Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua
Читать онлайн книгу.raak Mark by die huis sommer op die rusbank in die woonkamer aan die slaap, en help tant Dorie vir Elmarie om haar suster se persoonlike besittings in te pak.
Noudat alles verby is, is Elmarie haastig om te vertrek. Sy is daarvan oortuig dat Mark minder na sy moeder sal verlang sodra hy hom in ’n vreemde omgewing bevind wat hom nie aan haar herinner nie.
Met Mark in die motor, vind Elmarie die terugreis nie so eentonig soos haar reis na Bloemfontein ’n paar dae gelede nie. Hy gesels met haar oor sy motor en vliegtuig, en vra belangstellend uit na sy nuwe tuiste, aangesien hy geen kennis het van ’n woonstel nie.
Mark is merkbaar opgewonde toe hulle eindelik voor die woonstelgebou stilhou. Hy help Elmarie baie fluks om hulle bagasie na haar plekkie te neem, en stap die hele woonstel deur om te kyk hoe sy nuwe tuiste daar uitsien. Hy kan aanvanklik nie glo dat hy ’n eie slaapkamer het nie. Eers toe die twee groot foto’s van sy ouers op die spieëltafel pryk en sy prenteboeke, speelgoed en al sy klere in die kaste weggepak is, besef hy dat dit sy slaapkamer is – syne alleen.
Elmarie is vanaand betreklik moeg van die lang reis, maar sy besef dat sy by die roetine sal moet hou waaraan Mark gewoond is. Dus bad sy hom maar eers voordat hulle aansit vir aandete. Terwyl sy later skottelgoed was, speel hy in die woonkamer op die mat. Toe sy klaar is in die kombuis, is dit slaaptyd en neem hy sy speelbeertjie saam met hom bed toe.
Vanaand vertel Elmarie hom net ’n kort storietjie terwyl sy langs hom op die bed sit. Sy soen hom en skakel ’n dowwe bedliggie aan voordat sy die vertrek verlaat.
Daar is ’n peinsende trek op haar mooi gelaat toe sy uit Mark se kamer loop. Sy kan nie besluit of sy Herman, haar verloofde, moet skakel en die rede vir haar afwesigheid aan hom moet verduidelik, of liewer net moet gaan bad en slaap nie.
Die besluit word egter uit haar hande geneem toe die deurklokkie begin lui. Elmarie loer gou eers by Mark se kamer in om te kyk of hy al slaap, toe maak sy die kamerdeur saggies toe en gaan na die voordeur.
“Wel, ek is bly om te sien dat jy darem weer tuis is – nie dat ek weet waar jy die afgelope vier dae rondgerits het nie,” begroet Herman haar bitter ontstoke terwyl hy haar onvergenoeg aankyk.
“Kom asseblief binne, Herman, en moenie hier voor my deur staan en raas nie,” betig sy hom met ’n frons.
“Ek het nie geraas nie,” stry hy ergerlik toe hy binnekom. Hy soen haar vlugtig en vervolg, nog steeds vererg: “Ek het bepaald maar net ’n bietjie hard gepraat –”
“Nou ja, wat jy dit ook al noem, doen dit asseblief sagter,” val Elmarie hom in die rede en maak die voordeur agter hom toe.
Herman neem op die rusbank plaas en sê sy moet by hom kom sit sodat hulle kan praat. “Jy vlieg in my keel af voordat ek nog ’n voet in die woonstel kan sit,” verwyt hy haar vies. “En intussen wag ek dat jy my moet vertel waar jy die afgelope vier dae rondgeflenter het. Ons is almal bekommerd omdat jy so verdwyn het sonder ’n enkele woord van verduideliking aan my of my ma. My ma sê jou onbedagsame optrede toon duidelik dat jy nie veel vir my gevoelens omgee nie, en ek is geneig om met haar saam te stem.”
Elmarie neem langs Herman op die rusbank plaas. Sy is op die oomblik so moeg van die lang reis dat sy glad nie lus voel om met hom te argumenteer nie. Tog besef sy dat hy miskien rede het om kwaad te wees, daarom sê sy meer verdraagsaam: “Daar was nie tyd om met jou in verbinding te tree nie, Herman. Ek het vyfuur die oggend ’n telefoonoproep van Bloemfontein ontvang om te sê dat my suster dubbele longontsteking het, dat haar toestand kritiek is en dat sy dringend met my wou praat. Ek het dadelik ’n paar stukkies klere in ’n tas gegooi, my werkgewer gebel en daarna vertrek. Daar was hoegenaamd geen tyd om jou ook nog te bel –”
“Maar daar was darem tyd om jou werkgewer te bel,” val hy haar onthuts in die rede.
“My werkgewer is heeltemal ’n ander saak. As ek hom nie geskakel het nie, het ek nou sonder werk gesit. En buitendien, as jy so vreeslik bekommerd was, waarom het jý nie my werkgewer gebel nie? Hy sou jou gesê het waar ek was.”
“Dit is jóú plig om my te sê waarheen jy gaan, nie jou werkgewer s’n nie, Elmarie,” bestraf hy haar met so ’n kwaai stem dat sy verplig is om in te gryp.
“Kyk, Herman,” sê sy, nou weer ongeduldig, “ek het vandag van Bloemfontein af bestuur en ek is moeg –”
“Nou waarom het jy nie met die trein gery nie?” val hy haar met ’n gevaarlike frons in die rede. “Dit sou in elk geval baie goedkoper gewees het.”
“Maar ook baie ongerieflik,” help sy hom met ’n onpersoonlike stem reg.
“Wel, ’n mens moet ’n bietjie ongerief verduur as dit vir ’n goeie doel is,” sê hy. “Ons het tog saam besluit dat ons albei sal spaar om vir ons ’n woonstel aan my ma se huis te bou –”
“Ek is baie beslis nie van plan om onnodig ongerief te verduur nie,” val sy hom kortaf in die rede. “Ons kan die huwelik maar nog ’n jaar of wat uitstel.”
Herman kyk haar ’n paar sekondes sprakeloos aan. Hy sien dat sy moeg en uit haar humeur is, en probeer dadelik wal gooi deur besorg te sê: “Jy sê ’n treinreis is ongerieflik, maar as jy met die trein gereis het, sou jy nie nou so moeg en uitgeput gewees het nie.”
“As ek met die trein gereis het, Herman, sou ek my suster nie lewend gesien het nie. Luzaan is ’n uur na my aankoms by die hospitaal oorlede. Sy is gisteroggend begrawe,” sê Elmarie hartseer.
“Ek is eerlikwaar jammer om dit te hoor,” sê Herman dadelik berouvol. “As ek dit geweet het, sou ek jou sonder versuim gaan bystaan het; al kon ek jou dan ook net morele ondersteuning gee.”
“Dankie, maar al wat ek op die oomblik nodig het, is ’n goeie nagrus,” sê Elmarie en wens hy wil liewer gaan sodat sy kan bad en slaap.
Dit lyk egter nie asof Herman haastig is om huis toe te gaan nie, want hy wil byna dadelik weer weet: “Hoekom het jy my nie vanmiddag met jou tuiskoms gebel nie?”
“Omdat ek moeg is en vroeg bed toe wou gaan,” verduidelik sy met geforseerde verdraagsaamheid. “Ek dink jy moet liewer nou gaan sodat ek kan gaan slaap. Ek sal vanaand in elk geval nie goeie geselskap wees nie.”
“Nou goed, ek sal gaan sodat jy kan rus, meisie,” sê Herman en staan dadelik van die rusbank af op. Elmarie volg sy voorbeeld. Dan hoor sy hom weer sê: “Ek kom jou môreaand haal, dan gaan fliek ons.” Hy wil nog verduidelik watter rolprente draai, maar Elmarie gee hom nie kans om meer te sê nie.
Sy skud haar kop en antwoord bedaard: “Ek vrees ek sal nie kan gaan nie. Mark kan nie alleen hier in die woonstel bly nie, en ek weet van niemand wat ek kan vra om by hom te bly nie.”
“En wie is Mark, as ek mag vra?” wil Herman verbaas weet.
“Mark is Luzaan se seuntjie wat sy op haar sterfbed in my sorg geplaas het. Hy is amper vyf jaar –”
“En waarom kan sy pa nie vir hom sorg nie?” val hy Elmarie in die rede.
“Omdat hy nie ’n pa het nie,” verklaar sy, nou self vererg.
“Wat bedoel jy, hy het nie ’n pa nie? Natuurlik het hy ’n pa! Elke mens op aarde het ’n pa. En as jy dit miskien nie weet nie, ’n pa is ’n baie belangrike faktor in die voortplanting van die menslike spesie …”
“Ag, gaan blaas doppies. Jy maak skoon asof ek onnosel is,” maak sy die jong man vererg stil. “Jy verstaan nie wat ek bedoel nie. Mark se pa het Luzaan so te sê op die vooraand van hulle huwelik in die steek gelaat, en nou het hy nie ’n pa nie. Maar wag, ek sal jou liewer die brief gee wat sy vir my geskryf het. Miskien verstaan jy dan wat ek bedoel.”
Elmarie gaan haal die brief in haar slaapkamer en hou die skryfblok na hom uit terwyl sy sê: “Die brief is nog in die skryfblok. Sy was te siek om dit te voltooi en uit te skeur.”
Daar is ’n frons tussen Herman se bruin wenkbroue nadat hy die brief gelees het en die skryfblok vir haar teruggee. “Jy