Gaan Suid-Afrika oukei wees?. Jan-Jan Joubert

Читать онлайн книгу.

Gaan Suid-Afrika oukei wees? - Jan-Jan Joubert


Скачать книгу
steun en setels verloor.

      Die DA het nasionaal teruggesak van 22,3% steun en 4 091 584 stemme in 2014 tot 20,8% steun en 3 621 188 stemme in 2019. Dit beteken die DA se getal setels in die Nasionale Vergadering het afgeneem van 89 na 84. Boonop het die DA sy posisie as grootste opposisieparty verloor in twee provinsies, Mpumalanga (aan die EFF) en KwaZulu-Natal (aan die IVP), en misluk in sy doelwitte om die ANC tot minder as 50% steun te druk in Gauteng (net-net) en die Noord-Kaap (toetentaal).

      Hoe het dit gebeur, is dit blywend en wat hou die toekoms vir die DA in?

      Die DA is die enigste party wat noemenswaardige steun uit al vier Suid-Afrikaanse rasgroepe trek. Die interessante is dat die party se bruin en Indiërsteun, asook die Engelssprekende wit steun grootliks stabiel gebly het op die hoë vlakke waar dit tevore was. Die Indiërsteun en wit Engelssprekende steun het trouens in verstommende mate stempunt vir stempunt dieselfde gebly, maar die bruin stem in veral die Wes-Kaap en by name op die Kaapse Vlakte het heelwat rondgeskuif, met die ACDP en Good (Patricia de Lille se nuwe party) wat hul bruin stem laat groei het – Good uiteraard as nuwe party van ’n nulbasis af. Die rondskuiwery van bruin stemme was taamlik ingewikkeld, maar die groot verloorder daar was die ANC, nie die DA nie.

      Die DA se uiteindelike swart steun was ten spyte van reusagtige pogings om dit uit te brei ook grootliks dieselfde as in 2014, hoewel dit dikwels op heel ander plekke as tevore voorgekom het (meer oor hierdie interessante en ongewone tendens ’n bietjie later). Die verskil was dat die party se wit, Afrikaanse steun dramaties gedaal het, spesifiek in Gauteng en dele van Noordwes. Daardie steun het grootliks na die VF Plus gegaan, en hoewel dit uiteraard nie moontlik is om te bewys of dit werklik so ’n netjiese som is nie, is dit dan ook geen verrassing nie dat die getal setels waarmee die DA gedaal het en die getal setels waarmee die VF Plus gestyg het, byna presies dieselfde is.

      Maar voordat ons by daardie wit Afrikaanse stemme kom, kom ons kyk wat met die swart DA-stem aangaan. Dis nogal ’n vreemde storie. Die DA se aandeel in die swart stem het taamlik dieselfde gebly, maar dis veral buite die Wes-Kaap erg kol-kol, en heel ander kolle as in 2014. Daar is in baie gevalle nie vasgehou aan swart steun in gebiede waar die DA in 2014 belowende groei getoon het nie, maar dan slaan daar nuwe beduidende swart steun uit op heeltemal ander plekke sonder ’n duidelike geografiese patroon.

      Ek het hieroor by DA-veterane gaan kers opsteek. Hulle was nie verras nie. Hul verklaring was dat die DA se swart steun baie afhang van die rol van individuele sterk swart DA-leiers in spesifieke gemeenskappe; die steun volg die leier en as die leier aanbeweeg na ’n ander gebied, slaan die steun weer daar uit, of op nuwe plekke waar nuwe sterk swart leiers hulle by die DA aansluit. Dis dus meer individuele as partysteun, met die individuele leiers en die party wat in die praktyk (uiteraard nie formeel nie) mekaar gebruik om steun te werf – ’n dikwels opportunistiese verhouding van verbygaande aard. Daarom skiet die DA-steun op plekke op, brand soms uit tot reste en slaan dan weer op ander plekke uit.

      Dit is natuurlik ver van verkieslik af vir die DA, en dit is interessant om te kyk wat die verskil is met plekke waar die DA se swart steun meer standhoudend en blywend is. ’n Maklike voorbeeld is Kayamandi, die grootliks Xhosasprekende township by Stellenbosch in die Wes-Kaap, waar die DA se syfers stadig maar standhoudend groei. Een van die belangrikste redes hiervoor is die voortdurende opbouende betrokkenheid van die Stellenbosse DA by armoedeverligting in Kayamandi. Dit is nie ’n projek hier en daar voor verkiesingstyd nie, maar die wete by ’n groeiende aantal inwoners dat die party hulle help om die wolf van die deur te hou.

      Dit is wêreldwyd nie eintlik die gewone rol van ’n politieke party nie, maar sulke gemeenskapsbetrokkenheid is wat dit verg om volhoubare kiesersteun in Suid-Afrika te trek. Ons sal trouens sien dat waar die DA hierdie tipe gemeenskapsbetrokkenheid handhaaf, sy steun goed is, en waar hy daarmee misluk, sy steunvlakke sukkel. Dit geld nie net swart kiesers nie – dit is presies wat met die deel van sy wit Afrikaanse steun wat weggeval het, gebeur het.

      Waarop dit neerkom in Suid-Afrika, is dat die kiesers nie vir jou hul stemme gaan leen as jy as politieke party jou nie gaan deel maak van hul leefwêreld nie. Die politieke party moet daar wees en deel wees, die hele tyd en uit oortuiging. Dis miskien meer waar in Suid-Afrika, maar dit geld eintlik wêreldwyd. Dit staan bekend as kiesafdelingswerk en dit is hoe verkiesings gewen word – tussendeur, nie in verkiesingstyd nie. En dis nie nuus vir die DA nie. Die party se voormalige hoofstrateeg, Ryan Coetzee, het dit jare gelede al deur behoorlike navorsing bevestig en dit knap verwoord met sy gevolgtrekking dat ’n raadslid nie net soos ’n brandweerwa moet wees wat met groot gelui opdaag nadat die krisis reeds ontstaan het nie. Die raadslid moet altyd daar wees en betrokke wees.

      Dit is wat die DA goed regkry in spesifiek die bruin gemeenskap en die wit Engelssprekende gemeenskap – die openbare partyverteenwoordigers is werklik gemeenskapsleiers, almal weet wie hul raadslid is en hulle laat daardie raadslid werk vir hulle, soos dit hoort. Male sonder tal word dit byvoorbeeld in Die Son, die gewildste dagblad onder Afrikaanssprekende bruin mense in die Wes-Kaap, berig dat ’n gesin in krisis “die raadslid gekontak het” om byvoorbeeld ’n doodsiek kind hospitaal toe te vat. My gunsteling-stadsraadslid in die land is Maude Goliath van Malmesbury in die Wes-Kaap. Sy is onderburgemeester van die Swartland-munisipaliteit. Vir die geliefde Antie Maude, soos almal in haar wyk haar ken, is dit ’n roeping om raadslid te wees. Een van die wyk se inwoners, die joernalis Johann Maarman, vertel graag dat as die vullislorrie die dag nie opdaag nie, ry Goliath met haar motor van huis tot huis en neem self die vullis na die stortingsterrein. Dis maar een voorbeeld van hoe sy haar gemeenskap dien. Sy is na my mening ’n rolmodel vir alle stadsraadslede.

      Die DA kry dit ook dikwels goed reg op stadsraadsvlak in ander gemeenskappe, waaronder oorwegend wit gemeenskappe in plattelandse en voorstedelike gebiede. Vir verskeie van my vriende en familie is die plaaslike DA-wyksraadslid se WhatsApp-groep die vinnigste bron van gemeenskapsnuus, en daar word meelewend deelgeneem. Dit hang baie van die gehalte van die stadsraadslid af, en ’n puik stadsraadslid is enige party tot groot heil. Die DA het dan ook op baie plekke landwyd waar die DA-stadsraadslid spesifiek goed is, relatief goed gevaar in die 2019-verkiesing. Dit is egter nie ’n klinkklare reël nie – sommige plekke se politieke dinamika maak dit maar moeilik vir ’n raadslid wie se party eerstens versoening, nie-rassigheid en streng bestuur nastreef. En dan het die situasie op provinsiale, nasionale en leierskapvlak in die DA teen 2019 ’n punt bereik waar selfs die diensbaarste plaaslike DA-verteenwoordiger baie harder as tevore moes werk om sy of haar kiesers te oortuig dat die DA nog die party van professionaliteit, versoening, goeie bestuur en uitnemendheid is.

      Soos reeds aangetoon, was dit meer van ’n probleem vir wit Afrikaanse en swart kiesers as kiesers in ander gemeenskappe; so kom ons fokus op daardie twee kieserskorpse. Ek is huiwerig om myself uit te gee as veel van ’n kenner oor die DA se vertoning onder swart kiesers. Net kortliks, sover ek kon vasstel uit terugvoer van DA-leiers, gedrukte, elektroniese en sosialemedia-nuusdekking van swart townshipkiesers, en anekdotiese terugvoer van swart vriende en kennisse, is die redes hoekom die DA nie in 2019 hul beoogde groei in swart gemeenskappe bereik het nie, eintlik oorbekend. Die grootste uitdaging is dat die DA weliswaar redelik vaar onder die veral stedelike swart middelklas, maar glad nie goed vaar onder arm swart kiesers in landelike gebiede en by name stamgebiede nie, en ook nie werklik hond haaraf maak onder swart townshipkiesers nie.

      Ons het reeds gekyk na die verskynsel van individuele plaaslike swart leiers wat DA-steun laat opvlam of verflou, en na die noodsaaklikheid van voortgesette gemeenskapsbetrokkenheid eerder as die brandweerwa-model, maar die DA se gebrek aan swart groei het eintlik ’n baie meer omvattende en moeilik veranderbare oorsaak. Dit is dat arm swart kiesers nie die DA sien as ’n party wat omgee vir hulle nie. Die persepsie is dat die DA nie in beginsel onverskillig gekant is teen arm swart kiesers se belange en probleme soos die persepsie van die VF Plus is nie, maar dat die DA die belange van minderhede en die middelklas bo arm, swart belange stel. Die persepsie word versterk deur die feit dat DA-raadslede bykans eksklusief wyke verteenwoordig wat bestaan uit minderheidsgebiede (soos bruin en Indiër-bevolkingsentra), middelklasgebiede en (in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap) landelike gebiede waarin swart mense nie ’n meerderheid vorm nie. Omdat daar mededinging om beperkte munisipale bronne is, sal enige raadslid wat sy of haar sout werd is, hul bes doen om soveel moontlik besteding en ontwikkeling te verseker vir


Скачать книгу