Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit


Скачать книгу
lê die landerye in lappies groen skakerings: die liggroen van wingerde wat, so sê Dewald, nog nie algemeen is nie. Ook katoen, by wyse van wisselbou. Maar die grootste groen lappe is die bestaans-lusern. Noudat die dag afkoel, is daar ’n toenemende gewoel op die naaste landerye, asof sononder getroef moet word. Die nietige mens met sy implemente, beurend teen ’n wisselvallige oerstroom. Dit voel ’n bietjie skurkagtig om vanuit sy relatiewe gerief daarna te kyk asof dit hom nie raak nie.

      Teen skemer sit hy op die stoepmuurtjie, dankbaar peuselend aan die toebroodjies wat Jane Venter hom saamgegee het. Tuisgebakte brood, soetsuurdeeg. Hy sit effens verskuil sodat hy nie vanaf die pad of die Thirions se huis raakgesien kan word nie. Hy bly oorbewus van die feit dat Nida, ten spyte van Boel se aansprake, moontlik haar ma oorreed het om hom te wil loseer. Of het sy tog niks daarmee te doen nie? Iets klop nie.

      Dit is goed dat hy die besluit met ’n dag uitgestel het. Dis ’n groot stap om daar te moet slaap, maar volgens Dewald is daar ’n buitekamer. Of dit deur die broer Arno beset word, het hy nie geweet nie.

      Dis nogtans goed dat die skoolhuis bewoonbaar gemaak word. Dit kan wees dat hy nagte of naweke hier wil oorslaap, en pouses kan hy ’n koppie tee kom drink. Of skoolwerk doen, of ouers ontvang, of wat ook al. Hy was ’n laatlam en ken nie ’n huis met drukte nie. Die koshuis was ’n toets wat hy vir homself gestel het. Dis een ding om skool te hou, ’n ander om na-uurs ook betrokke te wees. Maar dit kon ’n ontbrekende deel in sy natuur aanvul. Die gewoel van opgroeiende susterskinders in Freja se huis het hom geval. Boonop was die koshuis verleë oor ’n onnie wat diens kan verrig en studietoesig hou. En hy was verleë oor die verblyf.

      Hier bo teen die rantjie lê die suising van stilte egter om hom heen: dis net hy, die sakkende son en die stilte. Of nee, daar is nog iets. Die ligte windjie moes gedraai het, want meteens is daar weer die stem van die rivier, die veraf gedruis oor rotse. Dit begin sy bewussyn vul en oorheers, sodat hy opnuut wonder oor die nag wat voorlê.

      Hy kan hier bly, op sy eentjie, maar hoe sal hy die nagte omkry? Hy sal later nie meer weet watter sy eie asemhaling is en watter die veraf dreiging of lokking van die rivier nie.

      Vroeër vandag het Boel vir Nida ’n klapsoen belowe. Kom hy vanaand oor? Is hy dalk reeds daar? Die werf is net te ver om alle bewegings te kan volg, en die meeste bedrywigheid vind seker aan die ander kant plaas, nader aan die watervoor en landerye. ’n Kraal sal daar ook wees, hetsy bokkraal of muile of melkkoei. Dis tog ’n heel besonderse soort samelewing, en dis jammer dat hy te gekneus is om dit te waardeer. Dalk, wie weet, deur Nida Thirion se oë? Moet hy dan maar daar gaan inwoon?

      Hier teen die rant, alleen, sal hy elke nag saam met Banie Hougaard verdrink.

      4

      Die rit saam met Dewald, per volgelaaide lusernlorrie, is anders as saam met Hans Esau en met Boel. As Nelis nou terugdink, was die dag van gister een deurmekaar gekoekte warspul, volvoer met die verwagte rustelose nag.

      Hy het nogal ingesluimer, maar die wind moes weer eens gedraai en die riviergedruis nader gebring het, want hy het ’n soort wakkerdroom belewe, met die verdrinking van Banie soos hy dit in sy kop uitgewerk het: kop wat soos ’n prop uitskiet en weer verdwyn, spartelende arms. Sekerlik het Banie nie stilweg verdrink, sierlik en netjies nie?

      Hy was te ontsteld om verder te slaap, te verward, te ontnugter ook: hoe kon hy dink dat ’n geografiese skuif sy trauma kan besweer? Sy antwoord moet hy op ’n interpersoonlike vlak soek; dat hy in sy diepste onderbewussyn graag die klein onrusstoker Banie Hougaard uit die pad wou hê. Sy aandadigheid, al het hy nie die kind ingestamp nie.

      Die oggendstond en ver hanegekraai was ’n verligting. Toe Dewald vroeg kom, het Nelis reeds op die stoepmuurtjie gesit en wag. Hy kon sy goed op die stasie kry en is daarna voor die groterige winkel afgelaai terwyl Dewald die bale aanry lusernstoor toe. “Ek sal jou later by die skoolraadskantoor om vat. Maar koop eers wat jy nodig het en eet iets in die kafee,” het Dewald hom aangeraai. “As jy beter toegerus is, sal jy beter kan besluit oor ta’ Leen Thirion se aanbod.”

      “Wat is fout met haar?” het Nelis vinnig gevra, voor sy moed hom begewe.

      “Niks. Mense spot ligweg met haar omdat sy so kompleet haar eie aard het. Maar ek kom goed met haar oor die weg. Sy is eintlik ’n diep mens. Weet hoe om te ly en te verduur. Nie een wat spog of kla nie.”

      Nelis het niks verder uitgevra nie. Dit kan lyk of hy te veel in die Thirions belangstel. Hy het dus die meeste van die dorpstydjie gemaak, hom aan mense voorgestel as hulle hom nuuskierig aankyk. Iets genuttig, enkele inkope gedoen. Ook telegramme gestuur . Sy suster Freja s’n: Veilig aangekom. Nog vreemd, raak tuis. Brief volg. Reinet s’n was moeiliker. Die atmosfeer in die poskantoor het hom ’n innige vlaag verlange na haar gegee. Omdat sy jonk in matriek was, het sy eers onbepaald by die huis gebly. In plaas van die voorgenome studie en tot haar ouers se misnoeë, kry sy toe die nodige opleiding; eers vir die telefoonsentrale en toe dit outomaties raak, in die poskantoor self. Met planne om klashulp by die skool te word, op grond van haar studie. Of dit was om naby hom te wees, het Nelis weer eens vermoed. Hy wou hom nie so aanmatig dat hy dit ooit hardop sê nie.

      Hy wou dieselfde as vir Freja telegrafeer, maar voeg toe nadat hy gedink het die volgende by: Sien jou as motor kom kry. Dis vaag genoeg, hy noem geen datum nie. Mens moet nooit op staande voet oor ’n groot saak besluit nie. Maar jy moet ook nie onbepaald die druk van omstandighede weerstaan nie. Dis dalk net jou lotsbestemming wat aanklop.

      Hy ry saam met Dewald terug Driekolk toe. Of die skoolraadsvoorsitter hom gesoen het, wil Dewald met sy nou reeds bekende laggie weet. “Jy was immers die enigste aansoek. Nie eers drie maande lank wil iemand hierheen kom nie. Die owerhede was raadop met onse ou skooltjie.”

      “Wel, dis nou mý skooltjie, en ek gaan hom oppas. Solank ek hier is, in elk geval.” Hy moet hom nie kompromitteer nie. Wat hy nou as ’n uitkoms sien, kan vorentoe ’n kruis word.

      “Verskoon dat ek vra, maar mans swot nie dikwels meer onderwys nie.”

      “My suster het my rigting uitgekies. Omdat ek so goed met haar krosie was. Ek was haar nie-amptelike au pair en naskoolsorg.” Hy voeg by, ingeval dit sy persoonlike geskiedenis kan verhelder: “Ons het ons ouers vroeg verloor, so ek het maar vanuit haar huis skoolgegaan.”

      “Dis ’n mooi storie, en dit oortuig my. Maar hoekom jy na hierdie uithoek toe gekom het …”

      “Die pad het so vir my oopgemaak. Ek kort nog ’n vak vir hoërskool.”

      “Nie dat ons kla nie. Kom, ek help jou goeters afdra. Ek wil ook kyk of Komien toe vandag die skool kom skoonmaak het.”

      “Dit sal ’n groot verskil maak. Ek moet sê, ek voel al meer tuis as gister.”

      “En mevrou Thirion?”

      “Ek sal so sononder se koers afstap soontoe. Dalk aanvaar ek haar aanbod.” Hoe kan hy vertel van sy rustelose eerste nag alleen? En durf hy wag dat dit beter word, as hy weet dit kan net erger word?

      “Dis dan goed so. En rus nou eers oor die ergste hitte, jy weet mos al?”

      Nelis sluimer vermoeid op die warm bed in. Hy het nie op groot skaal uitgepak nie, omdat hy nie weet of hy weer sal moet inpak nie. Die goed wat in die skoolvertrek hoort, het hy wel oorgevat.

      Hy was vandag by die bank aan en het gesorg vir genoeg kontant om ’n maand se losies vooruit te betaal. En in elk geval moet hy sy baadjie terugkry. Dis ’n verskoning, indien dit sou blyk dat mevrou Thirion haar bedink het.

      Hy weier om te erken dat sy voorneme enigiets met Nida te doen kan hê. Hy kan trouens van Boel se kant af probleme te wagte wees as hy saam met Nida onder een dak verkeer. Hy is gister duidelik genoeg gewaarsku.

      Hy weier ook om, soos gister, weer loerjan te speel. Hy onthou die beeld van Nida met die strooigeel sonhoed. En dis al wat hy behoort te onthou. Hy gaan nie op haar en Boel spioeneer, in die man se slaai krap nie. Sy is niks van hom nie. Dis Reinet wat op hom wag. Hy dwing Reinet se beeld na vore: vlinderlig, gesellig, borrelend. Ook toe-eienend, ja.

      Hy


Скачать книгу