’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots

Читать онлайн книгу.

’n Soort van bevryde vrou - Kristel Loots


Скачать книгу
pryk. Zoe en Zak. Zak en Zoe. Klink mooi bymekaar, nè. Asof dit so hoort. Dink net hoe mooi sal die twee name saam op troukaartjies lyk as ons so iets sou oorweeg. In goue letters en met ’n silwer randjie om. Nie dat dit lyk asof trou in ons twee se sterre geskryf staan nie, nie as ek Zak so beluister nie. Klink nie asof ’n vrou, kinders en ’n hond, dalk nog van Swietie-pie se nageslag, deel is van sy onmiddellike toekomsplanne nie.

      En dan is daar ook nog hierdie lastige binnestemmetjie wat my nie wil laat staan om my eie besluite te neem nie. So ’n temerige stemmetjie wat my allerhande goed in die kop wil prent. Soos dat ek seker moet maak Zak, oulik soos wat hy is, is die regte man om mee te trou en ’n nessie te bou. Bleddie binnestemmetjie wat dinge vir my wil kompliseer. Want dit sal baie probleme uit die weg ruim as ek met Zak kan trou, selfs al sal dit nie ’n paar duur ingevoerde Italiaanse skoene wees wat onder my bed geparkeer word nie. Ek wíl in werklikheid vir Ma tevrede stel, sodat sy my kan uitlos. En vir Pa met sy sagte oë. En selfs die mislike Swietie-pie, as dit dan nou nie anders kan nie. Maar die paadjie preekstoel toe is nie met rose besaai nie. ’n Paar dorings, ja, wat kwaai kan seermaak as jy nie jou trap ken nie.

      Soms lyk dit asof Zak uitgekuier raak met my. Soos nou, want hy lag nie vir my grappie oor die tamatiesous nie. Zak lag al ’n hele rukkie nie meer vir enige van my flou grappies nie. Al die moeite om cute, grappig, sexy en inskiklik te wees, val op droë grond. Zak lyk in der waarheid baie ernstig toe hy nou na my draai, met die lydsame gesigsuitdrukking wat hy bêre vir dae wanneer ek my onkunde op soveel vlakke openbaar dat hy my terug na die regte weë moet begelei.

      “Die Franse sjefs stry onder mekaar oor wat presies ’n egte cassoulet is. Of daar lamsvleis ook by die droë bone gevoeg mag word en of jy by varkvleis moet hou. Ek skrik nie daarvoor om met lam en vark en selfs eend te eksperimenteer nie. Die kors bo-op is natuurlik ononderhandelbaar, dis wat van ’n cassoulet ’n cassoulet maak.”

      Zak se hande praat saam. Hy vertel met die lang asem van ’n straatpredikant in besonderhede hoe om die affêre te bak sodat jy dit nie verbrou nie. Asof ek dit ooit in my kop sal kry om potte en panne uit donker kaste op te diep om ’n Franse watsenaam te skep. In die stilligheid wonder ek of dié gereg vir gesonde kos kan deurgaan, maar ek vra nie. Ek is nie in ’n bui vir ’n lesing oor balans en ander boring dinge nie.

      “Gelukkig het ek die bone gisteraand al in ’n lekker groot kastrol by my woonstel begin week en saamgebring,” sug Zak toe hy asem skep. “Anders sou dit ’n gemors afgegee het.”

      Ek ruik knoffel en ek ruik naeltjies en selfs ’n sweempie tiemie. Dit ruik nogal lekker. Maar of die konkoksie op die ou end eetbaar gaan wees wat iemand met soveel fiemies soos ek betref, is ’n ope vraag. As ’n mens na my kyk, sal jy raai ek verslind alles wat voorkom, maar dis nie so eenvoudig nie. Wanneer iets vir my lekker is, eet ek skaamteloos oorgenoeg daarvan, maar as dit nie na my smaak is nie, stoot ek dit net op my bord rond.

      Die eendsnitte wat Zak nou uitsorteer en in stukke sny, neig hoeka om my kiewe te laat saamtrek. Ek behoort na regte nie in die kombuis te wees terwyl die slagting nog plaasvind nie. ’n Etery werk vir my die beste wanneer ek die kos klaar gekook op ’n bord kry. Miskien moet ek tog maar met Zak trou, hy wat so handig is in die kombuis. A match made in heaven. Maar eendag dan, nie nou al nie. Eers doodseker maak dat hy Die Een is, die Enigste Een wat ek kan kry. Nou wel nie Mr Right nie, maar darem Mr Not Too Bad.

      Hy buk, sexy sitvlak en al, om nóg ’n pan uit die kombuiskas te haal.

      “Ons kan natuurlik alles los en Lucy-hulle eerder uitneem vir ete,” stel ek voor. Dit sou hopelik wees nadat Zak die kombuis tot sy vorige glorie herstel het – of die glorie wat dit volgens my standaarde gehad het.

      “Nee. Ek verkies om jou niggie en haar man in jou woonstel te ontmoet. Só leer ons mekaar beter ken.”

      “Hulle is net hier vir aandete,” herinner ek hom. “Billy het vanaand ’n vergadering met die Johannesburgse tak van Media Uniek.” Dis nou as hulle nie vir my jok, en Lucy en Billy net ’n verskoning gefabriseer het om min tyd by die arm deel van die familie deur te bring nie. Die adel en die gepeupel meng nie maklik nie.

      “Waar gaan hulle slaap?”

      “Seker in ’n vyfsterhotel, definitief nie hier in my humble abode nie. Die dae toe Lucy saam met my en die ander niggies ’n kermisbed gedeel het, was vir goed verby toe sy met Billy getrou het. Sy leef nou in heeltemal ’n ander liga.” Ek hoop nie ek klink so suur soos ek voel nie. En ek is onnodig bitchy, want tot dusver het Lucy haar nog glad nie gedra soos ’n prinses wat gepla sal word deur ’n ertjie onder ’n matras nie. Gelukkig is hier werklik nie plek in my woonstelletjie vir haar en Billy om te oornag nie. Om ’n hele naweek vir doktor en mevrou Billy Bruwer gasvrou te speel, klink na baie harde werk.

      Dié aardbewing wat Zak in die kombuis veroorsaak, is al erg genoeg. Hy faff vreeslik om die stoof en waai die rookbolle wat uitborrel toe hy die oonddeur oopmaak met ’n afdroogdoek weg. “Dalk beïndruk ek nog jou belangrike familie met my kookvernuf,” laat hy hoopvol hoor.

      Hy was nie naastenby so gretig om enige van my ander niggies te ontmoet of te onthaal nie. Daarvoor is hulle sweerlik te vaal, te gewoon in sy oë wat na hoër terreine streef. Zak is tog so behep met al wat ’n celeb is of net in daardie rigting neig. Dit maak my moeg.

      Hy kan probeer, maar ek dink nie sy kos, met of sonder ’n Franse flair, gaan die dak laat lig nie. Eenvoudig omdat Billy en Lucy Bruwer jet-setters is wat heel waarskynlik reeds ’n cassoulet in ’n skitterblink eetsaal in Parys – die een in Frankryk, doer ver – geëet het. Daar waar die maître d’ hulle waarskynlik op die naam ken.

      “Lucy-hulle is darem nie regtig só high profile nie.”

      Ek hou my betaamlik nederig oor hierdie familie van my, maar in der waarheid is hulle nogal celebrities in sekere kringe. Met Billy Bruwer die stinkryk hoof van Media Uniek en Lucy wat gereeld rubrieke vir hulle koerante skryf – nou wel onder die skuilnaam Funky Feetjie, maar die lesers weet teen hierdie tyd dis sy. Aanvanklik het hulle haar identiteit geheim gehou. Nie een van die niggies sou kon raai dat dit ons eie Lucy Lombaard is wat sulke raakvat-sêgoed oor die Suid-Afrikaanse samelewing kwytraak nie.

      “Ons het die lesers se nuuskierigheid geprikkel,” het Lucy verduidelik. “Hulle gemanipuleer om te probeer raai of dit bekende persoonlikhede was wat beurte maak om rubrieke te skryf en só in gesprek tree – met Funky Feetjie wat die vrou se oogpunt stel en Wouter Weet-als wat probeer verduidelik hoe mans voel oor die lewe en sy dinge.”

      Totdat hulle Die Groot Onthulling op ’n splash van ’n paartie bekendgemaak het. Nou weet al wat lees dis Billy wat soms as Wouter Weet-als ewe pittig kommentaar op Lucy aka Funky Feetjie se sêgoed lewer. Mense praat daaroor, lag daarvoor, skinder daaroor. Lewer interaktief kommentaar op Twitter en Facebook ook. Soms negatief, maar gewoonlik nie. Funky Feetjie het ’n leërskare van fans om haar versamel.

      Ekskuus my dat ek ’n bietjie bitter – en jaloers – is daaroor. Hoekom juis Lucy? Hoekom nie ék nie? Miskien … omdat sy die een is met skryftalent en ek nie eens behoorlik kan spel nie. Dit maak seker sin, maar my bek is in elk geval dik.

      “Lucy is nie soveel anders as die res van ons Lombaard-niggies nie,” brom ek nou.

      “Net so vet ook?” Zak lig sy oë in my rigting. “Dik van agter en dikker van voor?”

      Ha! Ha! Baie snaaks. Van takt het Zak se ma hom nie genoeg geleer nie. Sy grappies is soms in doringdraad toegedraai.

      “Rond en gesond, soos die res van ons,” gee ek hom sy sin.

      “Klink asof sy met haar gat in die botter geval het.”

      “Wel, Billy het haar persoonlike blogs op die internet raakgesien en gelees, baie daarvan gehou en voordat hy haar in lewende lywe ontmoet het, gevra om vir sy koerant te skryf. Hy het in haar kop belanggestel eerder as in haar lyf. Maar toe hulle saam aan die rubrieke begin werk en hy haar leer ken, het hy, against all odds, op haar verlief geraak.”

      Ek sug. “Lucy se verhaal is ’n frieken feëverhaal wat waar geword het en sy en Billy Bruwer is die paartjie van die jaar.”

      Ek


Скачать книгу