Tik. Piet Steyn

Читать онлайн книгу.

Tik - Piet Steyn


Скачать книгу
die tronk was daar ook ’n bliksem wat almal Vader moes noem, maar hy was nie ’n vader van kinders nie, hy was die baas van die plek, die donner wat jou oor ’n wasbak laat vasdruk het totdat jy later nie meer kon sit nie, en dit net omdat jy nie genoeg respekte betoon het of nie jou protection siegrets betaal het nie.

      Dieselfde harde hande van netnou pluk Charlie regop.

      “Hoe het julle my so gou gekry?” waag Charlie dit.

      “Omdat jy fokken stupid is.” Rambo met die moesie beduie met sy skietding na die pad wat Charlie deur die gras en klippe oopgebeur het. Die nat gras blink silwer in die oggendson, en sy spore lê soos die donkergroen sleepsel van ’n seekoei oor die plato. Sy pa het altyd gesê hy moet uit die veld uitbly, hy is nie ’n boer of ’n jagter se gat nie. Toe begin hy maar mense jag.

      Hulle trek ’n stink sak oor sy kop en bind dit onder sy ken om sy nek vas; boender hom in die helikopter in. Hy hoor hoe die rotors begin draai, eers stadig en dan al vinniger terwyl die turbinemotor al skeller skree en fluit. Dan is hulle in die lug. Hel! En al wat hy kom doen het, was om ’n toppie uit sy ellende te verlos!

      Skielik dink Charlie weer aan die foto in die ou vrou se bebloede hande. Wat het van die seun geword? As hy nog in die huis was toe hy daardie paraffienverwarmer omgeskop het … Wou die witkop hom ook dood hê, maar het net nie die guts gehad om dit self te doen nie, toe los sy dit vir hom? Dit maak nie sin nie, want die laaitie was nie deel van die kontrak nie en sy kon nie vooraf geweet het dat hy die plek gaan afbrand nie. Die vrou sal mos nie haar kind daar gelos het nie … Tensy sy van hóm ook ontslae wou raak?

      10

      Toe hulle die stink sak van sy kop afruk, is dit reeds dag, met die soort gedempte lig wat jy net in ’n nou kloof kry as die son se strale nog nie oor die rotsomsoomde koppe van die omliggende berge geloer het nie. Hulle was ’n hele ruk in die lug voordat die helikopter neergestryk het op ’n dowwe sandpad voor die hek van ’n groot sandsteenhuis wat teen die rotswand aan die oostelike kant van die kloof gebou is. Die swaar ysterhek het twee hoë sandsteenpilare weerskante en die pad loop van daar langs die huis verby en verdwyn om ’n draai na waar die kloof uitloop op ’n vlakte gestippel met wat vir Charlie soos swartwildebeeste en ander wild lyk. Dit is nou wat hy kan uitmaak met sy een oog halftoegeswel en toegekoek met droë bloed van die skade wat die pistool se korrel aan sy oogbank verrig het.

      ’n Dubbele ysterboog span tussen die twee hekpilare; gesweiste letters tussen die twee boë. Dal van sy genade, lees Charlie terwyl die groot staalhek oopskuif. Snaakse naam vir ’n wildsplaas. ’n Toekringkamera is op die boog gemonteer; sy swart oog volg hulle bewegings noukeurig. Charlie wonder of dié pad dieselfde een is waarop hy met die ou Hilux beland het. Hy móét wonder, want hy moet weet hoe om weer hier uit te kan kom. Dit lyk nie juis of hierdie perde hom weer by die hoofpad gaan aflaai en hom ’n voorspoedige reis gaan toewens nie – die een wil leliker en gevaarliker lyk as die ander. Hulle dra Uzi-masjienpistole of AK47’s aan ’n band oor die skouer. Watse wild skiet hulle met daardie goed op ’n wildplaas? Bobbejane wat kan terugskiet?

      Weerskante van die hek is borde met rooi kopbene en weerligstrale wat in drie tale waarsku dat die hoë draadheining met die rolle lemmetjies bo-op geëlektrifiseerd is en groot gevaar inhou vir enige iemand wat dit durf waag om daaraan te raak. Die ­bobbejane van dié plek klim hopelik nie draad nie, of hulle kan lees. Die heining loop teen die hoë kranse van die oostelike hang van die kloof vas en aan die westekant verdwyn dit oor die effens platter rug van die berg. Heel bo, waar die draad oor die kruin verdwyn, kan Charlie iets soos ’n wagtoring sien.

      “Kom, roer jou gat!” snou een van die spiertiere in swart en stamp hom in die rigting van die huis.

      Die groot ou plaashuis wat van die vorige eeu moet dateer, het ’n breë stoep met sandsteenpilare. Van waar Charlie voortstrompel kan hy vier klipskoorstene bo die groen sinkdak sien uitsteek; in die winter moet die kapok hier diep lê. Hy kan aan die dun lug proe dat hulle hoog in die berge moet wees. Die huis moet baie vertrekke hê, daarom die baie houtvensters met skuiframe wat op die alkant-stoep uitkyk. Waarom sou mense hulle toeka se tyd in hierdie onvriendelike wêreld kom vestig het? Om sonder baie siektes met vee te boer? Of was dit die groen dek- en tamboekiegras wat hier dreig om selfs die tweespoor toe te groei wat hulle gelok het? Of wou hulle net in die berge verdwyn om weg te kom van die Engelse en die Zoeloes van Natal? Na waar die lug skoon is en die water koud en helder uit die grond kom?

      Die dubbele oregonvoordeur met die loodglaspanele word oopgestoot deur nog ’n swartgeklede vent, en hulle stamp hom teen die kliptrappe op. Die een met die moesie por hom met sy AK van agter in sy rug. “Jy gaan genoeg tyd hê vir sightseeing, ou pel! Glo my. Maak dat jy in die huis kom, Vader wag.”

      “Hulle is in die voorste kamer,” sê die een wat die deur oopgemaak het.

      Die breë gang se blinkgepoleerde plankvloer kraak as hulle instap. By die eerste deur regs druk hulle Charlie in en gaan staan in ’n halfmaan agter hom in die rusposisie, sonder dat hy iemand “op die plek rus” hoor bulder het. Hierdie spul is beter as die bleddie army!

      Die vertrek het groot boogvensters met swaar gordyne wat effens deur die wind geroer word, terwyl die grinterige oggendlig flou deur ’n skrefie probeer loer. Gebreide Ngunibeesvelle lê gerangskik op die blink plankvloer en ’n ou voorlaaier is saam met ’n paar bokhorings bo die groot klipkaggel gemonteer. Die kamer lyk soos die stel van ’n Boereoorlogfliek, of soos die sitkamer van ’n president of ’n ander hogere man. Die meubels is groot, swaar en van donker hout. Ovaal portrette van omies met baarde en voorlaaiers en anties met kappies en lang rokke hang teen die mure. Aan die staalplafon hang ’n groot kandelaar gemaak van ou olielampe, nou met elektriese gloeilampe. Die plek stink na vloerpolitoer, stof en mottegif – die reuke van ’n kamer wat nie baie gebruik word nie en te lank toe gestaan het.

      Langs die kaggel sit ’n skraal man op ’n stoel met ’n hoë rugleuning, sy kaalgeskeerde kop glinster effens in die skemer, en onmiddellik merk Charlie sy besondere lang nek met ’n adamsappel wat lyk soos ’n kropgeswel. Hy sit kiertsregop met sy voete op ’n leeuvel en sy hande op sy skoot gevou. Die leeu se kop, met ’n grynsende bek tande, lê op die blink vloer en kyk Charlie stip met sy plastiekoë aan. Dan merk Charlie die jong vrou agter die stoel; sy staan met haar een hand vertroulik op die man se skouer, haar gesig byna heeltemal in skadu gehul. Die toneeltjie lyk soos een van die ou foto’s van jare gelede toe groot gesinne nog aan die orde van die dag was. Hel! Die man met die nek kort net ’n voorlaaier, ’n weglêsnor en ’n bedonnerde kyk in sy oë. In ’n stadium was sulke ou portrette vir hom snaaks, maar in die huidige omstandighede … Daar is boonop iets aan die vrou wat vir Charlie bekend lyk … Maar dan praat die man:

      “Broer Gerrie, trek die gordyne oop dat ons mekaar beter kan sien, asseblief ou seun.” Die man op die stoel se adamsappel spring op en af as hy praat. Sy stem is diep en gemoduleer, ’n mooi stem, van die soort wat vra eerder as beveel, maar sonder om enige twyfel te laat oor die uitvoering van die versoek. Daar is ook ’n sweem van ’n Engelse aksent, nie veel nie, maar net genoeg om ’n mens te laat wonder. Charlie onthou dat hulle in die weermag ’n korporaaltjie gehad het met so ’n lang stywe nek en ’n klein koppie. Sy bynaam kon jy nie vir jou ma vertel nie.

      Die een met die moesie op sy neus reageer – hý moet dus Gerrie wees. “Vader!” roep hy uit en kom flink op aandag, weliswaar sonder om die plankvloer met sy swart gevegstewel te verwoes. Hy beweeg vinnig na die vensters, trek die gordyne oop en kom neem weer sy plek in die ry agter Charlie in.

      “Dankie, broer Gerrie. Waar het julle hom toe opgespoor? Was dit toe maklik?”

      Weer die stem, maar in die lig wat deur die vensters instroom, kan Charlie sien sy eintlike krag lê in die oë – ysblou, amper grys. Dit voel vir hom of daardie oë tot in sy siel se diepste geheime boor. Dit is oë wat boei, priemende oë wat vasgryp en hipnotiseer – die oë van ’n leier. Die man het ’n soort wye Moses-oorrok aan met versierings op die bors en moue. ’n Houtkruis hang aan ’n goue ketting om sy nek.

      “Sonder die sender aan die Hilux sou ons hom nie gekry het nie, Vader. Hy het om die een of ander rede die Steelsdrifpad gevat, toe het


Скачать книгу