Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan


Скачать книгу
amper, so gretig is sy om dit te kry.

      “Dit is dalk nie die geval nie, mevrou. U raai wild, maar baie dankie vir die nuttige inligting.”

      Lettie is skielik haastig. “Ek sal moet gaan. My man was by ’n vergadering en ek wil nie ná hom by die huis aankom nie.”

      Lucille groet haar en klim uit die motor. Hell hath no fury like a woman scorned? dink sy vir die hoeveelste keer.

      Terwyl sy huis toe ry, is sy baie agterdogtig. Dié vrou wil met alle geweld haar ontroue man inkrimineer. Skryf mense deesdae nog vir mekaar afsêbriewe? Daar is mos selfone en e-pos. Of het Monique Brand dit gedoen omdat sy nie die moed gehad het om dit in sy gesig vir hom te sê nie?

      So iets kan mos as ’n bewys gebruik word dat hy kwade bedoelings teenoor Monique ontwikkel het. Waarom sou Jaco Peens dus so ’n brief bêre waar sy vrou dit kan kry?

      “Kaptein, ek dink u moet kom kyk. Hier was ’n inbraak by my huis terwyl ek uit was. Die huishulp was ook nie hier nie.”

      Lucille Wiid is sommer dadelik wakker. “Jinne, professor Brand, dis nou ’n ding. Het u die polisie ontbied?”

      “Ek ontbied vir u en hoop u meld dit aan. U sien, die inbraak was by my oorlede vrou se kamer en dis haar goed wat gesteel is. Ons het dit nog nie uitgesorteer nie. Haar juweelkluis met die kosbaarste goed is nog hier, maar die minder kosbare juwele wat sy in laaie gehou het, is alles weg. U moet maar kom kyk, asseblief. Dit help nie ek probeer oor die foon verduidelik nie.”

      “Gee my tien minute, en ek en die polisie is daar, professor.”

      Sy vlieg uit die bed en gryp haar klere. Sowaar, dis verby middernag. Daar gebeur darem baie in die Laan. Asof dit al werk is wat sy het, hou daardie straat se mense en gebeure haar lekker besig.

      “Dankie dat u gekom het, kaptein.”

      Hy staan so groot en asemrowend in die deur met slegs ’n PT-broekie en T-hemp aan dat Lucille Wiid na asem snak. Sy moet haar egter professioneel voordoen en kug eers.

      “Kyk julle manne om die huis rond, asseblief, ek gaan net eers na die toneel,” beveel sy oor haar skouer aan die twee polisiemanne agter haar. “Kom vertel my of julle spore of iets kry.”

      “Volg my, asseblief,” sê Reinhard en lei haar binnetoe.

      Sy is weer eens verstom toe sy die weelde van die oorlede vrou se suite sien. Dis nie bloot ’n kamer met en suite-badkamer nie, dit lyk na ’n vyfsterhotel se interieur. Laas was dit vreeslik netjies en nou lyk dit of ’n orkaan dit getref het. Die kaste van die aantrekkamer is oop en die inhoud is oor die vloer gestrooi.

      “Joeg! Dis ’n gemors,” prewel sy en gaan na die venster. “Dit lyk nie asof iemand hier ingekom het nie.”

      Reinhard staan nader. “Nee. Die agterdeur was oop en die alarm was af.”

      Lucille kyk hom fronsend aan. “Dan het die dief mos die kode geken. Dis iemand na aan u. Dink u nie ook so nie?”

      Daar is ’n siniese uitdrukking op sy gesig, merk sy, asof hy inderdaad iemand verdink.

      “My swaer ken die kode. Hy het hier gebly totdat my vrou begrawe is. Ek weet ook dat hy in die dorp opgemerk is, want ’n student wat Kira Trollip ken, het haar vertel en sy het my vertel.”

      Lucille haal haar boekie uit en teken dit aan. “U sê die kluis is nog onbeskadig?”

      “Dis beskadig, maar nie oopgeforseer nie. Kom ek wys u.”

      Hy neem haar na waar ’n skildery van die muur afgehaal is en sy sien die deur van ’n kluis. Iemand het daaraan gepeuter, want daar is krapmerke aan die buitekant, maar die kluis is nog dig toe.

      “Die booswig het dit probeer oopmaak, maar gefaal,” merk sy op. “Wat vermis u alles in die kamer?”

      “Soos ek gesê het, minder waardevolle juwele, aandrokke, dink ek, en persoonlike goed soos haar haarborselstel met die kam en handspieël met goudbeslag. Ek het dit vir haar present gegee en dit was nogal waardevol. Ek weet nie watter ander klere weg is nie.”

      Hy loop na die hoop klere wat voor een kas lê. “Die pelsjas en nertsbaadjie is albei weg. Leerbaadjies ook. Verder weet ek nie.”

      Lucille kyk verwonderd rond. “Sy het ’n helse klomp goed gehad,” glip dit uit voordat sy haar kan keer.

      “Ja, sy het.”

      Monique en haar man het nie dié kamer gedeel nie, besef Lucille. Daar was eenvoudig nie plek vir hom nie, dink sy meewarig. Kyk al die skoene!

      Reinhard staan in die kombuis en drink koffie. Soos voorheen is die polisie die huis vol en snuffel hulle en die speurders oral. Weer eens is hy bly dat Riaan nie hier is om dit te beleef nie.

      Wie sou Monique se besittings begeer? Haar stiefbroer? Haar eksminnaar Adriaan Bouwer? Maar laasgenoemde ken nie die huis of die alarmstelsel nie. Alle aanduidings is dat Dewald die skuldige moet wees. Hy het mos net ’n paar goedjies gekry.

      Maar hoe kon hy so brutaal waaghalsig wees? Hy moet mos weet dat almal hom sal verdink.

      “Professor, daardie swaer van u … Ek wil net ’n bietjie navraag doen oor sy omstandighede in Bloemfontein. Het u vir my kontaknommers?” vra Lucille Wiid toe sy ingehaas kom. “Ons sal hom ook moet soek, want ons moet hom ondervra.”

      Reinhard gee haar Dewald se selfoonnommer en sy adres en telefoonnommer in Bloemfontein.

      “Ons volg dit op, professor,” verseker sy hom. “U kan maar gaan slaap, dis al vieruur in die oggend. Moet net nie enigiets aanraak nie en hou ander mense uit, asseblief. Ons vingerafdrukdeskundige kom môre.”

      “Dankie, ek sal so maak. Koffie voor u gaan, kaptein?”

      Sy wil eers ja sê, maar bedink haar. “Nee dankie, professor. Laat ek maar bed kry. Môre is nog ’n lang dag. Lekker slaap, as dit moontlik is.”

      “Jy ook, dankie.”

      Die volgende oggend is Reinhard net klaar aangetrek en geskeer toe sy selfoon lui.

      “Professor, u swaer se selfoon gee ons net ’n spookstem. Ons het polisiebeamptes na sy adres in Bloemfontein gestuur, maar hy woon glo al geruime tyd nie meer daar nie. En sy besigheid, Precious Pools, is bankrot en toegemaak,” sê Lucille Wiid.

      “Nou toe nou!”

      “Ons gaan hom in Stellenbosch soek. Hy is nie getroud nie, of hoe?”

      “Nee. Dankie dat u my laat weet het. Ek gaan nou die sekerheidsmaatskappy skakel sodat hulle die plek van voor af kan kom beveilig.”

      “Goeie idee, professor. Ek sien u netnou weer.”

      Die kaptein lui af en hy staan nadenkend daar. Dis heeltemal geloofbaar dat Dewald gehoop het om iets uit Monique se boedel te kry. Hoe meer hy daaroor dink, hoe meer vermoed hy dat Dewald vir die begrafnis gekom het nie slegs oor hy verwag het om te erf nie, maar om die huis te leer ken en dit vir hom maklik te maak om toegang te kry.

      Gelukkig dat hy nie die kluis oopgekry het nie, want die goed wat daarin was, is derduisende rande werd. Gelukkig is dit nou veilig in ’n bankkluis. En dit wat wel gesteel is, is in gewone terme reeds waardevol.

      Die polisie is ’n kortkop agter Dewald – hy sal mos nooit wegkom nie. Wat het hom besiel, of is hy só desperaat vir geld?

      Deur die sitkamervenster sien hy ’n polisiemotor stilhou. ’n Man met ’n tassie klim uit en kom na die voordeur.

      Hy maak oop. “Is u die vingerafdrukdeskundige?”

      “Ja, ek is. Môre, professor. Speursersant Immelman. Aangename kennis.”

      Reinhard neem hom na Monique se kamer. “Doen wat u moet doen, sersant. Niemand sal u pla nie.”

      Soekie kom in die gang af. “Wie is nou weer hier, Professor?”

      “Die vingerafdrukdeskundige.


Скачать книгу