Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan


Скачать книгу
my kop.”

      Ek het gaan draf waarskynlik op die tyd dat Monique vermoor is, dink Kira. Hulle gaan my daaroor uitvra. Sê nou hulle verdink my as iemand wat ’n motief gehad het om mooi, ryk Monique Brand te vermoor? Lank gelede was ek haar mededinger om Reinhard se liefde. Toe wen sy en ek dra ’n wrok wat met die jare nooit gewyk het nie, dalk net al groter geword het. Ek hét op die oog af ’n motief …

      Sy ril toe sy aan die moontlikheid van vervolging dink.

      “As jy enigiets nodig het en ons kan help, moenie huiwer om te vra nie,” sê sy egter net, en haar hart trek met ’n punt na hom.

      “Dankie, ek waardeer dit. Totsiens, Kira.”

      “Totsiens, Reinhard.”

      Sy kyk hom agterna toe hy vinnig wegloop, sy skouers fier en kop omhoog, asof hy hom nie sal laat onderkry nie. Eers toe hy buite sig is, maak sy saggies die deur toe en leun met ’n kreun daarteen.

      Reinhard staal hom teen die nuuskierige en veroordelende kyke wat hy op kampus en in die dorp te wagte is. Teen dié tyd het die nuus soos ’n veldbrand versprei en was dit reeds op TV, die radionuus en in die koerante. Monique se beeld het oral gepryk. Ook syne, Riaan s’n, Soekie s’n en selfs die honde wat “oor hulle ounooi treur”, soos een koerant dit gestel het.

      Die koppe by die berigte was ontstellend. Beeldskone vrou van bekende Matie-professor koelbloedig vermoor; Raaiselagtige dood van Matie-professor se vrou; Verdagtes ondervra ná wrede moord op professor se vrou.

      Al genade in die hele bedenklike besigheid is dat Riaan nog nie kan lees nie en dus nie die bespiegelings en sensasie oor sy ma se dood kan sien nie. Kinders herstel makliker, want hulle is aanpasbaar en hulle aandag word maklik afgelei, maar volwassenes se rou gaan nie gou oor nie. Dankie tog Riaan het ’n liefdevolle ouma wat kan help om hom te troos.

      Dit was erg genoeg om aan Riaan te probeer verduidelik dat sy mamma in die hemel by die engele is, en waarom sy nie eens vir hom totsiens gesê het nie. Nie dat Monique so ’n liefdevolle ma was nie. Riaan het haar dikwels geïrriteer en dan was sy kortaf met hom. Sy was nie juis die moederlike tipe nie en gans te selfbehep, soos hy tot sy skade agtergekom het.

      Riki het aangebied om na die huis te kom om hom met die begrafnisreëlings en die normalisering van sy huishouding te help – asof normalisering ooit weer moontlik sal wees – maar hy het geweier. Hy verkies om kantoor toe te gaan om sy sake in orde te kry en sy verpligtinge aan kollegas oor te dra voordat hy menslikheidsverlof neem. Die huishouding kan Soekie maklik beheer.

      So ver soos hy gaan – vandat hy voor die ingenieurswesefakulteit uit sy opvallende viertrek geklim het, totdat hy met die trappe op en in die gang af tot by sy kantoor gevorder het – simpatiseer mense met hom en vra hom uit. Natuurlik dink van hulle dat hy dalk die moordenaar is.

      Hy is verlig toe hy by die kantoor aankom en Riki daar is om hom met ’n simpatieke, liefdevolle gesig te verwelkom. Sy omhels hom skaamteloos, maar vandag is hy te kwesbaar om haar op ’n afstand te hou.

      Hy weet sy verafgod hom, want sy het dit al by meer as een geleentheid byna reguit vir hom gesê. Juis daarom behoort hy ’n ander sekretaresse te kry, maar sy is doeltreffend, ywerig en toegewyd. Ander mense het al gesê hulle beny hom sy sekretaresse. Hy het in ’n gemaksone met haar verval en al wat hom pla, is haar openlike toegeneentheid teenoor hom.

      Sy bring vir hom koffie en maak so ’n ophef dat hy sy irritasie skaars kan verberg.

      “Hoe cope jy, arme prof?” vra sy met groot, ronde, swaar gegrimeerde blou oë. “Is die polisie lastig?”

      “Lastig is ’n eufemisme,” grom hy. “Was dit die Middeleeue, het hulle my klaar opgehang.”

      “O, dis vreeslik! Daardie nare kaptein Wiid het my kom ondervra. Sy wou als van jou en my weet – áls. Hoe ons verhouding is …” Sy kug asof verleë. “Sy wou weet hoe lank ek vir jou werk, wanneer ek geskei is, en alles wat in prof se dagboek staan. Wanneer en waarheen jy weggegaan het, als. Ek het natuurlik probeer keer, want daar is darem iets soos privaatheid, maar sy laat haar nie afsit nie. Is dit nie absoluut vreeslik nie?”

      “Ja. Probeer asseblief die wolwe van my deur af hou dat ek my sake kan reël, Riki. En maak die deur agter jou toe. Dankie.”

      Sy vang die skimp en laat hom gelukkig in vrede. So, daardie kaptein wonder of daar iets tussen hom en Riki is? Het sy maar geweet hoe irriterend hy Riki se oordadigheid vind. Hy waardeer egter haar lojaliteit en ondersteuning, al raak dit soms te veel. Mense wat Monique geken het, sou nooit kon dink hy kan in ander vroue belangstel nie. Sy was maklik een van die mooiste vroue wat hy al ooit ontmoet het, en toe is sy ’n ryk erfgenaam daarby.

      Arme Monique, verlede tyd. Sy het ’n strop om sy nek gegooi, maar nou is hy vry.

      Dit voel eienaardig. Asof ’n gewig van hom afgerol het. As iemand dit moes weet, sou hulle oortuig wees hy het haar uit die weg geruim.

      Hy tel sy foon op en begin skakel om mense die nuus te laat weet.

      Riki sit diep ingedagte tussen die foonoproepe wat sy beantwoord en vriendelik dog beslis weier dat enigiemand die professor steur.

      Tessa, haar vriendin en die sekretaresse van Reinhard se kollega, staan meteens in die deur. Sy beduie na die toe deur en vra woordeloos: Is hy in?

      Riki roep haar met ’n krom vinger nader. “Haai, Tess. Ja, hy’s hier, arme liefie. Bleek en in ’n toes, maar dapper,” fluister sy teatraal.

      Tessa maak haar op die stoel tuis. “Ek kan nie lank bly nie, nou-nou soek die baas my. Die hele plek gons oor die moord. Ek kan nie sê ek het ooit van daardie vrou gehou nie, die bietjie wat ek haar gesien het. Baie mooi maar baie opstêrs.”

      “Mooi van buite maar nie van binne nie,” snuif Riki. “Selfsugtig soos die hel en duur om te onderhou. Mind you, sy was ryk. Sexy en ryk. Watter man kan daardie kombinasie weerstaan? En sy wou hom hê. Nie dat hy weggehol het toe sy haar kloue in hom wou slaan nie. Arme ou Kira Trollip is sommer by die agterdeur uit toe daardie Monique by die voordeur inkom. Ek het nog gedink hy en Kira gaan trou, toe’s dit neusie verby. Al genade vir haar was om ’n akademiese reus te word. Nou is sy weer te slim en te geleerd vir die meeste mans. Hulle hou mos nie van daardie soort vrou nie. Te blerrie beterweterig.”

      Tessa trek haar wenkbroue op. “Sy is darem ook baie mooi, en sjym, ek kry haar jammer. Sy sit seker nou al vier jaar op die rak en treur oor sy hom verloor het. Sy is in elk geval nie so opstêrs soos Monique Brand nie, al was haar pa dekaan van Regte. Ons was saam op skool and she had everything going for her, maar soms kan die lewe mense opkou en uitspoeg.”

      Riki snuif minagtend. “Ag wat, sy is net ’n bietjie beter as Monique.”

      “Dink jy hy sal teruggaan na Kira noudat sy vrou dood is?”

      Riki vererg haar. “Moet ’n mens dit nou sommer veronderstel? Hy het haar dalk afgesterf.”

      “Wel … mens weet nooit.”

      Riki haal net haar skouers ergerlik op. “Weet jy dat Monique op my neergesien het en dit duidelik gewys het? Sy het hier ingeloop soos ’n blerrie koningin en my soos drek behandel. Ek kon haar nie verdra nie.”

      Tessa grinnik. “Jy kon haar nie vergewe dat sy die verruklike professor ingepalm het nie, ou dier.”

      Riki word rooi tot agter haar ore. “Ag, loop jy! Ek het hom in elk geval elke dag, ure lank. Hy maak so op my staat dat ek selfs hulle testamente getik het. Hulle is die soort wat glo jy moenie intestaat sterf nie, anders vat die regering al jou geld. Ryk mense is ook maar versigtig.”

      Tessa trek haar asem hoorbaar in. “Jislaaik, vrou! Jy mag seker nie sê wat daarin staan nie?”

      “Natuurlik nie,” sê Riki verontwaardig. “Dis ’n staatsgeheim. Hy vertrou my. Al wat ek jou kan sê, is dat hy vir seker nie flenterbas is nie, want hy konsulteer nog al die jare vir ingenieursfirmas. Dis nie of hy nodig gehad het om Monique se skatte te erf nie. Saam was hulle eintlik vrek ryk. Ek dink hierdie oorwerkte, onderbetaalde


Скачать книгу