Tik. Piet Steyn

Читать онлайн книгу.

Tik - Piet Steyn


Скачать книгу
aan. Sy kop is kaal geskeer en dit blink in die lig wat van die huis af skyn. Hy lyk ook na die intelligentste van die twee. Die een op die rooi Honda is ’n klein maergat met ’n leerbaadjie, ’n slegte vel en ’n lang, dun nek. Hy het ’n paar rustelose oë wat te na aan mekaar sit in die klein koppie. Saam met sy groter pel is hy vol bravade, en die springmes wat hy aan ’n blink ketting sit en rondswaai, dra seker ook by tot sy dapperheid.

      Boeries druk die plat yster buite sig teen sy bobeen vas. “Ek soek vir Baby Freislich,” sê hy sag.

      Die twee op die motorfietse bekyk hom krities op en af, kyk dan na mekaar. Miskien was dit die ou los sweetpak wat hy ná Baby se oproep aangetrek het, of dalk het die dagga en die halwe bottel Red Heart op die Harley se petroltenk gemaak dat húlle nie die tekens van moeilikheid kon sien nie.

      “Fuck off. This is a private party and you are not invited,” sê die kleintjie. Hy is teen alle verwagtinge in, en sy klein koppie ten spyt, die twee se segsman.

      Miskien was dit die dag se geweld, miskien die feit dat hy nie geslaap het nie, of dalk sy moerigheid oor Baby se losgatdinge, maar Boeries is skielik nie lus om met puisiegesig en kaalkop te argumenteer nie.

      “Hierdie stuk yster sê ek is invited, likkewaankop,” sê hy terwyl hy tussen hulle inloop.

      Die equaliser sukkel nie juis met die Harley se voorlig nie, maar die kenmerkende geluid van ’n oopspringende springmes moes Boeries se korrel ietwat befoeter het, want die Honda kry net ’n diep duik in die ligskerm.

      “Hei, jou bliksem, is jy fokken mal?” skree die kleintjie terwyl hy van die motorfiets afspring. Hy hou die mes te hoog om ’n werklike bedreiging te wees.

      Dis darem wonderlik, dink Boeries, hoe ’n man oorslaan na jou moedertaal as jy kwaad word.

      “Hey, you fucking big ape! Are you mad?” volg die grote die kleintjie se voorbeeld. Hy moet wel Engelssprekend wees. Hy gryp die Red Heart-bottel, slaan die boom teen die hekpaal af en volg die kleintjie tussen die twee motorfietse deur. Gelukkig vir Boeries staan die twee fietse te na aan mekaar vir ’n volle frontaanval.

      Die kleintjie moes op sy dag ’n swaardvegter gewees het, want hy storm met die mes as ’n verlenging van ’n reguit stywe arm op Boeries af. Sy voorarm maak ’n siek klapgeluid as die yster albei die armpype breek. Die mes val uit sy pap vingers en hy raak soos ’n maervark aan die skree en sak op sy knieë neer.

      Boeries se oë flits na die grote, en glimlag as die ou lootspeletjie deur sy kop flits: Tjoeng, tjang, tjeng! Yster is harder as glas, ek wen. Grote het vasgesteek en skielik besluit hy sit dié ronde uit – hy ken moeilikheid as hy dit sien. Hy los die bottelnek en staan met sy oop hande in die lug voor sy gesig en skud sy kop. “I’m easy, you’re the man.”

      “Kom ons probeer weer,” sê Boeries. “Ek soek vir Baby Freislich.”

      Kaalkop beduie met sy duim oor sy skouer na die huis. “On the patio when I last saw her.”

      Boeries hou vir Baby uit die hoek van sy oog dop. Sy sit inmekaargetrek teen die motor se voordeur, haar bene, wat onder ’n heeltemal te kort mini uitsteek, onder haar ingevou op die sitplek. “Hoe’t jy uitgekom?” vra hy.

      Stilte.

      “Ek vra …”

      “Ek hoor jou!” Sy vee ergerlik ’n paar blonde haarslierte uit haar rooigehuilde oë en blaas haar neus in ’n opgefrommelde snesie voordat sy vererg vra: “Waaruit gekom?”

      “Baby, moet nie met my gharra nie! Ek is omtrent al wat tussen jou agterent en Pa se mynbelt staan. Uit jou slaapkamer, demmit.” Boeries verminder spoed by die draai voor die sirkel by die brug, flits ligte vir ’n voertuig wat nie sy ligte domp nie. “Toe ek laas nag by die huis kom, het Ma gesê jy slaap al. Hoe het jy uitgekom?”

      Sy kyk smekend na hom. “Jy sal nie vir Pa sê nie?”

      “Baby …”

      “Belowe eers.”

      “Oukei, oukei! Ek belowe.”

      Baby beduie met ’n ruk van haar kop na die slapende figuur op die agterste sitplek. “Cecil het die diefwering los gegrind laas Saterdag toe Ma-hulle by die klub was. Net kougom hou dit nou in plek.”

      “Magtig, Baby!” Boeries loer in die truspieël na Keppies se swartkopseun wat oopmond op die agterste sitplek lê en snork, ’n nat, suurstinkende kol op sy hemp. Cecil! Is dit sy naam? Dis die eerste keer dat hy iemand hom iets anders hoor noem as Keppies se oliekop-laaitie. “Wat het hom oorgekom?”

      Baby sit by die kantvenster en uitstaar, draai ’n haarlok om haar vinger voor sy afsydig antwoord. “Te veel gesuip … Daar was boom ook.”

      “Ja, en jy? Seker net gesit en kougom kou. Of het jy ook …”

      Sy hoor hom nie, kyk net afgetrokke na die rivier wanneer hulle oor die brug ry. Ná ’n ruk sê sy: “Hulle het goed wat soos kristalle lyk in ’n ou gloeilamp met ’n kersvlam warm gemaak en die dampe gesnuif.”

      Tik! Boeries kyk bekommerd na haar. “Het jy ook gesnuif?”

      “Hu-uh! Hulle wou my dwing, toe bel ek jou.”

      “En die dagga?” vra hy meedoënloos.

      Sy antwoord nie.

      “Baby, demmit …”

      Baby knik terwyl sy by die kantvenster uitstaar. “Net ’n paar trekke,” sê sy sag.

      Boeries skud sy kop. “Verdomp, Baby. Julle speel met vuur. Daardie kristalle is tik, dis hel op wiele. Jy moet wegbly van die goed, én die boom ook. Of ék foeter jou self!” Hy bly ’n ruk stil, tot hulle in hulle straat in Merriespruit opdraai. “En jy en die moegoe van jou hier agter sorg dat daardie diefwering weer vasgesweis word. Pa-hulle gaan volgende week op verlof en hulle dink die huis is beveilig met diefwering. Dis bleddie gevaarlik!” Hy bly ’n rukkie stil nadat hy stilgehou het, kyk dan na haar. “Ek dink jy moet nou maar eers weer deur die venster klim, anders gaan Ma jou hoor.”

      8

      Dit is nou stikdonker, die maan is weg. Boonop werk die ou bakkie se ligte nie en Charlie het nie ’n benul waar hy is nie. “Jy moet van die pad af kom, Charlie,” prewel hy by homself. “Wat jy nou doen, is gevaarlik, jy kan bokkerol sien.” Hy is bang hy ry van die pad af wat dofweg voor hom lê; wie weet watse gate en slote en rotse wag langsaan. Die skielike rukwinde wat ’n rukkie terug die storm se koms aangekondig het en die seil op die bak losgeruk en saam met rolbosse en droë mielieblare en stof die nag in laat verdwyn het, is nou stil.

      “Charlie, my maat,” bly hy homself moed inpraat, “jy moet jou joppies maar eerder in die stad doen. Daar waar jy die wêreld ken, hier vreet die leeus jou nog op.”

      Die wind het die wolkbank vinnig nader gebring. Minute gelede het dit nog flitsende wit aambeeldkoppe ver agter die horison uitgestoot; nou het dit voor die maan ingeskuif en die geluidlose elektriese storm van netnou is nou ’n kakofoniese, blitsende tirade.

      Charlie karring weer met die lig se skakelaar; dit flits momenteel aan en dan verdwyn die lig weer. “Kom nou, kom nou …” Hy karring ’n slag onder die paneelbord, vroetel aan ’n spul drade wat daar hang en gee die stuurstang ’n harde klap. “Demmit!” skree hy die nag in, en dan is daar lig.

      In die skielike helderte blink ’n trop skape se oë langs die tweespoor – altans, hy hoop dit is skape! Dit is dalk ’n trop bloeddorstige leeus, of honger krokodille of dalk selfs seemonsters. Hy wat Charlie is, het verdwaal, heeltemal en in sy moer in. Die pad waarop hy nou is, is niks meer as twee wit strepe deur die veld nie, en hoe hy daarop beland het, weet hy nie, want die ou Hilux se ligte het ’n lang ruk nie gewerk nie. Die bleddie dieseltenk is ook feitlik leeg, en dit is diep platteland hierdie.

      Met behulp van die weerlig wat onophoudelik flits en soms die omgewing helder verlig, kruie hy voort op die tweespoor, bewus van donker, hoë rante en heuwels weerskant. Wat kan hy nou anders doen


Скачать книгу