral Paula. Ek weet nie hoe …”

      Hy swyg magteloos en sy vrou knik begrypend. “Ja. Ek besef nou dit was verkeerd van ons om hierdie ding geheim te hou vir hulle. Ons moes nooit na Petra geluister het nie. O, Kerneels, wat gaan ons doen?”

      “Wat kán ons doen, my vrou? Ons kan maar net probeer om vir haar dieselfde ouers te wees as … voorheen.”

      Maar dit sal nie maklik gaan nie, besef albei. In hul harte sal die beeld van die ou Petra maar bly voortleef … en sal hulle na dáárdie Petra verlang.

      Mara wuif vir haar man toe die motor vertrek, dan draai sy om, begin die teegoed bymekaarpak. Haar hande verstil. Die eerste keer tref dit haar: Petra, die nuwe Petra, het baie te sê gehad netnou, maar sy het nie een keer verwys na of uitgevra oor haar suster en dié se man nie. Met die intuïsie wat net ’n moederhart ken, weet sy dat hierdie onheilsgevoel in haar binneste nie ongegrond is nie. Daar het in die verlede al baie trane oor haar wange gerol ter wille van Petra. ’n Beklemmende, dreigende gevoel binne-in die moederhart waarsku haar daar gaan in die toekoms ook nog baie trane oor haar wange rol … as gevolg van die nuwe Petra.

      Eers toe hulle aan die middagtafel sit, kom Paula en Eugene ter sprake. Dis ook nie Petra wat eerste na hulle verwys nie, maar haar pa, en hy doen dit met opset.

      “Ja, terloops, Paula het laat weet baie welkom tuis. Ek was netnou vir so ’n heen-en-weertjie daar aan.”

      Petra kyk haar pa bedaard in die oë. Sy kan dink hoekom hy vir ’n heen-en-weertjie daar was. Sy voel teleurgesteld. Sy sou verkies het dat Paula niksvermoedend hier moes instap. “Dankie. Hoe gaan dit met haar?”

      “Dit gaan darem nou weer aan.”

      Sy frons liggies. “Het sy dan iets makeer?”

      “Nee, maar …” Weer besef Mara dit was ’n fout om die afgelope paar maande al die dinge so in duisternis en geheimsinnigheid te hul. “Paula is verwagtend.”

      “So?” Die stemtoon is heeltemal gevoelloos.

      “Ja, maar sy was van die begin af nie gesond nie. Aan die begin, die eerste drie maande, was sy vreeslik naar, kon niks binnehou nie. Selfs die water wat sy drink, het uitgekom. Nou gaan dit beter, maar daar is ander simptome wat onrusbarend is, gevolglik lê sy meer as wat sy op is. Eugene is maar bekommerd oor haar – ons ook.”

      “Hoe ver is sy?”

      “Daar is nog omtrent drie en ’n half maande oor.”

      “Ek begryp. Ek … is jammer om te hoor sy het probleme.” Dit word stil om die tafel, want steeds is daardie vreemde, teruggetrokke atmosfeer tussen hulle. Petra peusel net aan die kos in haar bord. Sy sal tog moet onthou om haar ma te sê sy het nie meer haar eertydse eetlus nie, dat sy geen stysel meer eet nie, dink sy.

      Paula is swanger. Skielik vlam die bekende brandpyn van weleer weer in haar op. Paula verwag Eugene se baba … die kind wat sý moes gehad het. Haar suster het nie net Eugene van haar gesteel nie, maar ook sy kind.

      Vaagweg hoor sy haar pa se stem: “Eugene het ’n nuwe huis in daardie nuwe woonbuurt vir hulle gekoop. Paula het gesê sy sal vanmiddag kom groet. Sy moet weer na die ginekoloog en dan sal sy sommer op pad daarheen hier aankom. Haar dokter het gesê sy moet so min moontlik bestuur. Dis glo baie nadelig.”

      Petra se gesig is uitdrukkingloos toe sy daardie middag ’n motor voor haar ouerhuis sien stilhou. Binne-in haar trek elke senuwee saam. Dan stap sy die gang af, gaan staan in die deur van die sitkamer.

      Die twee susters kyk mekaar aan. Dan moet Mara haar een dogter vinnig help om op ’n stoel te kom, en sy kyk bekommerd af op die bleek gesiggie.

      “Paula! Paula, is alles reg? Voel jy sleg, my kind?”

      Maar Paula hoor haar ma nie eens nie. Sy staar na die vreemde gestalte in die deur asof sy na iets van ’n ander planeet kyk. En Petra kyk terug na die vrou op die stoel, sien alles raak. Die vol, ongemaklike figuur, die wye rok wat effens slordig vertoon, die hare wat sommer agteroor gekam is en nie netjies vertoon nie,


Скачать книгу