Tik. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.die naggeluide in die woonbuurt. In die verte kan hy die eentonige gesing hoor van ’n reusagtige bogrondse waaier wat lug deur die ondergrondse gange en werkplekke van die paar oorblywende myne trek. Iewers ver weg kerm ’n fifty-piskriek, miskien ’n jong mynwerker of dalk ’n onsetter op pad myn toe vir ’n laatskof; miskien is daar ’n breakdown ondergronds wat nie kan wag tot die môre nie.
Benewens dié geluide is Virginia se woonbuurt Merriespruit stil. Selfs die gedoef-doef uit ’n paar motors se kattebakke by mevrou Sithole se huis laer af in die straat is nou ook stil. Haar laaitie het óf klaar verjaar óf die spul jonges het na groener suipvelde verskuif. Maar daar begin ou Keppies van hier langsaan se brak blaf, seker vir die maan. Twee kortes en ’n lange, sê sy pa. “Dis soos ’n bleddie plaastelefoon. Woef-woef … woef! Woef-woef … woef!”
Sy ma reken hy blaf snags vir pa Kris se gesnork, wat volgens haar meer lawaai maak as die hond. Sy sê hy klink soos ’n bronstige leeu, net sonder die bronstigheid. Veral as hy die aand ’n paar dubbeltjies gedrink het, en dis hoeka Vrydagaand. Daar was seker weer ’n veerpyltjie- of snoekerkompetisie by die klub en die kans dat Kris Freislich heelaand net koek en tee gevat het, is nul.
’n Venster word iewers oopgegooi. “Voertsek! Bliksem!” bulder iemand die nag in. Dis sy pa, en aan die stemtoon kan Boeries hoor dat die veerpyle nie vanaand gevlieg het soos wat hy dit wou nie. Wie nie wakker geblaf is nie, is in elk geval nou wakker.
Eintlik is die baster-maltesie ’n oulike klein brak met die naam Seuntjie, maar Kris noem hom Bliksem, en dit het niks te doen met Danie Craven se hond se naam nie.
’n Ruk is dit stil.
Die venster word toegeklap.
Dan weer woef-woef … woef.
Venster weer oop, hierdie keer word die gaasskerm ook oopgeskuif. Boeries glimlag. Kris se kop is seker nie lekker nie, nie ná al die tipsietert en tee by die klub nie. Nou vir die kettie wat aan die gordynkap hang en die hoop ronde klippies op die vensterbank, hy ken al die storie. Seuntjie ook, maar hy het tot op datum nog geen littekens om te wys nie, hy skrik dus ook nie juis meer nie.
Klingeling. Dis ’n venster daardie! Klink soos een van Keppies s’n.
“Kris!” raas ma Stien, “kom slaap met jou dronkgat, netnou sluit hulle jou toe vir rusversteuring.”
Nog ’n venster gaan oop, ’n bietjie verder weg.
“Kris Freislich! Is jy bedonnerd! Jy skiet net so vrot met ’n kettie as wat jy darts gooi. Hoekom slaap jy nie, demmit?”
“Hoe de hel moet ek slaap as daardie pavement special van jou heelnag vir sy gat sit en blaf? Ek werk môre, ek lê nie soos jy by die boilershop heeldag met ’n spênner onder ’n fokken loco en slaap nie!”
“Dis môre Saterdag, jou dom donner! Jy werk nie. Al wat jy môre gaan doen, is om hierdie venster te kom regmaak, of ek bel die poelisie.”
Seuntjie, alias Bliksem, moes agtergekom het daar word van sy herkoms geskinder en storm die draad met sy volle repertorium.
“Te hel met jou! Maak eerder daardie brak van jou stil of ek blaas hom met die nine mill.”
“Wat jy waar kry?”
Boeries wonder self waar sy pa ’n negemillimeter gaan kry. Al wat hy het om mee te skiet, is die kettie en ’n ou BSA-windbuks met ’n pap veer.
Die venster klap hard toe en die skerm word met ’n harde klap afgeskuif. Seuntjie raak mal. Keppies skree op die hond om na sy kassie toe te gaan.
Stilte daal weer op die buurt neer.
Boeries draai tevrede op sy sy, maak sy oë toe. Maar dan vibreer sy selfoon op die kassie voor sy bed. Hy kantel sy Timex na die lig wat van die straat af deur die gordyne skyn: halftwee. Wat de hel? Die selfoon se skerm sê dit is Baby. Sy’s veronderstel om in haar kamer te wees, vas aan die slaap. Hy klap die foon oop.
“Kom haal my.” Baby praat sag met ’n bewerige, bangerige huilstem. In die agtergrond kan hy die lawaai van luidrugtige musiek en ’n klomp jong mense hoor wat klink of hulle te veel gesuip het. Harde woorde word heen en weer geslinger.
“Is jy nie veronderstel om in jou kamer te wees nie? Pa slaan jou gat warm.”
“Kom haal my net, Boeries.” Baby snik nou. “En … en moet nie vir Pa sê nie, asseblief.”
“Waar’s jy?”
“In Harmonie.” Baby gee Boeries die adres.
Hel, Harmonie is anderkant die Sandrivier!
“Hoe de donner kom jy daar, my magtig, jy weet …”
“Boeries,” haar stem het ’n dringendheid wat hy nie ken nie, dit is asof hy die onderlippie kan sien bewe soos in die ou dae as sy seergekry het. “Kom haal my net, asseblief. Ons kan later praat.” Pouse. “Kom met Ma se kar.”
As hy nie met sy Kawa moet gaan nie, weet hy uit ondervinding, is daar ander bagasie ook, wat nie kan loop nie.
7
Boeries haal sy ma se ou Datsun Trippel-S se sleutel sag van die haak in die kombuis af. Baby se stemmetjie laat dit klink asof dit ’n saak is waarvan die ou mense so min moontlik moet weet.
“Boeries …” Dis sy ma wat sag uit die kamer uit praat. “Waarheen gaan jy nou?” Sy mis nie baie nie.
“Polisiesake, Ma. Ek ry sommer met die Datsun.” Dit is nie heeltemal ’n leuen nie.
Sy antwoord nie; sy is seker tevrede.
Die volmaan maak die omgewing ’n swart-wit landskap. Kris was verkeerd, Bliksem het nie vir sy agterent geblaf nie, maar vir die maan en sy spookskaduwees. Ver na die ooste lê wolke waarin die weerlig baljaar; dit gaan vannag iewers in die Oos-Vrystaat reën. Boeries dink aan die dae toe hulle as gesin gaan geelvis vang het in die bo-lope van die Kliprivier, anderkant Vrede op oom Koos de Jager se plaas.
Toe hy uit Merriespruit in Sandrivierweg opdraai, lê die vlei wit aan sy regterkant. Dit is hier waar die gebreekte slikdam in 1994 sy giftige sianiedmodderverwoesting in die woonbuurt gesaai het. Nou is daar weer biesies, tamariskbosse en riete wat probeer om die steriele naaktheid te bedek wat die verwoesting nagelaat het. Baby is daardie nag saam met haar teddiebeer en die een helfte van hulle huis deur die stroom modder meegesleur. Pa Kris sê dit was die begin van haar stront, want sedert oom Cassie die volgende môre toe die son rooi opkom met haar en die teddie in sy arms uit die grys klewerigheid gestap gekom het, het die Merriespruiters tou gestaan om haar te bederf. Die foto van die grys standbeeld in die grou môrelig met die modderbesmeerde dogtertjie in sy arms en die verwoesting agter hulle was in omtrent elke koerant in die land. Die klein blondekoppie met die diep kuiltjies en die onnutsige blou ogies was vir die buurt se mense ’n simbool van oorlewing en van God se genade. Baby het steeds die blonde hare, die kuiltjies en die blou oë, maar dis wat bygekom het en wat die jongetjies se oë soos magnete trek wat vir Kris Freislich grys hare gee.
Voordat Boeries opdraai in Harmonie se rigting dreun die Datsuntjie oor die Sandrivierbrug. Die sluise van die Allemanskraaldam is oop, want die modderige water van die rivier loop kant en wal. Pa Kris sal nie gou weer onderkant die brug kan visvang nie.
Gawie Theronstraat is boomryk en loop ewewydig aan die rivier. Aan die rivier se kant van die straat is die huise groter en luukser as die ouer huise aan die oorkant van die straat. Voor nommer vyftien staan ’n paar motors en 50 cc-piskrieke, ook ’n paar groter motorfietse. Elke lig in die huis brand, en ’n oorverdowende musieklawaai bulder by die deure en vensters uit. By die voorhek sit twee jong manne op motorfietse en rook. Hulle hou Boeries agterdogtig dop wanneer hy met die ou Datsuntjie stilhou.
Boeries haal die wielyster onder die sitplek uit voordat hy uitklim. Hy ken die tekens. Geen motor van sy pa is ooit sonder ’n “tyre lever onder die seat” nie. Sy pa reken ’n mens weet nooit wanneer jy onskuldig in die dinges sal trap nie, en dan het jy iets soos ’n tyre lever nodig. Hy noem dit die “equaliser” in enige