Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua
Читать онлайн книгу.nie glo dat dié meisie ’n parmant en ’n vuurvreter is wanneer sy ontstoke is nie. En tog het Luzaan altyd gesê dat haar ousus selfs nie eens vir die duiwel stuit wanneer sy kwaad is nie.
Die aandete loop stil ten einde. Elmarie weet dat sy nog die brief moet lees wat Luzaan vir haar geskryf het. Sy voel effens huiwerig om dit te doen, uit vrees dat daar straks nog geheime in haar suster se lewe was.
Na ete gaan drink hulle koffie in die woonkamer. Elmarie nooi Mark om op haar skoot te kom sit, en verduidelik aan hom dat sy mamma dood is, dat sy weg is en nooit weer na hulle toe sal terugkom nie, en dat hy van nou af haar seuntjie is.
“Gaan tannie Elrie altyd hier by ons bly?” vra hy terwyl hy haar met hartseer ogies aankyk.
“Nee, my skattie,” sê sy sag, “jy gaan by my in Pretoria bly en bedags sommer baie speelmaatjies hê om mee te speel.”
“Is daar karretjies om mee te speel?” wil hy nou belangstellend weet.
“Net soveel as wat jy wil hê,” sê Elmarie glimlaggend.
Toe Mark later begin gaap, gaan sit Elmarie hom in die bed en soen hom baie teer op sy rosige wang. Sy keer terug na die woonkamer, en dan sê tant Dorie dat sy ook maar gaan slaap.
Elmarie gaan eers bad, pak haar tas uit en neem daarna Luzaan se skryfblok uit die bedkassie se laai en klim in die bed. Sy merk dat die geskrewe velle nog nie uit die skryfblok verwyder is nie, maar blaai na die eerste vel en begin lees.
My liewe ousus
Ek voel so ellendig siek en miskien sommer verniet swartgallig, maar ek voel die tyd het aangebreek dat ek jou die waarheid moet vertel, aangesien jy my enigste bloedverwant is en ’n mens ook nie jou lewe in jou eie hande hou nie.
Ek sal maar by Markus Dekker begin, die jong dokter met wie ek ses jaar gelede in Johannesburg kennis gemaak het. Hy was besig met sy finale jaar as huisdokter in die hospitaal, en het daarna uitgesien om te gaan praktiseer op sy tuisdorp, Doringrant – wat glo nie ver is van sy ouers se plaas, Spitskop, nie. Die dorpie lê glo tussen Aliwal-Noord en Lady Grey.
Ek het hom by die openbare swembad ontmoet, en ons was sommer dadelik verlief. Ek weet jy glo nie aan liefde met die eerste oogopslag nie, want jy is so prakties en het nog altyd geglo dat dinge op ’n ordentlike wyse moet geskied. Ons was baie gelukkig en sy hele huisdokter-jaar was ek in die wolke. Hy het selfs vir sy ouers geskryf dat hy eindelik die meisie van sy drome ontmoet het, en dat ons van plan was om vroeg in die nuwe jaar te trou.
Wel, die tyd waarna ons so naarstiglik uitgesien het, het oplaas aangebreek en Markus kon na sy ouerhuis vertrek om alles met sy ouers te bespreek vir ons huwelik – ons sou op Doringrant getrou het. Voor sy vertrek het ek egter tot my ontsteltenis gevind dat ek swanger is. Ek het Markus vertel, maar hy het dit weggelag en gesê dat ons maar net gouer moes trou. Hy sou met sy ouers reël dat ons dadelik trou, en hy sou my oor ’n week of twee kom haal. Daarna het hy vertrek en ek het nooit weer van hom gehoor nie …
Ek het moeilike, hartseer dae deurgemaak en wou jou so dikwels van my toestand vertel, maar ek het geweet hoe geskok en teleurgesteld jy in my sou wees – jy wat altyd so beginselvas en voorbeeldig is. Gelukkig het ek nog ’n neseiertjie van my erfdeel na ons ouers se dood in die bank gehad en kon ek darem die pot aan die kook hou toe ek nie meer kon werk nie – ek het twee maande voor Mark se geboorte ophou werk, en twee maande na sy geboorte weer begin.
Dit was vir my moeilik om op ’n naam vir my seun te besluit. Sy oupa Dekker se naam is Carl, maar ek het so bitter gevoel teenoor al die Dekkers – ek is oortuig dat hulle Markus afgeraai het om met my te trou, omdat ek nie ryk is soos hulle nie – dat ek besluit het om hom net ’n gedeelte van sy ontroue pa se naam te gee. Hy heet dus net Mark … Mark Keyser.
Twee maande voor Mark se geboorte het ek Bloemfontein toe gevlug en by die liewe tant Dorie kom loseer. Ek kon jou nie in die oë kyk nie, ousus, maar ek het ook geweet dat ek nie altyd sal kan vlug nie. Ek wou tyd wen, en intussen het ek bly hoop dat Markus sy belofte aan my sou nakom. Ek weet nou dat ek al die jare verniet gewag en gehoop het. Klein Mark se pa het ons albei vergeet, ofskoon ek Mark laat glo het dat sy pa dood is.
Die geraamde foto op die spieëltafel is van Markus. Ek hou dit maar vir klein Mark, sodat hy darem kan sien hoe sy pa gelyk het. Jy wonder natuurlik waarom ek nooit probeer het om met Markus in verbinding te tree nie, aangesien ek weet waar sy ouers woon. Wel, dit is duidelik dat hy hom slegs met my vermaak het en glad nie bereid was om sy verantwoordelikheid as pa te aanvaar nie; daarom wil ek jou ook vra om jou asseblief oor my seuntjie te ontferm en hom in jou sorg te neem as ek miskien sou sterwe terwyl hy nog minderjarig is. Ek het voorsorg getref vir so ’n moontlikheid deur ’n redelike lewensversekeringspolis uit te neem, wat na my dood aan jou uitbetaal moet word vir die versorging van my seun.
Ek weet ek kan my kind met ’n geruste hart in jou sorg laat, Elmarie. Tant Dorie is ’n liewe mens, maar sy is al te oud om met die opvoeding van ’n kind belas te word. Jy is dus die enigste aan wie ek my kind sonder bekommernis kan toevertrou, want jy was nog altyd so ’n voorbeeldige en praktiese mens, en handhaaf sulke hoë morele standaarde. Ek weet my seun sal ’n goeie opvoeding van jou ontvang. Ek het trouens al so dikwels gewens dat ek soos jy kon wees …
Daar is ’n groot droefheid in Elmarie se hart toe sy die skryfblok met die halfvoltooide brief op die bedkassie neersit en die lig afskakel. Dit is vir haar duidelik dat haar suster te siek was om die brief te voltooi. Die trane stroom nou oor haar wange. Sy huil oor haar suster se dood en oor al die hartseer en kommer wat Luzaan alleen moes verduur.
Elmarie se snikke het al byna bedaar, toe sy klein Mark langs haar bed hoor vra: “Hoekom huil jy, tannie Elrie? Is jou koppie seer?”
“Net ’n bietjie, my skat,” sê sy en probeer haar bes om ’n tranerige klankie uit haar stem te hou. “Wil jy ’n rukkie by my kom lê?”
Sy hou die komberse oop en help hom om langs haar in die bed te klim. Sy sit een arm om sy sagte, warm lyfie en trek die seuntjie liefdevol in haar skoot.
Dit duur nie lank nie, toe is albei aan die slaap.
Die volgende dag is vir Elmarie ’n baie besige een. Sy doen ’n paar inkopies vir haarself en neem Mark na ’n seunsuitruster om vir hom ’n netjiese pakkie klere te koop vir die begrafnis wat die volgende oggend sal plaasvind. Daarna besoek sy die assuransiemaatskappy en reël dat die geld van Luzaan se polis in haar bankrekening inbetaal moet word.
“Nou gaan ons eers vir jou ’n motor en vliegtuig koop, my ou grootman, dan neem ons tannie Dorie na ’n restaurant vir middagete,” sê Elmarie met ’n hartseer glimlaggie.
“Jy moenie jou geld so verkwis om ons vir ete te neem nie, juffrou Keyser,” maak tant Dorie dadelik beswaar. Sy onthou nog baie goed hoe Luzaan moes meet en pas om kop bo water te hou.
Maar dan hoor sy Elmarie goedig sê: “Moenie bekommerd wees nie, mevrou, ek kan dit bekostig. My salaris is byna dubbel so groot soos Luzaan s’n … ek bedoel, soos wat hare was.”
“Dis waar. Ek vergeet altyd dat u die oudste is omdat u so klein en fyn is, en omdat Luzaan soveel ouer as u gelyk het,” sê tant Dorie.
“Dit is al die kommer en hartseer wat haar oud gemaak het voor haar tyd,” konstateer Elmarie. “En die man wat vir al haar ellende verantwoordelik was, voer natuurlik ’n kommervrye lewe saam met ’n ander vrou wat net soos hy uit ’n rykmanshuis kom.”
“Ek dink sy ouers is grotendeels verantwoordelik vir die hartseer wat hy ons Luzaan aangedoen het,” meen die ou dame.
“Dit is moontlik,” stem Elmarie saam, “want baie jong mans laat nog toe dat hulle ouers vir hulle besluit. My verloofde is een van hulle, daarom is ons nog nie getroud nie. Sy ma dring daarop aan dat ons na die huwelik by haar in die huis moet kom bly, maar ek weier beslis. Dit is genoeg dat sy haar seun se lewe regeer; ek sal haar nie toelaat om myne ook te regeer nie.”
Na ete keer hulle dadelik terug huis toe, want Elmarie moet nog haar en Mark se klere vir die begrafnis nasien en stryk waar dit nodig is. Sy is bly toe sy met hulle tuiskoms