Amber maan, oker son en ander verhale. Elize Parker

Читать онлайн книгу.

Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker


Скачать книгу
fluister sy hees.

      “Dan het jy goeie herinneringe nodig.” Hy stoot haar moulose T-hemp se bande van haar skouers af.

      “Ek het jou op die stoep sien uittrek,” sê sy.

      Elke plooi op sy gesig ontspan. “Ek weet.”

      “Hoekom het jy nie so gesê nie?”

      “Jy het te weerloos en hartseer gelyk. Ek wou jou in my arms optel en op die beste manier denkbaar troos. Maar ’n stoep by ’n oorlogskantoor is nou nie juis die mees geskikte plek daarvoor nie.”

      Sy moegheid verdwyn toe hy in ’n tergende minnaar verander. Hy maak haar haarbandjie los en bedek haar kopkroon met vlindersoene terwyl sy hande na haar middel glip en besit neem van die sweterige vlaktetjie tussen haar heupe. Hy trek haar T-hemp oor haar kop en gooi syne ook argeloos eenkant.

      Sy kyk na hom met ’n glimlag van herkenning. Sy bolyf is in hierdie halflig vol van naakwees se nagnuanses. Nou weet sy hoe vurig sy hom begeer het. Met hierdie wete trek sy hom hard op haar af. In hul naakte liefkosing is ’n stille wanhoop. Kan hulle die pyn vir mekaar weghou? Sal hul lippe keer dat die nag hulle ook genadeloos aftakel?

      Sy kruip teen hom op en druk haar vaster teen hom sodat sy warm palms se klamte in haar rug indruk. Sy ferm bors dein soos ’n brander oor haar bolyf terwyl sy fyngestemde vingers haar weerloos streel. Haar vertwyfelinge en vrese word een vir een opgehef deur die on­teenseglike aandrang in sy gespierde liggaam se kragtige rondings totdat daar nog net een grens is om oor te steek. Maar voordat sy kan antwoord op sy gefluisterde “Mag ek?” jaag ’n klomp voertuie met skreeuende remme en flitsende ligte verby die hotel. Hy twyfel nie vir ’n oomblik nie, gryp haar vas en rol onder die bed in. Hulle ­wag op skote, maar toe net die waaier na ’n ruk voort­klik, trek hulle vinnig aan en hardloop hand in hand gang­af.

      Die gesette eienaar staan brilloos met deurmekaar hare voor die deur. Bebloede soldate peul uit die motors op die straat.

      “Daar was ’n aanval op die plantasiedorpie,” vertaal sy vir Gerard. Haar gedagtes is dadelik by Francisco. Hoekom het hy tog agtergebly? Sy vind hom op ’n tuisgemaakte draagbaar by die frontkantoor. Sy jong gesig is vir ewig geskend. Francisco se seisoen van skemers het aangebreek. Hulle wil nie toelaat dat sy naby hom kom of die haastig ingerigte hospitaal binnegaan nie. Sy draai om en stap alleen af met die straat. Gerard val langs haar in. “As hy ons net nie geneem het nie,” prewel sy.

      Hy skud sy kop en wil-wil aan haar vat, maar hy laat sak sy hande. “Ons het hom gevra om saam te kom, maar hy het verkies om te bly.”

      “Ons het deel aan sy lyding. Tot nou toe het ek niks meer met hierdie oorlog te make gehad as om daaroor te skryf nie. Nou is ek aandadig aan iemand se pyn.”

      Sy druk haar voorkop teen sy bors. Daar waar eens troos teen hierdie oorlog was, is skielik ’n verlatenheid so groot soos haar eie. Hul omhelsing is nou bloot ’n skuilplek. Hulle stap terug na die hotel en raak woordeloos langs mekaar aan die slaap.

      Te sielsmoeg vir die eise van hul liggame.

      4

      In Luanda gaan sy onmiddellik na tante Helena se huisie en slaap byna agt en veertig uur lank. Gerard het in Benguela agtergebly.

      Sy word van dors wakker en onthou die toue wagtende inwoners by die waterpunte. Toe sy die krane oopdraai, snork hulle lug uit in haar gesig. ’n Strooptog op haar noodkas lewer ’n blikkie kola op. ’n Bad is ’n vergete luukse. Sy kry koers deur die strate na die hotel. Sy hoop die teleksmasjien werk nog.

      Elvira staan met haar styfgespuite krullers in ’n mooi satynrok agter die toonbank en hardloop uit op pon-pon-pantoffels toe sy haar gewaar: “Ek het jou amper vir dood opgegee. Jou mense soek jou elke aand op die teleksmasjien.”

      “Maak die masjien nog kontak?” vra Esperanza verbaas.

      Elvira knik instemmend. Sy draai die groot diamant aan haar ringvinger om en om. “Kan jy dit glo? Ons het nie polisie, water of kos nie, maar die masjiene werk.”

      Esperanza skuif voor die teleks se toetsbord in en knip dit aan. Sy voel of sy na ’n lang reis tuisgekom het. Oos wes, teleksmasjien bes. Die toetse se bekende patroon, lae gesteun en tikke-ketik laat haar in beheer voel. Teleksmasjiene sal nooit weer vir haar vanselfsprekend wees nie. In hierdie stad vol gebroke mense, ’n vervalle infrastruktuur en ineengestorte regering is die masjien se werkende toestand ’n wonderwerk.

      5676 Luanda AN, vra sy in kode. 3451UNA, antwoord die masjien. Is Lee daar? Tik sy. “Moenie bang wees nie, asseblief,” bid sy hardop. Kom daar uit gou Lee tik die masjien rukkerig. “Wonderlik!” skree sy en tik soos ’n besetene haar berigte. Bel Alec en kom huis toe Lee. Dan word die kontak verbreek.

      “Dit gebeur die hele tyd,” sê Elvira.

      “Werk die telefoon?” vra Esperanza.

      “Die masjiene lewe!” Elvira lag haar diep laggie en lig die telefoon se mondstuk.

      Esperanza skakel Alec se nommer en laat ’n boodskap by ’n man met ’n bewerige stem.

      “Het jy gehoor die Afrikaners is op pad na Luanda?” vra Elvira. Haar hande met fyn sproete en gemanikuurde naels maak ’n paniekerige gebaar. Waar kry sy sulke naelpolitoer midde-in ’n oorlog?

      Esperanza knik. “Ek moet in die suide kom. Kan jy my help?” Sy het geleer Elvira se netwerk vriende is goud werd. Baie mense skuld haar ’n gunsie of twee.

      “Wanneer wil jy gaan?”

      “Nou, môre – net wanneer jy dit gereël kan kry.”

      “Gee my ’n oomblik kans. Ek het ’n kontak by die lughawe.”

      Esperanza wag in stilte terwyl sy haar oproepe maak. Dit is Elvira se leuse: “Ek het ’n kontak.”

      “Dit is ’n risiko, maar daar is ’n Portugese vliegtuig by die lughawe. Hulle gaan vlugtelinge op Tataquero optel. Jy kan saam met hulle ry.”

      “Dankie, Elvira. Jy’s ’n skat.”

      “Wat sê ek as hulle jou op die teleks soek?” skree sy agterna en gooi haar hande in die lug toe Esperanza net haar skouers ophaal. “Kom veilig terug, jou mal rabbedoe!”

      “Kom aan boord,” nooi die vlug se Portugese loods.

      Esperanza sluimer in ’n hoekie totdat hulle land. Wagtende vlugtelinge sak daarop toe. Die enjins luier voort terwyl sy uitklim. Die versengende hitte laat die droë aarde oopbars. Sy trek ’n pet oor haar kop en steek haar krulle daaronder in. Met ’n skok besef sy: wanneer die vliegtuig vertrek, is sy vasgepen in die oorlogsone.

      “Kom saam,” sê ’n soldaat in kamoefleerdrag en neem haar na Unita se frontkantoor. Haar kamera dien soms ’n ander doel. Die bevelvoerder vind haar do­kumente in orde.

      “Ons ry vanmiddag suid. Jy kan saam met die ander verslaggewer in ’n voorraadtrok sit. Ek moet jou net waarsku, ons ry die pad van die dood. Die Suid-Afrikaanse inval het begin.”

      Sy steek haar bewende hande in haar sakke en voel nat sweetdruppels in haar handpalms. Wat die man sê, is wêreldnuus – voorblad-eksklusief. Maar skielik gee die wete haar nie meer die tinteling van ’n paar dae gelede nie. Sy is te oorlogsmoeg. Hulle neem haar na die eertydse dorps­­hotel. Troepe sit op kratte en ou kroegstoele.

      Die bevelvoerder neem op ’n leunstoel plaas. “Waar is die tenks?” vra hy aan ’n senuweeagtige Portugese vlugteling.

      Teen die muur dui ’n kaart met pennetjies sy eenheid aan. ’n Dun swart lyn is die pad na Luanda. Bosareas word met kruisies aangedui en woestynareas met kolletjies. Iewers daar sit sy, net so verlore en verlate soos hierdie vlugtelinge, met dié verskil: hy het sy eie vervoer, al is dit net die oorlaaide trok hier buite.

      “Wat dink jy vang jy aan? Hier is ’n oorlog aan die gang. Ek het jou gesê ek sal jou in Luanda kry,” hoor sy ’n bekende stem met ’n Franse aksent agter haar fluister.


Скачать книгу