Pirana. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.Hy vleg soos ’n wildsbok tussen die doringbome deur. ’n Skoot klap, maar die stroper bly hardloop.
Die renosters lig hulle koppe, ore gespits. Hulle trap onrustig rond.
Die veldwagters hardloop onder luide bevele van die leier agter die voortvlugtige aan. Een sien die stroper aan die linkerkant van die formasie raak; dié probeer homself onsigbaar hou agter ’n bos. Twee veldwagters storm op hom af, maar hy glip weg, die ruigtes in.
Nog skote klap. Tot Natasha se verligting verdwyn die renosters in die teenoorgestelde rigting. Dan sien sy die derde stroper. Hy pyl reguit op haar en Gert af. Hy sien haar toe sy agter die rots orent kom en verander vinnig van koers.
Sy besef dadelik sy mikpunt is ’n klomp digte struike sewentig meter weg. Sy dink nie, sy doen net. Sy nael na die nabygeleë plaat akasias. Sy het ’n voorsprong op die stroper en die bome bied genoeg skuiling dat sy hom daar kan voorlê. In die hardloop kyk sy rond vir ’n wapen.
“Natasha, wat de fok doen jy?” dawer Gert se stem agter haar aan. “Die bliksem het ’n geweer!”
Sy steur haar nie aan hom nie, raap ’n stuk boomstomp op. Sy hardloop. Voluit. Dertig meter . . . veertig meter.
’n Doring skeur ’n stuk materiaal uit haar hempsmou, ’n brandpyn steek in haar boarm, sy struikel oor ’n klip, herwin haar balans en moet koes vir ’n oorhangende tak. Haar longe brand en haar asem jaag, maar sy dryf haarself voort, die stomp stewig in haar regterhand.
Sy bereik die groot akasia waarvoor sy gemik het, nie seker of die stroper haar gesien het nie. Dan hoor sy die geluid van sy voeteval nie ver van waar sy staan nie. Sy loer versigtig om die stam. Hy kom in haar rigting aangehardloop, die geweer in albei hande voor sy bors. Die rugsak trek hom krom en hy kyk kort-kort oor sy skouer.
Hy weet nie van haar nie, besef sy. Sy byt op haar tande, vat die stomp stywer vas.
Dan is hy by haar. Sy asem jaag, die droë gras en blare knars hard onder sy skoensole.
Hy hardloop verby die boom sonder dat hy haar sien. Sy haal hom met drie lang hale in, swaai die stomp met al haar krag en tref hom teen die agterkop. Hy struikel, maar bly op sy voete. Sy swaai weer, dié keer ’n voltreffer teen sy slaap.
Hy val met ’n kreun op die grond neer. Die geweer spat weg van hom. Sy los die stomp en duik daarna, kry die kolf beet. Sy kom blitsig orent en rig die geweer op hom.
Die stroper bly versteen sit in ’n hurkende posisie en hou sy hande in die lug, sy oogballe bultend.
Gert verskyn blasend langs haar. Sy hemp hang by sy broek uit en hy het ’n rooi skraapmerk aan sy wang. “Jissis, Natasha van der Merwe, jy’s ’n bleddie cowboy,” sê hy tussen hortende asemteue deur.
* * *
Smiley het dadelik verskoning gemaak toe ons in sy pa se kar klim. “Vicci se niggies van Engeland het kom kuier, nou kan sy nie saamkom nie.”
Ek kon sien hy lieg deur sy tande. Hy moes dit spesiaal so beplan het dat Vicci nie by is nie, want hy het ’n kans alleen met Sophia gesoek.
Ek was briesend en my aandag was onmiddellik ingestem op Sophia se lyftaal. Gaan sy val vir Smiley se sjarme? En hoe gaan ek haar aandag behou?
Ek het hom natuurlik onderskat.
Skielik was Smiley ’n Beatles-kenner. Op pad plaas toe het hulle eenstryk deur gesels oor die rewolusie wat die Beatles in die musiekwêreld gebring het. Ek het onsigbaar geraak langs die borrelende Sophia, ’n passiewe toehoorder.
Toe ons op die plaas aankom, het Smiley vertel dat sy pa spesiaal met die hoofman gereël het dat ons dié middag die stat kon besoek. “Dit sal vir Sophia ’n onvergeetlike ervaring wees,” het hy gesê terwyl hy haar tas na die kamer langs syne dra – die kamer wat altyd myne was.
Toe ek hom ’n vuil kyk gee, het hy ewe onskuldig gesê: “Jy bly in die rondawel langs die huis waar Vicci altyd naweke gebly het. My ma wil nie hê Sophia moet daar slaap nie.”
Op die smal veldpaadjie na die stat het Sophia ook nie my hand vasgehou soos ek gefantaseer het nie. Sy en Smiley het onverpoos geklets, met my wat ’n paar treë agter hulle aangedrentel het.
Die laaste deel van die paadjie was versier met piesangblare en bougainvillea-takkies. By die stat is ons deur ’n erewag ontvang en hartlik welkom geheet en na spesiale besoekerstoele gelei, waar ons plaasgeneem het langs die hoofman en ’n paar van die oudstes. Die plaaslike bier is in tradisionele kalbasse bedien en daarna het borde stomende matooke gevolg, waarvan die hoofbestanddeel fyngedrukte piesangs is. “As jy nog nie matooke geëet het nie, het jy nog nie geëet nie,” is ’n bekende gesegde van die Baganda.
Daarna het die hoofman ons welkom geheet met ’n lang toespraak in geradbraakte Engels, en onder dawerende applous is ’n kleipot as geskenk aan die stralende Sophia oorhandig.
Toe was dit tyd vir die kiganda-dans.
Die jong vroue het hul heupe en boude geskud op maat van die tromritmes en deuntjies uit selfvervaardigde kitare terwyl hulle hul bolywe doodstil gehou en bottels bier op hul koppe gebalanseer het. Sophia het gelag en bewonderend begin hande klap. Die Baganda het ook ingeval en begin sing. Soos die tromme se ritme versnel het, het die dansers se bewegings ál vinniger geword, hul lywe trillend en bewend en blinknat van die sweet. Asof hulle in ’n beswyming verval het, het die dans eers ná bykans ’n halfuur in ’n orgasmiese klimaks met banale krete en gille van die omstanders geëindig.
Ek het na Sophia langs my gekyk, maar my glimlag het op my gesig gevries. Smiley se arm was om haar skouers, haar hand op sy been, en hulle het diep in mekaar se oë gekyk, salig onbewus van my.
7
Maria Wolhuter se huis is verwaarloos, sien Kassie sommer dadelik. Die verf op die mure van die indrukwekkende tweeverdieping dop plek-plek af. In die tuin groei kakiebos geil in ’n roosbedding. Die water van die visdam is groen, met slierte vetterige slyk wat op die oppervlak dryf.
Maria maak die deur oop nog voor Kassie die klokkie lui. Haar glimlag is breed.
“Jy lyk nog net soos altyd, Kassie!” sê sy en soen hom vlugtig op die wang. “Jy weet nie hóé baie ek dit waardeer dat jy gekom het nie.”
Hy stap agter haar aan na die ruim sitkamer, waar ’n klomp kinderspeelgoed oor die mat gestrooi lê.
“Verskoon tog hoe dit hier lyk.” Sy beduie hy moet op die stoel oorkant haar sit. “Fransie slaap vanaand oor by ’n maatjie, maar hy’t nog ná skool sy spul karretjies hier kom uitpak.”
“Hoe oud is hy nou?” vra Kassie.
“Agt. Hy’t eergister verjaar.” Sy skud haar kop, haar oë skielik nat. “Arme kind, hy’t gehoop sy pa . . .”
Maria het aansienlik ouer geword sedert Kassie haar laas gesien het. Sy’s steeds aantreklik, maar plooie vorm ’n netwerk oor haar gesig. Haar eens pikswart haredos is deurspek met grys strepies. Sy’t ook gewig verloor, haar wange is ingesonke en haar hande benerig. Sy moet in haar vroeë veertigs wees, maar lyk vyftig.
“Vertel my van Barnie,” sê Kassie.
Sy sit terug in die stoel, haar gesig strak, haar oë gerig op haar inmekaargevlegte hande. “Jy wil nie weet nie . . . Vandat hy by die polisie weg is, het sy lewe buite beheer getol.” Sy kyk op na hom. “Dwelms.”
“Dwélms?”
Sy knik. “Al lankal verslaaf daaraan. Tot in ’n stadium my erfjuwele gesteel en verkoop vir dwelmgeld. Hy’t elke maand byna sy hele salaris daarop geblaas. En hy’t ’n lót verdien.” Sy sug moedeloos. “Ek’t hom juis daaroor al drie jaar gelede uit die huis geskop. En hy’t ’n tyd terug sy werk verloor. Toe tussen die boemelaars gaan intrek.”
Sy stut haar kop in haar hande. “Ek sal dié plek moet verkoop en weer gaan werk. Barnie het my erfgeld uitgeleef . . . En hy betaal uit die aard van die saak lankal nie meer onderhoud nie. Ek begin nou swaar trek,