Tik. Piet Steyn

Читать онлайн книгу.

Tik - Piet Steyn


Скачать книгу
dáár uitkom nie, en ondertoe nog minder – tensy hy vinnig leer vlieg of bereid is om hom vrek te val op die rotse daar onder.

      Hy hoor die helikopter naderkom, dink daaraan om die pistool uit sy belt te haal, maar dan moet hy die boomstam los. Die geluid word ál harder totdat dit stadig oor die skeur beweeg. Dit is nie ’n polisiehelikopter nie – hulle vlieg nie met rooi helikopters sonder polisiekentekens nie. Dalk van die boere in die omgewing wat van die ongeluk met die bakkie gehoor het en kom help? Maar hoe het hulle daarvan geweet? Dalk ’n beeswagter wat gesien het wat gebeur het?

      Dit sal beter wees om van die pistool ontslae te raak; almal weet ’n man met ’n pistool in sy broek is ’n skarminkel. Terwyl hy met die een hand aan die boom se onderste tak vasklou, trek hy die skietding uit sy belt. Hy wil die .22 verby die boomstam in die dieptes afgooi, maar bedink hom. Dit gaan teen sy grein in om ’n goeie, bruikbare vuurwapen sommer net weg te gooi, ’n mens weet nooit, dalk eendag … So onmoontlik en simpel as wat dit klink.

      Reg voor Charlie is daar ’n gat of skeur in die rotswand waar daar lank terug ’n stuk rots moes uitgebreek het. Die spiere in die skouer waaraan hy hang, wil uitskeur as hy oorleun. Hy knyp die skurwe boomstam met die knieë vas – sy heup skree om genade! – trek die ou reënbaadjie wat hy in die Hilux gekry het uit, draai die pistool daarin toe en druk dit so diep moontlik in die gat in.

      Die helikopter hang nou reg bokant die skeur. Charlie kyk op; sien ’n man met swart klere wat met ’n megafoon voor sy mond by die deur uithang. “Sit fokken doodstil,” kom ’n stem blikkerig deur die rotors se lawaai. “As jy jou gat roer, gaan jy jou fokken nek breek.”

      Die taal is nou ook nie juis dit wat ’n man van ’n poot verwag nie, in elk geval nie as hy aan diens is en met ’n slagoffer in nood kommunikeer nie. Die boere wat hý ken, praat ook nie so nie, behalwe die boere in die tronk, maar hulle was tronkbewaarders en het nie koeie gemelk nie …

      “Sit net stil,” kraak die blikstem weer, “ons is nou terug. Moet nie beweeg nie.”

      Simpel bliksem! Waarheen dink die vent kan hy nou gaan; hy klou soos ’n neet aan ’n boomstam tussen niks en nêrens met ’n moerse afgrond onder hom.

      Charlie hoor hoe die helikopter op die plato land, hoe die toere van die motor afneem.

      Ná ’n ruk val ’n tou met ’n lus vooraan langs hom in die skeur af. ’n Paar los klippe kom saam met die tou, verdwyn oor die afgrond en Charlie hoor hoe dit ondertoe op die rotse kletter. “Maak die ding om jou lyf vas!” roep die stem.

      Dit is nie só maklik nie! Charlie vat die lus met die een hand vas terwyl hy met die ander arm aan die stam vasklou en teen die rotse vasskop. Toe die lus oor sy kop en onder sy arms vas is, skreeu hy boontoe: “Is die ding vas daar bo?” Daar is nie ’n manier dat hy alles net so los, met niks onder hom en net ’n maer babelaas polisiemannetjie aan die ander kant nie.

      “Ja!” weergalm die megafoon se blikstem in die skeur af.

      Fok, dink die bliksem hy is doof? Die chopper se lawaai het mos nou opgehou. “Klim maar op,” kom die blikstem weer.

      Pynlik bewus van sy flenters ribbetjies los Charlie die boom en gryp die tou vas. Met die hulp van die spul bo by die helikopter, maar met die tou wat sy ribbekas en borsbeen folter, loop hy teen die skuinste op. Bo gryp hande hom hardhandig vas en gooi hom tussen die gras en klippe op die nat grond neer.

      “Lê stil!” Dis die Rambo met die swart klere wat Charlie toesnou en met ’n knie op sy gekneusde borsbeen neersak.

      Die pyn is verblindend en dit flits rooi deur Charlie se kop. ’n Koue stuk metaal boor in sy regteroog in, wat dit ook nie juis gemaklik maak hier op die harde, nat grond nie. Snaakse mense wat hulle in dié omgewing het: dra swart klere en groet vreemdelinge deur skietysters in hulle regteroë te druk. Aangename kennis, ou pel!

      Charlie is in elk geval nie van plan om te roer nie; hy ken ’n skietding se loop as hy hom voel. Hy behoort dit te ken – hy verdien self sy brood en botter met so ’n ding. Hierdie een se gat voel net groter as sy .22 s’n. Sy linkeroog hou hy stip gerig op ’n paar cirruswolke wat nou pienk katsterte in die lug trek. Die sterk wind wat die lang grasse vroeër gebuig het, het die weer weggewaai na die suide en die lug is blou, helder en skoongewas ná die reën. Sy hande hou hy gestrek langs sy sye, sy bene roerloos reguit, die man het dalk net ’n senuagtige snellervinger.

      ’n Ander swartgeklede figuur se hande beweeg ru en sonder genade oor sy lyf. Charlie se vuil sakdoek gooi hy eenkant in die gras en sy beursie met dit wat oorgebly het van die witkop se duisend, druk hy in sy gatsak in.

      Charlie draai sy bruikbare oog na die man in swart wat op hom kniel.

      “Hoe de hel kom jy hier?” grom die stem wat hy oor die megafoon gehoor het.

      Simpel vraag. Die vent weet mos van die ou opgefokte Hilux. Hoe anders het hy hier gekom? Soos Liewe Heksie met ’n besem?

      Charlie draai sy oog nou na waar nog twee swart figure langs die helikopter staan, nogal met aanvalsgewere in die hand. Daar moet iewers ’n special op swart wees, of miskien het swart mode geraak terwyl hy in die tronk gesit het, want hierdie perde dra net swart. Die breker op sy bors het ’n groot moesie op sy neus en moes op skool baie naby aan graad agt gedraai het, want dit lyk of hy uiteindelik twee en twee bymekaar gesit gekry het en by vyf uitgekom het – dat daar die een of ander verbintenis tussen hom en die Hilux moet wees.

      Met die raaisel van Charlie se reis tot hier opgelos, besluit Blackie dis tyd vir die volgende vraag: “Hoe weet jy van dié plek?”

      “Watter plek, ou pel?” sê Charlie en steun. Met die bliksem se knie op sy gekneusde bors is asemhaal moeilik. “Die … die stuk pad, of die sloot? Of … of die rots wat die Hilux se neus opgefok het?”

      Die loop word dieper in sy oog ingestamp. “Moenie ’n fokken wiseguy probeer wees nie. Het jy haar agtervolg?”

      Haar? Watter haar kon hy agtervolg het? Al wat hy gevolg het, was die ou Hilux se neus wat nou opgefrommel is, en sy pa het gesê ’n kar is ’n “hom”, want hy het ’n exhaust. Hy beter sy bek hou, want wat hy ook al sê, gaan verkeerd opgeneem en teen hom gebruik word, of so iets. Dit is wat die vet poot destyds gesê. As Blackie daai skietding dieper in sy oog indruk, gaan hy ’n tang nodig hê om die ding weer uit te trek.

      “Ek vra, bliksem!” Die knie stamp op sy bors. “Het jy haar agtervolg?”

      Charlie haal sy skouers op, skud sy kop. Hy het nie ’n clue van wie hierdie perd praat nie.

      “Wat kom maak jy dan hier?”

      Dis ’n makliker vraag, ’n intelligente een, veral as jy in ag neem dat hy self nie weet nie.

      “Ek het verdwaal.” Sy stem kraak.

      “Wat soek jy in hierdie wêreld?”

      Wat moet hy sê? Fok, ouboet, ek het ’n kontrak gehad om ’n witkop se outoppie te kom wegblaas, maar toe doen sy dit sommer self en vir ’n encore skiet sy sommer ’n ander ou antie ook wat so oud is sy sou in any case volgende week van die ouderdom gevrek het, en ek is maar net soos die Bybel sê die sondebok wat die woestyn ingejaag is en hier is ek nou. Aangename kennis, ou pel, en ek is jammer ek het nie nou ’n skietding om ook in jou oog te druk om hallo te sê nie. O ja, iewers is daar nog ’n witkoplaaitie ook, maar ek het nie ’n clue wat van hom geword het nie. Maar hy sê eerder: “’n Plaas, ’n … ’n oom van my boer hier iewers.” Dis makliker.

      “Jy lieg, jou bliksem!”

      Sonder om die loop te verwyder, klap ’n groot hand Charlie deur die gesig. Die korrel van die pistoolloop ruk sy oogbank oop, pyn skiet deur sy kop en hy kan voel hoe ’n bloeddruppel pad soek teen sy wang af.

      Blackie beduie in die helikopter se rigting, en een van die ander kom met ’n Uzi-masjienpistool in sy hande aangestap. Rambo met die moesie staan op, hou die pistool tussen Charlie oë gerig. “Maak sy hande vas, Vader kan oor sy lot beslis.”

      Vader?

      Charlie


Скачать книгу