Skoenlapper. Irma Venter
Читать онлайн книгу.Skoenlapper
IRMA VENTER
HUMAN & ROUSSEAU
Vir Anneke en Erika
She who wants to have right without wrong,
order without disorder, does not understand
the principles of heaven and earth.
She does not know how
things hang together.
– CHUANG TZU
ALEX
1
AS ’N MENS CHAOS JAAG, DAN WEET JY VAN GERAAS. Gemors. Skares. En van nêrens. Skryf lank genoeg nuus en uiteindelik kom jy ook op ’n plek uit waar dit lyk asof niemand kan oorleef nie en niks gebeur nie. Maar jy sal verkeerd wees. Mense doen wat mense doen, en nêrens is net nog ’n plek om dit te doen. Dalk is dit selfs ’n makliker plek om dit te doen. Minder mense wat sien. Minder mense wat onthou.
Daar is baie sulke plekke, en nie almal is sleg nie. Van hulle is die mooiste plekke wat ek ken. ’n Paar kilometer noord van Port Nolloth, as ’n mens die see aan jou linkerkant hou, verdwyn alles stuk-stuk, tot dit net jy en die stilte is. Dieselfde gebeur as mens die duine buite Walvisbaai inry.
En dan is daar hierdie plek in Tanzanië. Dis iewers tussen Arusha en Dar es Salaam, en dis nie regtig ’n plek met ’n naam nie. Dis eerder net ’n handvol huise wat soos verdwaalde beeste tussen die lang gras rondstaan. En hier is ’n kroeg. Nêrens het altyd ’n drinkplek.
Ek is by ’n troue. Ek staan buite ’n vaalblou saal, langs ’n handgeverfde Coca-Cola-teken, en kyk na almal wat verbyloop. Die bier in my hand is al lou. Vandag is nie ’n goeie dag om betyds te wees nie. Almal om my skarrel nog rond. Hulle dra kos aan en gesels, vergelyk rokke en haarstyle. Die pastoor gaan nog vir ’n uur of wat sit en tee drink onder die bome. Tyd maak vandag niks saak nie.
Ek sug en draai om, op soek na iets om te doen. Dalk het hulle hulp nodig met die stoele.
Die eerste ding wat ek raaksien, is haar hare: swart en baie. Sy staan op van die boomstomp waar sy gesit het, druk die Nikon tussen haar knieë in, giet die krulle in haar hande en maak dit agter haar rug vas. Haar pers T-hemp sê Dr Seuss is altyd reg.
En ek? Ek weet onmiddellik: Dis hoe dit is. Dis hoe ’n mens verlief raak. In een oomblik. In minder tyd as wat dit neem om jou asem in te trek. Hoe absoluut belaglik.
Ek loop nader en maak hard keelskoon sodat sy moet opkyk. Dit werk. Haar oë is blou. Eintlik pers.
Die bier is in die pad en ek skuif dit na my ander hand. Sy doen dieselfde met die Nikon. Dis ’n gladde, geoefende beweging, asof die kamera met die lang grys lens niks weeg nie. Sy skud my hand, haar vel koel onder my vingers.
“Alex Derksen,” sê ek.
“Ranna. Ek het gedink ek’s die enigste een wat mal genoeg is om hierdie deel van die wêreld te dek. Wat soek jy hier?”
“Is dit só duidelik ek’s ’n joernalis?”
Sy waai twee vingers in my rigting. “Jou oë som die heeltyd alles op, asof jy dit weeg. Alles moet driehonderd woorde of minder wees.” Sy lag. “Ek hou jou nou al vir ’n rukkie dop.”
Is dit ’n kompliment? Ek hoop so.
Sy sit die Nikon af, en dan weer aan. “Jy’t nog nie gesê hoekom jy hier is nie.”
Iets aan haar Amerikaanse aksent wil-wil bekend klink.
“Selfde as jy.”
“’n Foto?”
“’n Storie. Dis maar dieselfde ding, of hoe?”
Ek vryf oor my wang en wens ek het vanoggend geskeer. En my hare kort ’n sny, dit krul al in my nek.
Ek sluk van die bier en probeer om nie te staar nie, maar dis moeilik. Haar bruingebrande hande bly rusteloos vat en los. Hulle vroetel met haar hare, die kamera. Haar voorarms knoop fyn spiere elke keer as sy die kamera se lens draai. Maar van alles is dit haar oë, ouer as die res van haar, wat my aandag hou. Sy knip hulle stadig, doelbewus, asof sy heeltyd foto’s neem en iewers bêre. Asof sy móét onthou.
Skielik stop haar hande. Sy lag toe sy besef dis doodstil tussen ons. Sy swaai die kamera oor haar skouer en leun vorentoe. “Dis weer jou beurt om iets te sê.”
“Jammer.” Ek skud my kop verleë. “Ek skryf baie beter as wat ek praat. Wag tot jy my voor ’n rekenaar sien.”
Die wind het begin roer. Fyn stof dwarrel op en draai om ons voete. Sy skuif die sonbril van bo-op haar kop tot op haar neus, maar besluit dan daarteen. Sy soek iets in my oë.
“Vir wie werk jy?”
“AP.”
“A. Ek het gedink dis die wires. Die koerante bodder al minder met korrespondente.”
“Jy klink suur.”
“Is jy nie ook nie? Oor ’n uur is dit op die Net, dalk môre in die koerant. Of miskien maak ’n redakteur in Londen of Johannesburg ’n ‘ingeligte’ besluit en can jou foto, want ’n steelfoto van Kate Middleton sal beter verkoop. Ten minste voel hulle een of ander verpligting as dit hulle eie joernalis is wat die storie geskryf het.”
Ek lig die bier in erkenning. Dis die eerste keer dat ek buite Suid-Afrika werk, maar ek weet wat sy sê is waar.
“Hoeveel foto’s het jy al deurgestuur?” Ek wys na die duur Nikon wat soos ’n AK47 aan haar sy hang.
“Ek tel nie meer nie.”
“Hoeveel het hulle gebruik?”
“Darem ’n paar. Waarvan ek weet.”
“Vir?”
“Ek freelance, so dis ’n hele paar name. Die Washington Post. New York Times. Een of twee in die Independent.”
Sy draai om en tel die halfvol bierbottel langs die boomstomp op. Sy sluk twee, drie keer.
“En jy?” vra sy. “Hoeveel stories?”
“Seker tien of so.”
“Jy’s nog vars.”
“Ek het laas maand hier aangekom.”
“Jy sal nog leer: niemand gee regtig om wat in Afrika gebeur nie, maak nie saak wie dit skryf nie.”
Ek trek my skouers op. “Kan nie stry nie. Behalwe as daar ’n oorlog is, of as die Amerikaanse president hier kom kuier. Of as dit iets oor vigs is. Vigs wen amper altyd. Soms selfs ’n prinses.”
Sy lag asof sy my glo, maar sê niks nie. Ek merk waar haar oë vasgehaak het, draai effens weg. Ek weet wat sy gaan vra.
“Jy kon daai nie hier gekry het nie. ’n Maand is nie lank genoeg nie.”
Die litteken sit soos ’n winkelhaak onder my linkeroog. Mense vat gewoonlik langer om daaroor te praat. Hulle vra eerder waar die verweerde bruin leerarmband om my gewrig vandaan kom.
“Dis ’n ou besering. Trekkerongeluk. Dis niks nie,” lieg ek.
Sy skud haar kop, ’n skewe glimlag om haar mond. Asof sy weet van stories vertel as jy nie lus het om oor iets te praat nie. Ek hou dadelik nog meer van haar.
Voor ek kan vra hoe sy by die troue beland het, moet ek vinnig padgee toe ’n afgeleefde Isuzu op ons afpyl. Die swerm vroue in pienk rokke agterop lag hard.
Ranna staan steeds waar sy was, haar voete stewig geanker. Die geroeste wit bakkie luier ’n handbreedte van haar af.
“Hamjambo. Habari gani,” groet sy die vroue.
Toe sit sy die bier neer en kniel in die stof. Tik-tik-tik, maak die Nikon.
Een vir een klim die passasiers