Blits 2: Operasie Hoërskool. Nadine Blom

Читать онлайн книгу.

Blits 2: Operasie Hoërskool - Nadine Blom


Скачать книгу
staan by die hoofseun op die stoep en ek val langs hom in. Ek voel soos ’n stout kind wat sy ouma se mooiste blompot gebreek het. Soos ek nou hier staan, weet ek een ding: hier gaan hulle nou vir ons drop soos ’n ou tannie op nat teëls.

      “Welkom, manne,” sê die hoofseun sarkasties. “Ek sien julle het reeds vir julleself ’n spesiale plekkie in ons harte gemaak. Kyk, ons verstaan almal dat dit vir julle ’n besondere oomblik moet wees om tussen die groot kinders te wees vandag …”

      Van die ander graadagts proes van die lag. Die hoofseun vererg hom. “O, ek sien julle dink dis snaaks. Miskien moet julle ons kom join hier voor.”

      Die vierkant is weer doodstil. “Aangesien julle graadagts hasies is hierdie jaar, gaan julle twee vir ons verduidelik hoekom hasies so oulik is.” Die hoofseun kyk uit die hoogte na Zander, wat soos ’n dwerg lyk teen hom. “Jy kan sommer vir ons begin, um, Hasie Zander,” sê hy.

      Ek voel klaar hoe brand my maag, want ek dink aan daai simpel hasie-grappie wat Zander altyd vertel, waarvoor niemand ooit lag nie.

      Hy begin praat en ek voel hoe die energie my liggaam verlaat. Sy kieriebeentjies klap teen mekaar soos ’n kakebeen wat koud kry. “Wie weet waar lê ’n haas sy eiers – bo of onder die grond?”

      Die vierkant is grafstil. Die kinders kyk hom aan soos ’n skool dooie visse.

      “Weet niemand nie?” vra Zander.

      Stilte.

      “’n Haas lê nie eiers nie …”

      Niemand lag nie. Almal staar net na Zander. Die stilte boor in my borskas in en ek voel Zander se pyn oor sy stukkende reputasie vir die res van sy hoërskoolloopbaan.

      Die hoofseun kyk verveeld op sy horlosie en sê: “Sjoe, daai was skoon pynlik. Ek dink nie ons het tyd of lus hiervoor nie, so skuif maar weer tussen julle medehasies in voor ons almal se ore begin bloei.”

      Ek sug verlig. Close call. Ek sou nie veel beter as Zander kon doen nie.

      Ons stap terug na ons plekke toe. Zander se skouers hang. So ver as wat ons loop, staar oë ons aan asof ons landsverraaiers is.

      Hierdie dag raak net al hoe beter.

      

      “Graadagts, met hierdie hasie-oortjies gaan jy stort, slaap, eet en leef vir die volgende twee weke. As ons jou sonder jou ore vang, is jy geskiedenis. Een van ons gunstelingreëls vir die hasies is dat wanneer een van ons matrieks vir jou sê: ‘Hop, hasie’, dan hop jy tot ons sê nou mag jy stop. As jy nie sweet nie en jou bene nie sleep nie, doen jy dit nie reg nie.”

      Zander kyk na my met ’n verslae uitdrukking op sy gesig. Ek probeer op iets fokus wat hom sal laat beter voel, maar al waaraan ek kan dink, is die girl wat voor ons in die vierkant staan en praat. Ek dink dis die hoofmeisie. Haar hare lyk so sag soos een van daai fluweelkombersies by Woolworths wat jou ma nooit vir jou wil koop nie omdat dit so duur is. Sy het blou oë wat selfs die koudste hart sal laat smelt.

      “Kyk af, ou!” fluister Zander dringend.

      Ek skrik wakker en kyk vinnig af.

      Dan praat die hoofmeisie verder: “Ons gaan nou die oortjies vir julle uitdeel en dan ’n groepfoto neem vir die skoolkoerant. Maar voor ons dit doen, gaan meneer Cilliers net eers gou die registerklasindeling doen.”

      Meneer Cilliers se stem weergalm oor die vierkant. “Raait, graadagts. Ek gaan nou die klasindelings uitlees en dan moet julle sorg dat julle by julle klasse kom, asseblief.”

      Hy lees ’n klomp name wat ek nie ken nie. Ek hoor my naam ook. Graad 8A. Ek wag vir Zander se naam, maar nie een van die ander name wat meneer Cilliers lees, klink bekend nie. Dan begin hy met die volgende klas.

      My vrees is bewaarheid: ek en Zander is nie in dieselfde klas nie. Zander lyk nie te gepla daaroor nie. Mmmm. Miskien fokus hy net baie sterk op die damage control van sy gewonde ego en reputasie.

      Na die foto skuif ek alleen saam met my groep na my klas toe en sien hoe Zander met ’n emosielose uitdrukking na my kyk. Ek hoop hy’s oukei.

      ’n Kort, ouerige juffrou wag ons by ons klas in. Sy lyk soos Nanny McPhee sonder die moesie. Dit voel vir my haar neus druk teen my voorkop toe ek by haar verbystap. Ek moet sê, my verbeelding is dalk ’n bietjie ooraktief. As ander mense moet weet wat ek soms dink … Dit moet die creative juices wees wat begin vloei het toe ek netnou besig was om my hasie-speech uit te dink.

      My ouma sou nou gesê het: “Hannes, ons is elkeen perfek op ons eie manier.” Fokus, Hannes, fokus. Terug na die werklikheid.

      Die res van die kinders stap stuk-stuk in die klas in. Die tafels is gemerk met ons name. Ek stap tussen die tafels deur en soek my naam.

      Net toe ek wil gaan sit, verskyn ’n figuur langs my. Hy lyk soos ’n lang noedel. Dit lyk of hy in my rigting mik om met my te praat of iets, maar onseker is of hy moet.

      Ek steek my hand uit. “Hi, ek is Hannes.”

      Hy skud my hand. “Aangename kennis, my naam is Harry.”

      Voor ek enigiets verder kan kwytraak, praat die juffrou se skril stem. “Stilte! Julle sal nie praat in my klas nie. Julle sal julle nie wangedra in my klas nie. As julle besluit om aan sulke aktiwiteite deel te neem, sal die eerste plek waarmee julle kennis maak, die hoof se kantoor wees. Ek is juffrou Noiman, julle registeronderwyser vir die jaar.”

      ’n Dapper graadagt waag dit om kommentaar te lewer van agter af: “Noi man, Juffrou, Juffrou kan nie so wees nie. Hoe kan die hoof se kantoor die eerste plek wees? Die eerste plek is dan Juffrou se klas.”

      Almal lag, maar ek lag nie saam nie, want ek sien hoe die vlammetjies in haar oë ’n vuur word.

      “Aaa! Hier het ons nou sommer ’n gepaste voorbeeld van wat sal gebeur met die mense wat hulle maniere by die huis vergeet het. En jou naam is … meneer?”

      “Pieter Hougaardt, Juffrou.”

      “Aangesien jy vergeet het waar jy jou maniere gebêre het, meneer Hougaardt, sal jy hierdie Vrydag ná skool een volle uur kom sit en probeer onthou waar jy hulle laat lê het.”

      Pieter volg die roete van ’n onwyse mens (nog een van my ouma se sêgoed) en probeer homself uit die gemors praat. Maar voor hy sy sin kan voltooi, slaan juffrou Noiman hom met nog ’n Vrydagmiddag se detensie.

      “Nou goed, klas. Soos julle kan sien, het ek julle klasrooster op die bord geskryf. Skryf dit asseblief af. Julle begin môre klasse wissel. Vandag kan julle ’n boek lees of julleself besig hou, maar as ek ’n selfoon sien, word hy myne.”

      Die interkom bliep. “Juffrou …” kom ’n stem deur die luidspreker.

      “Jaaa?” antwoord sy in ’n engelagtige stem.

      “Kan u asseblief vinnig iets kom haal by die kantoor?”

      Die interkom bliep weer. “Ek kom dadelik.”

      Juffrou stap ingedagte uit die klas uit. Dis weird. Geen preek oor hoe sy ons iets gaan aandoen as ons raas terwyl sy weg is nie.

      Toe sy uit is, sê Pieter hardop: “Ek dink sy het haar besem in die kantoor vergeet.”

      Die kinders lag almal, behalwe Harry die noedel. Hy staar met ’n stroewe gesig voor hom uit asof hy een van die moeilikste wiskundesomme in die wêreld probeer uitfigure. Die enigste ding is, daar is geen wiskunde voor hom nie.

      Dan begin iets in my brein krap – daardie bekende krapperigheid wat my altyd waarsku as iets nie reg loop nie.

      “So, Harry, is jou van Potter?” vra ek.

      Hy hoor my nie. Ek tik aan hom. “Hei, ou. Hoe loop hy?” Harry kyk verbaas na my. Dan is dit asof iets hom uit sy droomwêreld ruk.

      Hy skud sy kop soos iemand wat homself


Скачать книгу