Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan


Скачать книгу
kom nou van skelm wees! Jaco se reputasie is aan flarde.”

      “Ek skat hy saai wat hy gemaai het, of hoe? Dit staan mos in die Bybel.”

      Sy snuit eers haar neus. “Toe jy alles oor … hulle … uitvind, wou jy nie van haar skei nie?”

      “Ek hét besluit om te skei, maar sy het gesmeek dat ons moet wag totdat Riaan in die laerskool is. Dan is hy sterker en beter toegerus om dit te hanteer, het sy beweer. Toe stem ek in, want ek dra ook sy belange op die hart. Maar wil of wou jý nie skei nie?”

      “Ek wil, maar ek het geen inkomste van my eie nie. Ons is in gemeenskap van goed getroud en die geld wat ek gehad het, is alles in ons boerdery in.”

      Sy gee ’n snik en snuit weer haar neus. “Ekskuus, ek het my voorgeneem om nie te grens nie en nou kom die trane aanmekaar.”

      Hy kyk speurend na haar terwyl sy doenig is met die sakdoek. “Waarom het jy gekom, Lettie? Om my van die verhouding te vertel?”

      “Ja, maar dis nie al nie.”

      “Wat wou jy nog vertel of geweet het?” Hy wens sy wil gaan en hom in vrede laat, maar hy bly hoflik.

      “Ek … Jaco het mý ook van iets beskuldig.”

      Sy kyk smekend en betraand na hom, en hy sien dat die lipstiffie op haar bolip gesmeer het toe sy haar neus afgevee het. Hy kry haar jammer, want sy is eintlik pateties.

      “Waarvan het hy jou beskuldig?”

      “Dat ek nog heeltyd op jou verlief is en dat die pot die ketel verwyt omdat hy swart is.”

      Reinhard is nou werklik geskok. Hy kan haar net fronsend aankyk.

      “Die ding is,” sê sy met ’n siddering, “dis waar.”

      Voordat hy kan protesteer of aan iets dink om te sê, hoor hy die voordeur hard oopgaan. Dewald kom swetend in sy drafklere in. Reinhard was nog nooit voorheen bly om sy swaer te sien nie, maar nou is hy.

      “Lettie, dis Monique se stiefbroer, Dewald Walters,” stel hy hulle voor. “Dewald, ek weet nie of jy al ooit vir Lettie Peens ontmoet het nie?”

      “Ag, ja, ons ken mekaar mos van jare gelede. Ek is bly om weer my arme sus se beste tjommie te sien.”

      Lettie sluk en vee haar neus af. “Ja … ja, lekker om jou ook weer te sien, Dewald.”

      “Verskoon dat ek so lyk, maar ek het by die berg gaan opdraf. Dis vrek mooi hier, en daar draf oulike goedjies op die paadjies. Haai, jy het gehuil. Natuurlik is jy hartseer. Kan ons vir jou iets inskink?”

      Lettie se gesig is bloedrooi. “Nee dankie, ek moet gaan. Jaco is netnou by die huis.” Sy staan op en gryp haar handsak.

      “Totsiens, Lettie,” groet Reinhard styf. “Dewald, gee jy om om Lettie weg te sien?”

      “Nee, met plesier doen ek dit.”

      Lettie gee Reinhard nog ’n laaste smekende kyk voor sy uitstap. Hy slaak ’n sug van verligting toe hulle voetstappe gangaf weerklink. Hemel, dis nie asof hy nie iets vermoed het nie, want hy laat haar altyd bloos en sy kyk met skaapoë na hom. Hy het net nie verwag dat sy ’n liefdesverklaring aan hom sou kom maak nie. En dat sy boonop oor Monique en haar man sou kom skinder nie.

      Sowaar, dis ’n riller. As die kapteintjie hiervan moet weet, sit sy nog ’n verdagte op haar lys.

      Hy is besig om vir hom koffie in die kombuis te maak om tot verhaal te kom toe Dewald inkom.

      “Snaakse tjerrie daardie. Sy het gevlug dat jy net hakskene sien. Arme ou Lettie. Monique het altyd sulke vaal pelle gehad, sodat hulle moes afsteek en sy mooier kan vertoon. Van hakskene gepraat: toe ek opdraf by die berg, sien ek ’n paar baie mooi hakskene voor my. Ek tjek haar toe eers uit en toe sien ek dis jou oulike eksie en buurvroutjie, professor Kira Trollip. Ek kan dink wat jy destyds in haar gesien het, maar Monique was natuurlik mooier. Sy was té mooi, daardie sussie van my. Dit het die ouens mal gemaak. Dit het jou ook seker mal gemaak.”

      Reinhard probeer sy humeur beteuel, maar hy moet omtrent op sy tande kners. Die malheid was baie tydelik, wil hy sy swaer toesnou. Ook dat hy Kira Trollip moet uitlos – maar hy weet hy het geen reg om dit te doen nie. Hy besit haar nie. Nadat hy haar vir Monique gelos het, het hy geen reg of besitreg nie. Spyt kom te laat …

      “Ek gaan vir middagete na ’n kollega se huis,” sê hy kil. “Hulle het my lankal genooi en ek dink nie ek moet aandring om ’n onverwagte gas saam te bring nie. Jy moet jouself maar help met wat in die huis is.”

      Die telefoon lui en Kira antwoord.

      “Hallo, is dit die mooi professor?” vra ’n olierige stem wat sy nie herken nie.

      Sy vervies haar altyd vir so iets. “Dis Kira Trollip, ja. Wie praat?”

      “Die nimlike Dewald Walters,” kom die stem terug en dit voel asof haar hare rys. Tog nie daardie vent nie. Wat wil hy hê?

      “Ja, Dewald, wat kan ek vir jou doen?”

      “Ou swaer Reinhard is hier weg na mense vir ete, toe wonder ek of jy nie iewers by ’n oulike restourantjie ’n ou happie saam met my wil gaan nuttig nie? Dit kan net lekker wees.”

      Kira vries. “Nee, ongelukkig het ek ook ’n afspraak, Dewald. Jammer, hoor.”

      “Ag, vervlaks. Dis jammer. Miskien anderdag?”

      Sy maak ’n geluid wat enigiets kan beteken. “Totsiens, Dewald.”

      “Totsiens, Kira.”

      Sy sit die telefoon neer en kreun. Die ellendige man wou haar vanoggend op die berg inhaal en sy moes baie vinnig draf om te ontsnap. Nou wil hy haar vir ete neem. Sy sal hom definitief moet afskrik, want saam met hom wil sy beslis nêrens gaan of gesien word nie.

      “Ugh,” sê sy kliphard net toe Liana by die sitkamer inkom.

      “Wie was dit? Waarom lyk jy so gegril?” vra Liana. “Was dit die kaptein, of die polisie?”

      “Nee, dit was die nimlike Dewald Walters, soos hy homself genoem het.”

      Liana grinnik. “Wou hy jou date?”

      “Ja, hoe weet jy?”

      Liana lag. “Ek het gesien hoe verslind hy jou met sy oë. Hy dink natuurlik hy is God’s gift to women. Jy sal hom maar moet vermy. Ek sal jou help verskonings uitdink.”

      “Jy is my beste suster.”

      “Ek weet. Ook jou skouer en beskermer. Laat hy net met jou probeer peuter, dan hang ek hom onderstebo op.”

      “Jy dink tog nie ek sal my deur so ’n vent laat vermaak nie! Buitendien het ek nie vir die man gejok nie, want ek het mos ’n date met Deon. As dit moet, sal ek soos ’n tandetrekker lieg om daardie Dewald van my lyf af te hou.”

      Hulle lag albei, maar toe kyk Liana haar skewekop aan. “Ek dag jy stel nie regtig in Deon Schoeman belang nie?”

      “Ag, hy hou so aan dat ek maar naderhand ja gesê het. Ons gaan net by daardie visplekkie in Dorpstraat eet.”

      Kira sug innerlik. Dis of sy sedert Reinhard weer enkellopend is nog minder vir ander mans kans sien. Sy weet dis verkeerd en dom, want hy is onder ’n wolk en hy het haar bitter seergemaak en verwerp.

      Erken dit maar: jy begeer hom nog steeds al het hy wát gedoen, kla die stem van haar hart haar aan.

      Net toe Kira en Deon by die huis aankom, kom Reinhard ook met sy motor aan. Sy sien dat hy na hulle kyk en met ’n knik groet, maar sy gesig is stroef, bykans onvriendelik.

      Wat het nou weer gebeur? wonder sy. Lyk hy so omdat sy swaer by hom bly, of omdat hy haar saam met ’n man sien?

      Asof hý nou jaloers sal wees, koggel ’n klein stemmetjie haar. Hy voel niks meer vir jou nie.

      Buitendien, sy moet versigtig wees. Al wil sy


Скачать книгу