Geheim van die Erongoberge. Magdaleen Viviers
Читать онлайн книгу.’n smalende glimlag kyk hy skuins na die man langs hom. Blykbaar ken die mense by die grenspos vir Beukes, want hulle het glad nie hul bagasie deursoek soos hy gevrees het nie. Beukes beweeg seker baie deur die verskillende grensposte. Hy kry hom amper jammer. Die man het seker nie ’n behoorlike werk nie, dis waarom hy hierdie soort ding doen.
Dis te platvloers vir hom wat Charl is. Hy wil liewer in die stad met al sy opwinding en meisies bly. Binnekort sal hy alles kan bekostig wat sy hart begeer. Met ’n verveelde sug kyk hy by die venster uit.
Wim se blik rus op die Karasberge wat swart bo die aarde uittroon in die naderende sonsopkoms. Met ’n sug van genoegdoening maak hy die venster oop en trek die koel, vars oggendlug diep in sy longe. ’n Innerlike vrede kruip in sy hart. Hy’s weer tuis, weer terug in die natuur tussen die vlaktes en berge. Hier voel hy weer mens. Voel hy weer die nabyheid van sy Skepper aan.
Sy blik gaan terug na die truspieëltjie en hy merk hoe die twee meisies dieper in hul baadjies inwoel. Met ’n glimlag draai hy die ruit weer toe. Gelukkig het hulle nie te lank by die doeane vertoef nie. Hy gaan ook so gereeld daar deur dat hulle hom al ken.
Toe die dorpie Karasburg ’n ruk later in sy gesigsveld kom, maak hy die ander wakker. “Is julle ook lus vir koffie, of sal ons maar deurry, aangesien julle almal slaap?”
Taljaard lig dadelik sy kop op waar hy ook gesit en slaap het. Hy frons. “Wil jy al weer stilhou? Ons mors tyd, man. Ek sê ons ry aan.”
Wim ignoreer hom. Hy verwerdig Taljaard nie eens ’n antwoord nie en kyk om na Tertius.
“Nee, ek slaap nie, maar koffie sal nou vorentoe smaak,” laat dié haastig hoor. Hy skud aan die twee meisies. “Wil julle koffie hê?”
Vaak gaap Simoné agter haar hand. “Natuurlik is ons lus vir koffie. Waar is ons? Gaan ons nou stilhou? Is dit nog koud buite? Wanneer eet ons?”
Wim kyk na agter waar sy in die middel sit, maar vra aan Tertius: “Vra sy altyd so baie vrae, al is sy nog so deur die slaap?”
Tertius lag. “Ek skat so.”
Hy merk hoe Wim effens frons en sy glimlag verbreed.
“Dis halfses. As ek nou in my woonstel was, het ek nog heerlik gelê en slaap.”
Bibberend kyk Simoné op haar horlosie toe Joan dit sê terwyl hulle hul koffie staan en drink waar hulle by die vulstasie stilgehou het om brandstof in te gooi.
“Wel, dis Saterdag en ek sou definitief ook eers laat opgestaan het, vernaam wanneer dit so koud is.” Simoné hou die stomende koffiehouer tussen haar hande en kyk deur die wasem na Wim Beukes, wat omdraai na haar.
“Ek kon dink dat jy ook ’n laatslaper is. Julle stadsmense mis die mooiste gedeelte van die dag en dis vroegoggend. Die sonsopkoms. Die natuur is dan op sy mooiste.”
Sy vergaap haar aan die man voor haar se nou lewendige ligblou oë. Hy het die mooiste oë aan hom, dink sy, en natuurlik daardie sexy glimlag van hom. Hy geniet dit om so in die natuur te wees, besef sy.
“Vir jou inligting: ek staan elke oggend halfses op. Dis net Saterdagoggende dat ek laat slaap.”
“Hm-hm. Wanneer laas het jy die sonsopkoms gesien? Voëls hoor sing? In die veld gaan stap? Na die stilte van die natuur geluister?”
“En ek dog ék vra baie vrae! Ek kan nie onthou nie, maar –”
“Dis presies waarvan ek praat, meisiekind. Jy moet ’n slag na die natuur om jou kyk. Julle is te vasgevang in julle selfgemaakte blink stadslewe. In julle eensame mensgemaakte koue.”
“Ons moet ’n bestaan ook maak.”
“Seker ook waar, nè?”
Hy stap weg en laat ’n gefrustreerde Simoné agter.
Charl sluit by hulle aan van waar hy ’n entjie weg gestaan en na Simoné en Wim se gesprek geluister het.
Sy stem is duidelik sarkasties toe hy sê: “Ek het jou gesê Beukes hou nie van vroumense nie. Die man het seker nie ’n ordentlike werk nie, dis waarom hy ander rondkarwei. Hy het oorgretig my aanbod aanvaar toe ek hom die voorstel gemaak het. Seker ook maar platsak gewees.”
Joan kyk Wim agterna, draai dan terug na Taljaard voor haar. “Nou wat van sy woonstel in daardie spogbuurt?”
“Dis reg. Hy moet geld hê om daar te kan woon, en ook om so ’n duur voertuig te kan bekostig,” sluit Simoné by haar aan. Hulle is onbewus van Wim wat die groepie stil nader.
Spottend kyk Taljaard na haar. “Daardie Discovery is beslis nie syne nie, nog minder daardie woonstel. Dalk het hy dit by ’n vriend geleen. Ek wed jou hy besit nie eens ’n motor nie. Kyk hoe verbleik is daardie denim van hom. Hy het beslis ook nie goeie smaak wat klere betref nie. Vir my lyk hy of hy liewer tussen die bosse hoort.”
Simoné vererg haar vir hom. “Elke mens se smaak verskil, en hy hou seker daarvan om so aan te trek. Ek is seker –”
Wim se ysige stem val haar in die rede en laat hulle vinnig omswaai na hom. Verskrik kyk sy op in sy streng gesig. Sy het hom glad nie hoor naderkom nie.
“Vir jou inligting, Taljaard: dis mý woonstel en mý motor, en ek verkies om liewer tussen die bosse te wees as in die beskawing tussen mense wat dink hulle is beskaafd. Ek sal dit ook waardeer as julle my nie in my afwesigheid bespreek nie.”
Sy ysblou oë draai na Simoné en ’n rilling hardloop teen haar ruggraat af. Haar hart ruk in haar keel. Sy oë verander en nou lag sy spottende blou blik haar beslis uit. Sy voel soos ’n gek. Waarom het sy toegelaat dat Charl Taljaard haar uitlok?
Haastig verdedig sy haarself: “Ek het nie van jou geskinder nie. Buitendien stel ek nie belang –”
“Daarvan is ek nie so seker nie. Ek wil ry, met of sonder julle,” beveel hy.
Met ’n uittartende laggie laat hy haar weer gefrustreerd agter toe hy wegstap. Sy gluur hom agterna en trippel effens van frustrasie.
Oee, die mansmens maak my so kwaad! storm haar gedagtes. Hy het die vermoë om my soos ’n bakvissie te laat voel wat niks tussen die ore het nie! Verbeel jou, ek in hom belangstel!
Magteloos bal sy haar vuiste. Sy kyk om na Tertius toe dié haar aan die elmboog neem en haar na die Discovery stuur.
“Wim wag net vir jou. Almal is al in die motor en jy staan en droom. Hy dreig om vir jou weg te ry.”
“Man, ek droom glad nie! Dis daardie mansmens wat my so kwaad maak. Hy beweer dat ek van hom skinder. En hy moet dit net wáág om vir my weg te ry!”
“Het jy nie van hom geskinder nie?”
“Tertius, jy’s party dae net so moedswillig. Waar was jy toe hy my beledig het?”
Hy antwoord haar nie, help haar net laggend die voertuig in.
Simoné vermy die lang man se blik in die truspieëltjie. Sy kan aanvoel dat hy na haar kyk. Sy is ook seker dat hy haar weer stilletjies uitlag, en dit maak haar nog meer omgekrap. Sy dwing haar blik na buite.
Dis egter of ’n mag buite haarself haar dwing om terug te kyk na die truspieëltjie. Sy ontmoet Wim se ligte oë en sien die openlike spot daarin lê. Sy gluur hom ’n oomblik aan voordat sy ongemaklik wegkyk, en sy verwens hom stil in haar gedagtes. Magteloos besef sy dat daar net iets aan hom is wat haar lok.
Nee, nie lok nie … Sy byt haar onderlip vas en frons. Dis iets anders. Daar straal ’n magnetisme uit hom wat haar onweerstaanbaar nader aan hom trek. ’n Krag waarvoor sy magteloos staan. Ag, sy weet ook nie. Hy maak haar so deurmekaar. Al wat sy weet, is dat sy in hierdie volgende paar dae uit sy pad moet bly. Vir haar eie gemoedsrus se onthalwe.
Sy kyk nuuskierig rond toe hulle die dorp Keetmanshoop nader. Dan kyk sy op haar horlosie. Dis halfagt.
Sy uiter die ander se gedagtes hardop: “Ek hoop nie jy dink ons moet êrens in hierdie klein plekkie ’n ordentlike ontbyt nuttig nie?”