Susanna M Lingua Gunstelinge 6. Susanna M Lingua

Читать онлайн книгу.

Susanna M Lingua Gunstelinge 6 - Susanna M Lingua


Скачать книгу
ontsenu en haar byna soos ’n onbeholpe skooldogter laat voel. Maar haar vader red haar genadiglik van die takserende blik toe hy die jong edelman ’n glasie ligte Madeira-wyn aanbied.

      Die jongman neem op die naaste stoel plaas en voel blykbaar dat hy nie ’n tweede keer iets te drinke behoort te weier nie. Derhalwe stem hy in om ’n glasie wyn saam met sy gasheer te geniet. Hy vra die ouer man belangstellend uit na die vordering van sy werk en verseker hom weer eens dat hy te alle tye tot sy diens is, indien hy iets tuis of by die hospitaal nodig het.

      Onderwyl die twee mans rustig sit en gesels, wonder Ronelle weer wat sy bedags met haarself gaan aanvang hier in die vreemde. Sy wonder of hier baie jongmense is en indien wel, of hulle ook so styf en trots is soos hierdie jong edelman. Sy hoop egter dat die jongmense nie ook so nougeset en konserwatief is soos wat haar vader die gemeenskap vroeër aan haar beskryf het nie, want dan gaan sy sowaar in hierdie geweste bitter swaar leef. Gelukkig het sy heelwat leesstof saamgebring en haar vader sal haar darem seker ook so af en toe sy motor leen … Ja, die strand is ook nie ver nie. Sy sal elke oggend in die water kan gaan baljaar, of smiddags, wanneer dit baie warm is.

      Ronelle is so diep in haar gedagtes versonke dat sy byna wip soos sy skrik toe die Duque haar eensklaps weer aanspreek. “Ek vrees u gaan Braca na al u omswerwinge in die buiteland baie stil vind, señorita.”

      “Verskoon my, maar u verkeer onder ’n wanindruk, señor Duque,” help sy die man met ’n stadige glimlaggie reg. “Ek het nie in die buiteland gaan toer nie, ek het slegs my musiekstudies in Rome voltooi. Gevolglik was daar nie veel tyd vir plesier nie, want ek moes baie hard studeer om my ideaal in twee jaar te verwesenlik. Maar u het heeltemal gelyk. Braca lyk vir my op die oog af so dood soos die Dooie See en ek het juis flussies gesit en wonder wat ek bedags met myself gaan aanvang. Ek merk hier is nie eens ’n klavier of ’n orrel in die huis nie. En wat ek van siekte, kieme en virusse af weet, is uiters gevaarlik, dus kan ek my vader nie eens met sy werk in die hospitaal behulpsaam wees nie.”

      “Ek sou u in elk geval nie in die hospitaal toegelaat het nie, señorita,” sit hy haar netjies op haar plek – klaarblyklik omdat sy so neerhalend na sy geliefde dorp verwys het, dink sy met ’n ondeunde vonkeling in haar lewendige, grysgroen oë, en besluit dan in haar enigheid dat hierdie konserwatiewe edelman blykbaar nou sy messe vir haar geslyp het en dat sy voortaan maar lig sal moet loop.

      Dog sy waag dit nietemin om te vra: “Is hier darem ’n bioskoop op Braca, señor Duque?”

      “U kan my gerus maar aanspreek as señor Diago, señorita. En wat u vraag betref, ek vrees die antwoord is nee. Maar ek sal persoonlik daarvoor sorg dat u musiek tydens u verblyf hier op Braca nie verwaarloos word nie. Beskou dus die musiekkamer op my Quinta as u eiendom. Ons het ook ’n saal hier op Braca wat oor ’n orrel beskik wat te alle tye tot u beskikking is, señorita. Ek sal vandag nog sorg dat u in besit van die sleutel is wat u toegang tot die saal sal verleen. En môreoggend na ontbyt sal ek u persoonlik aan die opsigter van die saal gaan voorstel. Ek sal ook my sekretaris versoek om vir u ’n paar uitstappies en ander vermaaklikhede te reël. Wees dus nie bevrees nie, señorita. Ek en die goeie señor professor sal persoonlik toesien dat die tyd u nie te erg verveel nie. Al is Braca so dood soos die Dooie See …”

      ’n Hartlike lagbui oorval Ronelle meteens – ’n lagbui wat so spontaan en aansteeklik is dat selfs die ernstige en waardige edelman nie anders kan nie as om skeef te glimlag.

      “Ek vra om verskoning, señor Diago,” laat sy boetvaardig hoor, na haar lagbui eindelik bedaar het. “Dit was onvergeeflik van my om so neerhalend na hierdie stil en rustige dorpie van u te verwys. Ek vrees dit was slegs een van die talle verborge duiweltjies in my wat ontwaak het en my iets so onvergeefliks laat sê het. U weet dit blykbaar nog nie, maar daar is ’n hele regiment duiweltjies in my wat soms kop uitsteek en my dinge laat sê en doen wat kon gebly het.”

      ’n Oomblik lyk dit beslis asof Ronelle die waardige, onversteurbare man ietwat van stryk het.

      Maar ook net ’n oomblik, dan is daardie ernstige, deurdringende blik terug in sy oë toe hy effens onpersoonlik verklaar: “Ons sal al drie saamstaan en daardie regiment … e … duiweltjies van kant maak … Ja, dit kan beslis gedoen word. Ek vermoed dat daardie duiweltjies slegs na vore tree wanneer u vermoeid voel. Dus moes die reis u tog uitgeput het, al lyk dit nie so nie. Ek dink stellig dit is raadsaam dat u die res van die dag gaan rus, señorita. Ek wou u en die goeie professor nooi om vanaand saam met my op die Quinta te eet, maar ek sal die uitnodiging voorlopig uitstel totdat u eers goed uitgerus is en daar geen gevaar bestaan dat daardie duiweltjies weer te voorskyn mag tree nie.”

      Met hierdie woorde kom hy ewe waardig orent en kyk die oubaas vriendelik aan. “Ek vrees ek moet nou dadelik weer gaan. Ek het slegs hier aangedoen om die señorita welkom te heet.”

      Hy buig weer galant. “Tot siens, señorita … my goeie vriend. Ons sien mekaar dan weer môreoggend.”

      ’n Tasbare stilte heers etlike tellings op die stoep nadat die Duque se motor vertrek het. Ronelle kyk haar vader ietwat verslae aan, maar die oubaas se blik rus ondeund op haar.

      “Nou ja, daar het jy dit nou,” glimlag hy geamuseerd. “Die heer in lewende lywe en in al sy belangrikheid en indrukwekkendheid. Jy kan nie stry nie, die man laat ’n mens soms ’n bietjie minderwaardig voel. Hy is so … so oorheersend van geaardheid.”

      Ronelle sluk verward en al wat sy kan uitkry, is: “Gits, die man is soos ’n lokomotief sonder remme. Hy stoom oor alles heen asof … asof niks op aarde hom kan stuit nie. Is hy altyd so dominerend en alwetend?” Die vader knik bevestigend, en dan gaan sy voort: “Wel, ek weet nie so mooi nie, maar dit voel vir my of ons twee nooit langs een vuur sal kan sit nie, Pappie.”

      “Ag, kom,” lag die oubaas haar nou hartlik uit. “Hy is glo die gewildste Duque wat hulle nog ooit hier op Braca gehad het. Sy volk aanbid hom byna en die vroue sal eenvoudig flou val as hy hulle vereer met maar net een so ’n glimlaggie soos wat hy met die intrapslag vir jou gehad het. Glo my, vir ’n Portugese vrou is dit ’n besondere eer om ’n glimlag van hom te ontvang.”

      “Ja, hy lyk vir my bitter aanmatigend en ek is seker hy sal nie eens die moeite doen om aangenaam op te tree indien dit hom nie geval nie. In my geval was hy maar net beleef omdat ek die goeie professor se dogter is, of verwelkom hy elke vreemdeling in sy koninkryk met soveel beleefdheid?”

      “Nie net dit nie, ou dogter,” glimlag die vader goedig. “Hy hou gewoonlik ook ’n wakende oog oor elke vreemdeling wat sy koninkryk binnedring, want jy moet begryp, hulle volg totaal ander gebruike as ons daar in Suid-Afrika. Ten eerste sal jy môre vir jou ’n mantilla moet aanskaf vir die dinee op sy Quinta, anders weet ek sowaar nie hoe skeef hy jou daar tussen sy vername gaste gaan aankyk nie. Die man is pynlik gesteld op etiket.”

      “Maar, Pappie, vertel my nou eers wat ’n Quinta is. Is dit miskien iets waarvoor ’n alledaagse mens soos ek ontsag behoort te hê – ’n kasteel of ’n ding?”

      “Wel, as jy nog nie ’n kasteel gesien het nie, meisiekind,” glimlag hy fyntjies, “sal jy glo dit is een – net in ’n kleiner formaat, natuurlik. Nee, die Quinta is sy plaas.”

      “Maar woon die Duque dan op ’n plaas?” wil Ronelle weer weet. “Ek het gedink hy woon hier op die dorp!”

      “Nee, sy Quinta is net buite die grens van die dorp geleë,” verduidelik die oubaas. “Vanaf Diago se voorstoep het ’n mens ’n pragtige uitsig op die hele dorp en die baai. Maar jy moes tog met jou aankoms vanoggend die Duque se huis gesien het, Ronelle.”

      “Bedoel Pappie daardie kolossale, wit gebou hier bo-op die rantjie?” Haar pa knik bevestigend, en dan roep sy verbaas uit: “Genugtig, ek sal hopeloos verdwaal as ek in daardie plek moet woon …! Nee, dankie, die Duque kan maar sy musiekkamer vir homself hou. Ek sal liewer die saal se orreltjie gaan bespeel. Ek koester regtig geen sinnigheid om in daardie doolhof van gange en vertrekke te verdwaal nie. Ek vrees dit sal my ou paps ’n week neem om my te vind as ek in daardie kolos soek raak.”

      Gesellig sit die twee daar op die stoep en gesels, nou weer oor die nege-en-twintigjarige


Скачать книгу