Skoenlapper. Irma Venter
Читать онлайн книгу.lag diep uit haar keel en ek verluister my aan die klank daarvan. Sy staan op, vinnig en seker, asof die bier lemoensap was, maar huiwer dan. Draai haar kop skuins, luister aandagtig na die musiek wat op die agtergrond speel.
Sit harder, beduie sy vir Maggie. Hierdie keer gee die kelnerin gehoor.
Ranna se heupe begin beweeg. Die heen-en-weer-swaai is hipnoties.
“Ek’s mal oor Angelique Kidjo.” Sy trek my orent. “Kom, dans met my. Net gou. Dan kan ons huis toe gaan. Belowe.”
Ek wonder of ek nog kan dans, maar die belofte van haar lyf is te groot om nee te sê.
Op die klein dansvloer agter in Hardings trek ek haar nader, maar sy maak my hande los. Sy lig haar arms en gooi haar hare terug oor haar skouers, haar oë toe.
Ek kyk en kyk, tot ek oplaas my hande op haar heupe bêre, daar waar haar pols warm en vinnig beur. En ek vergeet van ophou en huis toe gaan.
Dis vroegoggend toe ons uiteindelik die pad vat. Dit het vroeër gereën en die water lê nog blink in die strate. Die wolke het verbygetrek en die koel nag is helder, soos dit net kan wees in ’n plek sonder te veel fabrieke, verkeersligte en winkels. Dit laat my amper huis toe verlang. Plaas toe.
Agter my tel Ranna haar treë. “Een-en-sewentig. Twee-en-sewentig.” Sy hou op toe haar foon lui.
Ek kyk om toe sy nie antwoord nie. Sy staan doodstil. Haar lang vingers vryf ingedagte oor haar mond, asof sy die bang trek daar wil wegvee. Sy staar na die selfoon in haar hand.
“Gaan jy nie antwoord nie?”
“Dis die middel van die nag. Dit moet ’n verkeerde nommer wees.”
“Maar jy is wakker.”
Sy druk die selfoon terug in haar uitgewaste jeans se sak. “Ek wil eerder met jou gesels.”
Sy loop tot langs my en haak haar arm by myne in. Ons loop in stilte verder.
Ek weet ek moet vra, maar ek wil nie. Dis soos wanneer jy weet jy gaan iemand verloor, maar jy staan steeds elke oggend op asof niks fout is nie. Of soos wanneer jy jou ma bel en oor die weer praat. Of oor die artikel waaraan jy werk. Of oor hoe dit lamtyd is en almal besig is. Maar nooit oor jou pa nie.
Jy wil nie weet nie. Jy doof die stemme in jou kop uit. Want dis meestal net lovers – oud en nuut – wat ’n mens drieuur in die môre bel.
6
IEMAND HET VERGEET OM DIE LUGVERSORGER IN die konferensiesaal aan te skakel, of dalk spaar die hotel geld nes Hardings. Die bedompigheid in die lang, nou vertrek is so versmorend dat my oë wil toeval. Ek gaap vir die soveelste keer vandat ek ’n uur gelede kom sit het.
“Stop dit,” raas die man langs my.
Tom – Tomboy, Tom Pom – Masterson doen vryskutwerk vir ’n paar koerante, The Guardian inkluis. Hy’s ook die een wat op elke Kerspartytjie gevra word om “Pussycat” te sing – oor sy naam en die borshare wat verby die boonste knoop van sy hemp peul. En omdat hy kán sing. Dis in elk geval wat ek hoor. As ek Kersfees nog hier is, sal ek seker uitvind of dit waar is.
Hy vryf oor sy blonde stoppelbaard, sy amper kaal kop en dan sy rooigebrande nek. Sy ooglede knip vinnig. Stop. Knip weer. Dis ’n irriterende gewoonte wat maak dat ek sukkel om hom in die oë te kyk.
Hy gaap lank. “Jy’t my aangesteek.” Kyk op sy nagemaakte Rolex. “Hoe lank wag ons al?”
“Drie-en-veertig minute,” bereken ek. “En dit vir die minister van gesondheid om ’n brouery te kom open, want die president is in China. Is dit net vir my ironies?”
Regs van ons maal ’n klompie joernaliste rond. Die meeste van hulle is van die plaaslike media. Ek is hier omdat daar vandag letterlik niks beters te doen is nie. Niks groter en beter nie. Joernalistiek verstaan – bo alles – die waarde van die vergrotende trap.
“Hoe lank gaan ons die man nog gee?” Tom krap sy kop met ’n opgekoude pen. Sy droë kopvel klink soos skuurpapier. “Ek vrek vir ’n bier. Wat van jou?”
Ek kyk na die groep gaste, meestal fabriekswerkers in oorpakke en geel T-hemde, wat voor die kaste drank in die hoek rondmaal. Kort-kort keer twee groot mans in swart pakke dat iemand ’n bier steel. Die drank is vir later, anders gaan niemand die moeite doen om na die vervelige toesprake te luister nie.
“Ek dink jy gaan nog lank wag, Tom.”
Ek ruik haar voor ek haar sien. Die effense geur van suurlemoen en wat ek vermoed Kubaanse sigare is, dieselfde reuk as gisteraand, laat die hare in my nek orent staan. Haar lang blou romp gons met statiese elektrisiteit soos sy met lui treë naderloop.
Uiteindelik stop Ranna se swart Doc Martens voor ons.
“Julle klink soos twee ou mans,” terg sy. “Ek kan nie glo julle het gedink hulle gaan betyds begin nie.”
Ek waai hallo. “Ek was optimisties, ja. Hoe laat het jy opgestaan?”
Sy glimlag, haar oë blink. Daar is geen teken van gisteraand se gekuier in haar lyf nie. “’n Uur gelede. Jy sal gou leer.”
Tom swaai sy pen in haar rigting. “Dis in elk geval nie asof jy ooit slaap nie.”
“Los my slaapgewoontes uit.”
Sy kom sit langs my. Leun agter my verby en vryf oor die Engelsman se yl hare. “Jy raak lui. Toe jy hier aangekom het, het jy jou kop elke week geskeer.”
Hy draai onder haar hand uit. “En voor jy hier aangekom het, was jy amper verloof. En kyk wat het met jou gebeur.”
“Verloof?” Die woord ontsnap voor ek dit kan keer.
Ranna se mond word ’n dun lyn. “Dit was lank gelede. En dis niemand se besigheid nie.”
Tom lag en draai na my. “Ek het vergeet: Ranna praat nooit uit haar slaapkamer nie. En jy kan net raai hoe besig is dit daar binne.”
“Het jy dalk met die verkeerde voet uit jou leë bed opgestaan?” Haar woorde is lig, maar haar stem is ys.
Tom ruk sy skouers verontwaardig terug, maar voor hy kan antwoord, swaai die swaar houtdeure voor ons oop. ’n Man in ’n grys pak loop in en beduie ons moet stilbly. Meteens kry die lugversorger ook lewe.
Die minister en sy gevolg neem hulle plekke in. Hy praat ’n halfuur lank, maar ek sukkel om te konsentreer.
Amper verloof.
Wat het ek verwag? ’n Vrou soos Ranna sal ’n geskiedenis hê. En wie sê sy het nie reeds iemand in haar lewe nie? Ek het nog geen moeite gedoen om uit te vind nie. Toegegee, dalk wil ek nie die antwoord weet nie.
Gisternag het sy my by haar voordeur op die wang gesoen om dankie te sê dat ek saam met haar geloop het. Daar was geen sprake van koffie nie. Dit sê seker iets.
7
DIE REËN SAK SKIELIK HARD UIT NET TOE EK AGTER Hardings parkeer. Ek draf tot by die geel neonteken, maar dit help niks nie. My klere is deurnat toe ek by die deur inloop.
“Haai,” groet ek, maar Maggie sê niks nie. Sy skud net haar kop vies oor die modderspore wat ek op die vloer los. Nog ’n punt teen my. Sy het my nog nie vir Ranna en die bier vergewe nie.
Miskien moet ek môre vir haar blomme koop, anders gaan ek nooit weer ’n koue Kilimanjaro kry nie.
Ek stoei deur die mense tot by my en Ranna se tafel. Maggie se handgemaakte Reserved-teken is darem nog daar, so sy kan nie te kwaad wees nie. Ek gaan sit, trek my nat T-hemp reg, en knik vir die man met die wit pet wat soos altyd by die kroeg kuier.
Cheers, groet hy, sy bier in die lug.
Dis tien oor agt. Moet Ranna altyd laat wees?
Ek bedel ’n koerant by die tafel langsaan en begin lees. ’n Kwartier later dra Maggie ’n Kilimanjaro aan sonder om te vra. Verbasend genoeg is dit koud.