Eindspel. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Eindspel - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
herfs voel. Die hek is gesluit en daar is beslis nie met die slot gepeuter nie. Daar lê voetspore op die plaveisel, maar die hele perseel word deur die dag gepatrolleer. Dit kan egter nie kwaad doen om na die spore te kyk en dit te vergelyk met die skoensole van die wagte wat aan diens was nie. As daar een ding is wat Nick in sy lewe geleer het, is dit dat ’n mens soms die antwoord op die vreemdste plek vind. Soms werk jy jou gat af om leidrade te versamel en dan tref jy bloot op ’n dag ’n gelukskoot.

      Net voor agt stop hy by sy woonstel. Hy het eers gewag om die dagskof se wagte te sien. Hulle het dieselfde opdrag – niemand mag naby die huis kom nie. En as hulle enigiets verdag oplet, moet hulle hom bel.

      Hy stort vinnig, drink nog koffie en eet staan-staan ’n bakkie kitspap. Die melk proe effe suur, maar hy eet die bakkie leeg.

      Hy skakel Fritz, Allegretti se motorbestuurder, se nommer. Fritz klink deur die slaap toe hy antwoord.

      “Nick, wat de hel gaan aan? Ek is met vakansie.”

      “Ek weet, maar ek is dringend op soek na meneer Allegretti en hy antwoord nie sy selfoon nie. Het jy nie dalk iets van hom gehoor nie?”

      “Nee. Ek het hom Vrydagaand laas gesien toe ek hom na ’n vergadering by die huis gaan aflaai het.”

      “Sal jy my bel as jy iets van hom hoor, asseblief?”

      “Ek maak so.”

      Voor die verbinding verbreek word, hoor Nick hoe Fritz sê: “Fok, om my oor so iets wakker te maak.”

      Dan is daar ’n gegiggel en ’n vrouestem sê hy moet terug bed toe kom.

      Êrens in die wêreld is ’n man wat op ’n Maandagoggend agter ’n vrou se rug kan inskuif omdat hy met vakansie is.

      Ellie skrik ’n paar keer gedurende die nag wakker en verbeel haar sy hoor voetstappe. Elke keer is dit egter die dak wat kraak. Agt-uur het sy klaar gestort en aangetrek. Die jong man is weer agter die toonbank toe sy onder in die portaal kom. Hy groet vriendelik, maar sy vermoed hy is nog nie heeltemal wakker nie.

      Toe sy buite kom, bel sy vir Wynand. Hy antwoord na die derde lui.

      “Dis ek.”

      “Is jy terug?”

      “Nee, dis waarom ek bel. Ek weet nog nie wanneer ek gaan terug wees nie.”

      “Hier was mense wat na jou kom soek het. Het jy in ’n stadium kort, donker hare gehad?”

      “Wat wou hulle hê?”

      “Hulle wou jou blykbaar groet … die een sê dat julle kollegas was.”

      “Hmm … dis jammer ek het hulle gemis. Is hulle nog daar?”

      “Ek weet nie. Hulle moes seker gisteraand hier êrens geslaap het, want hulle was vanoggend vroeg hier by my. Daarna het ek hulle nog nie weer gewaar nie.”

      “Wat het jy vir hulle gesê?”

      “Net die waarheid. Ek weet nie of dit jy op die foto is nie … Is jy in die moeilikheid?”

      “Nie sover ek weet nie.”

      “Sou jy my gesê het as jy was?

      “As jy iets daaraan kon doen …”

      “Waarom glo ek jou nie?”

      Ellie lag. “Is dit nie altyd jy wat sê die tronk is vol nuuskierige mense nie?” Sy gee hom nie kans om te antwoord nie. “Wynand, ek moet gaan. Ek sal jou bel sodra ek terug is. Terloops, waar is my kar?”

      “Ek het dit vanoggend na Manie toe geneem.”

      “Dankie. Sê vir Manie ek sal regmaak sodra ek kom.”

      “Pas jouself op.”

      Sy vee oor haar gesig en kyk na die ma en kind wat by haar verbystap. Die ma hou die kind se hand vas terwyl die kind iets vertel. Sy nek ver agteroor gebuig, die stemmetjie skril en opgewonde.

      By die geriefswinkel op die hoek kyk sy na die toebroodjies in die glaskas, maar koop op die ou end net ’n appel en ’n piesang, en die nuutste koerante. Sy eet die vrugte op pad terug na die motorfiets, vang net vinnig die hoofopskrifte voor sy die koerante in haar rugsak druk, die helm opsit en die motorfiets se enjin aanskakel.

      Dis ’n glashelder dag en die see lê blinkblou. In die hawe is ’n groot hyskraan besig om houers van ’n skip af te laai. Robbeneiland lyk bedrieglik naby. Sy is lief vir die stad, en ’n deel van haar sal seker altyd lief wees vir hierdie kommetjie wat knus nestel tussen haar drie graniet-koppelaars, Duiwelspiek, Tafelberg en Leeukop.

      Die meeste winkels in Loopstraat is nog toe.

      Ellie is nog ’n entjie van Groentemarkplein af toe sy Happy gewaar. Hy staan op die hoek waar hy al jare lank staan. Hier waar sy hom die eerste keer ontmoet het, en waar sy hom omgepraat het om een van haar kontakte te wees. Hy kyk op terwyl hy met iemand aan die oorkant van die straat praat. Hy hou aan praat, maar sy kan aan sy lyftaal sien hy het haar herken.

      Toe sy by hom kom, haal sy geld uit om ’n koerant te koop.

      “Soos my ouma sou gesê het, ek het vandag eerder my dood verwag as hierdie visit. Ek het gedog jy is nie meer in hierie wêreld nie. Hoe lank is dit? Vyf maande en geen taal of tyding nie. My ma sou gesê het dis nou bad manners.”

      Ellie raak vlugtig aan sy arm.

      “Hoe gaan dit met jou?”

      “Nei, soos jy kan sien, still keeping the nation reading. Al is dit dan nou net oor Jay Zee en sy trawante se manewales. Ek is skoon bly ou Jules is ook terug op die scene. Dis darem ’n bietjie change of scenery.”

      Hy hou ’n koerant uit vir ’n man in ’n pak klere wat vinnig nader kom. “Morning, morning. Read all about it. Helen het vandag vir ’n slag weer die front page gehaal.”

      Die man groet, vra hoe dit gaan, gee vir Happy ’n tienrandnoot en stap met sy koerant onder die arm verder. Sonder om te wag vir kleingeld.

      “Daai is nou vi jou ’n man met class. Sy ma het hom goed grootgemaak. Sulke mooi manners. Jy moet vi jou so ’n jongetjie soek.”

      “Jy lyk goed. Moenie vir my sê daar is deesdae ’n meisie op die toneel nie.”

      Hy skud sy kop. “Ek sal vi jou sê soes een van my clients vi my gesê het toe ek hom eendag vra of hy getroud is. Hy sê as hy kak soek, koop hy eerder vir hom ’n Alfa. Nei, ek soek ook nie daai moeilikheid nie.”

      Ellie lag hardop en skud haar kop. “Ek het jou gemis.”

      Hy glimlag ook. “So sê hulle almal. Kan nie saam met my nie, maar kan ok nie sonner my nie.” Sy gesig raak ernstiger. “Jy lewe nog.”

      Ellie knik. “Ek lewe nog en dit gaan beter as toe jy my laas gesien het.”

      “Ek is bly. Is jy terug innie mother of cities of kuier jy net bietjie?”

      “Ek het besigheid hier gehad en wou ’n slag kom groet het.”

      Hy maak ’n ligte buiging. “I’m honoured. Het jy al vi miss Brenda ook gesien?”

      “Nee, ek wil haar nog bel. Sien jy haar soms?”

      “Ja, so dan en wan. Groet my darem, al is dit ook maar koeltjies. Sy temp nou as ’n receptionist. Oppie oomblik by ’n office net hier ommie hoek.”

      “Ek is bly. Ek sal haar bel. As ek haar nie in die hande kry nie, moet jy vir haar sê ek stuur groete en sal haar weer wil sien.”

      Hy knik. “Jy moet agter jouself kyk. Ek is nie lus vi funerals nie.”

      “Dit geld vir jou ook. Jy moet ook versigtig wees.”

      Sy is reeds ’n entjie weg toe sy hom langs haar gewaar. “Het jou besigheid hier iets met miss Clara te doen?”

      Ellie steek vas en kyk na hom. “Wat bedoel jy?”

      “Van


Скачать книгу