Tik. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.veral as die rooi regmerk langs sy gesig blits: Kat Harmse. Maar hy het ’n gevoelentheid vir kinders in hom en ’n klein hartjie as dit by gesinsake kom. Hy was getroud met ’n regte teeferasie, ’n losgat van ’n vrou, wat ná die egskeiding die sorg van sy seun gekry het. Deesdae word op haar hoipolloi-partytjies wit strepe poeier met ’n glasstrooitjie van ’n stuk spieël af opgesnuif om die paartie meer skop te gee, terwyl sy laaitie sonder kos in die kamer lê. En as iemand so dapper is om oor Kat se skewe neus te vra, sê hy gewoonlik: “So gemoer, nie so gebore nie.” As jy mooi en jonk en vroulik is, kan jy maar vra, maar as jy nie al bogenoemde eienskappe het nie, is dit veiliger om eerder nie aanmerkings te maak nie, tensy jy van kleins af ook so ’n neus wou gehad het.
Kat se groot swart snor neuk alewig om by sy mondhoeke in te krul; hy is juis besig om die punte met die kneukel van sy regterwysvinger uit sy mondhoeke te vee, eers links, dan regs, altyd eers links en dan regs. Dit is sy “move” wat hy sweer ’n wellusprikkelende uitwerking het en gewaarborg is om enige mooi jong vrou se bene lam te maak – veral as hy nog met sy donker oë so half geheimsinnig en smeulend onder deur sy ruie swart wenkbroue na die slagoffer loer.
Kat skop na ’n leë Coke-blik op die sypaadjie, kom teruggestap. “Jeromepie! Danelle moet haar stront los!” Hy bly ’n ruk stil en kom leun weer met sy boude teen die motor. “En daai Louis-prokureurtjie moet sy gat in rat kry, ek móét net die toesig van Rohan terugkry, voordat hy ook daai wit stront begin snuif.” Hy loop rusteloos, met sy hande diep in sy sakke weer ’n draai om die boom, voel aan die aanknipholster agter sy heup.
Kat hoef nie te verduidelik nie, Jerome ken die storie. Louis du Randt is Kat se prokureur, Danelle sy hupse gewese vrou en Rohan sy sesjarige laaitie. “Ja-uh.” Jerome vou sy arms voor sy bors en sug simpatiek. Wat kan hy anders sê? “Hier kom Pine,” sê hy dan en beduie straataf na waar ’n man onder die geel band deurbuk, net wanneer die straatligte begin aanflikker.
Brigadier Pine Pienaar is groot en breed en sy skouers begin onder sy ore, van jare se voorry speel vir die ou Transvaal – baie soos die skouers van ’n brandewynbottel. Dit lyk asof hy nie ’n nek het nie, en sou jy na die oorsaak dáárvan vra, sal hy jou vertel dit het eintlik niks met rugby te doen nie, maar is van nagte se pajamadril met ’n fris, skreeuende koliekbaba in die arms. Nie vet nie, net fris, en moet eendag ook rugby speel, soos sy pa. Hy is ook die bevelvoerder van die Valke se eenheid vir georganiseerde misdaad in Gauteng.
Kat en Jerome stap Pine tegemoet. “Pine, wat kom soek jy hier?” vra Kat. “Jy’s nou ’n speknek-direkteur en is veronderstel om jou agterent te sit en blink skuur agter ’n lessenaar, of saam met generaal Silkaats tee te drink,” brom hy in ’n poging om die aandag af te lei van die tragedie daar op die stoep.
Pine steek sy kromsteel op, beduie daarmee na nommer dertien se stoep. “Wat het hier gebeur?”
“Hel, Pine,” sê Kat met sy halwe oor in die hand, “die laaitie het sy pa se pompaksie-twaalfboor in die hande gekry, nommereens in die magasyn.” Hy spoeg nog ’n blerts windaf, vee sy snor skoon. “Dit was nie mooi nie.”
“Motief?”
“Dit smaak my die laaitie se tik het opgeraak en sy ou toppie het sy brood afgesny. Toe kon hy nie meer koop nie, en raak toe kwaai aggravated met die automatic bazooka saam.” As Jerome snaaks wil wees, of as hy ontsteld is soos nou, slaan die taal wat hy op die Kaapse Vlakte geleer het, gewoonlik sterk deur.
“Ek verstaan julle het een geskiet, dis waarom ek hier is – Mkhize het my in bevel van die ondersoek dáárvan geplaas.”
“Ag hel, dit ook nog!” sug die groot speurder moedeloos. “Ek het die bliksem geskiet, Pine. Jerome het niks daarmee te doen nie, sy pistool is flenters geskiet voordat hy ’n skoot kon aftrek.” Kat se oë raak skielik vasgenael op ’n figuur met ’n wit jas wat doenig is by een van die komberse. “Daar sal nie probleme wees nie, dit was ons of hy,” sê hy afgetrokke.
Pine volg sy oë na die witjasfiguur, knipoog vir Jerome.
Dr. Annie de Villiers, patoloog en forensiese deskundige, en die sexyste ding wat Kat nog op twee lang slanke bene gesien het. Mooi Annie, noem hy haar dan ook, natuurlik sonder dat sy weet. Sy’s ook die enigste vroumens vir wie “die move” glad nie werk nie, want sy’s te hoipolloi vir hom – of so reken hy.
Pine steek sy pyp op, blaas die blou rook die lug in. Om Kat so beenaf te sien is iets om oor te glimlag. “As julle klaar is hier moet julle kantoor toe kom dat ons die papierwerk kan afhandel.”
“Mmm,” sê Kat.
“Mmm wat?” vra Pine.
Sy wat Kat se onverdeelde aandag geniet, maak ’n laaste draai om die lyk, skryf iets op ’n knipbord voordat sy in die tuinpaadjie na die drie speurders aangestap kom. Die wit jas is oopgeknoop en die pante wapper agter haar in die wind. Kat sien hoe die wind haar bloes teen haar bolyf vasdruk en sy mond word droog.
Annie de Villiers is lank met lang swart hare wat sy in ’n Franse vlegsel dra. Haar oë is donker agter ’n byderwetse, reghoekige swartraambril. Sy het ’n blou denim en rooi bloes aan onder die wit laboratoriumjas. “Brigadier Pienaar, ons is klaar hier,” sê sy. “Kan ons maar die lyke verwyder?” Haar stem is diep en heserig, en dit laat Kat senuagtig met sy snor doenig raak.
Pine knik. “Ja wat, Kat en Jerome is eintlik in bevel van die ondersoek, maar hulle kan tog niks sonder die forensiese verslag doen nie.”
Annie trek die jas oor haar skouers af en hang dit oor haar arm. Onder die jas het sy ’n Z88 in ’n aanknipholster.
Bliksem! Kat gee die snor weer ’n paar driftige vrywe. Met daardie bloes is dit wragtig moeilik om haar in die oë te kyk.
“Kolonel Harmse,” sê Annie en kyk Kat effens uit die hoogte aan, “my oupa se snor het hom toe hy oud geword het net so geïrriteer. Hy het altyd vloerpolitoer aangesmeer en die punte gedraai om die hare uit sy mondhoeke te hou. Jy kan dit gerus ook probeer.” Sy draai om en loop wipgat terug na die stoep. “Totsiens,” roep sy oor haar skouer, terwyl sy die ambulansmanne met die draagbare nader wink. By die hekkie draai sy om, loer weer in Kat se rigting. “Jy kan die grillerige ding natuurlik afsny ook,” sê sy.
Wat de hel het hy nou gedoen om dit te verdien? Dit is net ’n forensiese patoloog wat in sulke omstandighede nog kan probeer simpel wees ook. Dit onderstreep maar net wat hy van haar vermoed, dat sy geen emosies het nie, so koud en taai soos gistermiddag se braaivleis. G’n wonder die manne by die stasie noem haar Doctor No nie.
Kat kyk vir oulaas by haar verby na waar die ma en haar seun se bloederige oorblyfsels op draagbare gelaai word. ’n Buurman het gelukkig die malteser kom haal. Wat ’n verdomde vermorsing van die lewe. Hy gee sy neus ’n pluk voordat hy die motordeur oopmaak. “Kom, Jerome, kom ons ry,” sê hy sonder om verder na nommer dertien te kyk.
2
Die groot houtdeur klap met ’n harde slag agter Charlie Stevens toe; hy luister na die skerp geknars van ’n sleutel in die slot voordat hy in die oggendlug opkyk. Die sonlig wat van die teerstraat weerkaats, laat hom sy oë ’n oomblik toeknyp. Hy het die afgelope agt jaar te min son gesien – sonlig wat deur tralies val, tel nie. Daar is ’n dynserigheid wat plek-plek nog bokant die stad hang, en die lewe buite die tronk ruik na konka-vure, petroldampe en nat strate.
Voor hom raas die verkeer in Potgieterstraat, in twee rigtings onder deur Dequarstraat se oorbrug voordat dit duskant Visagiestraat, anderkant die treinspoor, weer in twee strome verdeel. Dieselfde verkeer waarna hy snags, met sy rug na die muur, gelê en luister het in ’n futiele poging om nie die gekerm van die ander gevangenes te hoor nie. Die gekerm kon nog gaan, maar dit is die geroep die nag in na geliefdes wat hom later gevang het. Dit is onverstaanbaar hoe van die brekers van die plek, manne wat sit weens verkragting en moord, as dit stil en donker raak in hulle slaap na hulle ma begin roep, al was sy ook die een wat onder die mes deurgeloop het.
Wat is ’n huis sonder ’n moeder … Fok! Daar is niemand wat sou luister as hy snags sou roep nie. Die vigs en longkanker het Pa lankal in