Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10). Marzanne Leroux-Van der Boon
Читать онлайн книгу.’n vrou voor hulle.
Toe voel Henok hoe Sarah se hand onder sy regterelmboog deurkruip en hoe haar vingers aan sy baadjie klem. Hy kyk steeds nie na haar nie, maar sy linkerhand vou om hare.
Die gids vestig hul aandag op ’n kennisgewing teen een van die dakvensters bokant die gang: Sauberkeit = Gesundheit.
“Om skoon te wees is gelyk aan gesondheid,” verduidelik sy die Duits aan die groep. “Vir die Jode wat gedwing is om in hierdie vieslike barakke te leef, moes dit vreeslik gewees het om dit elke dag te lees, want in hierdie hel was dit onmoontlik om skoon te wees. Daar is van hulle verwag om luise van hulself af te trek, want ’n ander waarskuwing het gelui: Een luis op jou sal jou dood beteken.”
Laatmiddag, op pad terug, toe net nog hulle twee van die groep oor is, keer die gids haar na Henok. “Ek het gewonder,” sê sy huiwerend, “of u dalk sou belangstel. Hier in Krakow is ’n bejaarde man tans op besoek. Hy is ’n familielid van die Joodse dokter wat as assistent van Mengele in Auschwitz-Birkenau gewerk het. As u wil, kan ek moontlik met hom reël om môre met u te gesels. Hy sal u heelwat meer kan vertel as wat ek vandag kon.”
Voor Henok kan antwoord, praat Sarah. “Dit sou ek graag wou doen.”
Hy kyk verbaas na sy vrou. “Sou jy?”
“Heel graag,” sê sy.
Hoofstuk 2
Krakow
3 Julie 2016
27 Sivan 5776
By die Best Western Hotel waar die Kambungus tuisgaan, meld ’n bejaarde man, kennelik in sy laat tagtigs, delikaat van bou, maar met ’n woeste bos vergrysde hare en ’n kenmerkende Joodse neus, hom die volgende môre teen teetyd aan.
Henok steek sy hand uit. “Henok Kambungu.”
“Yitzchak Szesztay. Shalom.” Hy kyk duidelik ietwat onseker na die groot swart man voor hom. “U is Joods?”
“Ek is,” sê Henok, al gewoond aan die vraag. Selfs al word dit nie altyd uitgespreek nie, is dit tog tydens die bekendstelling leesbaar op die ander se gesig.
“Ek het dit wel laat in my lewe agtergekom. My ma was ’n Etiopiese Jood en my pa ’n Ovambo uit Namibië.”
“Henok,” herhaal die ou man stadig, sy Engels swaar geaksentueer. “Moet dus na regte Chanok heet?”
“So is dit,” sê Henok verleë. “Dit is my vrou, Sarah.”
Hy neem Sarah se hand. “U is nie Joods nie?”
Sy skud haar kop.
“Sará is wel ’n Joodse naam.”
Sarah verkleur ligweg. “Dis eintlik Engels.”
Miskien het Yitzchak haar nie goed gehoor nie, want hy sê: “Chanok en Sará uit Yerushalayim, ’n voorreg.”
Hulle gaan die hotel se koffiewinkel in en Henok bestel elkeen se keuse.
“Wel,” sê Yitzchak toe hulle klaar is met die nodige gemeenplase, “ek begryp dat julle meer van Miklós Nyiszli se werk saam met dr. Mengele wil weet. ’n Joodse dokter en die assistent van een van die gruwelikste moordenaars van Jode … Die lewe lewer inderdaad vreemde vennootskappe op. Nie dat Miklós in die aangeleentheid veel sê sou gehad het nie. Tog is dit grieselrig om aan te dink.”
“Hoe was dr. Nyiszli aan u verwant?” wil Sarah weet.
“Sê tog maar vir my Yitzchak, Sará. Dis onnodig om so formeel te wees.”
Sy knik.
“Miklós Nyiszli was ’n broerskind van my moeder en byna 30 jaar ouer as ek. Ek self het hom maar een maal ontmoet. By ’n soort reünie van die weinig Shoah-oorlewende familielede in Boekarest. Boekarest is baie ver van Warskou af waar ek grootgeword het.”
“Van watter jaar is hy gebore?” vra Sarah.
“1901. Ek was 15 toe die oorlog tot ’n einde gekom het. Uiteraard het ek in daardie jare vreeslik baie van die Shoah te hore gekom …”
“Jy en jou familie was nie in die kampe nie?” val Sarah hom in die rede.
Hy skud sy kop. “My vader was ’n advokaat en die regsfirma waar hy ’n vennoot was, het ons – vir hom, my moeder, my en my suster – van ’n onderduik-adres op die platteland voorsien waar ons twee jaar lank wonderbaarlik verborge gebly het. ’n Groot aantal van ons wyer familie het egter in Auschwitz-Birkenau omgekom.”
Hul koffie word bedien en Yitzchak roer ’n rukkie ingedagte daarin voor hy verder praat.
“Om terug te keer tot Miklós. By die enkele familiesaamtrek waar ek hom te sien gekry het, wou hy self nie veel praat nie. Hy was duidelik nog uiters getraumatiseer. Maar tussen die familielede het ek soveel van sy storie gehoor dat dit my aangegryp het. Hy is in 1956 op 55-jarige leeftyd oorlede. Dit het my aangevuur om navorsing te doen oor die tydperk waarin hy verplig was om saam met Mengele te werk.”
“Hy het tog seker die keuse gehad om te weier …” prewel Sarah.
“Sekerlik het hy. Dan kon hy saam met sy vrou en dogter die oonde ingaan of op die een of ander gewelddadige manier aan sy einde gekom het. Mengele sou wel ’n plaasvervanger kon kry om dieselfde werk te doen.”
“Hoe kan ’n mens ’n dokter wees en mense vermoor?”
Henok laat Sarah ál die vrae vra wat sy moet vra.
“Die hart van die mens is in staat tot afgryslike wreedhede, Sará, maak nie saak te midde van hoeveel kultuur jy grootgeword het nie. Josef Mengele was ’n doktor in die filosofie en medisyne. Hy het hom in 1938 by die SS aangesluit. Hy is in 1911 gebore. Hy was dus 27 en nie ’n opgesweepte tienerjarige toe hy die besluit geneem het nie. Hy het willens en wetens gekies om dit te doen.
“In die SS het hy verskillende mediese poste beklee. Voor hy Auschwitz toe gekom het, het hy as dokter in die reserwe-infanteriebataljon aan die Oosfront diens gedoen. Hy is daar gewond en het toe aansoek gedoen vir diens in ’n konsentrasiekamp …”
“Hy het daarvoor áánsoek gedoen?”
“Dis reg, Sará, hy het daarvoor aansoek gedoen. Spesifiek vir Auschwitz. Hy het in Mei 1943 as dokter by die Sigeunerkamp in Auschwitz-Birkenau begin werk. Toe dié betrokke kamp in Augustus 1944 gesluit is, is hy tot hoofarts in Birkenau bevorder. Drie maande later het hy beheer oorgeneem van die SS-hospitaal waarby hy tot met die ontruiming van die kamp in Januarie 1945 betrokke was.”
“Ek het gedink hy was baie langer in Auschwitz. ’n Mens hoor gedurig soveel oor hom in Israel.”
Yitzchak skud sy kop. “Nie oor die lengte van sy verblyf nie, Sará, maar oor waarmee hy in daardie tyd besig was. Die hele tyd vanaf Mei 1943 het hy toesig gehad oor die keuringsproses van gevangenes wanneer hulle op die stasie aangekom het wat julle gister by Birkenau gesien het. Daar was hy in beheer, sowel as oor die reeds geregistreerde aangehoudenes. Mengele is hoofsaaklik berug vir die eksperimente wat hy uitgevoer het op vroue wat swanger was met meer as een kind. Die erflikheid van tweelinge en dwerge het hom blykbaar gefassineer. Dan het hy ook navorsing gedoen rondom ’n toestand wat as ‘noma’ bekend staan.”
“Wat is dit?” wil Sarah dadelik weet.
“Dis ’n soort gangreen wat die slymmembraan in die mond en ander gesigweefsel vernietig. Dit slaan toe onder ondervoede kinders in omstandighede waar sanitasie en higiëne gebrekkig is. Dit word die siekte van armoede genoem.”
“Ideale toestande daar vir hom om daaroor navorsing te kon doen,” sê Henok bitter.
Yitzchak knik. “Die slagoffers van noma is gewoonlik kinders onder die ouderdom van ses wat vasgevang is in die wrede omstandighede van uiterse armoede en chroniese wanvoeding.