Plesierengel. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.>
Tafelberg
VOORWOORD
Hierdie roman is ’n opgedateerde, herskrewe weergawe van die 1998-roman wat destyds by Perskor verskyn het oor dieselfde onderwerp. Die inspirasie het gekom van ’n lewendige debat destyds oor die wettiging van prostitusie. Daar is toe besluit om ’n roman te publiseer wat die onderwerp kaalhand aandurf.
Waar die probleme van vroulike prostitute gewoonlik uitgebeeld word, word dié van mans wat slegs met vroue werk bitter selde belig. Slegs enkele rolprente het dit suksesvol gedoen, soos American Gigolo, Midnight Cowboy en Miehen Työ.
Gedurende die aanloop tot die oorspronklike Die plesierengel het ek versoeke gerig dat mense hul ervarings moet deel. Sommige insidente in die oorspronklike boek is losweg gegrond op daardie vertellings.
Toe daar onlangs sprake was om hierdie roman weer uit te gee, het ek dit herlees en besef dat Suid-Afrika sodanig verander het dat die verhaal ’n nuwe struktuur, intriges en ’n herbedink van die hoofkarakters benodig het. Dit het toevallig gebeur terwyl daar ’n hernude stryd om die wettiging van prostitusie woed. Die stigma wat aan prostitusie gekleef het, was egter steeds onveranderd, sonder inagneming van sosiale en maatskaplike toestande en veranderings wat intussen plaasgevind het. Die boek probeer ook daardie elemente belig.
Hierdie roman probeer nie die wetgewing goed- of slegpraat nie, nog minder om prostitusie te veroordeel, te sensualiseer of op te hemel. Dit word hopelik aan die leser se eie oordeel oorgelaat. Wat my egter tydens gesprekke met sielkundiges en prostitute getref het, was dat hul belewenisse dikwels ooreengestem het. Dit het opnuut herhalende temas van misbruik, geweld en skaamte, maar ook die uitlewing van fantasieë of betaalde, “wegneem”-seks as ’n dwelm teen die werklikheid na vore gebring. Dit het tonele geïnspireer wat losweg gegrond is op die oorspronklike roman, maar aangepas is vir ’n nuwe tydsgewrig.
Dit was ook die invloed wat die werk op individue het, hetsy in hoëklas-weelde of agterkamers, wat in die roman belig word, die sogenaamde “smokkel met die kop”-sindroom en die wêreld se beheptheid met skoonheid.
Wat ook getref het, is hoeveel Afrikanerseuns en -meisies hulle op straat bevind omdat hulle “uitgekom” het teenoor hul ouers en dan summier uit die huis gegooi is, wat aanleiding gee tot groter euwels en selfs tragedies.
Ek het van die sekstonele aan kollegas en medeskrywers gestuur om hul reaksie te toets. Was dit te eksplisiet, in swak smaak, te smerig? Kan ’n mens ’n boek oor hierdie bedryf skryf en die eksplisiete en seksuele uitlaat ter wille van geskokte reaksie? Ek waardeer hul insae en raad.
Daar is in die boek probeer om veral ook op die emosionele elemente te fokus in plaas van ’n pornografiese quickie. Maar indien slegs seks vir ’n betrokke karakter belangrik was en as ’n uitlaatklep gedien het, is dit presies so uitgebeeld sonder selfsensuur ter wille van sensitiewe lesers.
Wat uit onderhoude met sielkundiges, sosiale werkers en prostitute geblyk het, was dat prostitusie dus nie net om seks gaan nie, maar ook om die soeke na romanse en aanvaarding, en die hantering en wegvlug van eensaamheid.
Weet dus dat as jy hierdie boek lees, daar eksplisiete tonele is, en dat daar probeer is om dit nie as titillering of pornografie te laat oorkom nie. Daarvan is daar genoeg. Dit weerspieël ervarings (dikwels ook fiktief bygewerk) oor mense wat moedverlore en bedruk was (is) oor die toestand waarin die land hom bevind, en waar prostitusie, hetsy as kliënt of diensverskaffer, ’n laaste, gedwonge uitweg is. Maar veral hoe die gemeenskap dit deesdae ervaar.
Leon van Nierop
EEN
Daar is iets aan die gegrom van die dertigton-trok wat haar lus maak. Die diep, donker klanke wat voel asof dit uit haar liggaam kom. Sy maak gereed vir die afdraand hier voor, trap die uitlaatklep-rem met haar linkervoet en luister na die swaar dreuning – vol forsheid en krag.
Sy dink aan die skyf wat dwars in die uitlaatpyp toeslaan om haar trok se spoed te stuit. Sy herhaal die terugrat-aksie en voel die lekkerte deur haar rank toe die trok haar bevele gehoorsaam en die vaart begin afneem.
Hier, in haar trok, is Santa Ferreira baas. Kan sy die sonskerm laat sak wanneer sy verlang, sodat sy na die foto van haar pa en ma op Die Eiland in Limpopo kan kyk. Daar staan hulle gesellig om ’n tjoppie op die kole saam met haar broers en susters, geneem by laas jaar se Kersmakietie. Sy kon darem Kersfees afkry – haar eerste vry Kersfees in vier jaar.
Die vorige een moes sy ’n trok vol stene Kaap toe karwei, die sleepwa laat aflaai en ’n nuwe vrag sement oplaai. Daarna moes sy die kalf vol stene hak, die sleepwa tot sy maksimum kapasiteit vul en met die langpad terugpiekel Johannesburg toe, alles op die maat van RSG se lekker programme. Sy sing graag “Jy sprei my vlerke” van David Fourie wat hulle soms op Sondagmiddae speel. Tog ’n altevolle mooi mannetjie, dié David. Dan sing hy boonop nog so mooi, veral “Kaboemielies” en “Jy soen soos ’n engel”.
En wanneer sy daardie liedjie se hoë noot slaan, dikwels tussen Laingsburg en Beaufort-Wes, voel sy vry – sing sy soos die nagtegaal waarvan sy altyd in sprokies gehoor het. Dit is hoe dit moet voel om so mooi te kan sing. En sy het ’n mooi stem, dis nou maar wors.
Dominee het haar altyd daaraan herinner toe sy nog in die kerkkoor kon sing en voordat die kerk begin leegloop het omdat baie lidmate afvallig geraak het, of bloot te lui was om agtuur soggens daar te kom sit, of mans en vroue in die gemeente begin saamwoon het en die dominee dit nie goedgekeur het nie.
Maar vir die afgelope tien jaar was sy maar selde Sondagoggende tuis.
Onthou sy die slag toe sy sommer drieuur die oggend in Graaff-Reinet afgetrek het om ’n uiltjie te knip. Sy het haar vensters oopgehou teen die hitte. Lekker nesgeskop op die enkelslaapbank agter in haar kajuit. Toe klim die dêm skelm kinders deur die vensters en steel haar smuktassie, gesigwaslap, haar trui, selfs haar skoene. Sy moes kaalvoet polisiestasie toe piekel om ’n klag te gaan lê.
Sy raak aan Snoekie, die beertjie, voor op haar spatbord, die einste beertjie wat haar pa nog vir haar present gegee het toe sy die eerste keer die langpad alleen aangedurf het. Sy en haar nat waslappie (nog in Darling by ’n Five Rand Store gekoop), asook haar koelboks met die yskoue aangemaakte lemoensap uit haar ma se kombuis. Destyds het sy nog nie vir Giepie as reismaat gehad nie – haar bynaam vir die GPS wat sy drie jaar gelede aangeskaf het. Nou praat sy al met hom. En eendag, weet sy, gaan hy terugpraat.
Soms gesels sy met hom, al is dit net om iemand te hê wat die witlynkoors breek; daardie hipnotiese, eentonige effek wat die gebroke lyn op langafstandbestuurders het. Dit plaas jou later in ’n koma, want jy ry dan op auto-pilot van streep een na streep sewehonderd-en-dertien na streep drieduisend-vierhonderd-en-sewe. Dan lag sy vir Giepie: “Wonder hoe jy in daai hogere Engels die strepe sou tel.”
En haar getroue koffiefles met die kondensmelk-koffie soos net haar ma dit kan maak. Warm op die tong, sterk op die siel, hard op die oë. Oë wat moet wakker bly en oop bly.
Santa Ferreira roem haar daarop dat sy ryfiks is. “Ek droom oop-oë,” sê sy eendag vir ’n vriendin wat wou weet of sy nie vaak raak nie. “Ek dagdroom plesieriger met ekstra room in die koffie.”
Sy het al swart katte voor haar oor die pad sien hol, selfs koedoes in haar syspieëltjie gesien wat nie bestaan nie en wit strepe in tweelettergreep-woorde sien verander: hal-lo, koe-baai, am-per, stam-per, lang-pad, kal-fie, lor-rie, sleep-wa, op-hou, Da-vid Fou-rie, een-saam, man-loos, hun-ker. Dan maak sy haar eie woorde op en kyk hoeveel verskillendes sy kan uitdink as die stippellyne soos Hansie en Grietjie se broodkrummeltjies voor haar uitstrek. En sodra die lang, ononderbroke wit lyn begin, moet sy van voor af begin tel. Probeer sy ’n lang noot volhou tot die wit lyn weer gebroke raak sonder om asem te skep. Sy het haar al uitasem gesing.
Dié speletjie het haar vir baie jare se deurnag-ryery besig gehou, Oos-Kaap toe of Hoedspruit of Maputo toe.
Sy het ook ekonomies met haar geld gewerk, want reg van die begin af het sy ’n neseiertjie opgebou. Sy