Tik. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.hy weet, neuk hy nog in die see in as hy ver genoeg oos ry, of ten minste teen die kranse van die Drakensberge af. Die wolke het ook die Suiderkruis laat verdwyn en hy het nie ’n idee van die rigting waarin hy beweeg nie, nou ry hy maar tot die diesel opraak. Dit is beter as om stil te sit en te wag vir iets om te gebeur, en hoe verder hy van die brandende plaashuis af kom, hoe beter.
Die onweer flits en rammel onophoudelik, word net soms onderbreek deur ’n harde slag en ’n weerligstraal wat blou vonke uit die rotsagtige rante langs die pad slaan. Groot druppels begin plof op die ou bakkie se voorruit, en dan verdwyn alles plotseling om hom in die stortreën. Hy klap ’n hefboom teen die stuurwiel af, die ruitveërs begin sonder veel sukses klap-klap en skree oor die voorruit, want daar is nie meer veel rubber aan hulle nie.
Die Hilux se linkervoorwiel stamp deur ’n diep slaggat, die ou voertuig swaai na links uit die twee spore, die stuur ruk uit Charlie se hande en hulpeloos voel hy hoe die bakkie in die donker deur die lang gras teen ’n skuinste af stamp, deur ’n sloot bokspring en dan met ’n harde slag teen ’n groot rots tot stilstand kom. Die enjinkap spring oop, ’n pyn skiet deur Charlie se borsbeen – daar is nie ’n veiligheidsgordel wat kon keer dat sy bolyf teen die stuurwiel vasgestamp word nie. Die vrag op die bak ruk los en slaan teen die stuurkajuit vas, ’n televisie vlieg oor die dak en teen die oop enjinkap vas.
Die bakkie se enjin het gevrek, stoom borrel onder die kap uit en die warm metaal tik soos dit afkoel onder die reëndruppels. Weerlig dans op die rante; Charlie sien hoe dit sy hande bleekblou verlig en hy laat sak sy kop op die stuurwiel.
Fok.
Hier sit hy, die gevreesde Twostep Charlie, op ’n onbekende en faktap pad iewers in Suid-Afrika in ’n opgefokte skorro-skorro van ’n bakkie, met die weerlig wat dooierus vat op enigiets wat beweeg, of nie beweeg nie.
Die witkop sit seker nou met ’n langsteelglas en verlekker haar oor die dom donner wat ’n kontrak gevat het vir ’n sluipmoord wat sy in any case self klaar gedoen het; hy moet net sonder betaling die blaam kom vat.
Charlie maak sy oë toe. Sy skuld hom, maar daar’s niks wat hy nou in dié reën kan doen nie. Hy hoop die seun is by haar, of waar ook al, solank hy net veilig is. Die outoppies met die swart jasse en die wattekadotjies op die kop hou nie van skarminkels wat kinders aan die brand steek nie. Afgesien daarvan, hy wat Charlie is hou nogal van kinders, hy kom goed met hulle klaar. Kinders vra nie of jy in die tronk was en waar jy grootgeword het nie, as hulle van jou hou dan maak sulke dinge nie saak nie.
9
Charlie word met ’n ruk wakker … Dis ’n helikopter wat so lawaai! Hy kyk vervaard om hom rond. Die reën het opgehou, maar dit is nog bewolk; die nag is donker sonder enige teken van sterre. Dan sien hy dit: in die kantspieëls die flitsende ligte van die helikopter wat bokant die tweespoorpad hang, met ’n soeklig wat soos ’n blink naald in die veld rondpriem. As hulle spore soek, mors hulle hulle tyd, die reën het daarvoor gesorg.
Charlie hou die bewegings in die truspieëls dop. Dit kan net die pote wees. Hoe de hel het hulle so vinnig op sy spoor gekom? Die spul hier in die diep platteland is veronderstel om nog met perde en motorfietse te ry, nie bleddie helikopters nie. Hy moet wegkom!
Die deur aan sy kant is gebuig deur die stamp teen die rots; die een aan die passasierskant het weer nie ’n handvatsel nie. Hy draai die venster oop en seil deur die opening, lê ’n ruk stil in die nat gras voordat hy opspring en gebukkend deur die lang nat tamboekiegras die nag in hardloop, weg van die pad en die ou Hilux en die geklop van die helikopter se rotors. Hy struikel oor klippe en miershope wat hy nie in die donkerte en in die welige gras kan sien nie, slaan neer, strompel regop. Charlie weet hy moet so ver moontlik van die bakkie wegkom, maar die pyn in sy heup maak dit nie maklik nie. Hy hink-hink gebukkend; elke asemteug soos ’n warm yster in sy bors. Hy vermoed die stuurwiel het van sy ribbe gebreek, of sy borsbeen gekneus.
’n Doringtak krap deur sy gesig, ’n paar kiewiete vlieg skellend onder sy voete uit, vlieg om hom, duik op sy kop af – hopelik verdoof die lawaai van die helikopter die geskree van die voëls. Sy asem jaag en sy hart klop in sy ore, maar hy hoor tog die uitroepe agter hom – hulle moet die bakkie gekry het.
Charlie kan voel die grond word steiler onder sy voete, hy moet nou teen die helling wees van die groot rant wat hy teen die gesigseinder kon sien lê voordat die reën om die Hilux toegesak en hy in die sloot ingeneuk het. As hy opkyk, kan hy teen die wegdrywende wolke waarin die weerlig nog af en toe flikker die donkerder profiel van die rant sien.
Die helling word skielik baie steiler, en los klippe wat hy raak trap, rol teen die skuinste af; hy begin hande-viervoet kruip. Naby die kruin gly sy voete op die ronde los klippe; hy probeer met sy hande keer, maar beland met sy seer heup op ’n skerp klip. ’n Verlammende pyn skiet deur sy heup en die hele linkerkant van sy lyf, maak dit vir hom onmoontlik om op te staan. Agter hom raas die helikopter; dit is nou by die Hilux, sien hy, die soeklig swiep deur die veld.
Charlie weet hy sal van die skuinste moet afkom. As hulle die helikopter se motor stop en net luister, sal hulle hom gou hoor – die rollende klippe en die lawaai van die kiewiete sal sy posisie verklap. Hy probeer opstaan, kry dit nie reg nie, daar is geen krag in sy been nie. Sy soekende hande kry ’n wortel van ’n bos beet en hy trek hom boontoe. Met sy laaste bietjie krag kruip hy oor ’n rotsrif tot bo-op ’n plato. ’n Ruk lê hy op sy rug om sy asem terug te kry en om sy heup en been kans te gee om weer lewe te kry, as dit ooit weer sal. Hy sien hoe lae wit wolke vinnig onder die donker reënwolke verbygejaag. Fok, hy’s nie hiervoor aanmekaargesit nie!
Onder by die pad kan hy in die soeklig se lig figure om en op die Hilux sien rondsoek. Hy sukkel regop en begin strompelend oor die plato hardloop, weg van die lawaai wat die spul daaronder maak. In die halflig sien hy ’n groot klomp rotse en klippe tussen die gras. Hy sal ’n plek moet kry om weg te kruip, ten minste totdat dit lig genoeg is om te sien waarheen hy op pad is, anders gaan hy in ’n gat neuk of homself flenters hardloop teen ’n rots of ’n ding wat hy nie kan sien nie, of dalk aan die ander kant van die plato afneuk. Hy is nou naby die rotsagtige oorkantse rand van die plato; in die ooste begin die lug reeds rooi verkleur.
In die grou lig sukkel hy aan op die platorand. Hy moet ’n plek kry om af te klim, maar hier val die rotsrand meer as vyftien meter loodreg na onder. Rimrock country, noem die cowboys dit in die gehawende Louis L’Amour-boeke wat hy in die tronk gelees het. In daardie boeke was daar altyd ’n plek waar selfs ’n man te perd kon afgaan, hy moet net soek.
Dan kry Charlie ’n skeur in die rotsrand en hy syg op die grond neer. Met elke asemteug raas sy bors. Die pyn in sy heup en die miltsteek in sy sy is ondraaglik. As ’n man ses jaar in die tronk gesit het, is jou lyf nou wragtag nie juis in ’n toestand om in die nag aan veldwedlope oor berge en dale en oor klippe en rotse deel te neem nie.
Die skeur bied wel ’n moontlikheid om van die plato af te kom. Die helling in die skeur af is skuins en loop soos ’n glybaan tot waar ’n doringboom jare terug wortelgeskiet het. Deur die jare moes voëls allerlei sade vanuit die takke laat val het, want dit het weer wortelgeskiet en nou is die doringboom se stam omring deur doringagtige bessiestruike. Dit is waarom Charlie nie verder ondertoe as net tot by die boom kan sien nie.
Die son het intussen sy rooi gesig bo die oosterkim begin uitsteek, en die grassade en kruine van die hoër rante na die weste is in ’n oranje gloed gehul. Hy moet hier wegkom! Agter hom hoor hy die toere van die helikopter se motor versnel, hulle styg seker weer op. Daar is nou geen ander uitweg nie, hy sal net in die skeur móét af, op hierdie kaal plato staan hy uit soos ’n puisie op ’n vark se agterent.
Charlie klim versigtig in die skeur in, verloor sy balans op die los klippe en gruis wat deur die jare hier moes ingespoel het. Sy voete gly onder hom uit en die eerste paar tree af na die boom se stam toe gly hy op sy sitvlak in ’n stroom van klippe en dassiemis en dooie doringtakke teen die steil helling af. Dan kry die klippe momentum en dit word ’n rotsstorting in die kleine. Charlie gryp die stam van die boom krampagtig met albei arms vas, skop met sy voos tekkies teen die rotse tussen die bessiebosse vas om te keer dat hy saam met die gemors oor die afgrond onder die boom aftuimel. ’n Groot voël wat bo in die boom sit en