Tik. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.een waarvan pertinent in die Groot Boek melding gemaak word. In Eksodus 20 vers dertien sê die Vader: ‘Jy mag nie moord pleeg nie.’ Ons moes seker maak dat jy wel by die owerhede uitkom om jou skuld te betaal, ons kan nie anders nie, dis sy opdrag aan ons.”
Maar dan weet hulle mos van die kontrak! Hoe de hel? Daardie geklop van helikopterlemme toe hy uit die brandende huis gestorm het … Iets flits in Charlie se gedagtes en sy oë skiet na die vrou agter die stoel. Fokkit! Dis nie moontlik nie! Hoe kom sy hier? Nou eers verstaan Charlie wat Gerrie hom daar op die plato gevra het. “Het jy haar hierheen gevolg?” het hy gevra. Dit is beslis die witkop met die groen oë, die bleddie bitch wat hom geframe het. Dis sy wat hom in hierdie stront laat beland het. En kyk hoe staan sy daar. Waar is daardie skelmgeit in haar oë nou? Waar is daardie soet woordjies? Nou staan sy daar soos ’n verlepte blom en maak asof sy hom nie sien nie. Die teef! Waarom kyk sy hom nie in die oë nie? Hoekom kyk sy net na die plafon?
“Ek sien jy herken my vrou, meneer Stevens.”
Vrou! Is sý ou pielnek se vrou? Nou wat van die ou bliksem op die plaas? Die een met die gryskop en die kop vol lood? En wat van die ou vrou, en die laaitie? Ja, wat van die laaitie? Charlie kan die opwelling van vrae nie meer keer nie. “Nou … nou hoe de donner werk dit?” roep hy uit. “Sy het my dan gehuur om haar ou man …”
Die man se grys oë flits, die kaalkop en nek kom regop soos dié van ’n slang wat gereed maak om te pik. “Jou taal, meneer Stevens! Asseblief. Dit is ’n plek van God. Die kloof word genoem ‘Dal van sy genade’, en hier word nie gevloek nie.” Hy leun terug, sit sy hand op die vrou s’n op sy skouer. “Gaan lees Deuteronomium 4 vers 11, Eksodus 20 ook.” Hy gee die hand op sy skouer ’n drukkie. “As jy dan moet weet, Hy het dit aan my geopenbaar dat sy vir my bestem is; jy was maar net ’n instrument in sy hande toe jy so tragies van haar vorige eggenoot ontslae geraak het. Sy was van die begin af vir my bedoel, en wat Hy saamgevoeg het, kan geen mens skei nie. Matteus 19 vers 6.”
Die witkop lyk nou tranerig, en sy kyk amper pleitend na Charlie voordat sy haar oё weer na die plafon keer.
Charlie gaap haar met ongeloof aan. Wat gaan nou aan? Wat het geword van haar gladde selfversekerdheid, van daardie groen oë wat hom so gemesmeraais het? Hoekom lyk dit nou asof sy iets van hom wil hê? Sy het dan nou alles wat sy wou gehad het! Al haar plannetjies het mos uitgewerk. Of is dit nou ’n nuwe scheme dié?
“Daar is nog baie aanhalings uit die Groot Boek, meneer Stevens, maar ek sal vir eers met die paar voorafgenoemdes volstaan. Ons plan is om jou by die polisiestasie op Volksrust te gaan aflaai, en die polisie te vertel hoe ons jou in die veld gekry het nadat jy gevlug het van Mooifontein af – dit is nou natuurlik nadat jy die moorde gepleeg en die huis afgebrand het. As ’n Christelike gemeenskap is dit net ons plig.”
Van hierdie stront het Charlie nou genoeg gehad! Sedert C-Max se deur agter sy gat toegeklap het, neuk almal hom rond. Hy gee ’n tree vorentoe, beduie met sy vinger: “Luister, ou pel, fok jou ook! Jy met jou Mosesrok en al. Ek het vir jou ook ’n fokken versie: Jy het die verdomde kat aan die gat beet! Charlie Stevens, hoofstuk 12 vers 8, gaan lees dit maar. En lees my lippe: Ek het fokkol daarmee te doen gehad. Sy is die een wat die sneller getrek het …”
Slangnek knik na iemand agter hom. Charlie voel ’n hand op sy skouer en ’n duim wat in die sagte vleis van sy nek inboor. ’n Verlammende pyn skiet deur sy lyf, in sy kop in op en af tot in sy tone. Die kamer begin draai, sy bene vou onder hom in en die swart en wit kolle van ’n Ngunibeesvel skiet op na sy gesig toe. Hy is bewus van ’n naaldeprik in sy boarm, terwyl die duim steeds in sy nek inboor. ’n Geluksaligheid neem dan geleidelik van sy liggaam besit, spoel soos ’n golf verkwikkende water oor hom. Die druk op sy nek word verlig en hy is ook bewus van hande wat hom optel en regop hou. Die man met die wit rok sit hom met ’n flou glimlag en bekyk. Charlie sien sy lippe beweeg, die adamsappel wat spring, en hy hoor vaagweg ’n stem asof iemand deur ’n pyp met hom praat.
“Net ’n ietsie om jou te kalmeer, meneer Stevens, niks ernstigs nie.” Die kop met die bewegende lippe skuif dan vinnig uit sy gesigsveld uit, maar die stem draal nog: “Sit hom eers by broer Deon, ek sal later verder met hom handel.”
Die laaste ding waarvan Charlie bewus is, is die witkop se oё. Hy sien hoe sy, asof met moeite, van die plafon wegkyk en haar blik, daardie groen oë, op hom laat rus. En net voordat alles voor hom wasig word, lyk dit asof sy hom iets wil vra.
11
“Blou.”
“Pienk.”
“Pienk? Ek sê blou.”
“Ek sê pienk.”
“Nou waar kom jy daaraan?”
“Dis Woensdag, daarom is dit pienk.”
“Ag hel, Kat. Wil jy nou vir my sê dit is elke Woensdag pienk? Ek dink jy vat ’n lang kans.” Pine maak sy beursie oop, haal ’n noot uit. “Ek het ’n twintig hier wat sê dit is nie pienk nie.”
Kat kruis sy bene, gee sy snor ’n paar vrywe terwyl hy vies onder sy wenkbroue deur na Pine se verkreukelde twintigrandnoot loer. “Is dit al wat jy kan bekostig?”
Pine druk die noot in die besnorde speurder met die halwe oor se hempsak. “Ja, demmit! Ek het ’n vrou en ’n kleintjie. Is jy aan of nie?”
Kat knik sy kop, vat die noot. “Oukei, maar ek wed nie gewoonlik vir peanuts nie.”
Die twee speurders sit erg verveeld in luitenant-generaal Mkhize se kantoor. Hy is die hoof van die Gautengse Valke; die kantoor het ’n dik rooi mat, die groot netjiese L-vormige lessenaar het ’n rekenaar en ’n drukker en ’n klein landsvlaggie op die L se kort arm. Hy wou hulle ’n halfuur terug dringend sien, en Ann, sy sekretaresse en Pine se vrou, het gesê hulle moet maar instap, hy is op pad.
Pine en Kat staan op as die deur agter hulle oopgaan. Luitenant-generaal Mkhize het sy gewone en nou al bekende uniform aan: swart pak, swart hemp, blou waterbottel in die hand en ’n helderkleurige das. Vandag is dit so wragtag ’n pienke, ’n helderpienke soos die truie waarin die Boland-rugbyspan deesdae speel.
“Be seated, gentlemen. Jammer, julle kêrels, maar ek was in ’n meeting met die general.” Mkhize trek sy baadjie uit en hang dit sorgvuldig oor ’n hanger aan ’n kapstok langs die venster.
Kat haal die noot uit sy bosak; kyk met ’n skewe glimlag na sy ou vriend.
In Pine se jong dae sou ’n man nie dood gesien gewees het met so ’n pienk ding om die nek nie. Pienk is ’n vroumenskleur, vir onderklere en ander fyn goedjies, van hulle se prêmdae af. Ann weet as sy hom die moer in wil maak, moet sy vir klein Tiaan ’n pienk babygro aantrek, of ouma Betsie se pienk gebreide kombersie oor hom gooi – daai laaitie van hom sal ’n bleddie afwyking kry! Pienk is vir dogtertjies en blou is vir seuntjies, klaar. Hoe onderskei ’n man dan nou anders tussen hulle? Nou staan hierdie generaal hier met ’n pienk bleddie …
Mkhize laat ’n sluk water uit die blou bottel in sy keel afgorrel en kom sit agter die lessenaar. Hy druk die prop weer sorgvuldig vas, kyk grootoog na Pine, sy skraal gesig wat as gevolg van ’n bokbaardjie nog langer lyk. “Paaien, what is the probleem? Jy lyk vir my moerig genoeg om jou eie klippe stukkend te kou.” Mkhize het sedert hy van Durban na Johannesburg verplaas is, hard gewerk aan sy Afrikaans, maar sy idiome lol nog so ’n bietjie.
“Nee, Generaal, ek is orraait.”
“Did Kat enlighten you about the purpose of the meeting? Ek het vanoggend saam met hom gepraat in die opskamer.”
So ’n bliksem! Pine kyk na Kat, maar die man is skielik baie geïnteresseerd in ’n duif wat al koerende op die vensterbank vir ’n wyfie diknek maak. Hy wou sê hy ruik ’n rot, ’n grote met ’n moerse snor. “Dis Woensdag, daarom is dit pienk,” hoor hy weer daardie rot se stem in sy kop, ’n bleddie boereverneuker van ’n rot!
“Paaien?”
“Nee, ek’s reg, Generaal!” Pine hou Kat uit die hoek van sy