Skoenlapper. Irma Venter
Читать онлайн книгу.en tyd is nie juis vriende nie. Jy gaan dalk nog lank wag.”
“Goed dan,” gee ek toe. “’n Steak en slaai, asseblief.”
Toe Maggie die bord kos voor my neersit, besef ek eers hoe honger ek is.
Later toe sy die leë bord kom haal, kyk sy my met jammerte aan. Dis amper asof sy die situasie herken. Asof ek van beter moes geweet het as om te dink Ranna sou opdaag – wat nog van betyds opdaag.
Sy is reg. Ek moes van beter geweet het. “Kan ek die rekening kry, Maggie?”
“Ek bring.”
Net toe ek die geld neersit, verskyn die lenige lyf in die deur. Selfs van hier af kan ek die woede in haar lyf sien. Sy lyk soos ’n vasgekeerde dier. Seergemaak en uitdagend.
Ranna se oë soek na Maggie. Dié trek haar skouers op en wys met haar kop in my rigting. Sy beduie iets wat ek nie kan sien nie.
Ranna druk haar hande dieper in haar natgereënde jeans se sakke en skuur verby die lywe wat die kroeg toestaan. Toe sy naderkom, kan ek sweet op haar lyf ruik. En iets anders. Iets bekends.
Die metaalreuk van bloed.
Ek fynkam die swart leeronderbaadjie en die wit T-hemp, maar sien niks nie.
“Haai. Jammer ek is laat.”
Daar is geen spyt in haar stem nie.
Sy trap ongeduldig rond toe ek niks sê nie. Haar hand met die twee groot silwerringe vee oor haar oë en skud die reën uit haar hare. “Is jy kwaad vir my?”
“Ja.”
“Hoekom is jy dan nog hier?”
“Want ek het niks beters om te doen nie.” Ek staan op, skielik ook kwaad. “Ek is hier omdat ek jou wou sien. Fok dit, Ranna. Gaan mors met iemand anders.”
Ek mik vir my sleutels, maar stop toe sy haar hand op myne sit.
“Asseblief,” sê sy amper onhoorbaar.
“Asseblief wat?”
Sy mompel iets wat ek nie kan uitmaak nie.
“Asseblief wat?” vra ek weer. “Wat wil jy hê?”
“Jammer.” Sy trek haar hand terug en sit dit in haar sak.
“Dis al?”
“Wat meer soek jy?” Haar stem is rou en hard. “Wat is dit met mans? Is ons getroud? As daar nie ’n honeymoon was nie, skuld ek jou niks. En selfs dan . . .” Sy kyk weg.
“Dit gaan nie daaroor nie. Dis ordentlikheid. Bel my en sê jy gaan laat wees.”
“Ordentlikheid,” snork sy. “Anderdag wou jy niks daarvan weet nie.”
My hand vou om haar boarm. Netnou hol sy weg voor ek klaar gepraat het. “Ja. Dis wat mens dit noem: ordentlikheid. Goeie maniere. Bedagsaamheid. Al daai goed waaroor grootmense die heeltyd nag. Al ooit daarvan gehoor?”
Sy ruk haar arm vies uit my greep. Ek kyk verbaas na die diep-rooi vlek in my handpalm.
“Jy bloei.”
“Dis niks nie.”
Ek onderdruk die begeerte om sarkasties te lag. “Ja. Reg.”
Ek probeer die baadjie oopslaan, maar weer draai sy onder my greep uit. Tree terug. Skud haar kop. Haar hare val oor haar gesig, haar oë gloeiend.
“Genade, Ranna! Ek wil jou nie seermaak nie. As ek nie mag kyk nie, gaan ons hospitaal toe. Kom.”
“Nee.”
“Ranna.”
“Nee. Ek gaan nie hospitaal toe nie. Dis niks nie.”
“Gaan jy ten minste vir my sê wat gebeur het?”
“Dis ’n lang storie.”
“Ek het baie tyd. Jy kan mos sien.”
“Dis ’n langer storie as al die tyd wat jy het.” Sy byt op haar onderlip, asof emosie haar oorweldig. “En buitendien, dis eintlik lank terug se dinge.” Haar stem word sagter. “Los dit nou, asseblief.”
Skielik gaan daar ’n lig in my kop aan. Ek hark twee gedagtes bymekaar sonder dat dit noodwendig met mekaar verband hou, maar ek vertrou die oorsprong daarvan. Dit kom van daardie plek diep binne waar ’n mens soms net weet.
“Die man wat die ander aand gebel het. Dis hy, nè?”
Haar se oë skiet verby my, regs, deur se kant toe. Sy sê niks.
“Ranna.”
“Waarvan praat jy?”
“Laas toe ons hier was. Die oproep toe ons huis toe geloop het. Die een wat jy nie wou antwoord nie.”
“Wat daarvan?”
“Was dit hy? Het hy jou seergemaak?”
Ek probeer weer aan haar arm vat, maar sy ontwyk my hand. Tree terug. “Ek gaan huis toe.”
“Wat?”
“Jammer ek was laat.” Sy probeer glimlag, maar gee halfpad op. Sy draai om.
Ek kyk verstom hoe haar rug tussen die skare mense verdwyn. Hoe haar lyf in die oop deur wegsypel tot niks in die warm, aanhoudende reën.
Daar is baie maniere om vir iemand lief te raak. Skielik. Stadig. Geduldig. Oordadig. Selfvernietigend. Obsessief.
Die liefde het meer kante as enige ander emosie. Meer vorme en gedaantes. Meer sterftes, spoke en opstandings. Dit reik verder vorentoe en verder terug as enige ander gevoel. Dit het meer geskiedenis en toekoms ingeweef as haat, woede en waansin saam. Dit wil meer hê. Meer onthou. Dit wil altyd dinge wat verby moet wees oprakel, en tog wil dit ook alles vergeet. Vergewe. Miskyk.
’n Mens weet meer daarvan as van enige ander emosie, en ook minder. En as dit eerlik en rou is en nie ’n besluit nie, vang dit jou altyd, altyd onkant.
Dis wat my ouma vir my gesê het net voor haar dood. En vanaand, op ’n nat, bedompige Februarieaand in ’n kroeg in Dar es Salaam, verstaan ek presies wat sy bedoel het.
8
DIT REËN STEEDS VANOGGEND. DIT VAL SELFS harder as gisteraand – hard genoeg om my wakker te maak. Meer nog, dit herinner my aan dinge wat ek lankal wou vergeet.
Ek was ses. Ek het een oggend wakker geword en ons huis in die vlakte duskant Vanrhynsdorp was omring met water. Vir ’n kind gewoond aan die dorre uitgestrektheid en ’n pa wat jou neuk met sy belt as jy dit durf waag het om jou ma se rose nat te gooi soos sy gevra het, was dit vreemd om soveel water op een plek te sien.
Op daardie ouderdom was ek nog nie by die see nie, al was dit nie ver weg nie. Maar as ek my die uitgestrekte blou water moes verbeel, sou dit gelyk het soos daardie oggend op die plaas. Water orals. In die eens droë, gedweë blombeddings. In die tweespoorpad wat na die skaapkrale loop. Voor die agterdeur waar ek altyd gewag het dat my pa klaar baklei voor ek insluip en my aandete warm maak, moeg ná die landloop.
Daardie wolkbreuk sou die groot vloed van ons deel van Namakwaland word. Amper soos die een wat Laingsburg ingesluk het. Anders as ons bure het ons nie alles verloor nie, maar genoeg vir my pa om nog bitterder te word en my ma selfs stiller. Genoeg vir haar om met toenemend sagter, versigtiger treë deur die huis te sluip.
Ek het gedink dis die sagste wat enige mens kan loop, maar ek was verkeerd. Haar treë het selfs stiller geword die dag toe ek vir my pa gesê het ek gaan nie op die plaas bly om te boer nie. Ek gaan Stellenbosch toe om joernalistiek te swot.
En tog was dit daardie dag ook anders. Al was haar voete stil, was haar kop bly. Haar kop het gesing. Sy het niks gesê nie, maar ek kon dit sien. Ek sou wegkom. Ek sou ontsnap.
Ek skud my kop asof ek die herinneringe kan uitvee. Ek moenie so in die bed lê en dink aan goed wat lankal verby