Plesierengel. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.’n Netjiese, gespierde in-proporsie-pakket van pure plesier.
Sy kan nie sy gesig behoorlik sien nie. Oorweeg dit om die dakliggie aan te skakel, want sy betaal mos hiervoor, dêmmit, maar besluit daarteen. Dis soos presente wat ’n week voor die tyd onder die Kersboom uitgestal is; hulle kon sy voel en toets. Dit was dikwels lekkerder om te bly wonder as om voor te gee dat sy bly is wanneer sy die voorspelbare geskenk uithaal. As sy eers gevoel het, het sy altyd gehoop dit sou iets anders gewees het as wat sy verwag het, iets wat haar sou verras. Maar dit was nooit.
Hierdie geskenk beter haar verras, of sy hang hom aan daardie einste moewiese bult tussen sy bene aan die naaste boom. Sy bloos. Sjoe, dis nogal ’n lekker fantasie.
Die vreemdeling sit in die donker langs haar. Hy ruik skoon. Nat. Na man. Na plesier.
Toe sy na hom kyk, is sy gesig steeds verberg. Sien sy weer die nat T-hemp wat oor sy bolyf span, netjies in proporsie. Lenig. Seker lekker om aan te vat. Merk sy die maagspiere wat strepies trek onder sy T-hemp en wat lyk of die materiaal lekker kry om daaroor te span. Sespak. Dalk agt van hulle, wat ritmies op en af beweeg soos hy asemhaal. Vol belofte.
H’m. Tot dusver nie sleg nie. Sy broek span tergend oor sy heuwel fantasties.
“Waarheen?” vra sy moedswillig, wel wetende wat die antwoord gaan wees.
“Die restaurant met die angelier.”
Hulle praat nie verder nie. Sy kyk kort-kort na hom, maar hy sê niks.
Toe die restaurant. Hy sit ’n oomblik, draai sy kop na haar, maar die pet verberg steeds sy oë. Sy sien sy mond tussen die fyn stoppels. Soenbaar, boetie, soenbaar. Lippe wat net effens van mekaar getrek is asof hy iets wil sê met daardie Lyle’s Goue Stroop-stem van hom. Fyn, astrante glimlaggie – karnallie-stout. Tong wat effens oor sy lippe speel. Adamsappel wat sexy yo-yo wanneer hy sluk.
Hy lig sy T-hemp en droog sy gesig af. Nou is sy bolyf ontbloot. Sy dink weer aan David Fourie se “Sprei my vlerke”. Haar kóp kry nou vlerke. Sy wil aan die harde maag vat, aan die haartjies trek wat moedswillig onder sy naeltjie blink van die nattigheid, maar is te skaam.
Jerigo se poorte bly gesluit.
Toe sy niks doen nie, klim hy uit. Met die beweging glip sy broek effens af en sien sy ’n groen onderbroek met ’n naam op en twee mooi boude wat wil-wil glimlag, die kepie vir ’n breukdeel van ’n sekonde uitlokkend.
Hy loop om na haar toe, maak die trok se deur oop, hou sy hand uit, help haar uit. En soos in The Notebook, waarvan sy die DVD al voos gekyk het, struikel sy effens en val in sy arms. Sy lyf en arms is kliphard toe hy haar vang, so hard dat sy skrik daarvoor. Maar dis warm en heerlik sterk.
Hy hou haar ’n oomblik vas, nes in die flieks.
Hemel, maar hy is sterk. En nat. En warm.
Sy het nog nooit aan ’n lyf gevat wat nie die boerbeskuit-ballon om die maag gehad het nie, of die jellievisarms of die oerwoudrug wat die bosveld yl sou laat lyk nie. Hierdie een is so hard soos ’n sportkar, maar sy hande so sag soos botter – weet net hoe en waar om te vat.
Hy loop tot onder die neonlig. Nou eers sien sy hom. Sy gesig.
“Bliksem.” Haar hand klamp om haar mond. Sy vind geen ander woord nie. Het nog nooit iemand gesien wat so mooi is nie. Seker twintig, of so lyk dit. Kortgeskeerde bruin hare, oop, skoon boerseungesig, sagte oë wat so amper verby haar kyk, sterk neus en ligte stoppelbaard waardeur die druppels saggies loop.
En daardie mond. Daardie sagte, mooi lippe wat net effens uitmekaar beweeg met ’n tong wat wil-wil uitkom.
“Hallo, Santa.”
Kom nou, Santa. Práát. Mooi, duidelik, soos wanneer jy op skool voorgedra het. En onthou, jy is in beheer. Hy is joune, soos die kondensmelk-koffie in jou fles.
Net met meer kondensmelk.
“Hallo, Tristan.” En net om daardie naam te sê, maak haar vuurwarm. “Is dit jou regte naam?”
“Is my regte naam, ja.” Blikemmer. Daardie stem. Dis soos om jou kop in fluweel te steek en te verdrink tot by jou ore. Manlik, sag, diep, vriendelik, sexy, mooi.
Tristan is ’n lopende hygroman.
Sy raak aan sy gesig, nie in staat om haarself te beheer nie. Voel die sagte growwigheid van sy stoppels in die reën wat saggies oor hulle kieza. Hy glimlag, vee die nat hare saggies uit haar gesig, sy vingers lank en sag. Hy vee oor haar wang en raak aan haar asof hy haar skoonheid onder sy vingerpunte voel. Hy soen haar skielik, net om sy mond terug te trek en haar hand na sy bors te lei. Gewoonlik soen die mans haar asof hulle spaghetti uit ’n bord vreet.
“Tristan,” sê sy weer van nie weet wat om te sê nie. “Dis ’n moerse mooi naam.”
Skielik kom daar Bybelversies in haar kop, onthou sy hoe Salomo vroue in Hooglied as soet beskryf het. Maar hierdie skoonheid. Hoe psalm-berym sy dit?
“Jou trok?” vra hy met oë wat haar belowe dat hy verstaan en dat hy fyn draaie met haar siel gaan gooi.
Fyn, fyn draaie.
“Ja.”
“Hoeveelste trip dié week?”
“Der … ” Padda in die keel. “Der … de.”
Hy beduie met sy kop in die rigting van die restaurant. “Hulle hamburgers is tops. Min mense weet dit. Hulle bestel net altyd die spek en eiers.”
Sy hand in hare op pad deur toe. “Jy het nog nie geleef voor jy hulle hamburgers geëet het nie.”
’n Kelnerin staan gereed met hul kos. Hy moes dit vooraf so bespreek het. Maar sy wil nie ’n verdomde apie hê wat hulle aangaap nie! Die vrou moet haarself in die koelkamer gaan toesluit!
Sagte musiek speel. Outyds. “Smoke gets in your eyes” nogal. Mooi.
Die kelnerin draai om, draai die bordjie op die deur om sodat OPEN nou na hulle toe wys, skakel die ligte af sodat net die speelkasliggies die tafel verlig, en verlaat die restaurant. Oomblikke later vertrek ’n motor.
Santa sien wat gebeur in die flitsende lig van die angelier voor die restaurant. Die angelier wat oop- en toemaak.
Tristan Hansen sit agteroor in sy stoel sodat sy hom behoorlik kan beskou. Toe leun hy vorentoe, lig die broodjie van die vleis af en neem een van die gebraaide uie en kyk daarna. Plaas dit tussen haar lippe, vee die tamatiesous uit die hoek van haar mond, streel met sy vinger oor haar vel.
Sy kou en sluk die soetigheid stadig in, sy vinger oor haar keel toe sy sluk. Net daardie beweging laat haar onderlyf ruk.
Hy plaas nog ’n gebraaide ui tussen sy lippe dié slag, kom nader, gee nog ’n ui vir haar, help haar om dit in haar mond te neem.
Sy dink te midde van die duiseligheid wat haar wil oorweldig dat sy tog net nie moet flou word nie, want wat sal die man van haar dink? En netnou beroof hy haar sommer ook nog.
En sy is nat. Nie net van die reën nie.
“Santa.” Sag. Sexy. Amper onhoorbaar. “Dis lekker om hier by jou te wees.”
Tristan praat met haar terwyl hulle eet. Oor haar familie. Haar werk. Die baie ritte. Die depots. Die tolhekke. Haar kollegas. Die ongeduldige Gauteng-bestuurders wat altyd so op haar stert sit, die tekens wat mans gooi wanneer hulle verbyjaag. Die verdomde taxibestuurders met die arms wat altoos by die vensters uithang en eendag nog aan die teer gaan raak.
En die wit strepe in die pad wat mens hipnotiseer. Die verdomde wit strepe.
Hulle praat en praat en praat oor alles wat vir haar saak maak en waaroor sy met niemand kan praat nie. En dit alles met daardie Magnum Death By Chocolate-stem.
Sy verloor tred van die tyd, merk dat hy nie sy vleisbroodjie eet nie, maar net met haar praat. ’n Uur, dalk ’n uur en ’n half? Hy praat oor die paaie wat sy al moes gery het en hoe hy as jong man daardie selfde lang paaie Baai toe en Durban