Tik. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.die warm huis tref die koue naglug hom soos ’n nat vadoek in die gesig. Dit maak hom nog meer verward en die moer in. Dat daardie bitch dit kon waag om ’n gat te maak van hom, hy wat op sy dag Joburg se mees gevreesde hitman was. Sy, ’n skelm blondekop wat van haar man ontslae wou raak omdat hy nie vanself wou vrek nie. Sy wou hom vrek hê omdat sy sy geld wou erf. En die ou vrou was natuurlik nog ’n erfgenaam waarvan sy ontslae wou raak, maar hoekom het sy hom nie van haar vertel nie?
’n Leë kluis … ’n Lyk waarvan hy nie eers geweet het nie … en een wat reeds geskiet was toe hy die twee hol loodpunte deur sy kop gejaag het. Hoe moes hy geweet het die ou donner was klaar dood? Daar was nie baie bloed nie, ’n .22 maak nooit baie bloed nie. Dit het gelyk of hy sit en slaap so voor die verwarmer met ’n kombers oor sy ou bene. Vir wat het die witkopteef hom gehuur as sy self die werk wou doen? Dis natuurlik om hom die sondebok te maak. Hy is gefokken frame! Met sy reputasie sal dit nie moeilik wees nie. Hy is seker die pote is op pad, sy sal wel daarvoor sorg. Wat sê hy vir hulle? Wat sê hy vir enige iemand wat vra hoe hy hier beland het en wat hy op hierdie godverlate plaas soek? Wie gaan hom glo as hy sê hy het al die pad van Pretoria geryloop tot hier om tussen bokkerol en ’n paar kliprante te kom rus ná ’n harde tyd in C-Max? Om van die stad se lawaai weg te kom? Geen poot sal hom glo nie. As jy tyd uitgedien het vir moord en op parool uit is, moet jy ver weg bly van plekke en situasies soos dié een hier agter hom in die groot kliphuis.
Die maanlig laat die veld om die erf wit en spookagtig uitstrek tot by die donker horison. Langs die klipstoor lê ’n spul ou verrinneweerde implemente op ’n hoop, ’n spul gedrogte wat met geknakte ledemate in die lug grawe. In die laagte by die hek trek die maan ’n helder riffelstreep oor die plaasdam.
Dan kom daar van iewers ver weg ’n stotterende geluid. Charlie luister. Kan dit wees? ’n Helikopter? Hier? Not ’n hel, al wat hier raas is paddas en jakkalse en uile. Hy staan nog langer en luister. Maar dit is nou stil, miskien het hy hom verbeel.
Sy skoene knars op die gruis voor die agterdeur. Hy hardloop oor die kaal erf na die bakkie voor die stoor se groot skuifdeur. Sy het gesê hy moet die ou Hilux gebruik wanneer hy klaar is. Die bak, sien hy nou, het ’n vrag wat met ’n seil toegegooi is. Daar is nie nou tyd vir aflaai nie, hy moet eers net wegkom. Soos sy gesê het, is die sleutel in die skakelaar. Op die sitplek lê ’n voos ou kakiekleurige reënbaadjie; die naglug is koud en hy trek dit aan. Dit is asof hy die ou man aan die baadjie kan ruik – sweet, pyptwak en diesel. Agter hom staan die ou huis in ligte laaie, die droë oregonplanke van die vloere en die plafonne het vinnig vlam gevat, rook borrel reeds by die vensters uit en hy sien die vuurgloed agter die ruite.
Dan tref dit hom: die seun! Die mannetjie met die witkop op die foto … Is hy nog in die huis? Dalk lê hy ook iewers met ’n gat in die kop, of nog erger: Dalk slaap hy in sy bed en is die rook en vlamme reeds by hom in die kamer. Dan is hy wat Charlie is, verantwoordelik en dit is nie sy styl nie. Grootmense, ja, hulle verdien dit gewoonlik en hy word daarvoor betaal. Gewoonlik het hulle gesteel of hul vrouens verneuk, of so iets. Kinders is onskuldig en verdien nie sulke stront nie!
Charlie hardloop terug. Die kombuis is in ligte laaie, daarlangs kan hy nie. Hy hardloop na die voorkant waar hy vermoed die slaapkamers is. By ’n venster waar die vlamme nog nie gekom het nie, breek hy die glas met ’n baksteen. Diefwering is gelukkig net voor die vensters wat kan oopmaak aangebring. Hy klim deur die gat, en deur die rook wat onder die deur inborrel kan hy vaagweg ’n bed onderskei … leeg! Hy skree die donkerte in, roep na die seun wie se naam hy nie ken nie, of enige iemand wat kan hoor. Skree sommer, ook om die vrees uit sy lyf te kry. Fok! Hy ruk die gangdeur oop, skielik is daar vlamme in die kamer. Hy kan voel hoe sy klere en hare begin skroei en ’n hoesbui oorval hom. Charlie hardloop terug na die oop venster, struikel oor ’n stoel, kruip verder en val deur die gat wat hy met die baksteen in die ruit gemaak het. Buite is die lug koel op sy natgeswete gesig, die rook nog brandend in sy longe. Hy hardloop blindelings van die vlamme af weg terwyl hoesbuie uit sy longe ruk.
Agter die dik stam van ’n groot bloekom kom Charlie tot stilstand. Die vlamme peul nou by al die vensters uit en hy besef dat as daar nog iemand in die huis was, is dit te laat. As die seun nog lewend daar was, is hy wat Charlie is, sy moordenaar.
Hy hardloop wyd om die hittestraling tot by die bakkie. Die ou dieselenjin karring ’n ruk voor hy vat. By die hek huiwer hy: links of regs? Die witkop het gesê links, Volksrust toe, dis nader, maar dit is soos sy dit beplan, het natuurlik. Of nie? Sy sal weet dat hy teen hierdie tyd van haar gekonkel bewus is; dalk wil sy eintlik hê hy moet regs, in Vrede se rigting. Te hel daarmee! Die eerste ding is nou om weg te kom van die plaas af. In die truspieël kan hy die vlamme by die ou huis se dakplate sien uitlek. Die bakkie is ’n kans wat hy vat, maar hy kan nie in die nag op hierdie sinkplaatpad voetslaan nie, nie met hierdie heup van hom waarin ’n skietbedonnerde poot se koeëlpunt nog sit nie.
Hy draai die ou Toyota se neus in Vrede se rigting, sonder om die ligte aan te skakel. Daar is twee dinge aan sy kant: Die helder maan maak ligte nie nodig nie, en hy is seker die pote sal nie sonder ligte ry nie. Hy sal hulle sien lank voordat hulle hom sien.
Op die bult hou hy stil en luister vir die gedreun van ’n motor, klouter selfs op die gemors onder die seil agter op die bak en kyk lank na waar die grys pad oor ’n maanverligte bult verdwyn. Hy klouter weer af en lig die seil. Dit is allermins gemors: ’n televisiestel, radio’s, dekodeerders … dit is seker veronderstel om sy buit te wees as die pote hom stop. Hoe de hel gaan hy dít aan ’n dom poot verduidelik?
Die woede dat hy bedonner is, wel suur in sy keel op. Wat vir ’n vrou huur iemand om van haar onkapabele ou man ontslae te raak, en doen dit dan self, en sommer vir ’n encore ook die ouvrou wat seker haar skoonma was. En waar is die seun? Het sy hom ook geskiet, of het hy wat Charlie is hom laat doodbrand in die huis? Sy het hom nie by haar gehad toe sy hom opgelaai het nie, dalk is hy in die koshuis iewers, Volksrust of dalk Vrede.
En sy geld? Daar was fokkol in die kluis. Die negeduisend wat sy hom skuld, is vir hom ’n fortuin, genoeg om oor te begin, die tronk se stank uit sy neus te kry. Maar iewers, eendag sal hy haar wel kry, nou moet hy eers ’n tyd lank verdwyn, wegraak iewers op ’n stil plek. Mense se geheues is kort, hulle sal vergeet wat hier agter hom in die huis gebeur het. Daardie teef sal hy egter nie vergeet nie … sy skuld hom geld.
Maar die laaitie … dit het hy nog nooit gedoen nie, maak nie saak wat die geld is nie. In die tronk werk hulle hard met jou as jy kinders vermoor het, totdat jy Sarie Marais deur jou agterent kan fluit, sonder enige hoë note.
4
Toe Charlie teenaan die pad swart bome sien en ’n plaashuis se dak wat in die maanlig blink, hou hy stil en klim uit. Al wat hy nou nodig het, is ’n vent met ’n los maag op pad na ’n longdrop, of wat om die een of ander rede in die nag op die plaaswerf rondloop en dan die bakkie sien. Met al die skaapstelers wat deesdae die boere hel gee, sal elke poot, plaaswag, kommandolid, of wat hulle ook al in hierdie wêreld gebruik, baie gou van hom weet.
Agter sy rug kan hy teen die oosterkim nog die rooi gloed van die brandende huis sien. Voor hom, net anderkant die plaashuis, loop die pad af na ’n nou brug oor ’n blink stroom water. Volksrust, weet hy, is in die goeie ou skyt-en-betaal Transvaal en Vrede is in die Vrystaat, so iewers moet daar ’n grens wees. Nie sommer net ’n streep op die kaart nie, onthou hy, maar ’n regte egte grens. Daardie blink stroom water dáár onder by die brug moet dan die Kliprivier wees. Dis altans wat die ou vrou gesê het wat die aardrykskunde by sy agterent probeer infoeter het.
Hoekom onthou hy hierdie stront? Seker omdat hy ook kan onthou dat sy pa in ’n nugter oomblik gesê het die onderwyseres is van haar trollie af: “Die grens is die fokken Vaalrivier, Charlie! Dit is waarom ons in die ou dae gepraat het van die Trans-fokken-Vaal; anders was dit mos die Trans-fokken-Klip!” Pa het ’n manier gehad met die taal, veral as hy gesuip was. Dit het vir hom ook sin gemaak, maar daai ou vrou was naby genoeg om sy ore warm te klap; Pa was toe al weer ver weg in die Zonderwater-tronk.
In die nagstilte kan hy die gemurmel van die rivierwater oor die klippe hoor. Aan die ander kant van die stroom begin twee kiewiete luidkeels protesteer – iets moes hulle opgejaag het. Vanuit die plaashuis se rigting blaf ’n