’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots

Читать онлайн книгу.

’n Soort van bevryde vrou - Kristel Loots


Скачать книгу

      Miskien is dit goed dat ek môre daar gaan wees, so tussen al die hoogvatte en laagvatte en misvatte en heen-en-weer-skoppe en -drukke deur. Al is dit net om ’n buffer te wees tussen Zak en die Bruwers, wat nie soos gewoonlik half op pad hemel toe in die losie sal sit nie. ’n Mens weet nooit wat Zak kan kwytraak as dinge op die veld begin kook nie.

      Ek bly opgewonde oor die kuier. Hoewel ek nie my jaloesie oor Lucy se lewe en liefde kan ontken nie, hou ek baie van haar. Ek wens … ek wens ek was meer soos sy, dat my hare ook so reguit en glad kon wees, dat ek meer styl kon hê.

      Dit was nie altyd so nie, maar deesdae blom Lucy. “Dis alles aan Billy te danke,” vertel sy graag, haar bewondering vir hom en die verwondering oor die gelukskoot wat haar getref het helder soos die aandster in haar oë. “Dis omdat hy vir my lief geraak het dat alles verander het.”

      Ek sien daardie verandering, selfs ’n gesofistikeerdheid wat ek nie by haar geken het nie. Ek is net nie seker of ek aldag daarvan hou nie. Soms verlang ek na die Lucy wat saam met my met lus ander mense van ’n kant af kon beskinder.

      “Daai vrou lyk asof ’n kleuter haar gesig met vetkryt geteken het.”

      “Met sy dom hand.”

      “Oor die lyne gegaan het.”

      “Vergeet het om wenkbroue in te sit.”

      “’n Ertjiekorrel vir ’n mond …”

      “Tande soos white picket fences na ’n moerse sikloon.”

      “Dubbelken soos ’n pannekoek wat geflop het.”

      Dit was soveel pret! Ons twee nogal, self nie beauty queens met perfekte afmetings nie, wat ander so in die geheim kon afkraak. Lelik, ek weet. Maar baie lekker. Ons doen dit nie meer nie, want Billy het Lucy sag gemaak. Soms dink ek sy is nou hopeloos te goody two-shoes om nog vir soveel genot te kan sorg.

      “Toe ek myself deur Billy se oë begin sien, het hierdie Funky Feetjie wat voor jou staan vir die eerste keer begin vlieg,” het sy probeer verduidelik, droomverlore soos ’n Charlotte Brontë-karakter, die ene onskuld. “Billy het van my ’n prinses gemaak.”

      Good for her. Wonderwerke gebeur dus nog. Maar ek weet ook die weerlig slaan nie maklik twee keer op dieselfde plek nie. Die geluk wat Lucy getref het, sal nie een van ons ander dikkes beskore wees nie. Die lewe is nie ’n feëverhaal waar alle paddas in werklikheid prinse is wat binnekort hulle ware aard gaan openbaar, en al wat ’n Aspoester is in ’n paleis beland nie. Party van ons het regte stiefsuster-voete met liddorings wat nooit in glasskoentjies sal pas nie.

      Asof sy my nie nou reeds goed genoeg troef nie, lyk Lucy boonop heelwat skraler toe sy en Billy teen skemer daar aankom.

      Met etenstyd raak sy skaars aan die bord kos wat Zak voor haar neersit, proe-proe ook net aan die wyn. En dit na al die moeite wat hy gedoen het. Ek vererg my byna, kry hom selfs jammer. Hy probeer werklik hard, is so sjarmant as kan kom. En hy is omtrent hand om die blaas met Billy, asof hulle al ’n lang pad saam kom en nie ’n rukkie gelede eers blad geskud het nie.

      Ek ken vir Zak. Name-dropping is vir hom tweede natuur. As hy kan voorgee dat hy en Billy in dieselfde kringe beweeg, sal dit wees met die hoop dat dit hom kan help om sy onmoontlike droom te verwesenlik. Ek sien die toneeltjie so voor my geestesoog, hoor Zak se stem in my gedagtes:

      Ek sê vir my vriend Billy Bruwer, nou die dag toe ons na die wedstryd tussen die Bokke en All Blacks kyk … Billy Bruwer, jy weet? Die grootbaas van Media Uniek. Daai ou wat gereeld as kundige spreker optree in aktuele programme op TV. Weet alles van die politiek af, huiwer nie om sy sê te sê nie. Ken ook sy rugby. Stem met my saam oor die afrigter en die samestelling van die span. Dis die agterlyn wat die Springbokke so laat verloor.

      Só sal hy aangaan en hy sal Billy Bruwer se naam inwerk waar hy ook al kan. Zak is goed daarmee. Soms vermoed ek hy het ’n spindokter wat hom soos ’n beginner-sirkusleeu afrig om al die regte toertjies uit te haal om dalk binnekort in die hoofarena te mag verskyn. Hy kon dit nog nooit regtig máák nie, nog nooit een van die sirkus se sterre wees nie.

      Intussen haal hy desondanks uit en wys op vele vlakke van watter stoffasie hy gemaak is. Of dit nou kosmaak is, of enige van sy ander latente talente wat hy afstof en blinkvryf om te beïndruk. Dêmmit. Die minste wat Lucy kan doen, is om sy kos te eet. Of dit ten minste op haar bord rond te stoot, soos ek soms maak. So oneetbaar is Zak se cassoulet met ’n Franse flair regtig nie.

      Billy Bruwer, daarteenoor, laat nie op hom wag nie. Hy ploeg deur die kos asof hy dae laas geëet het, mooie man wat hy is. Eye candy uit die boonste rakke. Ek kan maar net kyk en wonder en wens. En fantaseer ook as dit daarop aankom, maar nie só dat enigeen daarvan kan weet nie. Ek gedra my soos dit een van Lucy se niggies betaam. Ek bly op die agtergrond en doen my bes om hom nie aan te gaap nie. Lucy het die frieken jackpot geslaan met Billy Bruwer en sy gaan hom tog nie prysgee nie. Verder klou hy ook so aan haar, jy sou sweer hulle is nog op honeymoon.

      “Wat gaan aan? Dieet jy?” wil ek weet die oomblik toe die mans eenkant toe beweeg, hoeka om rugby te praat, en ek en Lucy alleen is.

      Om te dieet is die grootste sonde wat ons niggies mekaar kan aandoen. As een maer word, gaan dit van die ander ook verwag word. Die oudste niggie hét dit gedoen: ’n ruk gelede op ’n dieet gegaan en, anders as die res van ons, daarmee volgehou en toe pregnant geraak. “Serves her right,” het ons onder mekaar geskinder. “Sy wou mos maer en sexy wees. Nou is haar figure in elk geval daarmee heen. Haar arme ouers moet seker vreeslik verleë wees oor die skade en die skande.”

      Die Lombaards is van die soort wat voorgee voorhuwelikse seks is iets wat nie in hul geledere plaasvind nie. Dat dit iets is wat ordentlike meisies soos die Lombaard-niggies nooit sal doen nie. Maar daardie swangerskap kon nie weggewens word nie. Daar is maande lank oor niks anders gepraat nie.

      Toe kom die geboorte en die hele Lombaard-familie trek laer om die ongehude moedertjie en kloek en gaan tekere oor hoe oulik die skreeubalie van ’n babatjie is. En lo and behold, ons niggie kry sowaar die man om redelik vrywillig met haar te trou en dit sit om in ’n helse familiefees op my ouma se plaas in die Gamkaskloof. And all is forgiven. Ons het bruilof gehou soos net die Lombaards kan.

      Hoewel alles nie net vrolikheid was nie. Daar het ook ’n skok op ons gewag toe my ouma ewe gerieflik haar hande vou en doodgaan terwyl ons almal nou in elk geval daar is vir ’n begrafnis. Bedagsaam soos ons haar geken het.

      Daardie naweek het Lucy daar met Billy Bruwer aangesit gekom en sodoende amper die bruid én die nuwe babatjie se donder gesteel. Kyk, dis nie aldag maklik nie, maar ek en my niggies het lankal geleer om vir die wêreld middelvinger te wys wanneer daar met ons gespot word. “If you’ve got it, flaunt it,” onderskraag ons mekaar. En ons flaunt nogal, hoor. Ons kruip nie weg agter los rokke en gewade nie. Ons rondings is daar om gesien te word en ons skroom nie om dit te wys nie.

      Natuurlik wil ons maer wees. As dit met die druk van ’n knoppie vermag kon word, bring asseblief daardie knoppie vir my. Maar jy raak sat vir ’n wipplankryery op ’n skaal wat nie sy mind kan opmaak nie. Dan ’n kilogram af, dan weer twee op, emosionele teistering in die ergste graad.

      Nou ís dit so dat nie alle mans vir ons kans sien nie. Veral nie mans soos Billy Bruwer nie. Ons, as Lucy se niggies, het dit dus daardie naweek ons plig en plesier geag om oop en bloot by hom aan te lê toe hy met sy six-pack by my ouma se huis opdaag. As hy immers ’n fetish vir dik vroue gehad het, kon enige van Lucy se niggies hom óók behaag.

      Maar Billy was skoon simpel gemesmeraais deur Lucy en het hom skaars aan ons gesteur. By die huweliksonthaal het hy met elkeen van ons gedans, maar dit was die enigste kontak. Verder het hy aan Lucy geklou.

      Dit was dan ook die begin van die einde. Net ’n paar maande later het die trou-uitnodiging in my inbox beland, en dit was toe ’n groter splash as daardie moet-troue in die boendoes.

      Lucy is lucky, sy kan ontspan, want sy het klaar daarin geslaag om ’n baie skaars soort vis in ’n see vol ontwykende visse te vang.

      “Dieet?” lag sy dus toe ek vra. “Wie,


Скачать книгу