Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman


Скачать книгу
kan Mynie nie anders as om te glimlag nie.

      Heinz skep skielik moed. Hy kom een tree nader. “Mynie …” sê hy onseker in ’n stem vol verlange en vertwyfeling.

      “Tot siens, Heinz,” sê Mynie beslis.

      9

      Soos Mynie tereg opgemerk het, is middernag nie ’n geskikte tyd vir kuier nie. Heinz besef dit ook en dis met teësin dat hy sy motor se neus in die rigting van sy eie woonstel stuur. Hy sou nou graag by Elma Visagie wou gaan kuier het, maar hy is bang dieselfde kil ontvangs as vroeër vanaand by Mynie val hom te beurt. Boonop mag Elma se kwaai pa hom met ’n haelgeweer uitboender omdat hy op so ’n ongeleë tyd kom kuier.

      Hy sal maar reguit huis toe moet gaan, besluit ’n onwillige Heinz du Preez. Môre het hy ’n bedrogsaak in die hof, maar hy hoop dis voor middagete afgehandel sodat hy by Elma kan wees ná sy van die skool af tuisgekom het.

      Toe Heinz die volgende middag om kwart oor twee aan die Visagies se voordeur klop, is sy ontvangs nie kil nie – eerder vreedsaam, of hensoppend, soos oom Koos Pretorius sou sê.

      Elma het die motor voor die hek sien stilhou. Toe die eienaar daarvan aan die deur klop, maak sy oop, dog nie om haar besoeker binne te nooi nie, maar om ’n vlieëplak deur die skrefie tussen die deur en die kosyn te steek – ’n vlieëplak met ’n wit sakdoek aan die punt daarvan geknoop.

      “Dis ’n wit vlag,” lig sy Heinz in.

      “’n Wit vlag? Hoekom?”

      “Om te sê ek wil vrede maak.”

      “Ek het nie geweet daar is oorlog nie.”

      Elma sug verlig. Sy trek die vlieëplak met die wit sakdoek terug en nooi Heinz binne.

      “Ek het gedink jy kom om met my rusie te maak. Daarom wou ek vroegtydig hande in die lug steek en sê ek is jammer.”

      Daar gaan meteens vir Heinz lig op. Hy verstaan hoekom Elma Visagie so vreemd opgetree het.

      “Dis jy wat vir Mynie vertel het dat ek ’n vreemde blondine op die lughawe omhels het.”

      “Dit was ek, ja,” beaam Elma met neergeslane oë. Sy waag ’n vlugtige blik na Heinz se gesig en merk tot haar verbasing dat hy nie woedend vir haar is nie. Mynie het natuurlik weer oordryf, dink sy. Heinz is nie so kortgebonde as wat sy altyd te kenne wou gee nie. Maar hy is beslis aantreklik. Van naderby is hy nog mooier as wat Mynie hom die eerste keer beskryf het. Bruingebrand en met daardie paar asemrowende grys oë … Hoe kon Mynie hom vir daardie Conrad Duvenhage verruil? As Heinz du Preez aan háár behoort het, het Elma hom agter slot en grendel gehou om te keer dat ’n ander vroumens hom dalk steel. So ’n aantreklike mansmens soos hy moenie toegelaat word om los rond te loop nie.

      As Heinz geweet het wat die direkte gevolg van Elma se skinderstorie was, sou hy nie so gemoedelik gelyk het nie. As hy geweet het dis as gevolg van sy skynbare ontrouheid dat Mynie aan Conrad Duvenhage geskryf het, sou Elma van die berugte vuurwerke waarvan sy al gehoor het, te siene gekry het.

      Soos sake staan, weet Heinz gelukkig niks nie. Hy glimlag vriendelik vir Elma.

      Elma se hart slaan bolmakiesie. Mynie is mal, besluit sy. Daar moet iets met haar verstand verkeerd wees om ’n ander man bo hierdie een te verkies.

      “Toe maar, Elma, ek is nie vies nie. Enigeen kan ’n fout maak en ’n misverstand ontstaan maklik. Die knoop in my en Mynie se verhouding is egter nie meer daardie onbekende blondine nie. Dis ’n ander kêrel. Weet jy van hierdie Conrad-vent?”

      Elma sê nie ja of nee nie. Sy het al genoeg probleme vir Mynie veroorsaak. Voor sy praat, wil sy eers die kat uit die boom kyk en vasstel wat Heinz hier kom maak het.

      “Jy en Mynie is boesemvriendinne,” gaan Heinz voort. “Ek weet sy sou jou in haar vertroue geneem het. Hy lyk egter vir my na ’n ongure persoon. Ek sou graag wou hoor wat jy van die vent weet.”

      “Het Mynie jou van Conrad Duvenhage vertel?” vra Elma versigtig.

      “Ja.”

      Elma is nou op veiliger terrein.

      “Ek weet nie veel van hom nie. Mynie ook nie. Hy is taamlik terughoudend aangaande homself. Ek weet net hy was haar penmaat, sy vrou is nege jaar gelede dood, hy gee voor hy is ’n skilder en hy is glo ryk.”

      Elma vertel nog die een en ander wat sy by Mynie van die man gehoor het, en Heinz is dadelik agterdogtig. ’n Veertigjarige ryk wewenaar wat soos ’n tiener in ’n penmaatrubriek vir meisies adverteer met die oog op ’n spoedige ontmoeting. Nege jaar oor sy oorlede vrou getreur, maar hy raak onmiddellik smoorverlief op die eerste die beste penvriendin wat aan hom skryf, en net so onmiddellik praat hy van trou terwyl hy terughoudend oor homself is … Nee, iewers is ’n skroef los – veral nadat hy vanoggend navraag gedoen het. Niemand weet van ’n prokureursfirma by name Smit, Botha en Duvenhage nie.

      “Wat weet jy nog van hierdie Conrad Duvenhage, Elma?”

      “Net nog dat hy verkies om in Mynie se woonstel vir hulle kos te maak eerder as om in ’n stampvol restaurant vol mense te gaan eet, en dat hy redelik menssku is en so gou moontlik met Mynie wil trou.”

      “En sy met hom?”

      “Ja, blykbaar loop die troukoors hoog.”

      “Dink jy sy is regtig verlief op die vent?”

      “Hoekom anders sal sy met hom wil trou?”

      Toe ook Heinz op hierdie vroulike logika geen antwoord het nie, sit Elma ’n rukkie stil. Sy lyk ingedagte, frons en sê dan: “Ek kan nie my vinger daarop lê nie, maar iets is hier nie heeltemal reg nie, Heinz. Alles is net té goed om waar te wees, té idillies. Dink jy sy gebruik hierdie Conrad miskien net om jou mee te vermaak?”

      Heinz skud sy kop. “Mynie is nie die soort meisie wat so gemeen sal wees nie. En ek moet my belangrikheid ook nie oorskat nie. Sy tree nie op soos ’n verliefde meisie wat haar ontroue kêrel jaloers wil maak nie. Sy wil nie eens meer met my vriende wees nie, Elma. Die beste waarop ek kan hoop, is om strooijonker op hulle troue te wees.”

      “Conrad Duvenhage het seker ’n kursus geloop oor hoe om ’n meisie met vleitaal te oorrompel, of anders is hy baie geoefen in die fynere kunsies om ’n meisie die hof te maak. Arme Mynie het nie ’n kans teen sy berekende sjarme nie. Reeds die eerste aand het hy haar voete skoon onder haar uitgeslaan.”

      “Dink jy dit sal oorwaai?”

      “As dit oorwaai, sal dit baie gou moet geskied. Hy praat al van ’n troudatum.”

      Die toestand is ernstiger as wat Heinz gedink het. Aanvanklik het hy sy agterdog aan frustrasie toegeskryf, nou maak dit hom onrustig dat Elma sy agterdog aangaande hierdie blitsromanse deel en net so bekommerd oor Mynie is. ’n Vorige keer toe Heinz die bul by die horings gepak het, het dit katastrofiese gevolge gehad. Hy waag dit nietemin nou weer.

      “Ons moet hierdie troue verhoed,” sê hy reguit. “Ek het geen begeerte om strooijonker te wees vir die bruidegom van die vrou wat ek liefhet nie.”

      Elma stem heelhartig met hom saam.

      “Hoe kan ons hierdie oorhaastige trouery keer?” wil sy weet.

      Noudat hy ’n handlanger en ’n vennoot het, is Heinz skielik vol idees.

      “Ons kan die laventelhaan se nek omdraai. Dan sal hy nooit weer kan praat nie. Of ek kan met ’n haelgeweer voor Mynie se deur waghou en hom vol lood blaas as hy weer sy opwagting maak. Wat van sy motor steel sodat hy nie meer vir Mynie kan gaan kuier nie? Of arseen in sy kos gooi?”

      “As jy in die tronk sit, Heinz du Preez, sal jy ook nie met Mynie kan trou nie.”

      “Wat dink jy daarvan as ek hom vertel dat Mynie en ek reeds getroud is … met ’n hele string kindertjies? Ons wette is streng teen veelwywery.”

      “Jy kan nie ’n danige prokureur wees as jy sulke simpel


Скачать книгу