Koors. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.Domingo wat in absolute stilte so ’n paar tafels verder sit, sy hande altyd met iets besig, maar hy luister aandagtig.
* * *
Die derde krisis kom twee dae later. By die Midas-vulstasie staan die voertuie tou. Hulle moet volgemaak word vir die beplande ekspedisies: die soeke na enige verpakte kos wat nog eetbaar is in die dorpe tot tweehonderd kilometer weg, en die vang en aanry van oorlewende skaap en bees en varke en hoenders op dit wat voorheen plase was.
En dan raak die brandstof op.
Die Komitee moet herbesin, die mensekrag herverdeel, sodat twee groepe van vier mense elk moet gaan soek na ’n brandstof-tenkwa. Een van daardie groepe sien ons nooit weer nie, en ons vind nooit uit wat van hulle geword het nie. Die ander groep keer eers tien dae later terug met ’n groot, byna nuwe tenkwa, vol petrol.
Die meeste van ons voertuie gebruik diesel.
Só struikel ons op die pad na vooruitgang.
* * *
Op die Saterdag van daardie eerste week val ’n trop uitgehongerde, bloedlustige honde een van ons skaapvang-ekspedisies aan, ses kilometer oos van Philippolis. Die mans – twee grootmense, twee tieners – keer die sewe skape in ’n hoek van ’n kamp vas. Ná so lank sonder mense is die skaap wild en senuagtig. Die mans wil die diere op die bakkie laai, hulle fokus is op die vee, hulle sien nie die honde voor dit te laat is nie. Nie een is vaardig met die vuurwapens waaroor hulle beskik nie. Hulle gebruik gou al hul ammunisie in die vlug terug na die bakkie toe, en doen nie veel skade aan die honde nie. Die honde byt een van die mans aan die arm en een van die tieners aan die bene voor hulle die bakkie se deur toekry. Dan sit hulle en kyk hoe die honde die skape verskeur. Hulle kom verskrik maar veilig terug by Vanderkloof.
Die Komitee besin dié aand oor die voorval.
“Ons sal die mense moet leer skiet,” sê vader James.
“Ons sal eers genoeg ammunisie moet versamel,” sê Pa.
“Wie gaan dit doen?” vra Beryl. “Daar’s nie meer bruikbare hande of voertuie of brandstof oor nie.”
“Die mense wat gaan kos soek, moet vir ammunisie ook kyk. Die meeste plase het wapens.”
Die lede van die Komitee knik stilswyend, want daar is nie ander raad nie.
“Too many calibers,” vul Domingo se stem die stilte van waar hy eenkant sit. Dit is die eerste keer dat hy ’n woord sê tydens ’n Komiteevergadering.
Al vyf se koppe draai na hom toe.
Hy sê: “Wapens op plase is mostly jaggewere. Daar is ’n klomp verskillende calibers. As ons mense wil leer skiet … Oor drie of vier maande sal ons baie ver moet gaan soek vir ammunition.”
Die Komitee is stom.
“Don’t look so worried, daar’s ’n solution,” sê Domingo. “Ons moet standardise. Die Weermag se depot by De Aar. Dis ’n uur se ry van hier af. Daar moet ’n paar duisend R4’s wees. Minstens. En hundreds of thousands of rounds of ammunition.”
“R4’s?” vra pastoor Nkosi.
“Die Weermag se assault rifle. Vyf-punt-vyf-ses by vyf-en-veertig millimeter, vyf-en-dertig in die magasyn. As ons nie daardie arsenal gaan leegmaak nie, sal iemand anders dit die een of ander tyd doen. En dan het ons groter probleme.”
“Sal jy ’n ekspedisie lei?” vra Pa.
Domingo knik.
* * *
In daardie eerste week brand ek om ook op ’n ekspedisie te gaan. Enige ekspedisie, maar veral Domingo s’n. Ek, wat al twee slegte mense en ’n paar honde en bokke doodgeskiet het. Wat saam met Pa groot avonture beleef het in die era voor Vanderkloof. Dit is meer as wat die meeste mense kan sê, veral dié wat uitgestuur word agter skape en kos en brandstof en ammunisie aan en nie eens weet hoe om te skiet nie. Maar Pa skud net sy kop as ek eers skimp, en later reguit vra.
Ek moes geweet het daar is iets aan die broei.
Op die Sondagmiddag hou die Komitee ’n vergadering, maar Pa sê ek moet vir Melinda Swanevelder gaan help in die kombuis.
Daardie Sondagaand maak pastoor Nkosi namens die Komitee die aankondiging wat my lewe ingrypend sal verander. Hulle vra die hele gemeenskap om in die parkeerterrein agter die OK Value-supermark byeen te kom, die vergaderplek wat later as die Forum bekend sal staan. Die pastoor staan op die Tata-trokkie se bak. Hy praat in sy welluidende stem eers oor die kosnood, en vra almal om die rantsoenering van die beskikbare voedsel te respekteer. Hy sê almal werk baie hard daaraan, en sodra daar genoeg reserwes is, sal hulle begin om vee te slag.
Hy gee terugvoer oor die onderskeie ekspedisies. Daar is nie juis goeie nuus nie.
En dan kom hy by “die kinders”.
Volgens hulle berekeninge, sê hy, is daar nege-en-veertig kinders tussen die ouderdomme van ses en sestien jaar. Die Komitee stel voor dat al nege-en-veertig van Maandag om agt-dertig bo by die ou rolbalklub bymekaar kom vir skool. Daar is drie mense geïdentifiseer wat voorlopig as onderwysers gaan werk. “Kinders, ons wil hê julle moet weet, jul skoling is vir ons as gemeenskap baie belangrik. In normale omstandighede sou ons julle uitsluitlik wou laat skoolgaan. Maar ons leef nie in normale omstandighede nie. Daarom gaan dié kinders wat tien jaar en ouer is, een week se onderrig ontvang, en een week moet help met al die werk wat gedoen moet word.”
23
James Rankin
Soos opgeteken deur Willem Storm. Amanzi-geskiedenisprojek.
I spent my whole adult life working for the church, I was with the Anglican Diocese of Johannesburg for eleven years, but nothing prepares you …
There was this moment, at the height of the Fever … I was working, helping at the Milpark Hospital, I was really just praying for people, for the dying, for their relatives who were being infected. It was … There was this moment, I was standing next to a bed, holding a dying man’s hands, in this six-bed ward, and I heard the shouts, there was a man with a gun, he was pointing it at me. He was saying, “It’s your God who did this, it’s your God,” and he just came closer and closer, with the gun pointed at my head. He was already sick, you could see that, he was in the first stage, the Fever had started, he knew he was going to die, and he wanted to blame someone. He stood right against me, and he pressed the barrel against my forehead. And then he looked at me, and he realised I wasn’t sick. So he started shouting, “Why aren’t you sick?” Over and over again. He was so furious, I was sure he was going to shoot me.
I am ashamed to say that I stopped praying. It was because of the fear, but mostly, it was because I felt so incredibly guilty for not being sick.
The man with the gun, he just turned the gun around and shot himself.
I still feel this guilt, every day. But I keep praying, and I keep telling myself, the Lord spared me for a reason. Perhaps it was to help lead these people to Amanzi.
Amanzi
Op die derde Julie in die Jaar van die Hond vergader almal in die Forum. Ons is al meer as driehonderd mense sterk. Die eerste tentatiewe demokratiese verkiesing van leiers is op hande. Pa staan op die Tata se bak. Hy sê hy dink ons moet ’n nuwe naam kry vir hierdie plek, Vanderkloof is net op geen manier toepaslik nie. En in die stilte wat daarop volg, roep die krom, grys tannie Nandi Mahlangu uit: “Amanzi.”
Daar is ’n tinteling van klank deur die groep soos almal die naam op hulle tonge toets. Iemand begin hande klap. En dan klap almal skielik hande. Wanneer dit bedaar, sê Pa: “Welkom in Amanzi.”
Niemand sê wat dit beteken nie, daarom is ek te skaam om openlik te vra. Ek vra fluisterend vir Pa, eers wanneer ons later huis toe stap – “huis” is en sal vir die volgende klompie jare die Orphanage wees wat ons deel met Beryl en die kinders, Melinda Swanevelder en haar hoopvolle vryer Hennie Flaai Laas, Domingo en Nero Dlamini.
“Dis