Gaan Suid-Afrika oukei wees?. Jan-Jan Joubert
Читать онлайн книгу.as u gelukkig genoeg was om tot dusver van sy bestaan onbewus te wees) om hom uit te laat oor Afrikaans. Die reënboognasie is nog altyd daar, ten spyte van Groenewald, soos wat Afrikaans nog altyd gepraat word ten spyte van Lesufi. Groenewald se bydrae tot die reënboognasie is vergelykbaar met Lesufi se bydrae tot Afrikaans – die bietjie wat hulle daartoe bydra is bloot omdat hulle deur die Grondwet daartoe verplig word. Hul optrede is dikwels teenproduktief vir diegene van ons wat glo in Afrikaans en in die reënboognasie – onder meer dus in Afrikaans as ’n vriendelike taal. Die twee moet hulle hou by kwessies waarvan hulle iets weet, iets waartoe hulle in hul politieke loopbane bygedra het. Daarvan is daar genoeg. Party mense dra swaar aan hul geskiedenis – so min as wat Lesufi en sy mense bevoeg is om die welstand van Afrikaans en die keuse vir Afrikaans te oordeel, so min is Groenewald en die VF Plus bevoeg om oor die welstand van die reënboognasie en die keuse vir die reënboognasie te oordeel. Hulle kan dit oorlaat aan diegene van ons wat kies om Afrikaans en die versoenende, nie-rassige reënboognasie uit te leef; diegene van ons wat ons Grondwet probeer versinnebeeld eerder as om dit as verdelende wapen aan te wend. Kortom, soos die Kaapse uitdrukking sê, kan mense soos Lesufi en Groenewald uit die water uit staan.
Maar dit lyk in alle eerlikheid in elk geval asof die stemme waarmee die VF Plus gegroei het, in ’n groot mate ’n protesstem teen die DA was. Soos reeds aangedui, is die mense om daaroor uit te vra die VF Plus, nie die DA nie. Uit my gesprekke met bronne in die VF Plus het veral ses redes vir die swaai onder Afrikanerkiesers van die DA na die VF Plus geblyk.
Interessant genoeg, en dalk nie verrassend nie, het nie een van daardie redes hom voorgedoen toe die DA om die redes vir sy verlies aan steun gepols is nie.
Die eerste rede was die Ashwin Willemse/Nick Mallett-voorval. In die middel van ’n regstreekse rugbygesprek tussen Willemse, Mallett en Naas Botha op SuperSport het Willemse hom vervies vir sy mede-paneellede en die stel verlaat. Later het dit geblyk sy irritasie met spesifiek Mallett se ingesteldheid kom ’n lang pad.
Die DA-leier, Mmusi Maimane, het dadelik Willemse se kant gekies en die voorval as rassisties bestempel. ’n Ondersoek deur adv. Vincent Maleka het egter bevind geen rassisme was betrokke nie. Die geleentheid is deur Groenewald en die VF Plus aangegryp om aan te toon dat die DA rassisme beweer het waar daar geen rassisme was nie, en dus vir Mallett en Botha te na gekom het.
Groenewald se standpunt sou ongetwyfeld aanklank vind by sommige wit kiesers wat – ten regte of ten onregte – voel dat hulle onregverdig op grond van hul ras geblameer word vir alles wat in die land verkeerd is. Dit kon hulle laat dink dat die DA deel van daardie probleem is, en hulle laat twyfel of hulle die DA se waardes, soos versinnebeeld deur sy leier, deel.
Die tweede kwessie wat die DA-boot onder Afrikaanse kiesers laat lek het, was die Patricia de Lille-sage, wat bykans ’n jaar lank voortgewoed het.
Nadat De Lille in 2011 haar party, die Onafhanklike Demokrate (OD), met die DA laat saamsmelt het, het sy gou die bekendste Afrikaanssprekende leier van die DA geword. Hoewel sy, soos enige politikus, nie om dieselfde vuur met almal in haar nuwe party gesit het nie, was sy baie gewild by die publiek, en spesifiek Afrikaanssprekendes van alle rasse en klasse.
De Lille het as Wes-Kaapse provinsiale leier van die DA en as burgemeester van Kaapstad die munisipale verkiesingsveldtog van 2016 vir die party in sy Wes-Kaapse hartland gelei, wat uitgeloop het op die DA se grootste oorwinning ooit: ’n bykans tweederdemeerderheid in Kaapstad en 62% van die stemme in die Wes-Kaap. Die DA het die regering gevorm in 29 van die 30 Wes-Kaapse munisipaliteite, met inbegrip van ’n paar koalisies met ander partye.
Direk ná die 2016-verkiesing het die media begin berig oor spanning tussen De Lille en ander DA-leiers. Soos dit maar gewoonlik met hierdie tipe interne geskille gaan, het die verdeeldheid eers stadig gebeur, en toe vinnig. Deurgaans het die stryery in die openbaar oorgekook, en die DA se beeld as ’n gediversifiseerde maar eensgesinde en professioneel-bestuurde maatskappy groot skade berokken.
Verskeie bewerings is vanuit die DA teen De Lille gemaak, en ’n paar van die kwessies het voor die hof beland. De Lille het telkens die hofsake gewen. Daar was by baie gewone DA-kiesers groot verwarring oor wat sy nou eintlik verkeerd gedoen het, of dit hoegenaamd erg genoeg was vir die stappe wat teen haar gedoen is en of sy regverdig behandel is.
Toe sy uiteindelik, ná die een stryery op die ander, instem om as Kaapse burgemeester te bedank nadat ’n betekenisvolle minderheid van haar koukus telkens geweier het om van haar ontslae te raak, was die DA sy prominentste en mees charismatiese Afrikaanse leier kwyt. Geen ander Afrikaanse leier het sedertdien enige vergelykbare prominensie of gewildheid geniet nie. Dit het baie Afrikaanssprekendes laat voel dat daar nogmaals teen ’n mede-Afrikaanssprekende gediskrimineer is, wat kiesers minder tuis in die DA laat voel het en ander politieke tuistes, soos die VF Plus en Good, laat oorweeg het.
Intussen het die VF Plus rustig voortgegaan om sy verkiesingsveldtog te beplan, met geen aanduiding van vergelykbare interne spanning nie. In vergelyking met die DA het die VF Plus die tipe stabiele, eensgesinde en Afrikaansgesinde beeld begin kry wat vir sommige kiesers ’n aantreklike opsie bied.
Die derde voorbeeld uit die VF Plus van ’n deurslaggewende blaps was die besluit deur die DA om in sy rapport vir die ANC-regering ’n hemelhoë punt van 7,5 uit 10 toe te ken aan Lesufi as Gautengse LUR vir onderwys. As daar een mens in die ANC is wat ’n uitgesproke teenstander van Afrikaans as onderrigtaal is, en daarvoor deur die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes verag en verafsku word, is dit Lesufi. Nugter weet hoekom die DA hom so hoog aanslaan.
Terloops, die DA het dieselfde persoon wat die dryfveer agter die hoë punt vir Lesufi was, ná die 2019-verkiesing weer aangestel as die party se onderwyswoordvoerder in die provinsie. As daardie persoon, die DA-LPW Khume Ramulifho, meen Lesufi is so wonderlik, moet hy dalk eerder by Lesufi aansluit as om voor te gee dat hy hom opponeer.
Dat Lesufi die grondwetlike ideale van veeltaligheid en versoening verontagsaam en rassespanning aangeblaas het, is gewis in ANC-kringe besef. Enkele dae nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy presidentsrede op Loftus Versfeld in Pretoria gesê het niemand moet voel daar word teen hom of haar gediskrimineer op grond van onder meer taal nie, is Lesufi verskuif, weg van onderwys, na finansies.
Lanklaas was daar soveel blydskap oor ’n politieke aanstelling in die Afrikaanse gemeenskap. Dit het Afrikaanse nuusbulletins oorheers en daar is byna geen Afrikaanse kultuurorganisasie wat nie openlik in die wolke was daaroor nie.
En toe, twee dae later, word hy heraangestel as Gautengse LUR vir onderwys, om redes wat seker later behoorlik bekend sal word. Dit was een van die grootste nederlae vir die grondwetlike verbintenis tot meertaligheid in baie jare. Die VF Plus het binne ure die gevoel van Afrikaanssprekendes en liefhebbers van die taal (van alle politieke oortuigings) saamgevat met sy stellings dat hulle Lesufi aggressief sal teenstaan en sal poog om alle opposisiepartye in Gauteng teen hom te verenig. Waar was die DA?
Die vierde geval wat deur bronne in die VF Plus uitgelig is, hou ten nouste met die derde voorbeeld hierbo verband. Dit was die gebeure by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging, wat verkeerdelik geteiken is weens die skool se beleid om Afrikaans as taal van onderrig te gebruik – soos die Suid-Afrikaanse Skolewet onteenseglik toelaat.
Die skool het die teiken geword van massa-optrede deur politieke partye soos die EFF, asook deur ander drukgroepe, om sy voertaal te verander. Lesufi was voor in die koor om die skool te teiken eerder as om die beheerliggaam te ondersteun. Namate die druk oor dae opgebou het, was die seine uit die DA aanduidings van ongemaklikheid eerder as ondersteuning aan die skool. Die reg op onderrig in Afrikaans is nie pro-aktief en dapper deur die Gautengse onderwyswoordvoerder van die DA – wat tot in daardie stadium basies volstrekte steun onder daardie skoolgemeenskap geniet het – verdedig nie.
Nogmaals het die VF Plus die geleentheid aangegryp. Na betroubaar verneem word, was dit uiteindelik die nasionale minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, wat uit eie oortuiging ingegryp en die situasie ontlont het deur Lesufi daarop te wys dat dit darem werklik nie regverdig is om van ’n skool te verwag om sonder ewige kennisgewing sy taalbeleid te wysig nie.
Wat die meriete van die saak ook al, die VF Plus het meer onomwonde as die DA die kant van die tradisionele DA-kiesers,