Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan


Скачать книгу
julle ooit saam geswem?”

      Verbaas kyk hy na haar. “Wel, ons het ’n slag of wat langs die swembad gebraai. Waarom vra u so ’n snaakse vraag?”

      Want ek wonder of julle mekaar se skoonheid bewonder het en of dit tot verdere dinge gelei het, meneer De Boon – jy wat so maklik ’n ander man onder verdenking bring, dink sy, maar sy glimlag liefies.

      “Ek dink maar net in hierdie soort warm weer is dit seker lekker om by ’n swembad te kuier eerder as in die huis.” Sy klap haar boekie toe. “Nou ja, dis al wat ek eintlik wou vra.”

      “Al?” vra hy verbaas.

      “Ja, wat.”

      Sy bekyk hom weer van agter toe hy haar na die voordeur lei. Mooi breë skouers, mooi rug. Is hierdie hele straat dan net vol mooi mense? wonder sy weer.

      Hy sien haar by die deur weg en sy groet vriendelik. “Dankie dat u met my gesels het. Dis laat in die dag, maar my dag is vier-en-twintig uur lank.”

      “Ek kan dit glo, veral as u ’n moord ondersoek,” reageer hy oënskynlik droog, maar hy kyk nie in haar oë toe hy groet nie.

      Slim prokureur, dink sy. Dalk slinks?

      Kira oorhandig die bottel rooiwyn wat sy saamgebring het.

      “Dankie vir die uitnodiging, Geert. Dis juis vanaand so warm. Dié tyd van die jaar wil Stellenbosch nie eens in die aand behoorlik afkoel nie. Liana is op pad. Sy het ’n nuwe baaibroek gekoop, maar toe sy dit aantrek, is een naat losgetrek. Toe soek sy maar weer een van haar ou baaibroeke. Sy het gesê ek moet solank kom.”

      “Welkom, welkom!” groet hy hartlik. “Vanaand braai ek vir julle snoek, maar ons swem eers om af te koel. Ek kan maar nie gewoond raak aan Suid-Afrika se uiterste temperature nie, al is ek al jare lank in die land. Dis te wyte aan my Europese bloed, jy weet.”

      Kira loop vooruit en toe sy op die terras by die swembad kom, skrik sy. Daar staan Reinhard in ’n swembroek, gespierd en ongelooflik sexy, met ’n bier in die hand. Niemand het haar gewaarsku dat Geert hom ook genooi het nie.

      “O, hallo, Reinhard,” groet sy asof aangenaam verras.

      Sy voel vies vir haarself oor haar verraderlike, simpel hart skielik soos in die ou dae woes aan die klop gegaan het. Sy probeer om hom nie op en af te bekyk en al die bekende, verleidelike detail van sy lyf en bene met haar oë te verslind nie. Hy was net altyd té volmaak, dink sy meewarig.

      “Hallo, Kira. Dis besonder warm vandag, nè? Hou jy darem uit in dié hitte?”

      “Dis erg, maar ek sal netnou afgekoel wees.”

      Daardie grys oë wat altyd so diep lyk, speel oor haar en sy is vreeslik bewus van haar ligte sonrokkie waardeur haar baaibroek skyn. En om te dink dat sy haar binnekort aan hom sal moet vertoon. Nie dat sy skaam is vir haar figuur nie, maar voor hom sou sy volmaak wou wees en dit kan sy tog nie wees nie. Veral nie nadat hy aan Monique se volmaaktheid gewoond geraak het nie.

      Moenie nou weer in dieselfde ou slaggat van begeerte trap nie, betig sy haarself.

      “Kan ek vir jou ook ’n bier kry?” hoor sy Geert vra.

      “Ja, dankie. Om mee af te skop. Dis so warm en ek is dors.”

      Nou moet sy haar sak neersit en op ’n stoel gaan sit. Sy voel asof haar klere heeltemal deursigtig is.

      Reinhard sit sy bier op die tafel neer. “Wel, as julle nie wil afkoel nie, ek wil.”

      Met ’n sierlike boog duik hy in die water en kom soos ’n otter op, sy hare platgevee en nat. Hy swem met twee lang hale na die kant en kyk na Kira.

      “Toe, die water is regtig heerlik. Jy lyk vir my hot and bothered.”

      Sy is verplig om haar rokkie af te stroop en nader te stap, bewus daarvan dat hy haar bekyk. Dankie tog sy is bruingebrand en nie wit en vet soos ’n rysmierkoningin nie, dink sy verleë.

      Sy duik in en swem na die oorkantste end van die bad voordat sy haar kop uit die water lig en na Reinhard kyk. “Lekker!” roep sy en vee oor haar nat hare.

      Hulle het dikwels gaan swem, en dan het hy haar altyd in die water omhels, haar afgetrek sodat sy om genade moes smeek, en dan het sy nat mond hare gesoen. Lank gesoen, totdat albei uitasem was. Nou bly hy waar hy is en kyk net na haar. Sou hy dit ook onthou, of is iets van so lank gelede nie meer belangrik genoeg om te onthou nie?

      Daar is ’n steek in haar hart.

      Reinhard klim uit en gaan haal sy bier. Water stroom van hom af, maar hy staan net daar en droog hom nie af nie. Druppels blink op sy gladde, bruingebrande vel, en sy voel weer die verraderlike, intense begeerte om daaroor te streel.

      Sy swem twee lengtes om tot verhaal te kom voordat sy uitklim en haar handdoek uit haar sak haal. Terwyl sy haar afdroog, kyk sy nie in Reinhard se rigting nie, maar sy verbeel haar hy kyk na haar. Sou hy dink dat sy haar darem nie verwaarloos het nadat hy haar gelos het nie?

      Jy is verspot om sulke goed aan hom toe te dig, vermaan sy haarself.

      “Hallo, julle,” hoor sy Liana se stem. Toe sy omdraai, staan haar suster daar saam met ’n vreemde blonde man wat besonder aantreklik sou wees as hy nie so ’n swak ken gehad het nie.

      Reinhard loop dadelik nader. “Hallo, Dewald.”

      “Hy was by jou huis toe ek hierheen stap,” verduidelik Liana. “Toe hy vra of ek weet waar jy is, het ek gewonder of jy nie dalk hier is nie.”

      Wie sou dit wees? wonder Kira. Hy lyk vaagweg bekend.

      “Ontmoet my swaer, Dewald Walters,” stel Reinhard hulle voor, en sy gesig is meteens stroef. “Dis Geert de Boon, Liana Trollip, Geert se meisie, en Kira Trollip.”

      Kira snap dadelik dat dit Monique se broer moet wees. Sy het nie geweet Monique het ’n broer nie, maar sy het die vrou ook nie goed genoeg leer ken om van haar familie te weet nie.

      Dewald skud hand met almal en toe hy by Kira kom, bekyk hy haar vrypostig op en af. Dit lyk asof hy hou van wat hy sien, maar dit stoot haar eerder af as om haar te vlei.

      “Jy is mos swaer Reinhard se eks van jare gelede, of hoe?”

      Sy bloos verleë en voel vies; Monique moes hom van haar vertel het. Sy let terselfdertyd op dat Reinhard lyk asof hy hom vererg.

      “Ja.” Sy is kortaf en half onbeskof, maar dié Dewald Walters is uiters taktloos om so ’n vraag te vra.

      “Ek het jou eers môre verwag,” sê Reinhard.

      Dewald kry ’n onegte soort hartseer uitdrukking op sy gesig. “Ag, ek kon nie langer uitstel nie, toe kom ek maar. My arme suster. Niemand wil só doodgaan nie.”

      Die atmosfeer is meteens koud en allesbehalwe gemoedelik. Kira ril effens.

      “Ons kan teruggaan na my huis,” stel Reinhard koel voor, sy oë grys soos onweerswolke en sy kakebeen gespanne.

      “Nee wat, ek sluit sommer by julle aan.” Dewald kyk weer in Kira se rigting asof hy verwag sy moet dit verwelkom, maar sy staan stokstyf met haar handdoek in die hand.

      “Ek glo nie jy moet nie,” sê Reinhard. “Ons het baie om oor te praat. Gee my net kans om aan te trek, dan gaan ons huis toe.”

      Die aankoms van dié karakter het alles bederf, dink Kira. Instinktief hou sy nie van hom nie. Hy is vrypostig en sy oë sit te na aan mekaar. Sy is spyt dat Reinhard gaan, maar bly dat hy Dewald Walters saamneem.

      “Ek kan darem vir jou iets te drinke aanbied,” sê Geert vir Dewald.

      “Ja, asseblief. Ek ry al heeldag van Bloemfontein af. Bier, as dit yskoud is, sal lekker wees.”

      Hy gaan sit sommer en Geert bedien hom. Kira vang Liana se oog en sien dat haar suster se een wenkbrou opgegaan het. Sy vang ook ’n gly in die man, besef Kira.

      Reinhard


Скачать книгу