1 Recce. Alexander Strachan

Читать онлайн книгу.

1 Recce - Alexander Strachan


Скачать книгу
moet spring. Die groen lig gaan aan en die Recces duik uit die vliegtuig die donker onbekende in. Ná sowat drie sekondes word die valskerms oopgemaak en die span groepeer in die lug. Dis stil, elkeen hoor net die geluid van sy valskerm se stabiliseerders wat in die wind wapper. Die ander valskerms is dofweg sigbaar. Die lang daling na die landingsgebied het begin.

      Dit is altyd onuithoudbaar koud tydens ’n HAHO-sprong en dit voel kompleet of jou hande en voete wil afvries. Die spanleier navigeer die span met sy globaleposisioneringstelsel (GPS) na ’n landingstrook wat tot 20 km van die uitspringplek kan wees.

      Op ’n hoogte van sowat 3 660 m bo die grond ontkoppel die manne hul suurstofmaskers aan die een kant en lig die vryvalbrille op om die grond te probeer sien. Die terrein word algaande sigbaarder. As die grond uiteindelik in sig kom, soek hulle ’n geskikte landingsplek. Dit is moeilik om die windrigting akkuraat te bepaal, maar dié aspek is van die uiterste belang om ’n veilige landing met die swaar gelaaide rugsakke en wapens te verseker.

      Net voor landing draai die springers teen die wind in om ’n sagte landing te probeer kry. Bome, klippe, rotse en ander voorwerpe is die grootste gevaar. Die span moet ook so na as moontlik aan mekaar land. Die aarde kom skielik nader en dit voel asof dit die springer tegemoet spring. Met die trefslag voel sy yskoue voete en bene nie regtig die impak van die landing nie.

      Hulle wag ’n kort rukkie, rol dan die valskerms op en dra dit ’n ent weg om te versteek, gewoonlik in ’n ou erdvarkgat. As die valskerms nie weer herwin gaan word nie, word dit eers vinnig stukkend gesny. In die donker beweeg die span nou na ’n vooraf bepaalde plek van waar hulle die vorige nag se afgooistrook deur die dag sal dophou. Hulle hou veral vyandelike bewegings dop wat ’n aanduiding kan gee of die vyand van hul teenwoordigheid bewus is.

      As dit ’n verkenningsoperasie is, bly die een operateur onder dekking taamlik naby aan die teiken agter. Die ander een, baie lig geklee en gewapen met net ’n gedempte pistool, nader die teiken baie stadig vir die nabyverkenning. Dit is ’n uiters gevaarlike fase van die operasie wat noodsaaklik is om gedetailleerde inligting te kry. Ná afloop van die verkenning beweeg die span ongesiens in die nag na ’n vooraf bepaalde landingstrook.

      Volgens skedule skakel hulle die baiehoëfrekwensie-grond-lug-radio aan, hoewel daar geensins gepraat gaan word nie. In die donker flits die spanleier op ’n gegewe oomblik met sy infrarooiflitslig ’n kode in die rigting van die naderende helikopter. Sodra die vlieënier die span se kode identifiseer, sê hy slegs een keer oor die radio die woord “visual” en kom land dan. Met die span aan boord vlieg die helikopter in die donker op boomtophoogte terug na 1 Recce se basis iewers in die operasionele gebied.

      Intense spanning heers gewoonlik in die laaste paar uur voordat ’n operasie begin. Maar sodra die Recce-operateur in die vyandelike gebied land, hetsy met ’n valskerm of per helikopter, tree ’n groot kalmte in. Die oomblik wat sy voete die grond raak, kry hy ’n bykans euforiese gevoel dat hy in totale beheer is.

      Nog iets wat enige Recce-operateur altyd sal bybly, is die absolute stilte in die bos oomblikke voordat ’n aanval begin. Dit is asof die tyd stilstaan en die voëls, diere en selfs die plante asem ophou in afwagting op iets verskrikliks om te gebeur. Hierdie stilte herinner aan die stilte wat om jou hang sodra jou valskerm ontplooi as jy vir ’n operasie inspring.

      Net so bly die reuk van helikopterbrandstof tydens aanskakeling jou by. Die manne wat op duikbote gewerk het, sal weer nooit die kenmerkende duikbootreuk vergeet nie. Dis ’n bedompige mengsel van reuke – diesel, enjin, ghries, sweet en kombuis – wat in jou klere en vel intrek as jy lang tye aan boord was.

      Selfs jare nadat hy die eenheid verlaat het bly die Recce-operateur steeds gekondisioneer om nie hard te praat wanneer hy ’n bos binnegaan nie. En dis vir hom steurend as ander mense dit doen – ’n bos of ruigte bly vir hom die plek waar handseine die plek van stem inneem en waar net in uiterste gevalle in fluisterstemme gekommunikeer word.

      Die Recces is hoogs aanpasbaar om in verskillende omstandighede te werk en word ook in pseudo-operasies aangewend waar hulle die vyand se gedaante aanneem. Hulle dra die vyand se kleredrag en wapentuig en praat, loop, eet en dink soos die vyand. In die proses word hulle psigies sowel as fisiek die vyand.

      Hierdie operasies is moeiliker om te beheer en soms het dit gebeur dat eie magte op mekaar vuur omdat die een die ander as die vyand aansien. As voorkomingsmaatreël word die hele gebied waarin daar geopereer gaan word, gewoonlik “gevries”, wat beteken dat niemand anders die area mag betree nie.

      ’n Tipiese pseudo-operasie kan byvoorbeeld deur twee (of meer) manne uitgevoer word. Dit het dikwels bestaan uit ’n Suid-Afrikaanse spanleier en ’n gewese vyandelike lid wat “gedraai” het en saam met hom teen sy eertydse kamerade opereer. Hierdie spanlid sal tydens infiltrasie voor die spanleier loop sodat hy dadelik ’n gesprek kan aanknoop indien hulle in onverwagte elemente sou vasloop.

      Die tegniek om ’n vegter te “laat draai” het in die destydse Rhodesië by die Selous Scouts ontstaan. Die Rhodesiërs kon dit moontlik by die Britte oorgeneem het wat hierdie konsep in Kenia teen die Mau-Mau ontwikkel en gebruik het. Een metode was om gevange soldate ná ondervraging te vertel dat hul makkers in kennis gestel gaan word dat hulle saamgewerk en uitgepraat het oor geheime strukture. Die vrees vir weerwraak was dan gewoonlik ’n groot genoeg afskrikmiddel om hulle daarvan te weerhou om weer by hul eie magte aan te sluit.

      Toegangsroetes na die teiken word verken, asook ontsnaproetes, die beste rigting van aanval, en die tyd en afstand tussen die teiken en die aflaaipunt of oplêplek, waar die operateurs bedags skuil. Hulle sorg ook altyd dat daar alternatiewe oplêplekke beskikbaar is.

      Dit is gewoonlik in ruie bos, maar nie op uitstaande hoë grond of terrein waar die vyand dalk hul eie observasieposte kan ontplooi nie. Dit word so gekies dat die operateurs hulle hier kan kamoefleer en terselfdertyd ’n goeie uitsig op hul toegangsroete het. Sodra hulle ’n geskikte plek geïdentifiseer het, beweeg die span eers verby en keer dan met ’n ompad terug om die oplêplek in te neem.

      Groot klem word op teenspoorsny gelê en as die plek eers beset is, vind geen verdere beweging plaas nie. Almal lê dan stil en luister en doen waarneming. Dié fase is veral vir tweeman-verkenningspanne baie senutergend. Goeie kamoeflering en absolute stilte is van kardinale belang. ’n Operateur sal op sy rug lê met gevegsuitrusting aan (borsuitrusting en magasyne) en sy geweer in die gereedhouding teen sy lyf. Sodra hy lê, strooi hy takke, gras, blare en grond oor hom om hom te kamoefleer.

      Lede van die plaaslike bevolking wat kom hout kap of net ronddwaal is altyd ’n groot probleem. Ook boerbokke kan ongewenste aandag op die groep vestig met hul eienaardige gedrag om na iets vreemds in die veld te bly staar. Dan was daar die gevaar van honde wat kom rondsnuffel – vir dié doel is ’n .22- of .32- gedempte pistool byderhand gehou. As die hond hulle ruik of opspoor, is hy geluidloos geskiet waarna die operateur versigtig uit sy stelling opgestaan en die dier onder bosse ingesleep het. Geen ander beweging is in die skuilplek toegelaat nie – niemand mag iets eet, koffie maak of selfs ’n toilet-draai loop nie. Almal het doodstil lê en wag vir die nag om hulle uiteindelik soos ’n ou vriend te verwelkom.

      In die vroeë 1980’s het die Suid-Afrikaanse oorlogsfront begin verander en het die fokus nie net op die bos nie, maar ook op stadsomgewings begin val, en het stedelike oorlogvoering in werking getree. Geïnspireer deur die Israeliese spesialemagte se aanval op 4 Julie 1976 op die Entebbe-lughawe in Uganda om ’n groep gyselaars te bevry, is ’n aantal operateurs van 1 Recce Israel toe gestuur om ’n kursus in stedelike oorlogvoering te doen. Daarna het die Recces hul eie kursusse ontwikkel wat toepaslik was vir die omstandighede waaronder hulle gewerk het.

      Net soos die operateurs die bos tot hul voordeel aangewend het, het hulle nou die beboude gebied se skadu’s, geraas, kleredrag en verkeer uitgebuit om met die stadsomgewing saam te smelt.

      Hulle het burgerdrag in die vyandelike stede gedra en hul wapens onder hul baadjies versteek. Hulle sou in los groepe loop, die wat kon sou in die plaaslike taal met die mense praat, en hulle sou agterdogtige bewegings sowel as enige militêre formasies vermy. Afhangende van die operasie kon die Recce-operateur hom as ’n toeris voordoen wat na kuierplekke of nagklubs soek.

      Die


Скачать книгу