Koors. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.ma’ net ’n bietjie meer kras as wat ek dit nou sê. Ek was so op die punt om my te vererg, toe sien ek hoe kwaai snaaks dit is. Toe lag ek al die pad terug Newtown toe.
It was the last time I saw him. Ek wonder nogal of hy die scavengers survive het.
* * *
Cairistine “Birdie” Canary en Lizette Schoeman kom aan met ’n klein silwer Hyundai.
Birdie, die tengerige, bebrilde Birdie met die draadjies op haar tande. Ek onthou min van Birdie in daardie ontmoet-oomblikke, want ek is oorweldig deur Lizette.
Dit is wat ek later gehoor het hulle “kalwerliefde” noem. Sy staan langs Birdie en sy lyk lank en grasieus, sy is negentien jaar oud. Sy het ’n blou denim aan wat styf oor haar mooi sitvlak span, en ’n dik roomkleurige woltrui, en haar hare is baie lank teen haar rug af, okkerneut van kleur, en reguit en blinkend in die son. Haar vel is glad en foutloos en haar mond is breed en haar oë is onmoontlik groot en mooi, en ek staar na haar, sprakeloos, ek hoor niks, sien niks anders nie.
Sy kyk vir my, sy sien die intensiteit van my aandag en seker ook my bewondering. Sy glimlag met foutlose tande, dit is soos die son wat opkom. Met ’n stem vol vrolikheid en musiek sê sy vir my: “Haai daar, slaaiblaar.”
Ek bloos en kyk weg, en vir weke daarna wonder ek of dié rymende groet, dié eerste digterlike woorde van Lizette aan my, ’n belediging was of dieper betekenis het. Tot ek hoor sy groet ander mense van wie sy hou ook só. Toe voel ek effens beter.
Maar in daardie oomblikke van verliefraak gebeur ander dinge waarvan ek niks kan onthou nie. Ek hoor dit later, en dit word deel van legende.
Domingo, die dodelike Domingo, die emosielose Domingo, het sy eie knie-swikkende oomblik van liefdeswaarheid. Maar dit is nie die beeldskone Lizette wat sy ysige hart steel nie, dit is die tenger Birdie.
Al wat Domingo kan uitkry ten aanskoue van haar – omdat hy iets wil sê, ’n konneksie wil maak – is: “’n Hyundai i10?” Dit kom veel meer smalend uit as wat hy bedoel.
“Ja,” sê Birdie Canary. “Dis baie energy efficient.” Haar stem is heeltemal uniek, die een teenstelling op die ander: ’n halwe oktaaf te hoog, selfs vir haar kordate lyfie, maar so vreeslik vol selfvertroue en wysheid. ’n Aksent wat Pa sê “pure Namakwaland” is, maar sy gebruik soms groot, geleerde, akademiese woorde, en frons geïrriteerd wanneer jy nie kan byhou of verstaan nie. En amper elke sin eindig opwaarts, op ’n hoër noot, soos ’n geïmpliseerde vraag.
Haar antwoord boul vir Domingo uit, sodat hy reageer met ’n “Uh …”
“Die brosjure praat van elektrisiteit,” sê Birdie. “Hidro, neem ek aan?”
Domingo sê: “Uh …”
“Dis meer van ’n pamflet,” sê Pa. “Ons hoop ons sal die hidrokrag aan die gang kan kry.”
“Hoop? Werk dit nog nie? Daai is false advertising.”
Domingo sê: “Uh …”
Pa sê: “Nee, die pamflet praat darem van ‘soon’ …”
“Which apparently is a relative term,” sê Birdie.
Pa is nou ook verleë. “Ons het nog net nie die kennis om die verbindings te maak nie.”
“Well, ek is nou hier,” sê Birdie.
“Jy weet hoe om met elektrisiteit te werk?” vra Pa.
“Basic physics. I’ll figure it out,” sê sy.
“Fantasties,” sê Pa.
“Uh,” sê Domingo.
“Shame, is hy ’n bietjie sag in die kop?” vra Birdie vir Pa, en wys na Domingo.
Die buswagte lag. Pa lag, van die omstanders lag. Birdie lag en die draadjies op haar tande blink. En almal kyk na Domingo, wat nog nooit hard gelag het van hy daar aangekom het nie.
En dan lag hy ook.
30
Birdie Day
Op 24 September in die Jaar van die Hond is daar vierhonderd-en-een inwoners in Amanzi. Nero Dlamini bewimpel dit só dat hulle almal dié dag daar is – niemand is uit op ekspedisies of patrollies nie. Hy maak seker almal weet hulle moet om 18:15 op die oewer van die dam wees, onder by die ou bootlandingsplek wat oor die groot betonwal uitkyk.
Hy sê vir Domingo die bushek se wagte moet ook kom. “Because, really, Domingo, we are not going to be invaded on this day, and at this hour. And even if they do, so be it.”
Domingo grom en gee toe, want soos die hele gemeenskap het hy ook sy vermoede oor wat Nero beplan.
Hulle begin van voor ses die middag aankom. Al wat hulle sien, is ’n groot bokseil wat oor iets gedrapeer is – bonkige vorms wat ’n paar meter van die water af staan, in ’n netjiese ry. Beryl Fortuin en Dlamini wys vir die mense om in ’n halfmaan om die geheimsinnige bokseil te gaan sit.
Teen tien oor ses sit almal. Daar is ’n feestelike atmosfeer, mense lag en gesels, almal sien hoe die son al hoe laer sak oor die damwal, tot dit net ná twintig oor ses daaraan begin raak.
Ek sit so na as moontlik aan Lizette Schoeman, ek hoop en smag dat sy net een keer in my rigting sal kyk. Want ek is groot, ek is veertien, sedert 22 Augustus is ek veertien jaar oud. Tot my groot teleurstelling sien ek Pa kom aan en hy soek my tussen die mense, en hy kom sit langs my. Wat gaan Lizette dink?
Nero stap tot in die middel, voor die bokseil, en hou sy hande in die lug. Beryl loop tot agter, waar ons haar nie kan sien nie. Meer as driehonderd-en-negentig mense bly tjoepstil. Van die kleintjies se stemme is nog hoorbaar. Nero sê: “Vandag was Erfenisdag, in die tyd voor Die Koors. En Braaidag, ons het saam met vriende en familie gekuier, dit was ’n dag van saam wees, dit was nie ’n dag wat politici of geskiedkundige figure of gebeurtenisse herdenk het nie, dit was ’n dag wat gewone mense geëer het. En vanaand gaan ons dit weer doen. Gewone mense eer. Op ’n spesiale manier. Sononder is vanaand om presies agt-en-twintig minute ná ses hier by ons. Onthou dit, onthou dat julle op hierdie oomblik hier was.”
Nero kyk na sy horlosie, en hy wag.
Agter hom verdwyn die son agter die damwal. Die westerkim is ’n skouspel van kleurskakerings, opeengestapel. Nero lig sy arm, sy oë steeds op die horlosie, en hy laat dit sak.
Beryl trek die bokseil af.
Dan kom die musiek.
Die note trek oor ons, eers die basviole, die onheilspellende tromsarsies, met die viole wat skimp van die mooi wat kom, soos ’n stryd tussen goed en kwaad, tot die goeie stelselmatig alles oorrompel – alles vanuit die massiewe nagklub-luidsprekers wat daar staan, nou ontbloot. Die mense wat die musiek herken, snak na hul asem. Ons is stomgeslaan, meegesleur, selfs die kleinste van kinders voel dit is ’n gewyde, gelade oomblik, en hulle maak nie ’n geluid nie. Beethoven se Negende Simfonie, die vierde beweging, die koraal, die mooiste musiek wat ek nog in my hele lewe gehoor het, soos ’n duisend nagvoëls wat oor ons vlieg, op na die sterre wat een na die ander begin flonker.
Ek sit langs my pa en ek hoor hy snuif. Ek kyk en ek sien hy huil. En ek wil ook, maar ek veg daarteen, want as Lizette my sien …
Só sit ons, met die musiek wat daal en styg, keer op keer, die orkes, die koor, dit is oorweldigend en perfek.
En toe die laaste noot oor die dam en die heuwels en die vlakte daar ver onder wegsterf, is daar ’n ander soort geluid, ’n enkele diep, meganiese klank, en dan gaan die ligte van Amanzi aan, agter ons en voor ons, die lengte van die damwal, en daar onder by die substasie.
Vir die eerste keer in amper twee jaar sedert Die Koors is daar weer elektrisiteit.
“Ons eer vanaand vir Cairistine Canary,” sê Nero Dlamini. “Ons bringer van lig.”
“Birdie Day,” roep, van alle mense, Domingo in ’n vrolike stem.