Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman


Скачать книгу
weet ek is ’n ou brombeer, my liefste. Kwaad vir my?”

      “Om vir iemand lief te wees, beteken om nooit vir hom kwaad te wees nie.”

      Die afgesonderde piekniekplekkie bo-op die kruin van die bergreeks is alles wat Conrad belowe het. Dis stil en rustig. Net ’n dowwe paadjie, die wind, voëls, doringbome en hulle twee. En ’n asemrowende uitsig op die panorama van klowe en valleie ver onder hulle reisdeken en smeulende hardekoolvuurtjie. Mynie vra nie weer waar hy die brandhout vandaan gekry het nie. As dit dalk is van iemand wat hom aan Liza herinner, is dit beter dat sy nie uitvra en miskien ou wonde oopkrap nie.

      “Wat was die baie belangrike vraag wat jy vir my wou vra, Conrad?” wil sy weet.

      “Of die dertigste Mei jou pas.”

      “Die … Die dertigste Mei?”

      Conrad gooi die vurk neer waarmee hy die vleis omgekeer het. Hy kom langs Mynie op die reisdeken sit en plaas sy arms op haar skouers.

      “Mynie, jy het my roepstem uit die woestyn gehoor en my geantwoord. Ek was soos ’n verlore siel wat doelloos rondgeswerf het. En toe kom ek skielik by ’n oase uit. My siel het ’n rusplek gevind en ek het uiteindelik tuisgekom. Ek wil nie weer eensaam en verstote ronddwaal nie. Ek is moeg vir die barre woestyn sonder die koel, groen oases. Ek wil vir altyd by jou wees. Jy is my oase. Sonder jou wil ek nie lewe nie. Ek het ’n goeie werk en ’n gesonde bankbalans. Ek kan jou in weelde onderhou. Ek is miskien ’n bietjie oud vir jou, maar …”

      “Nooit. Nie jý nie, Conrad.”

      “… maar ek belowe om vir jou goed te wees en jou altyd lief te hê. Ek wil nie langer wag nie, my liefste. Ek is haastig. Selfs ’n week sal soos ’n oneindigheid voel. Belowe jy sal my marteling nie langer uitrek en my terugstuur in die woestyn nie. Sê jy sal, Mynie. Asseblief, sê jy sal.”

      “S-sal wat?”

      “Met my trou.”

      Mynie het met toenemende opgewondenheid na Conrad geluister. Sy het ’n idee gehad waar die lang aanloop gaan eindig. Nou glimlag sy bewerig en lê haar hand op Conrad s’n.

      “Ek sal met jou trou, Conrad.”

      “Die dertigste Mei?”

      “Dis maar binne ’n week!”

      “Mynie, ek was veertig jaar lank eensaam. Selfs toe ek met Liza getroud was, het ek alleen en verstote gevoel. Sy het my nie verstaan nie. Ons was nie geesgenote nie. Toe sy dood is, het ek geglo ek sal nooit geluk vind nie. Ek sal die res van my lewe eensaam bly. Ek het dit so aanvaar, tot – tot ek … jou ontmoet het. Moenie my pyniging langer uitrek of my van jou af wegstuur nie. Sê jy sal op die dertigste Mei myne word en vir die res van jou lewe by my wees.”

      Die rook van die vuurtjie dwarrel verby hulle, maar deur die rook sien Mynie Conrad se gesig. Dis gloeiend en opgewonde, soos ’n klein seuntjie se gesig by die eerste aanblik van ’n Kersboom vol liggies en geskenke. Hoe kan sy hom hierdie grootse geskenk weier?

      “Goed, die dertigste Mei,” sê sy in ’n klein stemmetjie.

      Conrad vergeet van die vleis wat amper gaar is, vergeet van die kole wat te warm is en van sy blikkie bier wat by sy elmboog staan. Sy hande sluit stywer om Mynie se skouers en hy trek haar nader. Hierdie soen is anders as enige van die voriges. Daar is minder hartstog, minder vuur en meer teerheid. Ook verwondering in die mond wat oor Mynie se wang streel, asof hy nie kan glo dat hierdie fyn donkerkopmeisietjie uiteindelik syne gaan word nie.

      “Conrad!” roep Mynie na tien minute uit. “Die vleis … ! En jou bier het omgeval! ”

      “Drinkgoed sal ek nooit weer nodig hê nie … noudat ek my eie oase gevind het. Die vleis maak ook nie saak nie. In die toekoms gaan ek van droë brood en liefde leef.”

      Mynie is meer pragmaties as haar aanstaande man. Sy is honger en sy kan nie belangrike sake op ’n leë maag bespreek nie. Sy red wat daar van die vleis te redde is, pak toebroodjies op hulle borde en soek vir Conrad nog ’n bier.

      Conrad let skaars op wat hy eet. Hy drink die bier sonder dat hy dit agterkom. Sy blou oë is dromerig terwyl hy lugkastele bou.

      “Ons gaan Parys toe vir ons wittebroodsdae. Parys is die stad van Edith Piaf, Toulouse-Lautrec en Irma la Douce, van joie de vivre en verliefdes. Ek het gesê ek was al dikwels oorsee, maar geen vakansie sal so opwindend wees soos die volgende een wat ek beplan nie. Dis omdat ek toe reeds gehoop het dit sal saam met jou wees. Dink net, my liefste: ons twee saam op die walle van die Seine, by die Notre Dame, bo-op die Eiffel-toring, wandelend in die Tuileries-tuine … Besig om inkopies te doen in die Champs Élysées …”

      Conrad bly skielik stil. Hy spring op, skop die vuurtjie uitmekaar en gaan staan met gebalde vuiste op die wal van die afgrond. Dan tel hy ’n klip op en gooi dit met alle mag so ver as wat hy kan.

      “Wat is dit, Conrad?” vra Mynie ontsteld. “Wat makeer?”

      “Ek is lus en spring by die afgrond af,” sê hy verbitterd.

      Mynie hardloop tot by hom en trek hom aan sy arm terug. Sy is geskok en hewig ontsteld.

      “Wat is dit?” herhaal sy verskrik.

      “Niks.” Die antwoord is mompelend en Conrad kan haar nie in die oë kyk nie. Hy gaan sit op sy hurke en krap die gloeiende kole met ’n stokkie bymekaar. Toe daar ’n kriek ’n entjie van hom af verbysukkel, gryp hy dit en druk dit in die vuur. Dis asof hy in die sissende lyf en skoppende pote en gekraak van die dop ’n uitlaatklep soek.

      Mynie draai haar kop weg en druk haar ore toe.

      “Kom ons gaan huis toe,” sê Conrad kortaf.

      Mynie het nie gehoor wat hy sê nie, maar sy sien toe hy skielik die rooster en vurk en hulle borde begin bymekaarmaak.

      “Conrad, wat … wat makeer? Is dit iets wat … ek gesê of gedoen het?”

      “Dis nie jy nie, Mynie,” sê Conrad in ’n lewelose stem. “Dis ek. Dis ek wat so ’n onnosele gek was. Dwaas, onnadenkend en heeltemal onverantwoordelik.”

      “Hoekom sê jy so?”

      “Omdat ek jou om verskoning moet vra.” Conrad tuur doer ver oor die horison. Toe hy weer praat, is sy stem byna onhoorbaar. “Ons sal nie meer kan trou en Parys toe gaan nie.”

      Mynie weet nie wat om te antwoord nie. Dis so onverwags dat dit haar stom gelaat het.

      “H-hoekom nie?” stamel sy na ’n lang en gespanne stilte tussen hulle.

      “Ek het vir jou gesê ek is ’n ryk man. Ek is. Maar op die oomblik het ek nie ’n bloue duit aan my nie. Al my geld is vas belê. Langtermyn. Ek kan dit eers oor vyf jaar trek. Ek het nie ’n enkele los sent op my naam nie, buiten my maandelikse salaris. Dis ruim, maar dis nie genoeg om vir jou ’n duur verloofring, nuwe meubels en twee vliegkaartjies Parys toe te koop nie. Ek is jammer, Mynie. Ek was te voortvarend. Ek het nooit gedink ek sal weer trouplanne kry nie, daarom het ek my geld op vaste belegging gesit. Ek het die bougenootskap-sertifikaat in ’n laai gegooi en daarvan vergeet. Tot nou toe … Tot dit my soos ’n donderslag getref het dat ek geen los kontant het nie. Nie ’n enkele vervlakste sent nie … Beledig my maar, Mynie. Raak woedend kwaad en skel my uit vir ’n stommerik en ’n brandarm luis. Ek sal jou nie kwalik neem as jy sê jy wil my nooit weer sien nie. Vergeet van my. Dwing my uit jou gedagtes. Soek vir jou ’n ander man wat nie so onnosel en stiksienig soos ek is nie. Jaag my weg en …”

      “Hokaai,” stuit Mynie die uitbarsting. “Wag eers, my liefste. Ek is seker dinge is nie so duister as wat hulle lyk nie.”

      “Daar is geen ligstraaltjie nie. Ek wou jou Maandagmiddag geneem het om ’n duur verloofring uit te soek en ek wou gegaan het om plek op volgende Saterdagaand se Parys-vlugte bespreek …”

      Hy lyk soos dieselfde klein seuntjie van netnou, behalwe dat iemand skielik al die liggies van die Kersboom uitgedoof en die geskenke weggeneem


Скачать книгу