Wierook van verlange. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Wierook van verlange - Annelize Morgan


Скачать книгу
nie sal opspoor nie.”

      Liliane swyg oor die hangertjie, want sy voel nie dat sy Asmara kan vertrou nie. Hoewel sy nie gemeen is nie, het sy hulle sover ook nog nie baie vriendelik behandel nie.

      “Monsieur Laurent het vir ons ’n tuiste beloof vir drie jaar,” sê sy eindelik.

      “Hy het vir julle gelieg.” Sy tel die los kledingstukke van die vloer af op. “Miskien sou met julle gebeur het wat met ’n paar ander meisies in monsieur Laurent se diens gebeur het. Miskien is dit maar netsowel dat hy nou dood is en sy vrou en kinders uit die land weggejaag is.”

      Liliane staar haar aan. “Ekskuus?”

      “Laurent was nie wat julle gedink het hy is nie. Hy het verskeie meisies al hierheen gebring en hulle dan vir gunste geruil. Hy soek julle uit, en julle kom altyd gewillig.”

      Daar is ’n lang stilte en dan sê Ignez: “Ek wil teruggaan Frankryk toe.”

      “Ek ook,” sê Liliane, “maar ek gaan my vader eers opspoor.”

      “Moet net niks waag terwyl julle nog in hierdie huis is nie. Sy hoogheid sjeik Jamal al Din kan teenstand nie verdra nie en sy humeur is baie kort. Sy dogter, Sakira, is erger.”

      Daar is nie tyd om daaroor te praat nie, want daar word ongeduldig na hulle geroep. Hulle haas hul in die lang gang af na die mans se deel van die huis. Daar hoor hulle manstemme agter ’n toe deur waar hulle moet staan en wag op verdere bevele.

      Eindelik gaan die deur oop en word Ignez ingeneem.

      Liliane kan ’n gesels, ’n gelag en geskerts hoor, maar nie wat gesê word nie. Haar kommer groei hoe langer Ignez daar binne bly. Teen die tyd dat sy uitkom en teruggeneem word na hulle kwartiere, is Ignez in trane.

      Ek is Farhah, dink Liliane skielik benoud, ek is Farhah … Farhah … dit klink vreemd, maar ek sal dit gewoond raak.

      Sy word ingeneem.

      “En hier is die ander meisie wat ons by Laurent se huis gekry het,” kondig sjeik Jamal al Din aan. “Sy het aan Laurent behoort, maar jy sê jy het haar gekoop, prins Fazir?”

      Daar is sowat vyftien mans in die vertrek. Hulle sit of lê op dik kussings op die vloer.

      Farhah staan voor hulle en bewe. Sy voel aan sy word met wellus bekyk. Daar is net een wat sonder uitdrukking na haar sit en kyk asof hy hoegenaamd nie belangstel nie. Sy herken hom as sjeik Dawud. Dit is vir haar ’n skok om hom hier te sien.

      “Ja, ek het haar gekoop die aand wat jy daar by Laurent ingebars het, Jamal,” sê een van die mans.

      Farhah skrik, want sy besef dat dit prins Fazir is. Praat hy die waarheid? Monsieur Laurent is nie meer hier om te stry nie.

      “Hulle het nie besef dat hulle as slawe weggevoer word nie,” wys sjeik Jamal uit. “Dit is maar net een van die redes waarom ons Laurent uit ons gebied moes verwyder het. Hy het dit al te veel kere gedoen. Die meisies behoort eintlik teruggestuur te word Frankryk toe, so ook die ouer een wat jy reeds na jou huis geneem het.”

      Farhah skrik. So dít is wat met Margot gebeur het. As sy haar maar kon help!

      Prins Fazir haal sy skouers op. “Maar dié twee is nou slawe. Ek het vir hulle betaal en daar kan niks meer daaraan gedoen word nie. Hulle moet saam met my na Hudhafah kom.”

      Sy hoogheid sjeik al Din draai sy oë stadig in prins Fazir se rigting. “Waarom wil jy nog slavinne hê? Het jy nie reeds genoeg nie?”

      Fazir snork minagtend. “Die voriges het nie lank gehou nie.”

      Farhah kan voel hoe sy bleek word.

      “Ek het julle laat kom sodat ons kan besluit wat gedoen moet word,” sê sjeik Jamal. “Laurent se listige gekonkel met die Bedoeïene het uiteindelik op moeilikheid uitgeloop. Opstand broei onder die mense namate die ou verskille en rusies weer kop uitsteek. Daar is sprake daarvan dat Laurent die hele opstand onder die mense georkestreer het. Daarom was dit vir my nodig om in te gryp. Ek het reeds te lank gewag om van hom ontslae te raak.”

      Hy kyk na Farhah. “Dié meisies het net in die pad gekom en dinge gekompliseer. Hulle is my buit ná Laurent uit die weg geruim is, maar hulle is nie werklik slawe nie, hoewel jy sê dat jy vir hulle betaal het, prins Fazir.”

      Farhah kyk weg en vas in die oë van sjeik Dawud. Hy knip nie ’n oog nie en toon geen teken dat hy haar herken nie. Sy onthou hulle ontmoeting by Laurent se huis toe hy lank na haar gekyk het, die koue uitdrukking in sy oë. Maar sy onthou ook die uitwerking wat die ontmoeting op haar gehad het.

      Prins Fazir moes die blik tussen haar en Dawud waargeneem het, want hy sê: “Kom nou, Dawud, koop hierdie enetjie en begin jou eie harem. As jy in hierdie land as sjeik wil heers, moet jy mooi vroue hê, en dié een is mooi, stem jy nie saam nie?”

      Dawud knik. “Sy is mooi, maar ek het nie ’n harem nodig nie.”

      “Ek is bereid om haar aan jou af te staan.” Fazir grinnik vir Dawud. “Ek wil haar graag hê, maar ek gee jou die eerste keuse.”

      “Dit is baie gaaf van jou, Fazir, ek sal dit in gedagte hou,” sê Dawud dan. “Maar tot tyd en wyl daar oor haar lot besluit word, kan sy in sjeik Jamal se harem bly.”

      Prins Fazir lyk ontevrede, maar sjeik Jamal verander gou die onderwerp: “En waar is jou vriend Jabad vanaand, Dawud?”

      Sjeik Dawud draai na hom. “By sy huis.”

      “Hoekom het hy nie saamgekom nie?”

      “Hy is siek.”

      Jamal al Din leun vorentoe. “Siek? Jabad het nog elkeen wat na hom toe kom gesond gedokter. Hy is bekend daarvoor dat hy alle siektes kan genees. Hy kan tog nie self wil siek word nie.”

      Dawud knik. “Dit is so, maar soms oorweldig verlange hom.”

      Jamal is stil terwyl hy onderlangs na Dawud kyk. “Hy kon mos al na sy land teruggegaan het as hy wou. Met jou is dit ’n ander saak, of hoe? Jy hou van die mag wat die titel van sjeik jou gee.”

      “Dit gaan nie oor mag nie, en jy weet dit.”

      Prins Fazir lag hardop. “Jy sal oorlog moet maak om sjeik te bly, Dawud. Daar is onrus onder die mense en hulle wil ’n nuwe sjeik hê, een van hul eie mense.”

      “Dit was nie my keuse om sjeik te wees nie, Fazir.” Dawud frons.

      Farhah staan vergete op die platform, onseker oor wat nou van haar verwag word.

      “Dit is net omdat ek die mense tot bedaring gebring het dat die sultan my as sjeik aangestel het.”

      Fazir se oë vernou. “My broer se oordeel laat soms veel te wense oor.”

      Dan kyk sjeik Jamal na Farhah en besef dat sy nog al die tyd daar staan. Hy klap sy vingers, en sy word uitgeneem.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.

Скачать книгу