Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
Читать онлайн книгу.Shabbat af, van middagete Vrydag tot Sondagoggend tienuur. Ek het net gisteraand my vriendin gehelp.”
“Wat doen jy in die weermag?”
“Ek is ’n ambulansbestuurder, maar nou met die selfmoordaanvalle doen ek dikwels op strategiese plekke in die stad diens.”
“Jy is ’n ambulansbestuurder?” Marc kyk verstom na die tenger geboude meisie voor hom.
Sy glimlag. “Ja.”
“Dis moeilik om te glo.”
“Nie as jy in Israel woon nie.” Sy staan op, haak haar tas oor haar skouer. “Ek dink ons moet gaan.”
Toe hulle buite kom, is dit ná twaalf. Hulle staan ’n paar oomblikke onseker in die nouerige stegie na mekaar en kyk. Toe sê sy: “Marc, van Woensdagaand af is dit Pesach. Ek het Donderdag en Vrydag af tot Saterdag tienuur omdat ek in ander mense se plek gewerk het. As jy wil, sal ek jou bietjie rondwys. Ek weet nie hoe dit met Re’uven sal wees nie, dinge verander nou van uur tot uur. Ek is ook nie oor myself seker nie. Maar as dit moontlik is, sal ons, of ek dan as hy vas is, jou graag bietjie wil rondvat.”
“Dis verskriklik gaaf.”
“Bly jy in dieselfde hotel?”
“Voorlopig. Maar ek gaan môre ander blyplek soek. Ek kan dit nie bekostig nie. Ek het ’n paar kontakte om op te volg.”
“Laat maar weet as jy nie regkom nie, ek weet ook van ’n paar plekke. Maar ek het tog jou selnommer. Hier, neem myne ook.”
Hy maak so.
Die nagwind wat koud geword het, waai die los hare oor haar gesig.
“Kyk waar jy loop as jy teruggaan, Marc. Asseblief.”
“En jy?”
Sy lag. “Ek’s oukei.”
Jerusalem
24 Maart 2002
00:50
Om ’n Jood te wees. ’n Jood te wees. Re’uven dra ’n bonkige, klein goue Ster van Dawid aan die ketting van sy dog-tag. Dit skuil soos ’n duifie in die donker kuil van sy keel. Maar in die flikkerlig van die kers op die tafel het dit sag geglim. Sag soos wat Rivkah se oë raak wanneer sy sê HaShem het die land vir die Jode gegee. As ’n verbond gegee. Vir die Jode gegee as ’n verbond. Ek is deel van daardie verbond. Is ek deel van daardie verbond?
Ver onder my lewe die stad nog asof dit nooit slaap nie. Asof dit bang is om te gaan slaap. Stad van Dawid, waaroor Jesus tog gehuil het. Yeshua. Baruch se Yeshua. Het Hy hierdie slagtings voorsien toe Hy gehuil het? Het hy Rivkah in die Moment-kafee gesien? Haar dooie bruidsvriendin? Die stukke liggaam van haar dooie bruidegom? Het Hy die geskreeu gehoor van die vrou wat haar baba in haar kinderwaentjie sien doodbrand het? Het Hy die angs van die terroris se hart hoor klop voordat hy homself in stukke laat skiet het? Het Hy gehuil omdat Hy gesien het hoe Re’uven sy suster soen voordat hy weggaan? Die geheime vrees in haar klein hande? Jesus, Yeshua, het jy jou mense vergeet? Liewe Jesus, kan jy nie Ragel oor haar kinders hoor huil nie?
Vier
Sondagoggend skrik Marc laat wakker. Hy het byna tot ná sy ontbyt geslaap. Hy kom vinnig in beweging, want dit moenie gebeur nie. Die uitgebreide ontbyt wat die hotel aanbied, dra hom grootliks deur die dag en hy hoef eintlik niks weer te ete te koop voor die aand nie.
Ná ete loop hy in die straatjies om die hotel rond, onseker oor wat hy volgende moet doen. Hy besef dat hy vir hom ’n ander blyplek moet gaan soek. Hy bly nog langer as ’n maand hier in Israel en hy kan nie die hotel veel langer bekostig nie, al is dit ook een van die billikstes in Jerusalem. Hy moet skuif. Sy ma het hom deur van haar kennisse, wat van tyd tot tyd Israel toe kom, van ’n paar adresse vir goedkoper losies voorsien.
Hy kyk nou ietwat lusteloos na die lysie. Om die een of ander rede oorheers die begeerte om met sy onbekende grootmoeder kontak te maak alle ander oorwegings. Maar sy terughoudende geaardheid maak so iets moeilik vir hom. Baie moeilik.
Hy bly dwaal besluiteloos in die strate rond. Maar toe dit laatmiddag word en hy nog steeds tot niks gekom het nie, besluit hy om haar te bel. Hy het eintlik geen idee hoe hy homself moet bekendstel nie. Waar om te begin nie. Hy sit die selfoon weer in sy sak terug en gaan staan voor sy kamervenster om oor die stad uit te kyk. Die lug begin stadig verkleur, soos hy dit die eerste aand ervaar het. Hy sien weer die grootvader wat die seuntjie troos. Trane spring in sy oë.
“Vader-God, help my asseblief met woorde.”
Sy hart klop so geweldig in sy ore toe hy die nommer skakel en die selfoon teen sy oor druk dat hy dit byna nie kan hoor lui nie. Hy byt amper sy onderlip stukkend.
“Ruwth Doron,” hoor hy egter tussen die hamerslae van sy hart deur. “Shalom.”
Hy haal diep asem. “Mevrou Doron,” sê hy bewerig op Engels. “Ek is Marc van Suid-Afrika …”
“Marc!” Daar is onverbloemde blydskap in die onbekende vrou se stem. “Ek het al begin hoop verloor dat jy sal bel! Lucas het my laat weet jy kom …” Haar stem raak weg.
Hy kan byna geen woord uitkry nie.
Sy kom eerste tot verhaal. “Waar is jy?” vra sy.
Hy fluister die naam van sy hotel.
“Kikar Zion?” herhaal sy om seker te maak sy het hom goed gehoor.
“Ja.”
“Ek weet waar dit is. Ek kom jou … Kan ek jou kom haal?”
“Ek kan met die bus kom.”
“Nee, jy sal wegraak. Nee, dis nou te gevaarlik op die busse. Nee, bly net daar … ek kom na jou toe. Ek het my eie motor. Gee my vyftien minute. Is dit goed so? Is dit reg met jou?”
“Asseblief,” is die beste wat hy kan uitkry.
Toe hy sy selfoon dooddruk, laat hy sy kop teen die ruit sak en probeer nie eens die huil wat deur sy hele lyf ruk keer nie. Hy verstaan die geweld van sy emosie nie, maar dit verskrik hom ook nie.
“Here-God,” snik hy sonder dat hy hoor wat hy sê, “dankie, Here.”
Marc wag bewerig vir haar in die ingangsportaal van die hotel. Hy’t sy gesig twee maal gewas, maar hy weet die trane het net onder die oppervlak bly sit.
Hy sien die elegante, ouer vrou met die silwergrys hare onmiddellik raak toe sy haar uit die voetgangers op die sypaadjie losmaak en die treetjies opkom. Aan haar liggaamshouding, meer as enigiets anders, herken hy sy ma. Die huiwering van hul eerste sien van mekaar duur net ’n oomblik. Toe kom sy na hom toe en hy slaan sy arms om haar. Sy hou sy jongmanslyf styf vas en verberg haar gesig in sy trui. Sy huil onbeskaamd, en hy rus sy ken op haar hare en byt op sy tande om sy eie hewige emosies in bedwang te hou. Verbygangers kyk hulle ’n oomblik nuuskierig aan, maar knik dan begrypend. Sulke tonele is beswaarlik vreemd in die Jerusalem van vandag.
Uiteindelik staan hulle tru en kyk mekaar in die oë. Ja, dis Mara se oë, ja, dis Mara se mond. Marc trek sy asem bewend in. “Ek kan my ma in u sien,” sê hy.
Ruwth druk haar vingers deur haar kort hare en skud haar kop. Sy maak haar oë ’n oomblik toe, bly haar kop in ongeloof skud. “Vandag kroon Adonai my met sy guns en sy genade,” fluister sy. Sy neem sy gesig tussen haar hande en bekyk hom gretig. “Marc,” sy skud steeds haar kop, “jy is hier in Jerusalem. My verlore kleinseun.”
Hy buk af en soen haar, en hy voel haar warm trane teen sy gesig. “Ek was bang om te bel,” bely hy. “Ek het nie geweet hoe om my bekend te stel nie.”
Sy lag so bly dat die klerk by die ontvangstoonbank opkyk en ook lag.
Sy merk dit en sê: “Daar word nie deesdae baie in Jerusalem gelag nie.” Sy kyk Marc ’n oomblik opsommend aan. “Sal ons iewers gaan koffie drink?”
Hy knik.
“Nie dat dit