Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
Читать онлайн книгу.maar ek wil nie moeite …”
Sy val hom onseremonieel in die rede. “Jy sal ook nie. Jy sal vir jouself moet sorg. Maar ek dink dis belaglik dat jy in ’n hotel sit terwyl jou grootmoeder in Jerusalem woon.”
“Dis … ek …”
“Jy is welkom, Marc. Maar jy moet maak soos jy goeddink.”
“Is u seker …?”
“Ek is seker, Marc. En miskien moet jy my maar Ruwth noem,” lag sy.
“Ek wil graag kom.”
Daar is opnuut trane in haar oë en sy kyk vinnig weg. “Ek was so bang jy sal teruggaan sonder om met my kontak te maak.”
Hy spreek met Ruwth af dat sy hom die volgende oggend ná ontbyt sal kom haal na haar woonstel toe. Sy wil steeds nie dat hy met die bus kom nie.
“Later,” het sy beslis gesê, “miskien later wanneer die kranksinnigheid dalk bedaar het.”
Toe hy terug is in die hotel, bel hy sy ma in Suid-Afrika van ’n openbare telefoon af.
“Ek het gedag jy sou gisteraand bel.” Hy hoor die spanning in haar stem.
“Ek het eers ná twaalf by die hotel gekom en ek dink nie jy sou dit waardeer het as ek tóé gebel het nie.”
“Ek sou, want ek kon in elk geval nie slaap nie.”
“Ma-a-a, asseblief, man, ons het mos darem voordat ek weg is oor dié saak gepraat. Ek bel jou nié elke dag nie.”
“Ek weet. Sorry.”
Sy hart versag. “Ek is veilig, moenie bekommerd wees nie. Ek het gisteraand met mense wat ek hier leer ken het in die Armeense buurt gaan eet. Toe kom ek so laat terug. Mense gaan nie hier voor ná twaalf slaap nie. Hulle begin soggens eers weer so teen tienuur se kant aan die gang kom.”
“Jy moet jou oppas!”
“Asseblief, Ma! Hoe gaan dit met julle?”
“Goed. Maar die TV-nuus oor Israel is afgryslik.”
“Moet dan nie daarna kyk nie.”
“Ek sal probeer.”
“Mamma …”
“Hmm?”
“Ek het vanaand vir Ruwth ontmoet.”
Dis stil aan die ander kant, maar hy hoor duidelik hoe sy haar asem vinnig intrek. Sy ken dus die naam. Oupa het haar gesê. Sou hy ook vir haar vertel het dat Ruwth weet hy’s in Jerusalem?
“Mam …?”
“Ja?”
“Ek sê …”
“Ek het gehoor wat jy sê.” Haar stem klink vreemd, soos dié van ’n kind. Marc sien die gryskopvrou vroeër vanaand weer teen die hotel se treetjies opkom. Sien haar haar hare met ’n kopbeweging agteroorgooi.
“Ek sal vir jou skrywe daaroor. Ek kan nie so lank praat nie.”
Stilte.
“Mamma?”
“Dis goed so,” fluister sy.
Hy weet nie presies waarom nie, maar hy voel hy moet eerder nie vir haar sê dat hy van môre af by Ruwth gaan bly nie.
“Gaan slaap nou, Mamma,” sê hy vir haar. “Is Hannes daar?”
“Hmm.”
“Gaan slaap nou. Alles sal regkom. My kaart is amper klaar.”
“Marc!”
“Dis oukei, Mamma, ek is veilig. Dis nie halfpad so gevaarlik hier soos die media dit maak nie. Niks gevaarliker as in Suid-Afrika nie. Daar word baie meer mense op ’n dag doodgemaak as hier. Ek is baie versigtig, ek belowe.”
Hy hoor Hannes die binnefoon optel. “Marc,” kom sy rustige stem tussen hulle in, “jy lewe nog, broer! Hou die vlag hoog, ek sal na jou ma omsien.”
“Dankie,” sug hy verlig.
Mara se stem het ook na normaal teruggekeer. “Kyk waar jy loop!” roep sy nog.
Toe dui ’n skril geluid aan dat sy kaart verstryk het, en hulle word summier afgesny.
Marc kyk na die laataandnuus. Daar is ’n oorsig van die twee weke lange selfmoordbomaanslae. President Bush spreek met ’n bekommerde gesig sy frustrasie uit oor die voortgesette geweld in Israel. Het Cheney en Zinni dan nie die grondwerk vir ’n skietstilstand gelê nie? Daar is fotomateriaal van die agtienjarige Joodse meisietjie wat in ’n koopsentrum in Kfar Saba deur ’n terroris doodgeskiet is. ’n Ma gooi haarself oor die kind se vlaggedrapeerde kis neer, met hande in die blou-en-wit Ster van Dawid geklem. Jasser Arafat se Fatah-beweging aanvaar verantwoordelikheid daarvoor. Daar is fotomateriaal van die sewe slagoffers van die busbom wat begrawe word. Dan flits fotomateriaal van die chaos in King Georgestraat waar ’n mensbom homself naby die Ben Yehuda-gebied opgeblaas het. Drie mense is dood en meer as tagtig gewond. In ’n somber stem rammel die verslaggewer af watter busroetes almal daarvandaan vertrek: Rehavia, die German Colony en Gilo. Die al-Aksa-martelaarsbrigade aanvaar verantwoordelikheid. Alle vredesonderhandelinge tussen Israel en Palestynse beamptes is onmiddellik opgeskort. “King George is so sentraal as wat jy kan kry in Jerusalem se middestad,” verklaar die nuusleser. “Net op in die straat van waar die Sbarro-Pizzeria dit ontgeld het.”
Weer is daar fotomateriaal van die bomontploffing in die Moment-kafee. Dit is skrikwekkend om die verwoeste plek te sien waar Rivkah was. Waar haar twee vriende albei omgekom het. Twee maande en vier dae voor hul troue.
Jerusalem
25 Maart 2002
01:15
Nie op die bus ry nie. Nee, sê Ruwth. Is daar iets van Mara se skril vrees ook in háár stem? R-u-w-t-h. Ek het ’n grootmoeder in Jerusalem. Ek is ’n Jood met ’n grootmoeder in Jerusalem. Ek is ’n Afrikaner met ’n oupa op Stellenbosch. Ek het ’n pa gehad wat gay is. Ek het ’n meisie gehad wat ’n hoer was. Oester-my-oester, moet net nie weer toegaan nie, het sy vir my gesê. Toe’t ek oopgegaan. Waarom het ek so oopgegaan vir R-u-w-t-h, my grootmoeder, my Joodse grootmoeder in Jerusalem? In trane versmelt? En sy? Haar seun, het sy gesê, is ’n pastor? Ek het verkeerd gehoor, hy moet ’n rabbi wees. ’n Joodse pastor?
En Rivkah het donker, donker hare soos Nicola. Klein handjies wat ’n ambulans bestuur en ’n Kalatsjnikof kan hanteer. Ek sal haar nie vertrou nie.
Dis 01:48 en die stad se asem jaag nog angstig.
Vyf
Die kamer wat Ruwth vir hom reggemaak het, het ’n balkon. ’n Klein, smal balkonnetjie waarvandaan hy, as hy goed kyk, Betlehem in die verte kan sien lê. Die sesverdiepinggebou waarin die woonstel is, staan tussen baie soortgelykes in Oos-Talpiot: regop sandsteengebou, omring deur ’n netjies versorgde tuin en vlak by die bushalte in Isaac Rembastraat. As jy die kans wil waag, kan jy oor die Haas-Promenade en deur ’n Arabiese buurt loop, af na die Ou Stad toe. Voorlopig skud Ruwth nog haar kop negatief oor so ’n plan, maar Marc weet vir seker dat hy dit binnekort tog gaan waag.
Gister teen die middaguur het sy hom by die Jaffa-poort afgelaai en hy het self sy weg na die Kotel gevind. Eers het hy op ’n begeleide toer met die ondergrondse tonnel, al met die muur langs en onder die Arabiese kwartier van die Ou Stad, gegaan – ’n staptog wat hom geweldig geïnteresseer het. Maar die res van die middag, totdat hy haar weer sesuur in die straat voor die Damaskus-poort ontmoet het, het hy by die Klaagmuur met sy sketsboek deurgebring. Daar was soveel wat hy wou vaslê dat die ure verbygevlieg het.
Tog was hy heeltyd bewus van die baie soldate wat die gebied patrolleer en het sy oë kort-kort tussen die olyfgroen uniforms na Rivkah se figuurtjie gesoek. Maar sy was nie daar nie. Dit het hom op ’n vreemde manier teleurgestel. Die soort teleurstelling oor ’n vrou, wat hy geglo het hy in die jare ná Nicola afgesweer