Wierook van verlange. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Wierook van verlange - Annelize Morgan


Скачать книгу
toe ’n jong Arabier om die hoek van die huis gehardloop kom met twee rasjids agter hom aan. Hulle hardloop by ’n sydeur in en verdwyn buite sig. Margot bly buitentoe kyk om te sien of daar nog mense aankom, maar uiteindelik gee sy die teken dat dit veilig is.

      Liliane is die laaste een wat uit die beskerming van die ingang wegkom.

      Voordat sy die ander kan volg, gryp iemand haar egter van agter.

      ’n Hand sluit vinnig oor haar mond voordat sy kan gil. “Moenie skree nie,” fluister ’n manstem gespanne in Arabies. Hy vat sy hand voor haar mond weg en ruk haar om sodat sy na hom kyk. Dit is die man wat deur prins Fazir geslaan is – die een wat hulle gedokter het.

      Hy druk ’n papierrol, toegedraai in ’n doek, in haar hande. “Hulle gaan my doodmaak. Vat dit asseblief na sjeik Dawud bin Nazim. Dit is belangrik. Asseblief, gee dit vir hom, vir niemand anders nie! Sê vir hom … sê vir sjeik Dawud dit is alles leuens. Hoor jy? Dit is alles leuens.” Hy draai om en verdwyn in die donker gang af.

      Liliane staan verstom. Wat het hy daarmee bedoel? Watse papierrol is dit? Prins Fazir het die man vroeër geslaan omdat hy glo ’n dokument verloor het. Het hy dit eintlik gesteel?

      Sy hoor uitroepe en toe hoe die man wat pas by haar was, skreeu en dan volg ’n doodsroggeling.

      Hemel, nee!

      Sy wag nie langer nie, maar hardloop beangs buitetoe na die geboutjie waar die ander twee op haar wag. In die hardloop versteek sy die papierrol onder haar klere.

      Margot druk die deur vinnig agter haar toe voor sy omdraai na Liliane. “Iemand kon jou gesien het. Hoekom het jy nie saam met ons gehardloop nie?”

      “Daar was … ’n geveg in die gang. Ek kon nie wegkom nie.” Sy wil nie vir Margot van die papierrol onder haar klere vertel nie. In elk geval nie nou al nie. Sy probeer om haar asemhaling weer te reguleer. Die een oomblik was die man nog daar by haar en die volgende oomblik het hy na sy dood toe gehardloop. Dit is so onwerklik, so absoluut aaklig.

      Sy voel hoe naarheid in haar keel opstoot, maar sy konsentreer met moeite op haar asemhaling om dit te onderdruk.

      Toe die geluide in die huis begin vervaag, vra sy: “Is jy seker dit is sjeik Jamal al Din wat monsieur Laurent aangeval het? Is hulle dan nie vriende nie?”

      “Nee, hulle is nie. Hy en die sjeik dryf net handel met mekaar tot elkeen se voordeel. Maar sjeik Jamal het lankal agtergekom dat monsieur Laurent dikwels oneties te werk gaan.”

      “Ek wonder aan wie se kant prins Fazir is.”

      “Die Arabiere sal seker saamstaan teen monsieur Laurent.”

      Hulle probeer ’n gemaklike posisie vind op die vloer van die geboutjie vir die lang wag wat voorlê.

      Daar daal ’n lang stilte neer.

      “Sou madame Laurent en die kinders nog hier wees?” Dit klink asof Ignez wil huil.

      “Ons sal weet wanneer die dag breek,” antwoord Margot. “Kyk, die lug is reeds besig om te verkleur. Ons sal nie meer lank hoef te wag nie.”

      Liliane swyg oor die jong Arabier wat haar uit nood moes vertrou het. Hoe sal sy die papierrol by sy hoogheid sjeik Dawud bin Nazim uitkry? En sal hy bereid wees om haar te help as sy hulp nodig kry?

      Toe die son eindelik sy kop oor die horison steek en die lug verkleur na ligpers, turkoois en goud, kyk hulle deur die smal gleuwe in die mure na wat buite aangaan. Die pragtige sonsopkoms gaan ongesiens by hulle verby, want mense hardloop nog rond en voor die huis is ’n vuur waarvan die rook swart die hemel in optrek. Alles word uit die huis gedra en op die brandende stapel gegooi.

      Die deur word plotseling hardhandig oopgestamp en twee mans met ontblote sabels stap in. Hulle ruk die vroue op hul voete en stoot hulle na buite waar ander op hulle wag.

      Margot probeer verduidelik, maar hulle luister nie na wat sy sê nie.

      Hulle drie is vir dié mense misdadigers, dink Liliane beangs toe hulle haar hardhandig stamp sodat sy vorentoe moet loop.

      “Loop!” sê een vir Ignez en beduie dat sy moet aanstap.

      Toe sy nog weifel, stamp hy haar dat sy struikel en op haar knieë te lande kom. Sy sukkel orent met trane in haar oë, maar hy bly koud en onverskillig.

      Liliane voel hoe Ignez haar hand vat en hul vingers verstrengel krampagtig inmekaar, hoewel hulle nie praat nie. Miskien sal hulle later kan praat, miskien nie.

      Op dié oomblik weet Liliane net dat hulle op ’n dun lyn tussen lewe en dood loop. As die papierrol by haar ontdek word, sal hulle haar daaroor doodmaak? Sy weet nie eens wat die rol beteken nie. Sy het die Arabiere se taal leer praat, maar kan hul skrif nog nie ontsyfer nie. Dit is vir haar onverstaanbaar.

      Hulle word verby die stapel brandende huisraad geneem, verby die stalle en die binnetuine. Twee liggame onder ’n palmboom is bedek met ’n seiltjie. Liliane herken monsieur Laurent net aan die skoen wat onder die seil uitsteek.

      Sy vrou en kinders is nêrens te sien nie.

      Liliane knyp haar oë vir ’n oomblik styf toe voordat sy verder loop.

      Sy is dankbaar dat hulle nog leef en voel hoe die warm trane oor haar wange loop. Skaars ’n week gelede was daar nog hoop vir haar en vandag … vandag raak sy aan die dood.

      Hulle word by ’n sydeur in die huis ingeneem. In die vertrek waar die linne gesorteer word, word hulle ingestoot.

      Oomblikke later gaan die deur weer oop, en stap sy hoogheid sjeik Jamal al Din in. Sy gesigsuitdrukking getuig van woede.

      Die ander staan eerbiedig terug toe hy by die vertrek in kom. Hy is ’n groot man, effens aan die gesette kant en iemand wat daarvoor bekend is dat hy kort van draad is. Hy bekyk elkeen van hulle van kop tot tone en wys sy afkeuring vir Ignez wat nog steeds huil.

      Dan draai hy om en blaf ’n bevel aan sy manne wat Margot hardhandig by die deur uitneem.

      “Margot!” roep Liliane en strek haar hand uit om dié van die ouer vrou te neem, maar sy word teruggestamp.

      “Liliane … ma fille!” roep Margot terug. “Moet my nie vergeet nie!” Vir oulaas kyk sy nog pleitend, beangs, na Liliane, maar dan is hulle buite sig, en staan net Liliane en Ignez nog daar.

      Liliane kan haar hart in haar ore hoor klop.

      Onderliggend aan die angs wat haar wil oorweldig, is die besef van hoe weerloos sy is. In die tyd wat sy by monsieur Laurent gewerk het, het sy nie veel met die werklike bewoners van die woestyn te doene gekry nie. Sy het gehoor van die woestynstamme, maar hul onderlinge politiek het haar nie eintlik geraak nie. Nou staan sy van aangesig tot aangesig voor hulle en sy weet heeltemal te min van hulle gebruike en gewoontes. Hulle taal ken sy redelik, dis al. Heimlik bid sy net dat hulle nie die papierrol aan haar sal ontdek nie. Sy het geen idee wat daarop geskryf staan nie, en dit kan selfs dalk inkriminerend teen haar wees.

      Sonder om ’n woord met hulle te praat, draai sy hoogheid sjeik Jamal al Din om en stap uit. Buite die deur gee hy kortaf bevele aan sy manne en dan raak dit weer stil.

      Liliane en Ignez word later weggeneem na ’n vertrek in die huis waar hulle toegesluit word. Wanneer sy hoogheid vertrek, sal hulle gehaal word en dan dieper die woestyn in geneem word tot daar waar die djins tussen die duine skuil.

      Amper elke bekende gesig het vir hulle ’n bedreiging geword. En hulle slaap rusteloos deur die versengende hitte. Dit is reeds donker buite toe ’n vrou vir hulle kos bring.

      “Wat gaan hulle met ons doen?” vra Ignez. Die gewone ondeunde vonkeling in haar oë is weg.

      “Ek het geen idee nie.” Liliane beduie na die kos. “Jy sal moet eet. Dit is nie meer monsieur Laurent wat ons baas is nie.”

      Ignez staar na haar. “Wat het ons besiel om hierheen te kom?”

      Liliane kan haar wanhoop aanvoel en moet veg teen die versoeking om ook daarin te verval. “Ek verstaan


Скачать книгу